Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929

bron Die Nuwe Brandwag. Tydskrif vir Kuns en Lettere. Jaargang 1929. J.H. De Bussy / H.A.U.M. v.h. J. Dusseau & Ko., / Kaapstad 1929

Zie voor verantwoording: http://www.dbnl.org/tekst/_nuw001192901_01/colofon.php

© 2010 dbnl 1

Die Nuwe Brandwag Tydskrif vir Kuns en Lettere

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 3

‘Werda.’

AS OPRIGTER en laatste redakteur van die ou ‘DIE BRANDWAG’, stel ek prys op die geleentheid wat my aangebied word om, in aansluiting by wat voorafgegaan het, die verskyning van ‘DIE NUWE BRANDWAG’ te verwelkom, en hierdie tydskrif voor te mag stel aan, en aan te beveel in die belangstelling van, die getroue ou garde, lesers(esse) en ondersteuners van sy voorganger.

‘DIE BRANDWAG’ werd opgerig 31 Mei 1910, tegelyk met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika, en is ondergegaan midde in, en ten dele as gevolg van, die ernstige industriële beroeringe en ekonomiese druk van 'n twaalftal jare later, namelik in Februarie 1922.

‘DIE BRANDWAG’ heeft postgevat, en saluéert eerbiediglik al wie dit feit met enige belangstelling bejegent.’ So het ek geskryf in dl. I., nr. I. - ‘Na Vereeniging zeide een onzer voormannen dat de mauser voor altyd was afgelegd door de Afrikaner, en men voortaan de pen ter hand zou nemen om 'n geheel nieuwe stryd aan te binden, 'n stryd namelik voor de handhaving onzer Afrikaner-nationaliteit, voor behoud onzer taal, godsdienst, tradities en ons recht van bestaan...... Op dit punt van 't terrein heeft tans “DIE BRANDWAG” positie gekozen. Politiek en stoffelike belangen, de stellingen door onze andere kollega's ingenomen, zijn de randjes links en rechts van onze positie gelegen... “DIE BRANDWAG” is van plan zich met de hulp van alle goedgezinde 'n plek te veroveren in 't Afrikaner-huisgezin, en... leiding en koers te geven aan de vele bekwaam gebleken Afrikaner-pennen, teneinde 'n eigen nationaal-Afrikaanse letterkunde te helpen groot maken. Dié plek komt óns toe, we maken er aanspraak op, en hopen door ons levenswandel te tonen dat wy recht hebben erop.’

Onder die handtekeninge van diégene van wie in daardie eerste fiere nummer die mooiste gelukwense voorgekom het, was president Steyn, genl. Louis Botha, genl. Hertzog - (‘Wij willen 'n literatuur’, het die teenwoordige Eerste Minister verklaar, ‘geschreven op Afrikaanse wijze, over Afrikaanse zaken, beschouwd uit Afrikaans standpunt, bezield door 'n Afrikaanse geest en geuit in de taal van Zuid-Afrika’) -, genl.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 4

Schalk Burger, genl. Christiaan Beyers - met uitsondering van genl. Hertzog, almal reeds lang tot die vadere vergader.

In die laatste uitgaaf, d.d. 25 Febr. 1922, het ek geskryf:

‘Ons gaan onder in 'n nare tyd van nasionale en maatskaplike verwildering en ekonomiese omwenteling, maar soóveel bly 'n troos: dat “DIE BRANDWAG” pal gestaan het by die gesonde ontwikkeling van ons volk, veral op letterkundige gebied. "“DIE BRANDWAG” het sy plig gedaan; laat ons die hoop bly koester dat die donkere uitsig van vandag slegs die laatste ure is voor 'n betere daglemier.’

In sy ontstaan en ontwikkeling sowel as ondergang is die tydskrif dus gewees 'n getroue weerspiegeling ook van die nasionale lotgevalle!

‘Sommige van ons het gedink aan 'n plan om ons tydskrif in goedkoper gedaante, op ander wyse voort te sit’ - dit was die slot van 'n pynlike afskeid - ‘maar onsself gee die voorkeur daaraan om onder te gaan soos ons gedurende 'n twaalftal jare bestaan het; ons sou, om die beeldryke woord te besig van president Thomas Burgers tot die Volksraad, nadat sir Theophilus Shepstone in Pretoria afgesaal had - ons sou veel liewer ‘gevèl word soos 'n arend, hoog in die lug, as om te sterf soos 'n sieklike konyn, in die hol van 'n rots.’

Só het DIE BRANDWAG, voorganger van die DIE NUWE BRANDWAG, sy taak opgevat en, noodgedwonge, ook neergelê.

Ons Sonland is ruim en groot en goed, en sy aantal witmense nouliks die bevolking van 'n ordentlike ou-wêreldse stad. Daarvan eis ons, vir eie beskawing en eie nasionale belange, die helfte op. Hulle geskiedenis en lotswisseling het dit só meegebring dat hulle nie almal soos koeëls in een vorm gegiet is nie, nie almal soos ertjies op mekaar gelyk nie, nie almal soos skape in een kraal gehok word nie. Ruim en wyd, soos ons land self, is ook die opset van ons werk, waar dit aankom op die gemeenskaplike artistieke en taalkundige eigendomlikhede wat ons tot aparte nasie stempel. In die daglemier van die nasie leef en werk ons, in onbegrensde verwagting van die groot lewe wat kom; en ons is wars van alle knelling en alle benepenheid wat die vrye uitgroeiing van daardie groot lewe strem of hinder. Daarom eis ons vryheid vir ons werk, wat ons hoogste besit is. Maar daarom ook sal by ons g'n sieklik-oordrewe waardering aangetref word vir die luttele wat reeds gedaan is nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 5

‘Werda!’ klink dit nog deur die late nag, soos die skim van die oue skildwag op die pos van die Afrikaner-huisgesin DIE NUWE BRANDWAG insommeer.

En ‘VRYHEID, WAARHEID, REG’ is die wagwoord waarmee ons die wagpos van die oue nader en - oorneem!

Vryheid vir ons strewe, waarheid in ons werk, en reg om dit só te betrag en nie anders nie. Dit is al.

GUSTAV PRELLER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 6

Veld-akwarelle.

I.

Torkwaas, topaas en toermalyn, En wisselende aleksandryn; Sardoniks wit gestreep; porfiet, En malwa-groen blink malagiet; Die heuning-geel van krysopraas; Die diepsee-pêrel met sy waas Van môre-grys eer dou-voor-dag Die daglig in die ooste lag; Safier wat blouer bloukleur gee As die diep dieptes van die see; Die bloedrooi skyn van 'n robyn Nuut-uitgegrawe uit die myn, En peridot en amatis Waarin twee tinte om voorrang twis. II.

Gevul met volop groen en nuwe geel, Gebore uit die milde voorjaarsreën, Wat nagte lang sy vrugbaar nat verleen Aan dood-verdroogde vlak en veld wat steel Van wat daar is, om daarmee weer te deel Met blommesaad wat vir die winter ween, Lê uitgestrek 'n nuwe wêreld. Teen Die berg se uitgekerfde kranse speel Die kleurvernis van nuwe môremis, En oor die werf stroom wierook uit die vlei, Die ruik van grond wat nat is, en van sand Wat gister nog die jagtende akkerdis Geskroei het met sy hitte nou verby, En van die lewe wat opbruis oor die land.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 7

III.

Rooskleurige suurknolle Met feselryk blombolle Geplant in swart vet grond; Die loof geil groen; dik rond Die lang sterk stengels; mooi Beblom met rose-rooi. 'n Lewendige kleur-juweel, Waaragter, vèraf, geel Bo wit sand, tussen vers Blaar swangere kraal en kers En vygiebosse pryk Die nuwe gousblomryk. En verder waar die vlei Nog troos van water kry, Groei tussen ruigtegras Sandlelies bleek soos was, En grys trompetters stort Hul stofmeel, opgeskort Vir skemerure, as die kwynende maan Vertoef bo vèraf bulte voor hy ondergaan. IV.

'n Kronkelkloof waarin die kreupelhout - Daars lepelboom en stinkhout en rooi-els En wilde oliewenbos, al jare oud, En kippersol wat met die wind gesels Hoog bo die laer maats wat minder groen En minder sierlik uitsteek bo die grys - Wag tot die late môrestraal hom soen En tot die son sy gloei-goud sterkte wys. 'n Bok-getrapte voetpad loop daardeur, Beskadu met boomvarings waar dit draai Om wind-verweerde sandsteen wat verkleur Met koggelmanderkleure, wat verraai Die oes van lewe wat die klipskeur hou, Sodra die môre blink sy holtes vind En bo nog sonder wolke strek die blou En die dooi blare bewe met die wind.

C.L. Leipoldt.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 8

'n Nuwe Element in ons Letterkunde.

'N JONG LETTERKUNDE kan nie samegesteld wees nie. Die skrywers sing selde vir hulleself: hulle skryf om gelees te word. Hulle is begenadigde enkelinge wat onwillekeurig optree as vertolkers van die smart, die vreugde, die hoop en verlange van die groot massa. Daarom rig hulle hul onwillekeurig tot hulle leserpubliek; maar deurdat hulle gebore kunstenaars is en wat die massa beroer, eerder en beter aanvoel as die gewone sterfling, moet hulle onwillekeurig die sake en onderwerpe aanraak wat weerklank vind in die gemoed van die groter publiek. Juis daarom is kuns in 'n groot mate 'n afspieëling van wat daar in die maatskappy aangaan. Maar dis meer die belangstelling van die denkende en doelbewus-lewende deel van die nasie wat deur die kunstenaars vertolk kan word.

Kan 'n beginletterkunde dan anders as prakties en lerend wees? Dis juis in die nuttige wat die volk belangstel en waaraan hulle behoefte gevoel. Die kunstenaar sou nie aan sy doel beantwoord as hy hoë vlugte neem nie. Hy sou nie begryp word nie; hy sou die massa op wie hy moet staatmaak, wat hy wil beinvloed deurdat hy hom uitspreek, vervreem en hulle nie met ideale kan besiel nie. Die kunstenaar sou m.a.w. deur sy eie toedoen sy doel misloop.

Vreemd is dit daarom nie dat die geskiedenis so 'n belangrike rol in ons letterkunde speel nie. 'n Mens merk dit in die opflikkering van die Afrikaanse beweging as gevolg van oorloë en gerugte van oorloë. Dink aan die Eerste Vryheidsoorlog, die Jameson-inval, die Twede Vryheidsoorlog, die Rebellie. Die Eerste Vryheidsoorlog vind dadelik weerklank in die gediggies van C.P. Hoogenhout en ds. S.J. du Toit. Die onmiddellike en ver verlede het die belangstelling van die meer doelbewuste publiek gaande gemaak, en die leiers het gevoel dat hulle aanknopingspunte in die roemryke verlede moes soek; dit moes die bron van besieling wees. Dit moes tot dade prikkel, want daar was juis 'n skreiende kontras tussen die demoraliserende hede en die geïdealiseerde verlede. Maar die geskiedenis kon nie alles wees nie. Dit moes net 'n ontwaking, 'n herlewing veroorsaak. Dan sou die daaglikse lewe sy eise laat

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *1

FANIE ELOFF. LIEFDESMART (Marmer).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 9 geld saam met die wisselende politieke toestande en die godsdienstige en ander elemente.

Die skrywers van die Twede Beweging moes op hierdie weg voortgaan.

Daar was die groot leed van die oorlog wat moedeloos gemaak en tot onverskilligheid gevoer het. Dié moes weggewerk, dié moes so ver moontlik geobjektiveer word. Die eenheid van al die geploeter van die Afrikaner in die verlede, ook die jongste verlede, sou dan uitkom en die kannie-dood eienskap van ons nasie demonstreer. Dit sou met moed besiel, wat dalk in dade oorgesit kon word. Dan eers kon die doodgewone onderwerpe, wat altyd by ons is maar hulle nooit aan ons opdring nie, die belangstelling èn van die skrywers èn van die lesers gaande maak. In dié gees was baie van die eerste werk van Celliers, Totius, Leipoldt, De Waal, Malherbe, en later van Bruggen. Die Rebellie, en die terugslag wat hy bewerk het, was 'n uitstekende voedingsbodem vir hierdie historiese motief in ons letterkunde.

Van 1914 het die Afrikaanse Beweging met versnelde pas vorentoe gegaan. As offisiële taal het Afrikaans die een vesting na die ander ingeneem; die letterkunde het hiermee probeer tredhou. Dat die letterkunde meer samegesteld geword het, was natuurlik. Die daaglikse lewe en die natuur het van die begin Eugène Marais, Celliers, Leipoldt, Malherbe, Joubert e.a. aangetrek, maar van nou af het die stroom in breedte en diepte toegeneem. Dit kon ook nie anders nie, as dit waar is dat letterkunde in seker mate 'n spieël van die lewe is. Die skrywers van die ouer sowel as jonger geslag van die Twede Beweging was gestudeerde mense, en hulle het lesers gehad wat hulle gewaardeer het. Anders as in die geval van die Eerste Beweging, wat by die minder ontwikkelde publiek steun gevind het, moes die skrywers nou veral rekening hou met die groeiende leserskring uit die ontwikkelde Afrikaners, en jong Suid-Afrika het jaarliks die geledere laat swel.

Dit was onder hierdie omstandighede nie meer genoeg om veral met ‘gister’ besig te wees nie. Nee, die jeug leef in die toekoms; en die lokkende toekoms, waarin hulle ideale verwesenlik moet word, het vir hulle meer aantrekkingskrag. Van die hede kon hulle egter ook nie loskom nie. Naas die geskiedkundige motief wat, hoe langer hoe meer, gebeurtenisse uit die verlede in sy kring van belangstelling, ook uit die ver verlede betrek het, moes die gewone lewe veral besiel. So beoefen Frans van den Heever, J.R.L. van Bruggen, A.D. Keet en Wassenaar en later Visser meer en meer die minnedig. Maar ook die natuur en die nasionale drome bly hulle gedeelte opeis.

In ons dramas, maar veral in die prosaverhaal, word daar meer en meer aandag gewy aan gebeurtenisse en voorvalle uit die daaglikse lewe, uit die onmiddellike omgewing. Hiervan is die novelle die belangrikste. Dink aan ‘Japie’ van J.R.L. van Bruggen, ‘Onder die Olyfboom’ van E.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 10

Fichardt, ‘Die drie Dogters’ van P.R. Gauche, ‘Die Burgemeester van Slaplaagte’ deur Jochem van Bruggen, ‘Onder bevoorregte Mense’ van Marie Linde, ‘Eensaamheid’ deur Eva Walter, ‘Oogklappe’ deur Meg Ross, wat kort daarna verskyn het. Later het nog enkele verdienstelike romans verskyn, nl. ‘Die Meulenaar’, 'n plaasroman uit die Westelike Provinsie, deur dr. D.F. Malherbe, ‘Dina en Lalie’ van Marie Linde, ‘Ampie II’ van Van Bruggen, en ‘Langs die Grootpad’, 'n plaasroman uit die Vrystaat, deur C.M. van den Heever.

In 'n paar van die werke speel die arm-blanke 'n vername rol, maar die plaaslewe begin gelukkig ook meer aandag geniet. Een van die vername motiewe is egter die botsing tussen oud en nuut. Dit kon ook nie anders nie. Toestande het so verbasend snel verander dat ons in 'n uiters kort tydjie van 'n landelike tot 'n fabrieksmaatskappy ontwikkel het. Afgesien van die gewone behoudendheid van die ouer geslag, moes dit onder sulke omstandighede baie meer verskerp word. Dis nou nie meer die natuurlike konserwatisme van die ouers, soos die kinders dit sien nie, maar dis die behoudendheid van die ouer geslag in die landelike maatskappy teenoor die jongeres wat hulle, wat vrysinnigheid betref, 'n paar geslagte voor is. Want die jonger ontwikkelde Afrikanner uit die gewone plaasomgewing, in die meeste gevalle, het kennisgemaak met die nuutste idees van die Europese kunstenaar, soos die dit, miskien in sy dekadente kuns, aangevoel het.

Die Afrikaner-kunstenaar wat onder dergelike invloede staan, besef instinkmatig dat hy versigtig moet optree, want min mense hou daarvan om hulle heeltemal los te breek van die oue en onbetrede, vir sy omgewing ongedroomde, bane te volg.

Onwillekeurig sal die kunstenaar hom dus in 'n seker mate as kind van sy omgewing daarby aanpas, maar die drang sal, hoe langer hoe meer, groei om nuwe rigtings in te slaan om daarop vir sy mense voortrekkerswerk te verrig.

Die skrywers wat die eerste van hierdie tradiesie sal losbreek, moet die meer ontwikkeldes wees, dié wat betreklik op hoogte van sake van party van die Europese letterkundes, maar veral van die teenswoordige roman, is. Kyk ons terug op die weg waarlangs ons prosaverhaal die laaste jare ontwikkel het, dan merk 'n mens reeds hierdie ‘Europese’. Dit kom in die eerste plek uit in die behandeling van tiepies Afrikaanse onderwerpe in 'n Afrikaanse omgewing. Goed kom dit al uit in ‘Japie’. Die skrywer het hierdie jong denker in sy puberbiteitsjare uit sy natuurlike plaas- in die vreemde stadsomgewing oorgeplant. Hier staan hy voor allerhande probleme wat hom nog meer dwing om te dink, en wat tot dade moet voer wat vir sy vroeër omgewing niks anders as rebels moet wees nie. In die vreemde stedelike om-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 11 gewing kon die gesprekke van hierdie soekende siel tog nie by beeste en skape beperk bly nie.

Sterk kom die vreemde ook uit in ‘Onder die Olyfboom’, waar die outeur as held gekies het 'n skrywer-polietikus. Sy openhartige uitsprake oor liefde en aanverwante onderwerpe was iets nuuts in ons letterkunde. Net jammer dat die skrywer se wonderlike spelling en onversorgde taal hom grootliks 'n onbekende in sy eie land laat bly het.

Hierdie nuwe element kom ook sterk uit in Jochem van Bruggen se werk. In ‘Op Veld en Rande’ begin dit in die vry manier waarop hy die een en ander sê; sterker is dit in ‘Die Burgemeester van Slaplaagte’ en in die ‘Ampies’, veral deel I. 'n Mens voel keer op keer dat hierdie talentvolle skrywer, wat so nou verwant is aan die Tagtigers, die ‘tradiesie’ in verband met seker opvattings by ons, veral die geslagtelike, kan vertrap om hom vry te uit na die drang van sy hart en soos dit nodig is. Hy doen dit plek-plek mooi fatsoenlik-suggestief, maar hy weet dat 'n vrye uiting oor lewenssake 'n storm van verontwaardiging sal opwek by dié deel van die Afrikaners wat dergelike boeke nie lees nie en daarom nie kan weet wat aangaan nie, maar wat uit een of ander blad eensydig voorgelig word.

Wat sal b.v. gebeur as een van ons skilders van naam die naakte op die doek bring en dit dan met sy ander werk tentoonstel? Die kreet van ‘onsedelikheid’ sal dadelik gehoor word. En tog moet en sal dit eerlank kom, want ons moet tog later belangstelling hê vir die hele mens en die mooi menslike liggaam wat die skilder as model dien.

'n Wysiging van hierdie nuwe vind 'n mens veral in die werk van een van ons skryfsters. Sy teken in haar boeke Suid-Afrikaanse toestande en persone, maar een of meer van die karakters het diep gedrink by die Europese kunsbronne, en daarom is hulle gewoon om anders te handel as die gewone Afrikaner. Hulle verblyf in die vreemde het hulle daardie buitelandse laat opneem en verwerk, en hulle kan, in die vaderland terug, nie anders nie as voel dat die opvattings wat afkomstig is van eenvoudige toestande, in die samegestelder maatskappy ons kunstenaars maar net in 'n paar oopgetrapte paadjies dwing; dat hulle daardeur oogklappe aangesit word om hulle te verhinder om die popelende lewe om hulle raak te sien. Hulle optrede soos hulle in Europa gewoon was, verwek verbasing en natuurlik kritiek. Daar is niks verkeerd in wat hulle doen nie; dit druis net gedeeltelik in teen wat ons so maklik met die woord ‘tradiesie’ bestempel. Daarom word hulle optrede veroordeel.

Ek het die oog hier op die werk van Marie Linde, wat werklik 'n baanbreekster is. Sy stel in kuns oor die algemeen belang en moet daarom in haar werk aan haar liefde offer. In haar eerste boek, ‘Onder bevoorregte Mense’,

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 12 is Adeline en Ben twee van die vernaamste karakters. Adeline, die dogter van 'n predikant, het in die vreemde sangkuns bestudeer. Haar grootse plan om operasangeres te word, word verydel, maar na haar weloorwoë huwelik besluit sy om haar lewe in te rig soos sy wil: sy wil mos vir haar kuns bly leef. In dié lig moet 'n mens haar optrede beskou.

Ben, die skilder, wat jarelank in Europa deurgebring het, is ook anders as 'n mens gewoon is. 'n Mens merk dit in wat hy doen, maar veral in wat hy wil doen. Selfs Adeline is daarop teë dat hy Bettie in 'n seker onskuldige posiesie sal skilder, want sy weet dat dit by ons uiters ‘ongewoon’ sal wees. Die interessante in dié roman is juis dat ons, anders as gewoonlik die geval is, gevoer word in kunstenaarskringe. Ongewoon is dit vir die persoon wat in die teenswoordige roman belangstel, glad nie, maar dis 'n fris windjie wat hier in ons letterkunde begin opsteek.

In haar twede roman, ‘Dina en Lalie’, word die lyn volgehou; daarom word hierdie rigting waarin sy ontwikkel en ons kuns voer, belangrik. Ek dink hier veral aan Dina. Sy is 'n moderne jong dame; sy handel dikwels vreemd, maar dit daargelate. Van belang is dat die skryfster hier 'n geleentheid geskep het om haar weer oor dergelike sake uit te spreek. Dina is die tiepe van die moderne vrou wat vry wil wees en vry wil handel. Dat die nuwe vryheid soos sterk drank werk en na die kop trek, is natuurlik.

Jasper, die dooierige man van Lalie, is 'n tiepe van die ouer soort man wat nog nie aan die vrou as sy gelyke kan dink nie, en dienooreenkomstig handel. Dina se verhouding tot hom word skerp belig, selfs effens karikatuuragtig gegee.

Dina bewerk 'n omwenteling in die klein en benepe kringetjie van die Brakvleiers. Sy is nie bang vir opspraak nie, sy handel ooreenkomstig haar oortuiging en voel haar sterk in haar opvattings, want sy is niks anders as 'n baanbreekster nie, 'n disipelin van die nuwe. Sy is 'n onafrikaanse Afrikaner-nooi met die vrysinnige Europese denkbeelde in 'n behoudende Boereomgewing. Sy is 'n ‘pagan’, soos sy haarself graag noem. En in hierdie woord, wat vir verskillende vertolkings vatbaar is, vind 'n mens die kern van haar opvattings. Is dit daarom vreemd dat haar handelwyse met die algemeen-geldende tradiesie moes bots, dat sy beny word deur die jongeres, wat nog onder die gesag van die ouers staan? Dat sy so ongewoon handel deur na die man wat sy liefhet en wat haar in die gedaante van haar suster ook bemin, te gaan, is 'n logiese uitvloeisel van haar opvattings. Tog laat sy ons sien met hoeveel stryd die stap gepaard gaan. Moet die toepassing van die opvattings van die denkende moderne vrou altyd so konsekwent deurgevoer word? Het die skryfster dit tot die bitter einde gevoer, omdat die kunstenares wou aantoon dat hierdie leer nood-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 13 wendig daar moet eindig? Ek twyfel daaraan of hierdie vraagstuk in dié vorm bewus in die skryfster opgekom het, maar dis seker 'n onbewuste uitlewing daarvan. Het sy haar oor dergelike aangeleenthede klaar uitgespreek, of gaan sy in die toekoms haar op aanverwante gebiede beweeg? Dit sal alleen die tyd kan leer. M.S.B. Kritzinger.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 14

Oujaarsaand.

Die wind golf oor die koringakker aan, Maar agter het die deining toegeslaan, En d'aandrooi weet nie waar die spore staan: Daar's dinge wat verbygaan en vergaan.

Daar's dinge wat, ofskoon hul spoedig sterf, Soos 'n komeet wat deur die ruimte swerf, Vir ewig leef, en oor-en oorgeërf, In duisend harte heiligheid verwerf.

Die Tyd vervolg sy gang van jaar na jaar, Bou somers en vernietig sonder spaar, Die eie bouwerke om opnuut te bou; Die siel alleen, sy skoonheid, bly behou, Om onverwelk, onsterflik te bly groei, Met lag en liefde in geluk te bloei.

Th. Wassenaar.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 15

Hier in die Wereld...

1.

Waar bliksem slaan en donder dreun, Daar het ek eens 'n vrou hoor kreun. Daar het ek eens 'n lyk gesien - Die arme man het dit nie verdien.

Hy 't swaar gewerk, en hy was trou Aan God en Kerk, aan volk en vrou. Toe kom die weer, en blits hom neer - O Goedheid Gods, wat maak jy seer! 2.

Hier in die wêreld swoeg ons, Daarbo sal dit beter gaan. Maar waarom ons so moet swaarkry - Dit sal ons nooit verstaan.

Hier in die wêreld ploeg ons, Die oeste die kom en vergaan. En of ons die werk ooit klaarkry - God weet, en Hy verstaan...

A.D. Keet.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 16

'n Transportryer.

VER oor die veld kom die wind aan; die voorsomerreën het in die nag geval; die takke van die tallose bome en bosse swaai, en nog skud dit druppels uit hulle blare.

Langs die grootwapad, onder uitgespreide takke van 'n huilbosboom, is 'n transportryer met sy wa en osse weer eindelik uitgespan en tot rus gekom.

'n Vuur flapper alreeds lewendig en opgeruimd in en uit tussen plat klippers waarop 'n swartgebrande pot en ketel staan en wasem, terwyl die klam wind deur die lang droë halms van die golwende geel gras elke keer suisend sny, net tot dit wegsterwe weer vèr vooruit in die wapad of êrens oor ruigtes heen.

Maar wie hom vanaand aan die koue windjie nou maar weinig steur, is 'n transportryer - so in 'n verbleikte kakiebroek en blou gestreepte hemp. Want is die togganger dan nie te honger, koud en klaar afgemat van 'n vermoeiende dag se rit nie, hè? Ja, en dis daarom dat hy net elke keer sorg dat 'n paar vars takke van afgebreekte doringhout tussen klippers onder pot en ketel onder 'n boog vlieënde vonke ingedruk word, om net dan maar weer, soos voorheen, met arms oor die knieë gelê en hande om 'n ongeskeerde wang, terug te gaan sit en peins op sy duikervelmat-stoeltjie, langs die wapperende bokseil van sy hoogop-gelaaide transportwa.

Dis al lank-lank dat sy rooi wiele onder 'n swaar transportvrag oor hierdie groot wapad heen en weer kraak; lank-lank dat die rooi vlam saans in die eensame aande so onder sy pot en ketel op hierdie togte uitflapper en opflaar en die blink vonke in die duisternis opskiet. Daar was strawwe winters gewees; storms wat so swart soos pik was; en ja, baie-baie ander moeilikhede, soos vol riviere en plagende ongedierte, wat hom op die eensame paaie altoos getart het; maar sy vragte het hy darem altoos veilig deurgebring, tot plesier van die een of ander eensame handelaar in afgeleë streke.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 17

En met sy kortsteelpyp tussen ongeskeerde lippe, pof en pof 'n transportryer maar weer vanaand gereelde dampies tabakrook oor 'n bokseilwa, net om elke keer doringhouttakke onder kokende kos lewendiger te skop.

Maar dit was vandag 'n besonder harde dag gewees deur daardie lelike diep drif met al sy ongenadige swart turf; hy voel honger en koud, en roep eindelik sy Hotnot Koebie om koffie te kom inskink en die blikbord nader te bring.

‘A ja, baas Albert,’ die Hotnot loer op na sy baas se vrywende hande vir 'n oomblik en buk dan gou oor om die vuur tot 'n groter vlam aan te blaas, ‘a ja, môre lê die ryp weer dik en wit op die kaal vlakte, nè my baas?’ En die vlamme en vonke skiet in die duisternis lewendig op soos dit skielik aangeblaas word.

Maar sonder ag te slaan op die opmerking van sy handlanger, sit Albert Loftus maar in eie gedagtes diep versink, totdat hy hom eindelik regpluk om 'n stuk gekookte steenbokboud en mieliepap en 'n beker swart koffie te neem en dit smaaklik te geniet.

Die sterre flonker vanaand helder in die nagtelike reën-gesuiwerde lug; die wind flapper maar gedurig een van die los punte van die bokseil anderkant die wa - en af en toe in klap-klapskote, onderwyl daar uit die donker verte die geblaf van 'n wildehond of ander gelyksoortige dier eentonig opklink.

Dis ruim drie volle maande dat Albert Loftus nou op tog is en dat hy laas sy vrou en klein Kerlien gesien het. En vanaand in die ster-bepragte aand, so in die eensame stille veld aan die grens van Masjonaland, sit hy en peins oor huis en vuurherd.

En ja, die koue of hitte en ander ontberinge vir hom as verharde togryer op die allenige paaie in wind en weer is tog niks; maar die verlangste wat op sulke stille aande in die wildernis soos vanaand in die diepte van sy siel brand, is tog só onuithoubaar.

En 'n ru-gewerkte hand, waarop 'n paar lelike vars knoue weer sigbaar is, gaan vir 'n oomblik oor 'n songebruinde gesig, en Albert Loftus rek hom eindelik sugtend uit op sy voustoeltjie langs die agterwiel van sy wa, om daarna skielik op te spring, teen die wa se reling te gaan staan, en dan te leun, en met sy skerp grou oë die duisternis te deurboor.

‘Dis 'n groot ou leeumannetjie wat daar vannag brul, nè, my baas?’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 18

En die Hotnot langs die huilbosvuur loer met waterige ogies angstig op, nadat sy baas vir nog so'n oomblik langs die wa aandagtig gestaan en luister het.

‘Sal Baas die parmantige ou swartvoorlyf dan nie skrikmaak nie?’

Leeus! Ja, nè?

Leeus het Albert Loftus, die transportryer, al baiekeer op pad gehinder, en vannag sal die ou Henri Martini weer eers moet losbrand voordat die ongedierte in die donker buurt van sy transportwa en trekgoed sal luister en padgee. As sy rooibont span weer só moet skrik soos 'n paar nagte gelede daar aan die walle van die Rietrivier, sal hulle seker losbreek van die jukke en die loop neem, net om in die donker deur verskeurende roofdiere oorval en opgevreet te word, soos dit aan die Krokodilrivier alreeds eenkeer gebeur het.

Daar is 'n stadig-naderende gebrul, maar alles is skielik in stilte verval, na 'n paar skote in dié rigting afgevuur is. En na Albert Loftus sy rokende geweer digby hom langs die agterwiel van sy wa geleun, en vir nog 'n oomblik na die stakkato geblaf van sy wolhaarhond gestaan en luister het, neem hy sy sitplek op die duikervelmat-stoeltjie opnuut in, om eindelik vir sy Hotnot te wenk met:

‘Bring die konsertiena hier, Koebie, sodat ek vir jou neef “Ta” daar diekant musiek kan lewer, want ek sal miskien weer die hele nag moet opsit tot genot van daardie lastige ou honger leeu.’

Oor die kniekop van sy kakiebroek span die transportryer na 'n posie sy konsertiena uit en, onderwyl die Hotnot hom in 'n kombers by die vuur dig toerol en sy baas met rook-ogies aangaap, word 'n outydse deuntjie op die musiek flink afgedruk.

Onder die ou huilbosboom, so met sy reusagtige takke, vertroos Albert Loftus hom as na gewoonte weer met sy geliefkoosde polka, terwyl hy terugdink aan die dae toe hy sy vroutjie op een van die afgeleë plase vèr aan die grense van Masjonaland vir die eerste keer ontmoet het, en hoe hy nog dieselfde ou polka van vanaand vir haar by sy eerste ontmoeting in die maanlig op die trap van sy transportwa gesit en speel het.

En voort en voort, dan met kort draaie, stootjies en stootjies, en dan weer met lank-uitgerekte treurige note, gons en sons die musiek maar vanaand op die kniekop van 'n kakiebroek, terwyl in die lig van 'n groot vuur 'n groot wolhaarhond uitgestrek lê en snork - langs 'n sluimerende afgematte touleiertjie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 19

Maar die transportryer voel glad nie vaak na sy lang dag van vermoeienis nie; nee a, sy gedagtes is meeste van die tyd slegs by sy transport en by sy osse voor aan die jukke vasgebind, en lank trek hy elke keer sy konsertiena uit, om dit dan net weer toe te druk en met gespanne aandag in die donker vir oomblikke angstig te luister.

Langsaam en stilletjies is die nag verby gespoed; die sterre omhoog in 'n skulpkleur-lug begin op te helder en dan dowwer te skyn, en eindelik al hoe dowwer en dowwer te skyn, tot die stilte daar onder die ou huilbosboom skielik gebreek word deur:

‘Nou toe, Koebie - opspring! Dis rooidag! Spring op uit jou komberse, kêrel, en laat ons gaan inspan en hiervandaan wegtrek, sodat ons vanaand vèrweg en rustig op die kaal vlakte kan gaan slaap - uit so'n nare ou leeuveld.’ Leon Maré.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 20

Groet.

Ek hoor die Lente se mantel ruis, sy gloriemantel ruis oor die lande, dit blink in die dou van suikerbosrande en fonkel in die pad se gruis.

Dit suisel-sing in jong groen koring en plooi in die vleie se kuil-ferweel, dit ruis in blompronk van vlakte-doring, oor die ou ou Karo se gousblomgeel.

Dit ruis oor slymgras van watervalwande Waar die botterboom blink in die lig van die maan, in die silwersy van tonteldoekrande voor die dagbreek die nanagsterre verslaan.

Ek hoor die Lente se mantel ruis as die siel van my nasie rys uit verkwyning, en kennis, selfkennis se daeraadskyning die sluimerland vang waar skaduwees huis.

Die grootpad word sigbaar deur bloeiende tuine, deur ploegland en braakland in môre-grou, die grootpad deurslinger ver glansende duine, en agter versterwe die nanag se rou.

Ek hoor die Lente se mantel ruis, en geeskrag skuif ope die sluimergordyne, en wilsdade fonkel soos warm robyne, en perlemoer blink in die grootpad se gruis.

D.F. Malherbe.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 21

In 'n Agterplasie.

'N VEERSTOWWER, 'n besem-in-rus, 'n vadoek wat eenkant afhang soos 'n doodgerypte pampoenblaar, 'n lang geel blikkie Vim, 'n parafienstofie, 'n bottel - dis die kosmopolietiese geselskap wat 'n rumatiekerige houttafeltjie om hom verenig het. Sombere groep op daardie aan weerskante ingeslote agterstoepie. Uit die kombuis walm elke keer 'n benouende kosgeur.

Fido lê eenkant. Skielik lig hy hom op twee voorpootjies, buig sy nek stywerig vooroor, en rig sy skerpgepunte oortjies, swart-glansende ogies en glimmende neuspunt gelyk op 'n skoenlapper wat somar so voor hom verbyvlie. Daar sit die ding nou op die grond, strek sy geelbruin vleuels met die witgeborduurde oog-effekte wyd-oop, om hulle dan weer in tentvormige profiel bo saam te flap. Fido voel oortuig van die besoeker se onskuldige bedoelings. Hy rek hom nou eers behoorlik uit op die sementstoepie, met elke spier in salige ontspanning.

Digby die trappe klouter 'n skurfbastige wingerdstokkie teen 'n hoek van die huis op. Links staan 'n steenkoolhok. Soos 'n ontredderde vrou klem 'n verwaarloosde klimop aan die grou-wit mure vas om ondertoe in slonsige wanorde van dofgroen en vaalbruin blare neer te sak. Die twee plante is telefonies aan mekaar verbind met 'n draad waaraan doeke en lappe in verskeidenheid van kleur en snit droog word.

Fido het al 'n paar keer in lui-lome lusteloosheid skuins langs sy liggaam geloer na die kombuisdeur. 'n Sloffende voetgeluid, die gaasdeur piep, en Fido spring belangstellend op. 'n Dame van veertig in verbleikte blou negligé kom uit met 'n bord kos. ‘Come on, old boy’ - sy plaas dit voor hom. Hy lek vieserig langs die kante, haal sy tong so 'n slaggie breedplat oor die kos, en staan terug. ‘Come along, old boy; have your nice porridge; mother made it specially for you... Oh, I see, you don't want it!’ Met dit maak sy of sy die kos wil wegneem, maar plak dit weer op die stoep neer toe Fido, soos 'n verwende kind, voor hom sit en kyk. Sy slof-slof weer die kombuis in, kom terug met suiker, wat sy dik oor die pap strooi, en berisp hom terwyl hy in nukkerige vermaak-houding nadertree: ‘O you spoilt kid! Mother's naughty little spoilt child!’ Fido eet nou sonder seremonie. Kort-kort kyk hy om na die gestreel wat agter op sy stuitjie

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 22 plaasvind onder 'n kapokval van tere liefdeswoordjies. Hy lyk nie ongevoelig vir die weldadige invloed van so'n strelery nie, maar vind dit ongepas by die ete. Nou en dan stop hy in die middel van sy môremaal.’ Come, boykie; finish your breakfast.’ ‘Boykie’ laat hom egter nie maklik beweeg nie. Weer word 'n handvol suiker uit die pot oor sy bord gestrooi, en Fido sukkel deur die laaste deel van sy môremaal met al die onverskilligheid van 'n rykmanskind. Nou eers laat hy hom die gestreel langs rug en maag sonder lydelike verset welgeval, terwyl 'n woordevloed van moederlikheid om sy ore warrel: ‘Mother's big baby - is his little tummy full? Won't he have a little more porridge? Mother's only, only sweetest little child.’ ‘Hullo, old man’, - 'n man van middelbare leeftyd kom uitgestap, besig om aan elke kruisbandlissie sy besondere dagtaak op te dra. ‘Well, how did you sleep, old man?’ Fido stap nader en spring met vuilwit voorpootjies teen sy baas op. So bly hy staan tot die gevryf langs nek en ore hom verveel. ‘Did he eat all his breakfast?’ vra die pleegvader, terwyl hy die bord beskou, wat moeder juis tussen die agter-stoep-tafelgeselskap inskuif.

‘Yes, daddy, but he simply won't eat his food unless I strew sugar over it.’ Speels-ontevrede hurk hy by Fido op die stoep, rol die oudjie op sy rug, en gryp-gryp orals langs sy maag. Van hierdie stoeiery hou ons maat. Met diepgekloofde bek waarin rye tande glanswit dreig, verdedig hy dan hierdie, dan daardie deel van sy maag en bors. Eindelik word die kieliery met twee hande tegelyk 'n bietjie dol na sy sin, hy spring onverwags op, hardloop so 'n halfmaan deur die klein agterplasie, en poseer in uitdaende vang-my-as-jy-kan voor sy baas. Laasgenoemde klop die stof van sy broek en roep na die kombuis: ‘Girls, where is Fido's soap and towel?’

Onmiddellik val ore, kop en stert by Fido. Hy sluip skelm-skelm die koolhok binne asof 'n doodvonnis oor hom uitgespreek is. Die baas kom met 'n stuk seep die stoep afgestap, sleep 'n lang wasbalie onder die kraan, en hak 'n rooigestreepte handdoek van die draad. Hy kyk verwonderd rond, fluit, roep: ‘Fiiido, Fiido, Fido,’ maar Fido is skoonveld. Hy dink 'n oomblik na, loer wantrouig na die steenkoolhok, terwyl 'n glimlag van meelydende wete oor sy gesig wegplooi. Op sy tone sluip hy nader en buk onder die lae deurtjie in.

'n Dowwe gestommel, 'n steenkooldamp, en daar kom die twee tevoorskyn, Fido in hewige verset teen sy baas, wat hom aan die halsband voortsleep. Met vier pote vasgeplant beveg Fido elke duim grond tot by die wasbalie. Hy word ingetel, beur nog eenmaal in laaste wanhoopsworsteling onder wye gesputter van waterdruppels, maar dan breek sy versetskrag. Met opgeduikte ruggie en nat-treurige bakkies ondergaan hy die seep-en-water marteling. ‘Just another second and daddy will wrap you up nicely in your warm towel - daddy wipe the little face - Ah, that's a good boy - now!’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 23

Met innige besorgdheid gooi hy 'n handdoek oor Fido en dra hom stoep-toe, waar sy vrou die droogvrywery verder voltooi. Eindelik is ook hierdie lastige besigheid afgeloop, Fido verkroes sy hare met een skudbeweging, en peil reguit steenkoolhok-toe, terwyl sy miesies die handdoek uithang.

Een huislike pliggie is afgeloop. Daar kom uit die kombuis 'n geklinkel van borde wat gewas word. Dan klim die man met 'n emmer aan sy hand die trappe af en stap na die waterkraan. Wingerdstok en klimop kry hulle weeklikse aalmoes. In die Engelse kerk, waarvan net die toring soos 'n obelisk bokant die omringende dubbelverdiepings uitpunt, begin 'n orrel doflaag te brom. Soos 'n groot hart wat groeie in swellende ekstase tot die uiterste ronding in vlamme van verrukking uitbars en as ene vuurbal sweef in statige styging hemelwaarts - so dreun 'n duisend stemme in magtige harmonie.

Die man staan emmer in die hand en luister; sy vrou vergeet om die kraan oop te draai op haar skottel aartappels. Sy neurie, hy basbrom die wysie wat aangewiek kom op die wind. Die hiemne is uit. Hulle kyk mekaar met 'n innig -verstandhoudelike glimlag aan. Hy stort sy emmer water uit op die klimop. Die waterkraan sjorrr! op haar skottel aartappels.

Fido het in sy steenkool-kamertjie die pynlike waterkuur vergeet...

Dis weer Sondag op die ingehokte agterstoepie. Die vrou is besig om tafelgereedskap op te vrywe; die man sit wydsbeen agteroor op sy stoel met 'n koerant voor hom oopgesprei. Albei kyk kort-kort onrustig na Fido en dan na mekaar, sonder 'n enkele woord, asof elkeen skaam is vir sy kommergedagtes. Die oudjie se ore hang slap, die trane rol reisies langs sy wange tot groot vermaak van 'n menigte vlieë wat net nou en dan opdwarrel as hy nies. ‘Did you try some sugar on his porridge when you gave it to him?’ vra hy eindelik of hy skielik 'n ingewing gekry het. ‘Yes, daddy, I did put sugar on it, but he simply would not touch anything. Shall I try again?’ ‘Wait, girls; see if he won't have his breakfast if I give it to him.’ Hy vou die vervelige koerant op, lê dit langs sy vrou neer, en skuif Fido se bord nader. Fido draai eers nieserig sy kop weg. Die bord word nou onder sy mond gehou, hy gee een onwillige lekkie oor die pap, en ontvlug die lastige belangstelling dáár onder die tafel. ‘I hope he has'nt got distemper,’ angstig die man. Sy vrou kyk hom een oomblik byna verwytend aan en skuif haar stoel terug om Fido met kommervolle liefde te beskou. ‘It won't be distemper, I don't think,’ troos hy, ‘but I had better give him another dose of the chemist's mixture.’ Een van die reeds blink gevryfde lepels word haastig opgeraap, die vrou sukkel-draf die huis in, en kom met 'n bottel medisyne terug. Fido sien die gehate blou botteltjie, die blink lepel, hy skuif 'n bietjie dieper onder die tafel in, en smeek met 'n smart-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 24 like gebrokenheid in sy oog. ‘Come, mother's big boy; take your nice medicine and you'll be quite allright tomorrow.’ Die man haal hom onder die tafel uit. Onder kragtelose protes laat Fido sy mond oopmaak, kou-kou die medisynesmaak met lang tande en 'n vieserige optrekking van die lippe, en gaan op die verste punt van die stoep in dieselfde lewensmoeë houding sit.

Die wingerdstok en klimop wonder waarom hulle weeklikse aalmoes weerhou word.

Dowwe orreltone uit die kerk klim huiwerend na die hemel...

Sondag vul weer die beperkte ruimte van 'n agterstoepie. Die man is besig om 'n ou kerskissie weer inmekaar te timmer. Langs hom staan sy vrou, haar hande onder die voorskoot gekruis, haar gesig verstrak tot 'n uitdrukking van wanhopige kalmte. Op 'n reisdeken eenkant lê die verstyfde liggaam van 'n vuilwit Fox-Terriertjie. Die kissie is klaar. Hy draai die hondjie toe in die reisdeken, lê die bondel versigtig in die kissie neer, en spyker die deksel vas. In onreëlmatige skokgeluide breek die vrou se opgeskroefde kalmte. Hy vat haar in sy arms, soen haar voorhoof: ‘Allright, girls, we've still got each other.’

Orreltone uit die kerk sterf in fluistering van gebed.

Sondagvrede op die agterstoepie van 'n kinderlose paar.

Eitemal.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *2

FANIE ELOFF. FAUN (Brons).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 25

Die Stad.

Dak aan dak en huis aan huis, Grou-swart bondelend opeen, Net soos rou-beklede moeders Wat 'n groot verlies beween.

Uit die wye wolkewade Sak 'n skemering grou daaroor, Om in dikgeweefde swye Al die moedersmart te smoor.

Pikswart punt 'n toring teen Wydgespanne awendboog, Soos 'n noodkreet wat verstar is Wyl dit opskiet na omhoog.

Eitemal.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 26

Geselligheid.

Woedend, woedend loei die winterwind By ieder inval deur die skoorsteenpyp; Die kaggel gryns; sy vlamme-vingers gryp Verwilderd na die winde wat verswind Om weer hul legioene te verbind Tot nuwe stormloop met winterryp, En weer, verfrommel deur die vlamme-gryp, In warrelende woede te verswind.

Die vuurherdlag bestraal 'n vriendekring; En kelkies warm wyn word aangebring, Die rooitand-kaggel daardeur kort begluur - Soos fynhoutvonkies knetterend spat en bewe, Spartel spot en liefde, lag en lewe Heen en weer by vriende om die vuur.

Eitemal

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 27

In die Voortrekkerskerkie Pietermaritzburg.

I.

Voortrekkerstad - al is dit net in naam, Jy was dit eenmaal tog in werklikheid - Wat jy bewaar uit gindse heldetyd, Maak my vir ons geslag wanhopig skaam. Was groot die eerbied vir die Bybelboek, Sterk was die hand ook wat die swaar geweer So raak met doodsveragting kon hanteer; En hoog die hart wat vryheid hier wou soek. Was jy, o trekkerswa, van brose hout, Die man wat jou gedryf het, was van staal. Vandag plesierbelus, op jag na goud, Is broos die mens, - die voertuig is metaal! Oor skromelik gebrek - erbarm U, Heer, Aan mannedurf en ruggraat van weleer. II.

Geboorteland, Natalia so skoon, Die noodlot wil dat nêrens soas hier So karig reg ervaar die stoere pionier; Dat hier die gees-wat-steeds-misken moet woon En tog - hier dool die skim van Gert Maritz, Van Piet Retief, van dapper Dirkie Uys. Dis hier waar Bloedrivier se waters ruis, Majoeba bulder en Spioenkop blits! Sou ek hier swyg waar selfs die stene spreek Van dade op die wêreld nooit oortref? Geskiedenis, wat alle onreg wreek, Sal hul gedagtenis ten hemel hef, In goud op die gedenkrol elke naam: Regmatige trots is wat hier betaam.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 28

III.

Die najaarsgras het nou 'n rosse gloed; Rooi staan die kafferbome in die bloei; 'n Rooi skyn het die water wat hier vloei; Deurweek is al die lydensweg met bloed En ‘Weenen’ is die weerklank van die krans. Ai my! ...Hoe voel ek met my volk verwond Waar alles om my roep: Dis heilig grond, Vir altyd onvervreembaar Afrikaans! O Volk van Smarte, aan verdriet gewend, Gods vrye wind waai uit die donker wolk; Jou naamloos lye is by Hom bekend: Die barensweë van 'n nuwe volk. Span in die wa: die uitspanplek lê ver, - Maar oor die berge lonk die Vryheids-ster!

A.G. Visset.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 29

C.P. Hoogenhout.

C.P. Hoogenhout se grootste verdienste in verband met die Afrikaanse taalbeweging bestaan hierin dat hy een van die ywerigste baanbrekers was op die gebied van die Afrikaanse letterkunde. Ja, dit is te betwyfel of die Genootskap van Regte Afrikaners veel sou uitgerig het of in hul strewe sou volhard het sonder sy besielende invloed, sy sterk persoonlikheid en die krag van sy vaardige pen. En dat sy ywer vir die bevordering van die goeie saak hom byna verteer het en soms tot uiterstes gedrywe het, blyk uit onderstaande gediggie, wat onveranderd weergegee word. Dis vandag amper onmoontlik om te glo dat hy, wat een van die sagmoedigste onder die mensekindere was, dit ‘by die huis kon laat suis’ en klappe kon uitdeel - al was dit dan ook slegs in die gees - omdat ‘Pieter van oom Klaas, die domme aap wat altyd gaap’, dit gewaag het om met die Patriot te spot. Maar laat die gediggie self spreek: So 'n klein Standjie.

Neef Lokomotief Hier is 'n brief Van Jan wat Versies maak; Is dit wat sleg, Maak jy tog reg, Dan skryf ek dat dit kraak.

Die ander dag Het ek gelag Vir Pieter van oom Klaas; Die domme aap Wat altyd gaap, Het mos met my geraas.

Raai waarom tog? Hy het gespog Dat hy kan Engels praat. - En ek het toen My plig gedoen - Gesê hy kan dit laat. Hy wil toe spot; Die Patriot Die sleep hy ook daarby. Toe sê ek, ‘Sot, Die Patriot Sal langer leef as jy.’

Toe word hy kwaad (Dit was op straat), Die mense het staan kyk. Ek sê vir hom: ‘Wees nie so dom, Want ek het mos gelyk.’

‘Ons taal is goed Om mee te groet; Hoekom sê jy “koet-baai”?

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 Wil jy dan spog, Jou kleine bog?’ Hy sê: ‘Loop na jou maai.’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 30

Ek word toe warm En vat sy arm; Toe word hy baie kwaad. Ek dink toe: ‘Neen, Ek gaat maar heen, Dis middel op die straat.’ Maar by die huis Het dit gesuis; Daar het ek hom geklap. Ek sal hom leer; Ons kan nie meer Ons taal so laat vertrap. (Eerste Versameling.)

Dit is jammer dat 'n mens nie met sekerheid kan vasstel watter letterkundige produkte - natuurlik nie in die eng wetenskaplike betekenis bedoel nie - alles uit sy pen was, en in hoever die eerste skrywers direk onder sy invloed gestaan het nie. Dit sal waarskynlik die arbeid loon as 'n mens in hierdie rigting ondersoek instel en 'n vergelykende studie van die eerste-eerste Afrikaanse geskrifte maak, want dit is opmerklik hoe groot die ooreenkoms tussen hulle is wat betref die taal en gedagtegang.

Gedurende die eerste jare van die bestaan van Die Patriot het C.P. Hoogenhout baie naweke met S.J. du Toit in die Pêrel deurgebring, en was hy behulpsaam by die opstel van inleidingsartiekels vir genoemde blad, die nasien van proewe en die geskikmaak vir publikasie van ingesonde stukke. Hierdie gedurige wrywing en wisseling van gedagtes tussen die twee vooraanstaande lede van die Genootskap moes wedersyds groot invloed uitgeoefen en die rigting aangewys het wat die res sou inslaan. Om hierdie rede is dit so jammer dat die eerste letterkundige voortbrengsels van Hoogenhout in Afrikaans nie van 'n hoër gehalte was nie. En hy kon werk van die eerste rang lewer as hy net wou! Maar ongelukkig was hy al te seer met die idee behep dat hy moes afskrywe tot die peil van die lesende publiek van sy tyd, en dat, as hy dit nie doen nie, hy die groot doel wat beoog is, naamlik om die mense so ver te kry om te lees, sou mis. Dit geld veral sy gediggies wat in Afrikaans geskrywe is. Sodra hy hom egter van Nederlands bedien, slaan hy meteens 'n verhewener toon aan, en voel 'n mens somar dadelik dat hy sy gedagtesuiting nie langer aan bande lê nie.

Ter opheldering moet onderstaande twee gedigte, wat anders heeltemal vir ons letterkunde sal verlore raak, dien. Dis moeilik om te glo dat dit dieselfde skrywer is wat ‘So'n Klein Standjie’ gedig het!

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 31

Elegie. (Hemelvaartsdag - 23 Mei 1895.)

Sneeuwkop, hoe trots prijkt gij onder Gods bergen! Fier rijst uw kruin in het reine azuur; Pronkstuk der Schepping, en reus onder dwergen, Majestueus siert ge 't rijk der Natuur.

'k Heb u zo vaak met verrukking bewonderd, 't Hart werd mij dikwels met heimwee vervuld; 'k Zag u met bliks'men omkranst als het dondert, Wen gij uw hoofd met de wolken omhult.

'k Zag u als grijsaard met zilveren hairen, - Als de Mont Blanc van dit Zuidelik Strand; 'k Dacht aan uw schoonheid en niet aan gevaren, Sieraad van Wellington! Werk van Gods Hand!

Wonder der Almacht, zo schoon en verheven, Gij hebt de jaren en eeuwen getart. Ik ben van gisteren - een handbreed mijn leven - Als ik u aanzie, dan krimpt mij het hart.

'k Blik tans naar boven en staar naar beneden: Is dat het beekje dat stroomde aan uw voet? God! welk gedruis maakt het water dan heden? Zingt hij een lijkzang, die bruisende vloed?

Zie toch deez' bergstroom, hoe slaat hij de rotsen, Alles vernielend in pijlsnelle vaart! Hier is geen hulpe, niets leeft in dat klotsen, Hier is geen doorgang, zo God niet bewaart.

Mensenkind, wist gij dan niet dat mijn waatren 's Zomers u lokken en 's winters weerstaan? Hoort gij de stem niet, te midden van 't klaatren: ‘Wie mij trotseert, moet meedoogloos vergaan?’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 32

Ja, 't is een treurzang voor Lettie de Jager, Christiaan Krijnauw, de broeders van Dijk; Stort vrij uw tranen voor 't viertal, O klager! Weet het, zij zijn reeds bij God in Zijn Rijk.

Wacht tot de dag, dat ook Sneeuwkop zal wijken, Dan vindt gij hen in volmaaktheid eens weer; Troost u, en zoek en begraaf nu hun lijken, Zwijg en aanbid, en vlied zelf tot de Heer!

Anderen te redden en zelven te sneven, Dat is een deugd al de eeuwen geroemd; Zo liet de Heiland voor 't mensdom Zijn leven, Daarom wordt Hij ook hun Redder genoemd.

Sticht hier een grafnaald, vermeld de gevaren 't Jeugdig geslacht dat nog wijsheid ontbreekt; Meld het hoe moedig de jonglingen waren: Noem ze met eerbied die ooit van hen spreekt. Zegenwens. (Bij de echtverbintenis van mijn vriend Daniel Francois du Toit, D.P., zoon, met de jongejuf. Maria C. van Nierop - 30 Maart 1886.)

Gelijk na 't stormgeloei en schorre donderslagen De gulden zon zich toont met vriendelik gelaat, Het donkre zwerk verlicht, de nevels weg komt vagen, En 't bevend harte sust, dat nog van angsten slaat; Zo komt de Hemelheer in vaderlik ontfermen, Na 't doorgeworsteld leed, en schenkt u vreugd voor smart; Hij lette op uw klacht, Hij hoorde naar uw kermen, En voert tans in gena een gade u aan 't hart.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 33

En zou een vriend zich dan niet in uw heil verblijden? Niet juichen, waar gij juicht, op deze blijde dag? Ik heb met u getreurd in rampspoed en in lijden, Vergun mij dat ik tans uw vreugd ook delen mag!

Leef met Maria lang in onverstoorbre vrede, Smaak met haar hand in hand het echtelik genot, Deelt samen zuur en zoet... ziedaar mijn hartebede - En eens een hoger heil in 't Koninkrijk van God.

(Word vervolg.) Imker Hoogenhout.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 34

Lewe en Dood.

I. (Horatius Carm. IV. 7.)

Weg is die sneeu, en die gras verskyn reeds weer in die velde Blare kom t'rug na die boom. Aarde verwissel haar tye, en langs hul oewers loop strome Minder en minder sterk. Grasie en nimfe tesame die waag dit nou met hul susters Ongekleed danse te lei. Hoop vir onsterflikheid - ja, maar wat waarsku die jaar en die uur wat Wegraap die vriend'like dag? Winter word sag met die Westewind, Somer vertrap weer die Lente - Somer, verdoem om te sterf, Gou soos die vrugbringend' Najaar sy skatte uitstort, en dan weer T'rug kom die Wintertyd star. Tog maak die maan haar verlies weer spoedig op in die hemel, Ons, as ons eenmaal verval, Daar waar is Vader Aeneas, waar Tullus die ryke en Ancus, Stof en 'n skadu is ons. Wie weet of gode daarbo by die hede verder van plan is Môre se tydperk te voeg? Dit sal minstens jou gretige erfgenaam nooit kan vermors nie Wat jy jou siel hier vergun. Maar as jy eenmaal geval is, en Minos sy oordeel gevel het, Statig, sy oordeel oor jou, Nie, Torquatus jou bloed, welsprekendheid, nee, nog jou goedheid Bring vir jou ooit weer terug. Want uit die onderste Donker kan nòg Diana verlos vir Rein-hart Hippolytus, Nòg het Theseus die krag om van Péirithoüs sy geliefde Lethe se bonde te breek.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 35

II. Oedipus aan theseus. (Sophokles, Oed. Col. 607.)

Vriend Theseus, slegs vir gode kom daar nie Of ouderdom, òf immermeer die dood. Die res verwar tog steeds ons Meester Tyd. Aarde word swak, swak word ons liggaam ook, Geloof verwelk en ongeloof groei wélig. Gees bly standvastig, nòg in vriende ooit Nòg in die staat teenoor 'n ander staat. III. Lesbia. (Catullus. V.)

Laat ons, Lesbia, lewe, laat ons liefhê, Ou-mans-skinnergeklets suurhartig; Laat ons nie op 'n oulap hul waardeer nie! Sonlig snel daarheen, rys ook egter weer op, Maar ons, as ons ou liggie eenmaal wegsink, Nag dan, nag moet ons ewigdurend deurslaap. Gee dan nou vir my duisend, duisend soentjies, Dan gee duisend weer, dan nog vir my honderd. Het ons duisende soentjies menigvuldig, Laat ons skommelend hul getal verwar dan, Sodat niemand dalk ons jaloers verwens nie, Wis hy wat die getal is van ons soentjies. IV. Herakleitos. (Die beroemde gedig van die Aleksandryn Kallimachos.)

Iemand vertel van jou dood, en beweeg my hart om met trane Rouklag te maak, te onthou hoe ons tog dikwels, ou maat, Sonlig laat daal het terwyl ons gesels: maar nou is jy êrens, Vriend van die Kariese kus, lankal tot asstof verteer. Ja, maar jou nagtegaal-stemme die lewe, en nooit sal die Dood nie, Rower van alles wat leef, hul in sy kloue vervoer.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 36

V. Glaukos. (Homerus. II. VI.)

Wat, Groot-hart Diomédes, wat vra jy nog na my afkoms? Kyk, soos die ras van die blare, so is ook die ras van die mensdom. Blare die word deur die wind op die grond verstrooi, en weer ander Kry in die welige woude hul groeikrag as Lente terugkom, So die geslag van die mense: een groei, die ander verkwyn weer. VI. Euripides. (Hipollytus.)

Die naamlose Droom meer gelief as die lewe Die Duister omhels dit en hou dit bewolk; En die strale daarvan wat op aarde nog bewe, Ons smag in ons liefde daarvoor, in ons strewe, Want die lewe Hierna is ons ongeproe, En die boek van die lewe Daaronder bly toe, En ons dryf op legendes wat niemand vertolk. VII. Pindarus. (Puth. VIII.)

Kort is die uurtjie waarin die geluk van die mensdom groei. Groei dit, dan val dit ter aarde, verwelk as die Noodlot hom vloek, Val, en verloor sy bloei. Wat is die mens? Wat ook nie? 'n Ding van 'n dag en 'n droom Van 'n skadu. Ja, maar wanneer die hemelse ligstraal hom soek, Helder dan is die glans wat daar rus op sy hoof, en die stroom Van sy lewe vloei saggies, vloei soet. VIII. Plato. (Resp. IX.)

In die Hemel bestaan daar miskien 'n Voorbeeld, onsterflik bewaar, Vir enigeen om te sien, En vir hom wat gesien het, om dan Deur die Lewe se doolsee te vaar Met sy oog op die Hemelse Plan.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 37

Hierdie is enige gedagtes uit die klassieke skrywers oor die dood, die lewe en die hoop op onsterflikheid. Hul gedagtes kan ons nog met hul deel. Of ons nog hul versmaat, oorgedra in 'n vreemde medium en ontroof van sy aangebore taalmusiek, om nie te praat van die begeleidende musiek nie, kan voel, is 'n ander saak. Hier is 'n paar eksperimente. Die eerste stuk gee, wat ekspiratoriese aksent betref, die oorspronklike versmaat terug:

'n Daktieliese heksameter gevolg deur 'n daktieliese trimeter katalekties.

Die ritme herinner aan Schubert se Träumerei. Nommer drie probeer die elflettergrepige verse, van Catullus weergee.

- weer alleen in sover as die ekspiratoriese aksent die gevoel van die oorspronklike kan voorstel.

Nommer vier is die elegeïese koeplet: heksameter gevolg deur pentameter. So in Ovidius:

behalwe dat in die Griekse heksameter soos in nommer V gewoonlik die hoofcaesura na die twede lettergreep in die derde voet val. Weens sy groot getal natuurlike daktiele pas Afrikaans hom goed aan by die Griekse tiepe.

T.J. Haarhoff.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 38

Die Skuld-probleem in die Attiese Tragedie.

DIE kunskritiek ag dit noodsaaklik dat die katastroof van 'n treurspel vir die toeskouers aanneemlik of verklaarbaar gemaak sal word deur die aanwesigheid van tragiese skuld by die lyer, d.w.s. dat die eienaardighede van sy persoonlikheid oorsaak of tenminste noodsaaklike aanleiding moet wees van die ramp.

Eintlik is die vereiste meer prinsipieel, naamlik dat die tragiese katastroof as noodwendig moet aangevoel word en nie as 'n blote toeval nie. Maar die gewone wyse waarop dié noodsaaklikheid of noodwendigheid verseker word, is deur dit sielkundig te fundeer.

Daar is egter 'n dieper faktor van noodwendigheid ook in die tragedie, en dit is die ewige lotsbeskikking, metafiesies of teologies opgevat. Dié vorm meestal die agtergrond van die psigologiese noodwendigheid, maar kan dit soms heeltemaal oorskadu.

Die regte verhouding tussen hierdie twee faktore is 'n probleem waar die mensheid altyd mee geworstel het; die Heilige Skrif is daar ook vol van. In die dogmatiek is dit die vraagstuk van Predestinasie en Persoonlike Verantwoordelikheid.

Ook die Attiese Tragedie berus op hierdie lewensprobleem. En die oplossing daaraan gegee, vertoon verskeie skakeringe, vanaf die teologies-psigologiese deur die metafiesiese en die metafiesies-psigologiese tot die suiwer-psigologiese.

As ons nou egter hier daaroor 'n paar gedagtes gaan neerskryf, dan geskied dit in die volle besef dat die Attiese Tragedie dikwels nie tragies is nie, en dat die motief van baie tragedies onduidelik is weens die verlies van hulle aanvullingstukke, naamlik in die geval van die sogenaamde trilogieë, en verder dat die oorgrote meerderheid van die produksie verlore gegaan het. Die leser word dus vriendelik versoek om daarmee rekening te hou dat hy te doen sal kry met generalisasies op onvoeldoende gegewens, hoewel ons goeie rede het om aan te neem dat die beskikbare en bruikbare gegewens min of meer verteenwoordigend is van die totaliteit.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 39

Die eerste groot Attiese tragedie-digter van die vyfde eeu voor Kristus, Aischulos, sien die godheid as die onontkombare handhawer van geregtigheid, wat die goddeloosheid besoek van geslag tot geslag! Dit is die eintlike tema van sy dramaturgie, hoewel hy ook oog en hart het vir die menslik-ontroerende van verset teen die godheid.

Hierin verteenwoordig hy die godsdienstige reinheidsbeweging wat in die sesde eeu sterk opgeleef het in die oostelike dele van die Griekse wêreld en spoedig ook in die weste. Sy kuns verraai duidelik 'n profetiese tendens.

Aischulos motiveer egter die vergelding ook psigologies, nie alleen ten opsigte van die persoonlike of oorgeërfde skuld wat psigologies gewortel is nie, maar ook wat betref die prosedure van die vergelding. Dat Agamemnoon deur die hand van Klutaimestra val, is nie toevallig nie, dis nie maar net 'n abstrakte godsbeskikking nie, dis ook sielkundig noodwendig.

Hy lê egter geen besondere nadruk op die sielkundige ontleding nie. Vir hom beheers die teologiese interesse die toneel, en sy artistieke krag is hoofsaaklik 'n lieriese neerslag van die goddelike geregtigheid.

Tragiese skuld by Aischulos is sonde. Sy opvolger en mededinger, Sophokles, is van 'n ander gees, soos hy ook van 'n ander inbors is. Die geestesbeweging van sy tyd was meer georiënteer op die menslike faktor, selfs tot negering van die goddelike toe.

Sophokles vertoon die invloed hiervan, maar handhaaf die oorgelewerde geloof in 'n goddelike wêreldbestuur. Dit is egter nie die geregtigheid hiervan wat hom veral aangryp nie, maar die huiweringwekkende oormag daarvan. Dis vir hom of die godheid regeer volgens wette wat ons nie begryp nie, en die opstrewende mens vernietig sowel deur die mens se geregtigheid as deur sy onreg. Hy sien die mens in sy vermeende pligsbetragting of in 'n botsing van pligte altyd swak en onveilig teenoor die goddelike oormag, veral onveilig namate hy meer selfbewus is. Deemoed en nederigheid is sy enigste behoud. Dit egter verwek by hom geen opstand nie; nee, hy vind sy rus en sy geluk in neerbuigendheid. Desnietemin is die mens vir hom 'n pragverskyning wat hy liefdevol ontleed sowel in sy krag as in sy swakheid, maar veral in sy baatlose siele-adel. By hom veral werk die goddelike noodlot langs die kanaal van die menslike psiege, hoewel dikwels sonder dat die mens as sedelik of godsdienstig skuldig aangesien word. Die godheid gebruik die karaktereinaardighede teen sy slagoffers om hulle te vernietig, nie juis by wyse van vergelding vir ongeregtigheid nie. Antigone val deur haar hooghartige nastrewing van die goddelike geregtigheid, Oidipus deur sy voortvarende weetgierigheid.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 40

Tragiese skuld by Sophokles is onerkende menslike swakheid. By Aischulos kom die versoening deur straf, by Sophokles deur belydenis van nietigheid. Die proses van versoening is by Aischulos hoofsaaklik 'n regsproses, by Sophokles 'n psigologiese proses. Hy is dan ook die grootmeester van geraffineerde karakterontleding, al is dit meer van karaktertiepes as van indiwidualiteite.

Teen die end van die 5e eeu egter is die politeïse filosofies ondermyn by die leidende geeste, en die oorgelewerde opvatting van die godsregering in stryd met die verligte sedelikheidsbesef. Religieuse geeste verkeer in die stryd van opstand teen die oorgelewerde geloof en die ontwikkeling van 'n nuwe geloof. Baie versink in sinisme en skeptisisme, enkeles styg op tot 'n vaagbelynde henoteïsme, 'n groot aantal vind vrede in 'n nuwe panteïsme.

Die invloed van hierdie geestesstryd het Euripides, die jongste van die groot driemanskap, tenvolle ervaar. Die politeïstiese wêreldbestuur is vir hom 'n intellektuele en sedelike gruwel, al moet hy noodwendig daarvan gebruik maak as die oorgelewerde raamwerk van sy kuns-genre. Hy word dan ook nooit moeg daarvan om die mitologiese voorstellinge te hekel nie. Hy besef dat daar iets beters moet wees, dat die godheid regverdig en heilig en goed moet wees. Maar helderheid het hy nie. Positief kom hy nie veel verder nie, as tot 'n verheerliking van die goddelike skoonheid van die lewe in al sy verwarring en ellende.

Die mens met sy hartstogte en ideale is vir hom die enigste houvas wat hy het, want hy sien iets goddeliks, iets van onverwoesbare skoonheid in die menslike psiege, wat te meer tot openbaring kom na mate die noodlot hom met harder slae beuk.

Skuld? Ja, wie is skuldig: god of die mens? In elk geval die mens se lot is 'n gevolg van sy lewe, van sy karakter; of dit 'n regverdige gevolg of selfs 'n godbewerkte gevolg is, dit weet hy nie.

Daarom is die spel van menslike hartstogte en menslike vernuf vir Euripides 'n passie. Dit is die strydveld waar sy siel in opgaan.

En as die uitslag ellende is: moord, ontug, smart en dood, dan is dit nie al nie. Want daar is 'n skoonheid in wat onverganklik is, 'n skoonheid wat náglans en násing in Euripides se poësie. Tragiese skuld is by hom wesenlik antroposentries, al mag die inkleding, wat hy moes oorneem uit sy stof, 'n teosentriese skyn vertoon. Dit is vir hom menslike hartstog, van watter aard ook al, rein soos by Hippolutos of sieklik en verdraaid soos by Medeia. Die versoening van die konflik is by hom slegs potensieel teologies; eerder is dit metafiesies. Maar hoofsaaklik is dit esteties-religieus. Die

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *3

FANIE ELOFF. KOPSTUDIE J.H. PIERNEEF (Gips).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 41 lydingskoonheid is vir hom nie alleen 'n objek van estetiese ontroering nie; dit is bykans 'n objek van godsdienstige verering.

Hoe dit sy, Euripides se antroposentriese realisme gee 'n sekere gebrokenheid aan sy lewensbeskouing en aan sy kuns, wat sterk afwyk van die klassieke ideaal, maar juis daarom te meer die moderne mensheid se liefde vir hom gewen het.

Ook ons, ook meer en meer in Suid-Afrika, sweef tussen twee wêrelde in; ons kan nie een van die twee heeltemal loslaat nie, maar kan ook nie aan een van die twee ons volle hart gee nie, hoewel die eindige en menslike ons geweldig trek.

Hoe sal dan ons toekomstige Suid-Afrikaanse drama die versoening veraanskoulik, Aischuleïes, Sophokleïes of Euripideïes?

L.J. du Plessis.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 42

Iets Omtrent die Volksoorlewerings van die Suid-Afrikaanse Bantoe.

I. Inleiding.

ONDER die veelsydige en interessante voortbrengsels van die Bantoevolksgees moet hulle mondeling-oorgelewerde tradiesies seker as een van die belangrikste onderdele beskou word. Antropoloë en kunstenaars weet lankal dat die Bantoe in die algemeen, en daaronder ook die Suid-Afrikaanse Bantoe, 'n motief- en vormryke beeldende kuns, en 'n van diepgaande gevoel getuiende en ritmies hoogs-ingewikkelde musikale kuns besit, en dat die letterkundige siel van die Bantoe hom in 'n rykdom van voortbrengsels geuit het van 'n geaardheid, veelsydigheid en kunsgehalte soos ons by maar min primitiewe volke aantref. Maar terwyl die beeldende en musikale kuns, deur die strewe van kunstenaars en musici, langsamerhand meer en meer onder die Afrikaanse volk bekend raak, is die algemene onkunde omtrent die letterkundige sy van die Bantoe-kunsprodukte nog groot. En so wil ons, deur in hierdie reeks 'n paar feite en beskouings oor die onderwerp aan die hand te gee, belangstelling en neiging wek onder die lesers vir hierdie eienaardige en waardevolle voortbrengsels van menslike kunssin onder ons primitiewe inboorlinge. Ons het hierbo van letterkundige voortbrengsels gepraat, en het die woord daar in enigsins vrye betekenis moet gebruik; want helaas bly die grootste deel van die Bantoe-volkstradiesies nog ongeskrewe. Daar is weliswaar reeds 'n aantal fabels, sages, spreekwoorde ens. te boek gestel, soos b.v. deur Jacottet(1), Hoffmann(2), Junod(3), Plaatje(4), en Samuelson(5), maar die oorgrote meerderheid van die volksoorlewerings rus nog in die brein en op die lippe van die inboorlinge, en word by die jaar minder in kwaliteit en kwantiteit deur die afbrekende kontak met die westerse beskawing. Tog sal niemand, na selfs die vlugtigste beskouing van die materiaal, die naam letterkunde daaraan wil onthou nie, en sal ons daardie naam ook hier gebruik.

(1) E. Jacotett: Treasury of Basuto Lore. Litsomo tsa Basotho. (2) C. Hoffmann: Märchen und Erzählungen der Eingeborenen in Nord-Transvaal, e.a. in Zeitschr. f. Kol. Spr., Bd. VI) (3) H.A. Junod: Chants et contes des Baronga. (4) S.T. Plaatje: Sechuana Proverbs. (5) L.C. Samuelson: Some Zulu Customs and Folklore.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 43

Watter soorte letterkunde besit ons Suid-Afrikaanse Bantoe? Die verskeidenheid is taamlik groot, en die verskilslyne tussen die afsonderlike klasse is soms maar onduidelik. Maar vir die gemak kan ons die oorlewerings verdeel in die volgende klasse:

1. Verhale, sages, fabels, mitologie, geskiedkundige oorlewering. 2. Spreekwoorde, gesegdes, raaisels. 3. Sange, heldeliedere, prysliedere, feesliedere, liefdes- en treurliedere. 4. Formules, gebede, rituele en geheime sange en gesegdes.

Daar is nog meer indiwiduele stukke wat ons nie gemaklik onder een of ander van die bogenoemde kategorieë kan bring nie, en daar is moontlik nog meer kategorieë wat ons sou moet bytel. Maar die bostaande is wel die hooflyne, en sal vir ons doeleindes hier miskien van genoegsame volledigheid wees.

Laat ons nou 'n rukkie stilstaan en 'n idee probeer kry van die algemene kenmerke van die Bantoe-letterkunde. Dit is reeds gesê geword dat dit in hoofsaak tradisioneel is en van mond tot mond oorgelewer word. Wie die oorspronklike outeurs van hierdie of daardie stuk is, kan ons slegs in 'n paar gevalle te wete kom, want die meeste daarvan dateer uit die oerverlede van die volk. Slegs 'n enkele klas, n.l. die derde hierbo genoem, ontstaan nog in enige kwantiteit in die vorm van ad hoc-gemaakte sange, prysliedere ens. by een of ander groot geleentheid. So is daar b.v. ter geleentheid van die besoek van die Prins van Wallis aan ons land 'n paar jaar gelede veral in Natal en die prysliedere op hom gemaak deur die volksangers. Maar, soos gesê, daar ontstaan vandag maar min van dié soort letterkunde onder ons naturelle; die skrywers hou hulself meer besig met skoolboeke, stigtelike werke, geskiedkundige verhale, ens. Nou is die oorlewering van een of ander verhaal of lied nie algemeen nie, maar rus in die geheue van sekere mense in die stamme, die professionele sangers, die toordokters, die kapteins en hulle omgewing, en ander mense, meestal oueres, met goeie en geskoolde geheues wat daarin belangstel. Die mees-geliefde verhale, sange, mitologiese oorlewerings en dergelike is gewoonlik so taamlik aan elke volwasse lid van die stam bekend; maar gewoonlik is daar maar net sekere indiwidue wat 'n veelsydiger kennis van die ou letterkundige skat van hul volk het. Sulke indiwidue word dan algemeen bekend as vertellers, sangers, raaiselvraers, ens., en by feestelike en dergelike geleenthede is daar na hulle groot navraag. Die algemeen-bekende verhale, egter, word by enige gesellige geleentheid, om die kampvuur of op die veepos, by 'n bruilof of in 'n inwydingskool, smaaklik vertel, en so raak iedereen, jonk en oud, met die inhoud daarvan bekend. So

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 44 het hul b.v. raaisel-spelletjies, waarby hulle raaisels met mekaar verruil, of spreekwoorde-spelletjies, waarby hulle spreekwoorde soek te pas te bring: genoeg om te bewys dat die oeroue letterkundige oorlewerings nog 'n vaste en belangrike plek inneem in die daaglikse lewe van ons Bantoestamme.

Wat kan ons nou sê oor die algemene kenmerke van die styl van die verskillende klasse van die letterkunde? Ten eerste moet ons 'n blik slaan op die rol van die taal in die letterkunde. Die Bantoetale is tale van primitiewe volkere, en as sodanig skuil daarin 'n naiwiteit, 'n frisheid van uitdrukking, 'n plesier in die woord as gevoelsuiting, wat ons by meer geskoolde tale mis. Die Bantoetale het 'n ryke, soms 'n waarlik oorvloedig-ryke woordeskat met betrekking tot die dinge en gebeurtenisse in die daaglikse lewe van die Bantoe. Daarby 'n taalbou, logies en akkuraat, maar tog elasties en subtiel, met allerlei moontlikhede van woorduitbeelding en woordvorming, allerlei fyn skakeringe van bedoeling, en daarby 'n skilderagtige idioom wat betref die mees gewone dinge. As ons daarby dink aan die diepsinnige verwikkeldheid van die Bantoe-psiege, en tog tegelykertyd aan die frisse eenvoud van hulle natuurbeskouing, dan moet ons wel oortuig wees dat die Bantoetale 'n rake instrument van letterkundige voortbrengsels moet wees. En so is dit ook inderdaad. Op die dooie papier, sonder die illustrasie van die verklarende stem, kan ons ongelukkig maar so min sê van hierdie aantreklike deel van die onderwerp; daar is b.v. die ryke klanknabootsing, die direkte weergewing van 'n natuurgeluid, die indirekte aanduiding van 'n klank, 'n beweging, 'n geaardheid, 'n stemming, deur 'n enkele onomatopetikon. So b.v. in Sesoetoe: ke be ke dula tuu (ek het gesit tuu, d.w.s. tjoepstil), ka sepela gwasha-gwasha emi, gwasha-gwasha-emi (ek het geloop gwasha-gwasha emi, d.w.s. skuif-skuif en skielik stil); die trein se geluid is ke tswa Kapa, ke tswa Kapa, ke tswa Kapa... iedereen wat die moeite doen om die sinnetjie 'n paar maal agtermekaar taamlik vinnig op te sê, sal dadelik die nabootsing van die onmiskenbare geluid van 'n stomende trein hoor, en dit sal sy eenvoudige plesier daarin nog verhoog as hy eers hoor dat die betekenis van die frase nog daarby ad rem is, n.l. ek kom van die Kaap. Buiten hierdie direkte natuurafbeelding en indirekte aanduiding van verskynsels, het die Bantoetale 'n skat van idiomatiese uitdrukkings wat aan styl en trant van 'n stuk 'n oeregte primitief-Afrikaanse kleur gee, maar waarmee ons ons uit plaasgebrek nie nou kan besighou nie.

Dit spreek egter vanself dat die styl afwissel volgens die inhoud van 'n stuk. So word die verhale, mitologie, fabels ens. mees op 'n intiemgesellige manier voorgedra, in breedvoerige styl en met 'n huislike woordeskat; die styl van die geskiedkundige oorlewerings en baie van die sange is meer voornaam, maar oor die algemeen sober en somtyds amper pedanties-nou-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 45 keurig; in die spreekwoorde en raaisels, en gedeeltelik ook in liedere, vind ons 'n gedronge, amper 'n verwronge lakoniese styl, kort en bondig en haarfyn geknip; in die prysliedere en krygssange, in die feesliedere en treurmares vind ons 'n emosionele uitstorting, 'n hiperboliese taal, 'n opwelling van passie, van verdriet, van triomf, van baldadigheid. Dis die mees lieriese voortbrengsels wat die Bantoevolkere besit.

In volgende artiekels sal ons die verskillende genres afsonderlik bespreek, en ons beskouings soveel moontlik met voorbeelde toelig.

G.P. Lestrade.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 46

Lugkastele.

DIE saak is bekend. Solank as daar 'n mensheid bestaan het, is daar lugkastele gebou; en nieteenstaande alle teleurstellinge sal hulle bly gebou word, solank as die mensheid sigself bly, en in onverwoesbare optimisme in hulle fantasieë sal realiseer wat in die werklikheid aan die wense nie beantwoord nie. Hulle is gebou in die aantreklike vorm van die hooggespanne verwagtinge wat die opkomende jeug van die lewe koester, maar ook in die groteske vorme van 'n titaniese oormoed wat die ‘oppermens’ hemel en aarde van plek wil laat ruil. So oud as die mensheid. Die Sumeriese koninkies van die Eufraat- en Tigrisvlakte uit die verre dae van 3000 v.K., sodra hulle hulle mag buite die grense van die stamland gaan uitbrei het, voer die tietel van ‘koning van die vier wêrelddele’ en maak aldus aanspraak op die wêreldheerskappy, en 'n paar duisend jaar later gaan die konings van Assierië hulle voorbeeld navolg en laat hulle ‘koning van die heelal’ benoem - al moet hulle ook jaar aan jaar die swaarste oorloë voer met ander bewoners en maghebbers van hulle ‘heelal’. Die edele ketter-koning van Egipte, Amenhotep IV, uit die veertiende voorkristelike eeu, het gedroom dat hy deur naamsveranderinge die ou gode wat eeuelank die godsdienstige gevoelens van die volk beheers het, sou kan afskaf, en die deur hom so toegewyde en geesdriftig vereerde sonnige Mag sou kan laat alleenheerser word oor die harte van sy volk. Eva, ‘die moeder van al wat lewe’, het haarself al sien sit as hemelkoningin op die troon naas die Ewige; nog is daar wel wat meen dat, as maar eenmaal die regeermag in vrouehande lê, die paradystyd aanmerklik naderby sal gekom het. Die mense wat 'n toring gaan bou het ‘welks opperste in den hemel zy’, was nie so veel dwaser as die man van teenswoordig wat hom na die maan wil laat skiet nie.

Die saak is bekend. Maar hoe het die mense daartoe gekom om daardié naam aan die saak te gee. Van ‘lugkastele bou’ of ‘kastele in die lug bou’ praat alle beskaafde volke van Westelike Europa, Engelse en Franse, Italiane en Nederlanders, en reeds die ou Romeine het so gesê as hulle van hersenskimme en te grootste verwagtinge gehoor het. Vanwaar die beeldspraak?

Aan almal is by name bekend die groot versameling van Arabiese ververtellinge gangbaar onder die tietel: Die duisend-en-een nag. Hoewel in die Arabiese taal oorgelewer, is die verhale seker nie almal van Arabiese oorsprong nie; die meeste van die ouere vertellinge uit die groot versameling is

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 47 waarskynlik uit Indië afkomstig en vertoon 'n Ariese gees in hulle fyn poëtiese struktuur. 'n Twede groep is egter ongetwyfeld Semietiese werk en afkomstig van die bedrewe verhalers van Bagdad; terwyl 'n derde groep sy ontstaan sal gevind het in die Mohammedaanse kringe van Kaïro. Reeds in die middel van die agste eeu vind ons die verhale in omloop, maar eers later en langsamerhand is die groot versameling tot stand gebring, waaraan verskillende geslagte agtermekaar gewerk het. So het omstreeks 1400 die versameling in Egipte die grootte en vorm gekry waarin die Westerse volke dit leer ken het. Een van die verhale wat later in die versameling ingekom het, is dié van die wyse Haikaar en sy ondankbare leerling, sy aangenome kind en suster se seun, Nadan. Haikaar, visier en raadgewer van Sanherib, die koning van Assierië, het geen kinders gehad nie, nieteenstaande sy sestig vroue en sy gedurige gebede tot die gode, maar kry tenslotte deur 'n hemelstem die raad om sy susterskind Nadan te adopteer. Hy laat die kind deur ag voedsters en versorgsters grootbring, en as hy self oud word, stel hy hom aan die koning voor as sy opvolger in die amp. Na die goedkeuring van die koning begin Haikaar met die opleiding van Nadan. Die onderwys word gegee in die vorm van 'n sewentigtal spreuke, wat meermale baie ooreenkoms vertoon met die Bybelse Spreuke van Salomo. Dan trek die ou wyse hom terug uit sy amp en sy sake, en laat die bestuur van huis en hawe oor aan sy pleegkind. Nadan, egter, blyk 'n ondankbare leerling en 'n ontaarde seun te wees; soos die bose dienskneg in die gelykenis (Matth. 24:45 vv., Luk. 12:42 vv.) begin hy ‘de knechten en de dienstmaagden te slaan, en te eten en te drinken met de dronkaards’. Hy belaster sy oom waar hy maar kan; en daar bly vir Haikaar g'n ander uitweg nie as om met die toestemming van die koning die seun weg te jaag en in sy plek sy jonger broer te adopteer. Nou begin egter eers reg die moeilikhede. Nadan intrigeer teen sy oom soveel hy kan, totdat dit hom deur valse diplomatieke briewe geluk om Haikaar by die koning in verdenking te bring van hoogverraad. 'n Offisier van hoë rang word gestuur om aan Haikaar die doodvonnis te voltrek. Die offisier blyk 'n ou vrind van hom te wees, en so word 'n slaaf in sy plek in Haikaar se klere gedood, die ou wyse self egter in 'n gat in die grond by die drumpel van sy huis verberg en heimlik in die lewe gehou. Volk en koning treur oor die groot verlies wat die land moes ly; en as die naburige koninge hoor van Haikaar se teregstelling, begin hulle moed te kry om teen Assierië op te tree, wat hulle tydens Haikaar se lewe nooit gedurf het nie. Die koning van Egipte stuur 'n brief na Sanherib, vir die vorm in die mees vriendelike bewoordinge, maar blykaar gemeen as 'n aanleiding om moeilikhede te skep. In hierdie brief herinner die Egiptiese koning die Assieriese ‘aan die vrede en die welsyn en die mag en die eer wat ons besonder vir U, my geliefde broeder

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 48

Sanherib, toewens. Ek het gewens om 'n kasteel te bou tussen die hemel en die aarde, en ek wens dat U vir my sal stuur 'n wyse, kundige man uit U omgewing om dit vir my te bou, en om al my vrae te beantwoord. As U vir my so'n man sal stuur, sal ek insamel en vir U stuur die inkomste van Egipte vir drie jaar, maar as U vir my nie 'n man stuur wat al my vrae sal beantwoord nie, dan moet U insamel en vir my stuur die belastinge van Assierië vir drie jaar.’ Sanherib is oor hierdie brief tegelyk verbaas en vertoorn; hy raadpleeg sy wyse, waarsêers en sterrekundiges, maar niemand weet uitkoms nie. Almal erken dat alleen Haikaar in staat sou gewees het om die moeilikheid op te los. As die koning van sy troon af en in die as gaan sit het, kom die offisier wat Haikaar moes teregstel maar dit nie gedoen het nie, die ware toedrag vertel. Haikaar word ontbied, en in al sy ellende met lang hare soos van wilde diere en naels soos arendskloue, vuil en verkommerd voor die koning gebring; hy word begenadig, met die kleed van die koning self begiftig, en na 'n veertig dae van rus verskyn hy in sy ou glorie aan die hof. Die koning vertel hom dan van die brief uit Egipte, en Haikaar neem aan om aan die versoek te voldoen. Hy gaan terug na sy huis en gee bevel aan jagters om twee jong arende te vang, en hy beveel wewers om twee kabels te maak elk tweeduisend el lank, en aan timmermans bestel hy om twee groot kaste te maak. Dan neem hy twee klein seuns, voed hulle en die arende elke dag goed met lamsvleis, en leer die seuns om op die rug van die arende te ry, elke dag 'n bietje hoër, deurdat hy elke dag die kabels 'n bietjie verder laat vier, totdat hulle die volle tweeduisend elle bereik het. As hulle aan die sport gewoon geword is, sê hy vir hulle dat, as hulle daar hoog in die lug swewe, hulle moet skreeu: ‘Bring vir ons kalk, bring vir ons stene, dat ons kan bou die kasteel vir die koning, want ons het niks te doen nie’. As alles voorberei is, word dit aan Sanherib vertoon, wat verbaas is oor die wysheid van sy ou visier. Hierna word hy afgevaardig na die koning van Egipte, wie se guns hy al spoedig win deur sy verstandige en sierlike taal, deur die pragtige vergelykinge wat hy vyf dae agtereen weet te vind vir die telkens anders aangeklede koning en sy hofstaat, totdat die groot dag kom waarop die wens van die Farao, in die brief geuit, sal vervul moet word. Uit die twee kaste wat hy saamgebring het, laat Haikaar die arende kom, vasgebind aan die lang kabels, en die vertoning geluk heeltemal na die program. As die twee seuns hoog uit die lug om kalk en stene skreeu, sê die koning dat hy die plan om 'n kasteel te bou opgegee het; waarby Haikaar nog triomfeer dat, as sy heer die koning van Assierië hier was, hy verskeie kastele in 'n enkele dag sou gebou het. Nog ander bewyse van sy gevatheid in die oplossing van strikvrae weet Haikaar te gee, totdat hy met eer en geskenke oorlaai terugkeer. By sy terugkoms word die ontaarde seun Nadan aan hom oorgegee, deur hom gevange gesit in 'n donker hok by die huisie, en telkens

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 49 as die ou visier daarlangs kom, werp hy vir die onverlaat 'n woord van verwyt toe, mees in die vorm van vergelyking met 'n dier of monster, 'n veertigtal waarvan die verhaal vermeld, en waarvan verskillendes gangbare spreuke is in die ou Oosterse wêreld. Voordat Nadan, deur hierdie verwyte tot berou gebring, vergewing kan kry, bars hy uitmekaar en sterwe. Hierdie verhaal het 'n baie groot verbreiding gevind, en was veral in die ou Kristenheid baie geliefd. Daar bestaan 'n Sieriese resensie van, wat waarskynlik ouer is as die Arabiese, daarnaas nog 'n Etiopiese en Nu-Sierise, 'n Armeense en Oud-Turkse, en 'n Slaviese wat waarskynlik op 'n verlore Griekse teruggaan. In die lewe van Aesopus, die Griekse fabeldigter, is die geskiedenis van Haikaar verwerk, en voorgestel as lotgevalle van die digter by sy verblyf in Babilonië en Egipte. In die Talmud kom die verhaal van die lugkasteel voor as 'n slimmigheid van 'n rabbi, Josua ben Chananja, uit die tyd van keiser Hadrianus (117-138 n.K.), waarmee hy Griekse wyse oortroef. So blyk dit dat die verhaal reeds eeue ouer is as die bewerking daarvan in die Duisend-en-een nag. Die Apokriewe Bybelboek Tobit ken ook reeds die naam en die hoofpunte van die geskiedenis; hiermee blyk die gegewens al tot in die twede voorkristelike eeu terug te gaan. Die vermoedens van die geleerdes dat in die Haikaar-verhaal baie ou Oosterse gegewens verwerk is, het 'n skitterende bevestiging gekry deur die vonds van Arameese papyri op die Nyleiland Elefantine in 1906-1908, waar temidde van briewe en juriediese oorkondes uit die regering van die Persiese koning Darius II (424-404 v.K.) op elf papierusvelle 'n groot deel van die verhaal teruggevind is, in 'n veel minder fantastiese vorm, in die algemene beskawingstaal van daardie eeu, die Aramees, 'n vroeëre vorm van Sieries. Hier blyk ook dat die name van die hoofpersone oorspronklik Assieries-Babilonies gewees het, en dat die hoofpersoon Achiqar (spr.: Agikar) was, die ‘skrywer’ van die Assieriese koninge Sanherib en Asarhaddon. Die naam van die gerigsvoltrekker in die roman is dieselfde as van 'n hoë waardigheidsbekleër van Sanherib se tyd, wat histories nagewys is. Van die verhaal wat eintlik die omlysting van die beide spreukegroepe vorm, is in die Arameese resensie slegs die aanvang tot die dreiende teregstelling van die hoofpersoon bewaar, sodat die verhaal van die lugkastele daarin nie voorkom nie. Dit bly egter moontlik dat ook hierdie trek tot die oudste vorm van die geskiedenis behoor het, en miskien sal latere vondse die bewys gee dat reeds in die vyfde en vroeëre eeue van die voorkristelike jaartelling die mense nie slegs in oordragtelike sin lugkastele gebou het nie, maar ook net soos die beskaafde volke van ons eeu van ‘lugkastele bou’ gepraat het. Ons lewe in menige opsig van die erfenis wat uit die Ou Ooste aan ons oorgelewer is. B. Gemser.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 50

Oor Boeke

Die Nederlandsche historiën.

'N Vorser op letterkundige gebied was ek nog nooit nie, behoef dit ook nie te word nie: daarvoor betaal die staat hooggeleerde professore met lang vakansies. Maar 'n tydjie gelede het ek in 'n koerant 'n lang betoog teëgekom wat beduie dat ons Afrikaanse beweging afbrekend is en nie opbouend nie; dat die kinders op die Nederlandse lettere gevoed moet word. Nederlandse romans oor die algemeen boei my nie. Die karakters wat hulle daarin ontplooi, is gewoonlik so egosentries en weekmoedig dat hulle my afstoot; die held of heldin is so ingenome met die sielkundige verloop van sy of haar erotiese gewaarwordinge dat ek verlang na 'n deus ex machina om die toneel te ruim, geweldadig indien moontlik. En dan die styl! Hollanders wat ek ken, is mense sonder draadwerk: hulle spraak is nugter, presies, reguit. En selfs die skrywers. Word 'n onderwerp objektief en wetenskaplik behandel, dan laat die styl niks te wense oor nie. Die Handboek van dr. Prinsen lees soos 'n mens se gedagte vloei. Dr. Cohen behandel Agrariese Reg in 'n styl waarin elkeen wat Hollands ken, hom kan volg. Maar so gou as 'n skrywer meen om 'n kunswerk te lewer, dan raak hy befoeterd. Dan skryf hy min of meer soos Jacobus van Looy. Dan wonder die leser of hy stompsinnig dan wel of die skrywer gek is. Die werkwoord smyt die skrywer in die gedeelte van die sin waar jy hom nooit sou soek nie, tensy jy koors het. 'n Byvoeglike naamwoord kan hy nooit gebruik nie of hy moet nog een soek, min of meer 'n teenstelling van die eerste, en die twee soos twee weerspannige jong osse bitter-soet, dof-neuriënd, of stomp-diepsinnig aanmekaar koppel. Ek merk dat Afrikaanse skrywers ook al daardie gemaakthede naaap, so dat 'n nugtere Japie en sy landelike nooi eg neo-Freudiaans op mekaar kan reageer.

In my soek na die nugtere het ek gedink aan geskiedskrywers. Waar is die Hollandse Gibbon, Moffat, Prescott, Finley? Fruin? Tussen ons meisies, ek het nog nooit moeite gehad om Fruin opsy te sit as Klaas Vakie aansluip nie.

Hooft se Nederlandse Historiën? Ja, warempel, dis die boek vir my! By my boekhandelaar het ek dit aangevra. Hulle het die rakke deurgesnuffel;

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 51 tevergeefs. Miskien, sê die winkelbaas, miskien het hy dit in 'n ou uitgawe onder sy antikwariese boeke in die brandkas. Daarin het hy ook dan geduik en tevoorskyn gekom met 'n waardige grysaard van 'n band omtrent so groot as 'n statebybel, 'n pragband met 'n pragprys en met die opskrif ‘P.C. Hooft's Werken, ten deele nooit te vooren gedrukt, met Privilegie voor vyftien jaaren.’ Nou, die skielike verwysing na die oktrooi, nugter genoeg. 'n Pragstuk van 'n tietelplaat: A. Bloteling sculp. 1671 - hy het sy naam nagekom. Klassieke tempels in die agtergrond, voor bring Merkuur en 'n ry welgevoede godinne of muse hulde.

Ek het die boek gekoop. Die Hollandse lettere sou my as 'n ‘nachkömmling’ - vereerder miskien verwelkom. Op skool kon ek die Hollandse lettere nooit genaak nie. Dit was nie my meester se skuld nie. Hy was 'n Hektor in die geleerdheid met 'n furor dividendi. Hy het 'n skrywer genader soos 'n botanikus 'n blom. Die reuk van sy gang deur die letterkundige tuin was gespek met dié van geradbraakte blomme. 'n Eenheid was vir hom vermaledyd. Die skim van die Muider Drost, reeds vaag voor ons oë deur die eeue wat tussen in lê, het die beste man nog verder geïoniseer met die dinamiet van sy ontleding. Gevolglik moes ons sy relikwieë aanskou soos die middeleeuse Katolieke, nl.

(1) Hooft als mensch; (2) Hooft als humanist; (3) Hooft als staatsburger; (4) Hooft als dichter: (a) blyspel (b) treurspel (c) lyrisch (d) punt

(5) Hooft als prozaschryver, enz. ad. inf.

Hierdie boek daarenteen tower iets van die verlede op, gee ons 'n goeie insig in die gewoontes en opvattinge van die tyd. Hollands was nog 'n splinternuwe medium waarin die skrywers hulle verlustig. Die gewone aantal lof-gedigte en puntdigte is in die bundel opgeneem. Elkeen spel volgens eie gevoel en oortuiging. Taalindoenas was daar nie, daarom die skielike opbloei. Die Renaissance-spitsvondigheid loop in die oog, partykeer selfs taamlik lomp.

Geraerdt Brandt kan die kans nie laat verbyglip om sy behendigheid ten toon te stel nie: ‘De naam alleen van Hooft betekent nu den Hooftschryver der Duitsche taele.’ Vollenhove kom hoogdravend aangedraf:

‘Wy hoonden zelfs (wat baet ons dat men't zwijght?) Onze eige tael. Voert Remus heerschappije, Waer zij met kracht de volken onder krijght, Heur spraek niet in, als 't merk van slavernije? -

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 52

En durft, of kan de vrye Batavier Zijn moeders spraek niet spreken onverbastert? Maar dank hebb' Hooft. Hij wischt met Duitscher stijl Die inktvlak uit ons boeken, valt aen't ziften, Aen't zuiveren, aen't effenen met zijn vijl, En regelen van Hollants tael en schriften. Hy zamelt ons een woordenschat bijeen Om Neêrlant, arm door traegheit, te verrijken.’

Eienaardig, nè, daar is niks nuuts onder die son nie.

Maar die goeie Vollenhove het seker nooit Hooft se amptelike stukke gesien nie. Want howenier was Hooft steeds. Hy het sy styl nie slegs by die onderwerp aangepas nie, maar ook by die ontvanger van die brief. Aan Anna Roemers skryf hy ‘U.E. Zuster heeft mij enige vaerzen gezonden om te beteren. Ik zend ze wat erger weder over dan ze gekomen waaren.’

So min of meer skryf die digter aan al sy vriende.

Maar hoor die Drost van Muiden (Anslo noem hom Drossaart; die geleerde Caspar Barleus noem hom die ‘Satraps Muydensis’!) as hy skryf aan ‘de Heeren Staaten van Hollant en West Vrieslandt’: Naa dat ik al een wijle terug gehouden was door't respect van mijn advis te ingeneren op een materie die U Ed. Grootmog. acquiesceerden, ten laatsten heeft doen prevaleren de scrupule, van door te laaten staan, dat de hooge Overheit met gedegniseerde pretexten zoude werden geaggiteert, oft om den tuin geleidt: en aan zoo een temeriteit met stilzwygen te participeren.’

Jehosefat! Geen wonder dat dieselfde satraps, toe hy aan Daniel Heyns 'n gedig voorlê met die versoek: ‘verklaart my de gebreeken van mijn gedicht, of wijst mij de fraayigheden aan,’ daaraan moes toevoeg: ‘Maar bidde om Latijnsch antwoordt, dat ek beter meen te verstaan als Duitsch weet te schrijven.’

As die satraps 'n deftige brief aan Huig de Groot wil skryf, gryp hy na die Latyn. Besonder interessant is die antwoord van die Vader van die Volkereg: ‘Spero laborem mihi impositum, et suedico regno et Gallico, patriae etiam ei mea quae fuit, toti denique Orbi Christiano, quam semper potissimam patriam duxi, fore non inutilem.’

Ek het dit eintlik gehad oor die Nederlandsche Historiën. Nou ja, na ek bogemelde boek gekoop en tuis gebring het, het ek eers uitgevind dat Hooft filius genoemde werk van Hooft pater piae memoriae nie in die bundel opgeneem het nie. Dis jammer.

F.v.d. Heever.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 53

Drama en Toneel in Suid-Afrika, 1652-1855. Deur Dr. F.C.L. Bosman, Lektor aan die Uniwersiteit van Kaapstad.

Deel I. Med. 8 vo. pp. XIV en 579. J.H. de Bussy, Pretoria, en H.A.U.M. Kaapstad. - 12/6.

HIERDIE mooi boek is geskrywe as proefskrif tot verkryging van die graad van doktor in die lettere aan die Uniwersiteit van Amsterdam. In hierdie werk is werklik iets besonders bereik en dit kan, as die eerste omvattende bydrae tot die geskiedenis van ons Afrikaans-Dietse beskawing en kultuur, as 'n mylpaal op die gebied beskou word. Dit sou 'n aanwins wees vir die letterkunde van enige land, en ons ken geen enkele werk oor Suid-Afrika, wat groter bewys lewer van onvermoeide navorsing en van daardie nougesette aandag aan besonderhede wat oor die algemeen as so kenmerkend Duits beskou word. Insover die werk in omvang en opvatting die blote mienimum tot die verkryging van 'n graad verre oorskry, is dit geskrywe con amore, en sonder hoop op enige stoflike vergoeding.

In sy mees beperkte sin is die doel van die boek tereg omskrywe deur die tietel, maar daar is min gebiede van ons Afrikaanse kultuur wat dr. Bosman nie aanraak, en deur aanraking sier nie. Niemand wat homself nog nie in navorsingswerk van hierdie aard verdiep het nie, kan enigsins 'n begrip vorm van die werk aan hierdie boek verbonde; werk wat selfs daar waar dit slegs negatiewe resultate opgelewer het, nie daardeur des te minder nodig of waardevol was nie. Ons kan veilig sê dat, waar dr. Bosman geoes het, niemand meer sal are optel nie. Alle bewerings word gestaaf met verwysinge. Dié is so gerangskik dat hulle vir die ernstige student gerieflik by die hand is sonder dat hulle in die pad staan van die gemiddelde leser wat net lees vir lering en vermaak. Terselfdertyd moet die werk juis 'n besondere beroep doen op laasgenoemde klas leser, wat baie in die boek sal vind, veel boeiender as in enige roman, tenspyte van die suiwer wetenskaplike behandeling van die stof.

Dis enigsins teleurstellend om in 'n Engelse tydgenoot 'n verwysing te vind naar dr. Bosman se chef-d'oeuvre as 'n kompilasie, 'n uitdrukking wat

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 54 eintlik gebruik word vir die werk van alle geskiedskrywers wat hulself nie skuldig maak aan die versin van hul feite nie. Dr. Bosman se grote verdienste is juis dat hy ons vir die eerste keer toegang verleen tot 'n gebied wat vir ons in werklikheid tot dusver 'n volkome afgeslote en ongenaakbare was.

Na 'n inleidende oorsig van die kultuurtoestande sedert 1795, gaan die skrywer voort met 'n beskrywing, in besonderhede, van die poginge van die vroeëre inwoners van die Kaap om in hul aangebore kunsbehoeftes te voorsien - poginge wat 'n groot stoot vooruit gekry het deur die bou van die Afrikaanse Skouburg op die Boereplein (nou die Van Riebeeckplein) in 1800, 'n gebou wat nou een van Kaapstad se kerke is. Liefhebberygeselskappe, Hollands, Engels, Frans en Duits, militêr en burgerlik, het hulle bes gedoen om baie aan hulself en aan die publiek vermaak te verskaf. Reisigers en oppervlakkige beoordelaars wat ons voorvaders beskryf of beskou het as mense wat weinig anders doen as op die stoep sit en wyn en koffie drink, sal verwonderd staan om te verneem dat die keur van werk van skrywers soos Molière, Shakespeare, Sheridan en baie andere opgevoer is. In daardie dae was die opbrengste veral vir liefdadigheid bestem. Dr. Bosman beskrywe goed die Franse kunsgroep wat toe bestaan het, waaraan Louis Balthazar Meurant behoor het en wat mee die sfeer geskep het waarin sy seun Louis Henri Meurant, later 'n vooraanstaande baanbreker vir Afrikaans, opgegroei het.

Al was hierdie boek om geen ander rede geskrywe as om die bekende Suasso de Lima in sy eer by die nageslag te herstel nie, dan sou dit nog die moeite werd gewees het; De Lima, wat ten spyte van baie eksentrisiteite inderdaad 'n belangrike figuur en agtenswaardige man in vele opsigte was. Die relaas van die vyandskap tussen hom en C.E. Boniface, saam met voorbeelde van hulle geskrifte, maak een van die aantreklikste kenmerke uit van die boek. Onder hierdie geskrifte vind ons ook die oudste voorbeelde van gedrukte Afrikaanse toneel-voortbrengsels. Die uiters persoonlike aanvalle waartoe 'n mens in daardie dae kon gaan, sou teenswoordig op 'n hofsaak vir laster uitloop, maar vorm besonder vermaaklike lektuur vir ons lesers vandag. Die kwaadstokery het meestal van die kant van Boniface gekom, wat tenslotte die hand aan sy eie lewe geslaan het, terwyl De Lima as brawe burger in sy bed gesterf het.

Die lewensbeskrywinge van De Lima, Boniface, Villet e.a. is van die grootste belang, en het nog nooit verskyn in sulke volledigheid soos hier nie, 'n volledigheid wat terselfdertyd die stempel dra van die grootste sorgvuldigheid en oordeelkundigheid.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 55

Die ruimte ontbreek my verder vir 'n volledige weergawe van dr. Bosman se werk, wat tot 1855 gaan. Diegene wat graag die rol van die toneel in die ontwikkeling of behoud van ons Afrikaans-Dietse kultuur wil leer ken, moet die boek maar self ter hand neem. In hierdie bestek is dit my onmoontlik om op hierdie kant van die saak in te gaan.

Die indeling van die stof in hoofstukke, paragrawe en onderparagrawe het kenlik die sorgvuldigste aandag van die skrywer geniet en is goed. Dis natuurlik onmoontlik om die afgebakende metode van indeel en rangskik van 'n biologiese laboratorium toe te pas op die geestelike bedrywigheid van 'n volk wat net ontwaak tot nasionale bewussyn. Ander navorsers, wat volg op die weg waarop dr. Bosman baanbreker is, sal stellig ander indelings volg en met dieselfde reg.

Die boek is van buitengewoon goeie registers voorsien, sodat naslaan 'n maklike taak is. Dit het 'n paar afbeeldinge van besondere belang.

Die prys is buitengewoon laag en bring die werk binne die bereik van iedereen. Ons beveel die boek aan by die besture van biblioteke, van onderwysinrigtings en aan almal wat belangstel in die ryk verlede van ons Suid-Afrikaanse volk. Ons hoop die verkoop van die boek sal sodanig wees dat die skrywer spoedig daartoe sal oorgaan om die twede deel van die werk uit te gee.

J.M.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 56

Nuwe Boeke.

Alle nuwe boeke deur die Redaksie, Bus 460, Pretoria, ontvang, word hier aangekondig. 'n Latere bespreking van die aangekondigde boeke is nie uitgesluit nie

BLOK, THOS.: Die Adendorff-Trek. Nasionale Pers, Beperk, Bloemfontein, 1928. 120 pag.

DE ROUBAIX, S.: Uit Boesmanland. Kykies in die Volkslewe. Nasionale Pers, Beperk, Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein, 1928. 196 pag. 5/-.

MALHERBE, D.F.: Somerdae. Nasionale Pers Beperk, Bloemfontein, 1928. 82 pag.

POSTMA, F.: Kleopatra. Met Prente. H.A.U.M.V/H.J. Dusseau & Ko., Kaapstad; Firma J.H. de Bussy, Pretoria, 1928. 262 pag. 6/9.

VAN OOSTRUM, O.: O.I. Oud-dosent aan die Normaalkollege, Pretoria. Met medewerking van J.H. Rademeyer, M.A., onderwyser aan die Afrikaans-Medium-Hoërskool, Pretoria: Betekenis en Gebruik. Styloefeninge vir die Hoërskole. Firma J.H. de Bussy, Pretoria; H.A.U.M.V/H. Jacques Dusseau & Ko., Kaapstad, 1928. Drie dele. Deel I: 1/6; deel II: 1/9; deel III: 2/-.

J.M. THERON en J.J. GROENEWEG: Vir hart en hoof. Leesboek vir Std. VI en Hoër Klasse. Firma J.H. de Bussy, Pretoria; H.A.U.M.V/H. Jacques Dusseau & Ko., Kaapstad, 1929. 4/-.

MAXIE DE VILLIERS: Kleinkinder-Rympies vir Sub-Standaards. Firma J.H. de Bussy, Pretoria; H.A.U.M.V/H. Jacques Dusseau & Ko., Kaapstad, 1929. 1/3.

MAXIE DE VILLIERS: Kleinkinder-stories vir Sub-Standaards. 2 deeltjies. Firma J.H. de Bussy, Pretoria; H.A.U.M.V/H. Jacques Dusseau & Ko., Kaapstad, 1929. Per deeltjie 1/3.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *4

1. EENSAAMHEID IN DIE BOSVELD.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 57

Beskouing by 'n Skilderytentoonstelling van Pierneef.

DIE Afrikaanse skilder, Jacob Hendrik Pierneef, van Pretoria het in Novembermaand 'n tentoonstelling gehou van die afgelope jaar se werk. Pierneef is in Suid-Afrika gebore en tot kunstenaar opgegroei; hy is van Hollands-Suid-Afrikaanse afstamming. 'n Korte tyd het hy gestudeer aan die Rotterdamse Akademie, maar in hierdie land het hy sy weg as kunstenaar gevind. Seker is hy die mees persoonlike skilder, wat uit die Afrikaanse volk voortgekom het en as sodanig word hy deur al die seksies van die volk geken en gewaardeer. Hy is 'n verbasende knap tekenaar (na Europese maatstaf gemeet).

Op hierdie tentoonstelling was daar een ding wat die meeste besoekers opgeval het, - of hul nou ontwikkelde kunskenners was of nie -: dit was die groot verskeidenheid in die manier waarop Pierneef sy onderwerpe behandel het. In die eerste plek was dit 'n verskeidenheid in die tegniese verwerking, al was die hand van die selfde skepper in al die werke duidelik te herken.

Wat is die oorsaak van die verskeidenheid in die tegniek, d.i. in die manier waarop die skilder sy ruwe materiaal, die verfsoorte, die kryt, die potlode, die kwaste, die linne, die papier, die karton gebruik? Wanneer die skilder sy onderwerp gaan weergee, beinvloed die aard van die onderwerp die keuse van die materiaal, en die behandeling van die onderwerp word dan later aangepas by die materiaal wat hy gekies het. Sien b.v. Afbeelding 3. 'n Storm kom op. Die bome staan nou nog onbewoë, diep groen van kleur. Die wind stryk laag oor die gras. Die berge lyk soos die golwe van 'n pêrsrooi see. Daarbo is 'n groot beroering in die massiewe wolke, wat saamtrek rondom die blou plekkie in die lug. Daar's 'n swaar, onweerhoubare beweging in die landskap en alles lyk massiewer en meer tasbaar as gewoonlik. Ons let nou op die manier waarop dit geskilder is. Die ryk, swaar kleure is in breë, rojale streke sonder aarseling doelbewus op die paneel gesit, met die verfstof wat so besonder pas, om 'n massiwiteit, wat maar skynbaar is, uit te druk, omdat die verfstof op sigself skynbaar massief is: swaar, ondeursigtig,

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 58

2. ROOIPLAAT, Tvl. ryk van kleur, maar maklik verwerkbaar. Dié materiaal is olieverf. Daar is dus harmonie tussen die stemming van die landskap en die aard van die materiaal.

Daar bestaan 'n waterverftekening van Pierneef, wat eweneens voorstel 'n opkomende storm. Dis op die Springbokvlakte. Groot, statige wolke kom op; die son speel nog op die stamme van 'n paar doringbome op die voorgrond. Hier is die stemming lig en verfrissend, nog voordat die storm losgebars het. Hier het ligte deurskynende waterverf en die sag-gryse lyne die ernstige maar optimistiese stemming in die tekening teweeggebring.

Elke medium het sy eie karakteristieke behandeling. 'n Huis van hout word anders gebou as 'n huis van staal en beton. Wie op see vaar, gebruik 'n ander voertuig as die man wat in 'n woestyn reis. Alleen wie sy middele na hulle eie aard verwerk, behaal die ware resultaat. 'n Belangrike deel van die studie van 'n kunstenaar is kennismaking met die aard van sy middele. Olieverf is 'n vetterige smeerstof. Dis in sy aard dat hy gesmeer wil word. Die olieverf-skilderkuns is vetsmeerkuns. Wie die eeue-oue skilderye sien van die ou meesters, waarop die verf deur die tyd versteen is, sal miskien

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 59

3. ONWEERSTEMMING. moeilik die ‘vetsmeerkuns’ daarin herken. Tog het ook hulle daardie aard van die verfstof geëerbiedig. Dis nou nog duidelik te sien in die werke van die kunstenaars wat deur die skilders van vandag nog hemelhoog verhewe word om hulle tegniek, soos Rembrandt en Velasquez.

Waterverf is 'n ligte deurskynende materiaal. Die verfpoeier is hier nie met olie nie, maar met gomwater verwerk. Waterverftekeninge sal dus van natuur 'n ligvloeiende, partymaal 'n deurskynende karakter vertoon.

Kryt is 'n bros, poeierige stof, wat skerp lyne kan gee, maar met die vingers vervryf, tinte voortbring van die diepste skadutone tot die fynste lignuanses, soos geen ander materiaal dit kan nie.

Wie met die pen teken, sal van die skerp omlynde karakter van die inklyn gebruik maak. Potlood gee lyne van 'n heeltemal ander karakter en stemming.

Is dit nou die materiaal wat die eie besondere stemming van die tekening veroorsaak of het die skilder die keus en die gebruik van sy materiaal

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 60 aangepas by wat hy wil uitdruk? Wie sal hier sê wat oorsaak en wat gevolg is? Die twee verskynsels - die manier waarop dit geskilder is en die uitdrukking, die gevoel - bestaan naasmekaar, maar.... in 'n vaste verband. Tegniek en uitdrukking is aanmekaar verbonde, soos orals in hierdie wêreld, stof en gees. Die stof is vir die gees die vat en dis net deur die stof dat die gees vir ons tot werklikheid word. 'n Wisselwerking bestaan dus tussen die gekose onderwerp en die gekose materiaal en dit is dus die oorsaak van die, oppervlakkig gesien, soveel verskillende maniere van werk, wat ons op hierdie tentoonstelling en so baie ander waarneem. -

Die verskil in voorkome van die skilderye is dus nie 'n gevolg van besluiteloosheid van die kunstenaar nie, al hang dit dan gedeeltelik saam met sy sug om te eksperimenteer en om altyd nuwe en by voorkeur beter middels te vind om homself in sy kuns uit te druk.

Die kunstenaar gee in die tegniek sy persoonlike karakter weer. Soos b.v. die karakter van iedere mens in meerdere of mindere mate in sy handskrif weerspieël word. Dit moet egter nie aanleiding gee tot 'n verkeerde gevolgtrekking nie. 'n Skilder wat 'n verbasende knap tegnikus is, wat sy vak goed verstaan, is daarom nog nie 'n groot kunstenaar nie. Die ou skryfmeesters, wat met die verepenne sulke wondere van die skryfkuns verrig het, was mos nie die vernaamste karakters van hulle tyd nie, en die mees karaktervolle mense was gewoonlik maar slegte kalligrawe. Daar's mense wat moeilik praat, maar wat jou ademloos laat luister na die diepe betekenis en die waarheid van hulle woorde, en daar's mense met 'n gladde tong wat bog praat. Dis wel gelukkig as by 'n mens die innerlike waarde gepaard gaan met die uiterlike vaardigheid en so ook by 'n kunstenaar. Dis gelukkig as sy kunstenaarskap gesteun word deur 'n groot kennis van die tegniek, maar hierdie kennis alleen maak nog nie 'n kunstenaar nie.

En daar is kunswerke gemaak, deur skilders wat die wette van die materiale nie volkome geëerbiedig het nie, want - genie staan onder en bo die wet. Maar die wet is daar en ons sien hom vervul in Pierneef se werke:

Die kunstenaar rig hom by die verwerking van sy materiale na hul onderskeidelike aard en is daaraan onderdanig en getrou.

* * *

Op die tentoonstelling was daar 'n sekere seksie skilderye wat deur die meeste besoekers met belangstelling beskou is, soms met bewondering, ook met verwondering en verbasing, en deur sommige onder duidelike blyke van afkeer. Dit was die afdeling wat genoem is kubisties of futuristies - name wat baie misbruik word vir alles wat in die skilderkuns sig vreemd of onbegryplik voordoen. (Sien afb. 4 en 5.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 61

4. BOSVELD

Die mees naturalistiese afdeling het die mees algemene waardering gehad. Ook die tekeninge wat daar was. Hier is dit dat Pierneef se ‘handskrif’ hom die duidelikste vertoon. Ons kan hier die woord ‘handskrif’ ook letterlik opvat, want wie 'n brief van Pierneef gesien het sal daarin die lyne herken, wat sy tekeninge so onderskei. Daar was in die tekeninge nie 'n lyn teveel nie. Die skilder het ekonomies gewerk. Hy sit neer net wat nodig is om by die beskouer die indruk te wek wat hy bedoel het. Uit die gaotiese veelheid van die natuur het die skilder uitgesoek wat die gewone mense-oog nie onderskei nie. Aangebore gevoeligheid en lewenslange oefening het dit vir hom moontlik gemaak. Later herken ook die ongeoefende oog daardie lyne en kleure buite in die natuur en die mense sê: ‘Dis soos 'n landskap van Pierneef!’ Die skilder het die natuur dus nie weergegee soos sy oog dit sien nie, dog soos sy gevoel en verstand dit wil opvat. Dit geld vir sy lyne sowel as vir sy kleure, vir sy tekeninge sowel as vir sy skilderwerk. Hoe is nou die skilder in party van sy werke (wat hy bymekaar gehang het, los van die ander) so ver van die natuur ‘afgedwaal’?

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 62

Elke prent vul 'n vlak waarvan die sykante in 'n bepaalde verhouding tot mekaar staan. Maar die vlak bestaan nie net uit die sykante nie. Uit die sykante en hoeke kan lyne en punte afgelei word, wat vir die bepaalde vlak karakteristiek is: in die eerste plek die diagonale, hul snypunt, die lyne deur die snypunt ewewydig met die sykante, lyne wat die ontstane hoeke verder verdeel, ens. Die lyne en punte vorm nou die basis waarop die komposiesie, die plasing van die onderdele in die vlak berus. Hulle is duidelik te sien in afbeelding 4. Die skilder gebruik hulle bewus of onbewus. In elke naturalistiese skildery met 'n goeie komposiesie kan mens uitvind hoe die hooflyne en punte van die voorstelling saamval met hierdie meetkundig afgeleide lyne en punte. Meestal sal die skilder dit onbewus gedoen het. Sy gevoel vir ritme het hom daartoe gelei. Dis duidelik dat die ou Italiane dit bewus toegepas het. In Rafael se portrette is die oog, wat die digste by die beskouer is, geplaas in die top van die driehoek, wat op die grondlyn opgerig is. Die driehoekige komposiesie van die meeste van sy Madonna-skilderye is bekend genoeg. Partymaal kan mens 'n wonderlik ingewikkelde komposiesie-stelsel by die ou Italiane en Spanjaarde aanwys.

Nou kan hierdie ritmiese verdeling, waarvan die lyne van die voorstelling min of meer afwyk, dog in hoofsaak saamval, die doel van die skildery word. Met die toonwaardes en kleure tesame sal dit dan, los van die voorstelling van die natuur, die siel van die beskouer kan beroer, soos musiek dit kan doen, sonder dat dit 'n natuurvoorstelling is. Die ritme van die lyne, kleure en toonwaardes sal die gevoel raak soos musikale ritme dit doen. Sal ons dan nie meer 'n natuurlike voorstelling op 'n skildery nodig hê nie? Sal skilderkuns dan soiets soos musiek kan word? Sonder twyfel sal die geometriese ritme sonder 'n begeleidende natuurlike voorstelling by toegepaste versiering op vlakke en mure, op voorwerpe, in die toekoms die menslike gevoel beter voldoen as die verwronge blomme en diere wat totnogtoe gewoonlik gebruik is. Daarop wys die moderne boukuns, die strengheid en saaklikheid van alle moderne voortbrengsels van die tegniek. Bevredig die moderne draagbare grammofoon ons estetiese gevoel nie beter nie as die ander soort waar die klank uit 'n enorme, kleurig beskilderde bloemekelk tevoorskyn gekom het nie? Kan ons 'n ewentuele versiering daarvan anders voorstel as in die vorm van 'n streng geometriese ornament? Miskien sal ook die skilderkuns onderwerploos kan word en ons gevoel bevredig. Dat dit moontlik is bewys die skilderye van Mondriaan. Hulle is konsekwent onderwerploos. In afbeelding 4. sien ons die skildery wat byna elke besoeker mooi gevind het, al was die komposiesie daarin opvallend. Soiets was tog voor

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 63

5. STUDIE IN BLOU. vyftig jaar nie moontlik nie! In so'n kort tyd is die kunsappresiasie al soveel verander.

Van afbeelding 5. was dit veral die harmonie van die kleure, van die blou en liggeel tinte van die lug met die bruin skakeringe in die voorgrond wat 'n indruk van verheffing en rus teweeggebring het.

Gaan Pierneef in sy volgende werke in die rigting nie sover nie, dan sal hy die baie mense bevredig wat No. 4. so geniet het; gaan hy nog verder dan vervul hy die wens van diegene vir wie No. 5 tweeslagtig is, deurdat die geometriese bome nog natuurvoorwerpe wil voorstel.

* * *

Hoe skoon die uiterlike vorm, die lyne en die kleurvlakke op hulself en hul verhoudings mag wees, is hul tog nooit doel in hulself nie, maar altyd middel. Middel om vir ons wat verborge is, openbaar te maak n.l. 'n aansig van die waarheid. So is elke uiting van kuns een van die eindelose getal vorme, waarin die waarheid sig vertoon, vorme wat verskil volgens tyd of

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 64 plek. Daar sal ooreenkoms wees tussen die vorme by kunstenaars, wat na die gees gemeenskaplike trekke het en daarby aan hulself getrou is en dit sal duidelik blyk waar hul behoort tot éen volk en hulle persoonlikheid dus uit éen volk voortgekom het. Dit sal die maklikste en suiwerste waar te neem wees vir wie behoort tot 'n ander tyd en 'n ander volk. Daar's in die laaste tyd baie gepraat oor hierdie onderwerp: nasionaliteit en kuns. En die slotsom is: ons moet 'n eie nasionale kuns hê. Dis begerenswaardig vir 'n volk om 'n eie kuns te besit. Maar kan ons dit nou skep? Begin ons dan nie aan die verkeerde end nie? Wanneer ons kunstenaars opreg is en getrou aan hulself, dan sal hul getrou wees aan hul volk en dan sal hul natuurlikerwys nasionale kuns voortbring. Dan kan hul ook maar die vorme van vreemde volkere bestudeer en selfs aanvaar. Dan sal die nasionaliteit, die volkskarakter van die kuns nie verlore gaan nie. Domme, karakterlose navolging van vreemde maniere is die dood van die kuns. Vierhonderd jaar gelede het die uiterlike skoonheid van die Italiaanse kuns baie Noord-Europese kunstenaars tot navolging verlei. In groot getalle het hulle na Italië getrek, na die land van Rafael en Michel Angelo. Hul was diep onder die indruk van die Italiaanse kuns toe hul na hul eie land teruggekom het. Toe het hulle op Italiaanse manier geskilder en hul het minagting gehad vir die ruwe, onbeskaafde werkmetodes van die wat nie in die land van belofte gewees het nie, en hul is bewonder en vereer deur die matigstes van hul tyd. Maar die tyd het ook hier weer geskif en die waarheid openbaar gemaak. Nou is dit diegene wat tuis gebly het of wat onberoerd in die vreemde land hulself gebly het, 'n Rembrandt of 'n Pieter Breugel, wat as die grootste kunstenaars van hul tyd geld.

Die lewenswette van gister geld ook vir vandag. Oefening van oog en hand sal die kunstenaar in vreemde streke kan kry, maar altyd sal 'n ware kunstenaar getrou wees aan die ware aard van sy volk. Dan het hy die reg om daarby sy eie wette te volg en indiwidueel te wees.

So ken ons Pierneef uit die werke wat hy ons laat sien. Dis verblydend om so'n oorspronklike talent uit die Afrikaanse volk te sien verskyn. Dis ook verblydend dat die Afrikaanse volk sy eie aard in die kuns herken en die kunstenaar waardeer. Mag hy nog lank en vrugbaar vir sy volk werksaam wees.

P.A. Hendricks.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 65

Die Afrikaanse werk van A.M. Luyt.

IN 'n opstel onder bostaande tietel sal ek Luyt se artistieke werksaamheid in Suid-Afrika behandel vir Elsevier's Maandschrift in Holland. Daardie opstel sal 'n taamlik volledige beeld van die kunstenaar se produksie tydens sy verblyf in ons land probeer teken; vir Die Nuwe Brandwag sal ek my daarom moet beperk, sowel wat die omvang van my stuk asook wat die beskouing van Luyt se werk betref.

Dis eienaardig, maar tewens algemeen waar, dat die kyk op en die oordeel oor 'n kunstenaar se werk suiwerder word namate die afstand, in tyd en in ruimte, toeneem. Solank Luyt in ons midde gewerk het, het ons soseer saamgevoel met sy persoon en sy kuns, dat daardie menslike simpatie onvermydelik ons oordeel oor sy werk moes beïnvloed. Tog mag 'n beoordelaar - ek wil liewer sê 'n genietende aanskouer - van kunswerke dankbaar wees wanneer dit hom vergun is om ook die skepper daarvan persoonlik te ken. Hoe verlang ons b.v. om die kleinste lewensbesonderhede van Rembrandt te weet, wat moontlik meer lig sou werp op sommige van sy skilderye of tekeninge!

Luyt is voor alles tekenaar, skepper van dekoratiewe werke. Ook in sy skilderstukke blyk dit. Dié is dikwels van 'n hoë pikturele gehalte: verdeling van kleur, tegniese behandeling, komposiesie, stemming, alles kan die toets deurstaan van 'n vakkundige kritiek. Luyt se opleiding en ernstige studie, in Den Haag en Parys, het die grondslag gelê vir hierdie bekwaamhede; dit het sy groot aanleg 'n duidelik gevormde karakter gegee. Tog is hy ook in sy skilderye die gewetensvolle dekoratiewe tekenaar, wat sorgsaam teken wanneer 'n onderdeel moet spreek, maar wat ewe sorgsaam en spaarsaam aandui wanneer 'n onderdeel terug moet wyk terwille van die geheel. Hierin onderskei hy hom van die naturalistiese rigting in die skilderkuns wat so onbevange spreek uit die primitiewe Middeleeuse kuns, waarin die kleinste blommetjie in 'n groot grasperk so noukeurig as moontlik, met al die liefde vir die mins betekenende, geskilder word.

In April 1921 kom Luyt in Kaapstad aan: in Mei aanskou 'n kind op Stellenbosch die eerste lewenslig. Ook die vader moes gewoon word aan die nuwe lig, met soveel meer son gedrenk as wat dit in Holland is. Makliker was dit vir hom om figure te teken wat alleen die probleem van die

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 66 nuwe lyn bevat het. Dit het hy dan ook gedoen. Talryke sketse en studies van figure in Stellenbosch se strate het hy gemaak, en hierdeur in die eerste plek het hy in voeling gekom met die lewe hier en met die minnaars van kuns. Die Huisgenoot b.v. het al spoedig tekeninge van hom opgeneem, uitgewers het hom gevra om boeke te illustreer, en met graagte het Luyt die taak op hom geneem. Op hierdie terrein het hy dan ook werk gelewer wat die meeste bekend geword het by die groot publiek. Wanneer ons Leipoldt se Stories vir die Kinders uitgegee deur die Nasionale Pers, 1922, bekyk, dan tref ons die gawe eenheid van teks en illustrasie. Luyt het geniet van Leipoldt se verteltrant, en sy humor het vir die tekeninge die juiste situasies gevind; want dis juis die humor wat by die Oud-Germaanse verhale oor die gode tussen die reëls deurstraal. Hier werk Luyt vir die kinders; die kleinste kleinigheid wat 'n kind se oog nie sal ontsnap nie, bring hy aan - die gaatjie in die dwerg se voorskoot, die puisie op sy kop. En tog bewaar hy die styl van die Oud-Noorse illustrasie-kuns, veral in die sober kopstukkies en die sylyne hier en daar naas die teks.

Die voorteksplaat gee ons hier ook weer. Hier is humor misplaas; dis die verbeelding wat aan die werk gesit moet word deur die voorstelling van 'n walkure wat 'n gevalle stryder op haar perd meevoer, omhoog na Walhalla. Details ontbreek nagenoeg. Maar des te egter is die stemming van grysagtige blou en vaal in die deinserige verte, waar 'n mens nog wild-rydende figure onderskei, met die blonde wolk op die voorgrond waaruit die perd oprys, asof die wolk self daardie vorm aangeneem het. En dit was juis wat die Germane hulle altoos voorgestel het met hulle sterk fantasie: hoe die natuur altyd wisselende vorme aanneem, wat die menslike handelinge op 'n hoër plan weerspieël. En dan die mooi oranje-manteltjie, wat lyk soos 'n vlinder in kleur en tekening, 'n natuur-verskyning, maar wat aan 'n jong vrou toebehoort. Vir hierdie werk kon Luyt eenvoudig sy ervaring uit die verlede toepas, sonder om spesiale kennis van Afrikaanse kleur- en vorm-eienaardighede te besit. Tog ook hier is sy werk 'n boodskap: dat selfs vir die skynbaar simpel werk om 'n kinderboekie te illustreer, grondige ervaring, bereik deur langdurige ingespanne studie, 'n vereiste is. ‘Vir die kinders is niks goed genoeg nie,’ het Luyt hier op kundige manier in praktyk gebring. Dieselfde geestige fantasie spreek uit die tekeninge in die Jaarboek vir Afrikaanse kinders, versamel deur mevrou Smith, Nas. Pers, 1923; die hele sprokies-wêreld is bevolk deur beweeglike, ligtende vlinders en motte, en selfs die mense het almal vlerke of word deur groot motte deur die lugruim tussen die sterre gedra. Die hoofletters in hierdie boek is deur Luyt met Afrikaanse blomme-motiewe opgeluister.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 67

Dat hy die eienaardige karakter van dié Afrikaanse landskap en mense leer deurskou het, bewys die werke wat op die twee tentoonstellings, die van 1922 op Stellenbosch, en die van 1926 in Kaapstad, aanwesig was. Hulle was baie uiteenlopend van onderwerp, maar verbonde deur die een oor-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 68 heersende stylkenmerk: die dekoratiewe verdeling van die ruimte. Sommige beskouers van sy werk het dit te vaal gevind, te kleurloos in vergelyking met die bont werklikheid van Suid-Afrika. Maar dit moet nie vergeet word dat ons felle sonlig die kleureskema van 'n landskap nie verdiep nie, maar vervlak. Onder bewolkte lugte spreek elke kleur met sy eie waarde, onder die oppermagtige son gaan dit op in die lig, en verbleek. Nie dat 'n skilder nie 'n wonder van kleure hier kan vind nie, maar 'n arties met dekoratiewe aanleg keer hom vanself tot die meer egalige stemminge. Hy laat sy kleure terugstaan vir die lyne, en is daarby tog volkome eerlik teenoor die werklikheid ook. Een skilderytjie, die portret van 'n ou Boer, met verweerde hare, baard en hoed, teen die agtergrond van 'n wye, vaal-sanderige wêreld, het die harmonie tussen mens en land pragtig uitgebeeld. Eén lig, eén kleur, eén stemming woon in die landskap en in die seun van die veld.

Die sappige landskap van die winter in die Westelike Kaapprovinsie onder laag afsakkende wolke het Luyt steeds met figure bevolk: ploegers wat hul lang sweep swaai oor 'n span esels; 'n jong wat met 'n wit perd die wingerd ploeë; 'n vrou wat varkblomme dra; 'n vrolike karretjie wat die stoep opry van 'n Oud-Hollandse woonhuis, prykend onder eikebome, met wisteria-bloesems oor die muurtjie. Altoos dra die mens die natuur se geskenke huistoe of werk daarvoor, altoos geniet hulle hulle lewe. Geen wonder dan ook dat Luyt se insending op die tentoonstelling in Wembley 'n baie eervolle onderskeiding in die Engelse pers gekry het nie.

Die groot stuk ‘Die slag by Bloedrivier’, mag ons hier nie vergeet nie. Op die tentoonstelling in Stellenbosch was dit die oorheersende komposiesie, nie te sterk van kleure nie, maar des te sterker van dramatiese spanning, sowel in lyne as in uitdrukking. Die stuk is deur 'n aantal vriende aan die Uniwersiteit gegee, waar dit nou hang en wag op 'n nog waardiger plek aan die muur.

Na sy siekte het Luyt in Rondebosch gewerk, meeste tekeninge met die gevoelige kryt, soms 'n fyn-deurvoelde landskap, meestal weer figure of koppe. Die tentoonstelling in Kaapstad was 'n ware verrassing, en omtrent alles is gekoop deur liefhebbers wat nog iets wou bemagtig voor Luyt vertrek. Ons hoop dat daar weer eendag van sy werk ook hier sal te kry wees.

Intussen werk hy in Wassenaar by Den Haag verder, en sy Afrikaanse sketsboek is 'n ryk bron. Ek het by hom 'n paar groot stukke gesien, heeltemal Afrikaans van karakter, in die Hollandse winter geskilder, wat met sy koue en newel nie die warmte uit die doeke kon verdryf nie. Selfs sy Hollandse werk sal die spore bly vertoon van sy verblyf onder die Suiderkruis.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 69

Want so 'n verblyf ver weg van die moederland, in 'n ander Dietse gewes wat sy eie ideale nastreef en sy eie lot in hande het, verruim die blik. Ook die kunstenaar besef die groter eenheid wat rondom Holland gespan is. Hy gaan probeer om die ou Germaanse samelewing aan die Noordsee te benader, toe die Dietse volke nog één was, en selfs van die broedervolke baie minder verskil het as vandag. Die eenheid van ras en karakter wil hy beliggaam, die dieper waarde wat bly en die verskille wat kom en gaan, oorleef.

As 'n eerste simptoom van daardie strewe het ek 'n klein akwarel bewonder, waarop 'n boer sy koei aan 'n tou lei deur die ongerepte sneeu onder 'n peinsende grou lug. Daardie boer is gesond, aan die Aarde gebonde, in staat om as 'n Geus die Spanjaarde te beveg, of as 'n Boer die Kaffers en die Engelse.

So dring ons skilder deur na die diepte, en openbaar wat hy daar vind in werk met sy eie tiepiese styl, wat egter juis deur die dieper speurwerk van groter blywende waarde sal word. A.C. Bouman.

Kunsnuus.

ELOFF-PIERNEEF. Tentoonstelling van Beeldhouwerk en Skilderye. 26 Februarie tot 1 Maart. Yewish Guild Hall, Johannesburg.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 70

Musiek in Suid-Afrika.

IN ons jong en veelbelowende land, met sy baie probleme, party van belang vir die hele gemeenskap, ander slegs vir 'n deel daarvan, is die probleem van die kuns en sy ontwikkeling één van die jongste, en seker nie één van die maklikste om op te los nie.

Baie faktore wat alleen bekend is aan die ernstige ondersoeker en denker, moet in oorweging geneem word, voor 'n mens 'n opienie kan vorm oor die toekoms van hierdie land op musikale terrein.

Laat ons voorop stel dat 'n vergelyking met ander nasies nie direk billik is nie. Ander nasies het ander kenmerke, ander invloede, ander moontlikhede. Baie artieste en kunsbeoefenaars in S.A. is van ander nasionaliteit, en probeer die smaak en metodes wat in hul vaderland gangbaar is, hier oor te plant, sonder te oorweeg of dit ooreenkom met die bestaande nasionale kenmerke.

Dat 'n musikale, sowel as 'n musikaal ontwikkelde S.A. minstens 'n moontlikheid is, kan nie ontken word nie; of die moontlikheid verwesenlik sal word, hang gedeeltelik af van die natuurlike artistieke neiging van die volk, en verder van die mense wat invloed op die musikale ontwikkeling kan uitoefen.

In die verlede (en hier dink ons aan die ou nasies) was dit nie so swaar om invloed uit te oefen nie. Die konsertsaal en die koor - of amateur-orkesvereniging was die enigste plek van vermaak of ontspanning wat beskikbaar was. Ook was die huislike lewe (wat vandag so sporadies is) 'n magtige faktor en 'n ideale middel tot musikale ontwikkeling. Al die besware in oorweging geneem, soos gebrek aan huislike lewe en baie ander afleidinge, is die posiesie nie bepaald ongunstig nie. Daar is belangstelling vir goeie musiek; en, vir sover die konsertbesoek 'n maatstaf is, steek Suid-Afrika nie sleg af by ander lande nie. Per slot van rekening is 4000 mense in die Royal Albert Hall in Londen of die ‘Gewandhaus’ in Leipzig nie 'n sprekender bewys vir die musikaliteit van respektieflik die Engelse of Duitse nasie nie, as 400 in 'n Stadsaal in 'n Suid-Afrikaanse dorp van gemiddelde grootte, die dun bevolking in oorweging geneem.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 71

Dat die entoesiasme vir goeie musiek nog nie algemeen is nie en dat die groot massa dit nog nie as 'n behoefte gevoel nie, vind sy oorsaak daarin dat daar nie genoeg goeie musiek gegee word nie. Te oordele naar die briewe wat 'n mens partykeer in die dagblaaie sien, is die wens van die groot massa dat op die openbare konserte meer ligte musiek sal verskaf word. Dit bring baie artieste daartoe om hul programma daarna in te rig, teneinde 'n vol saal te kry. Hoe groot die fout is, en hoe onberekenbaar die nadelige gevolge van die houding, sal later duidelik blyk. Die psigologiese kant van die ‘briewe na die krant’-kwessie moet ook nie vergeet word nie. Mense wat fyn genoeg besnaar is om goeie musiek as 'n behoefte te voel, is gewoonlik nie die tiepe wat met geweld hul smaak aan die res van die publiek wil opdring nie. Die logiese konklusie is duidelik.

In sekere mate neem byna iedereen notiesie van musiek. Die ontwikkelde musiekliefhebber is kieskeurig; hy het 'n opienie oor komposiesies, en kan die goeie van die slegte onderskei. Oor hulle toekoms behoef ons nie besorg te wees nie.

Die onontwikkelde amateur is 'n moeiliker probleem, as ons tenminste van die standpunt uitgaan dat daar invloed behoort uitgeoefen te word deur hulle wat die terrein kan oorsien. Ten slotte diegene wat goeie musiek bepaald vervelig vind, wat die skone nie kan sien nie, waar daar ongetwyfeld baie skoons is. Die enigste manier waarop hulle kan gewen word vir die skone kuns is, geduldig deurgaan met die beste te gee wat ons kan gee, wanneer ons 'n geleentheid kry om dié seksie van die publiek te bereik, en sorgvuldig die musiek te kies wat in sy reine eenvoud die koudste en onverskilligste gemoed beïnvloed.

Hier soos in ander dele van die wêreld vier ‘Koning Jazz’ hoogty. Selfstandigheid sit daar nie in die vulgêre en hoekige ritmisering van die gesteelde melodieë nie. Laat ons hoop dat hierdie stokperdjie, wat die laaste jare so hard gery is, één van die dae doodgery sal wees. Dat 'n groot gedeelte van die publiek daar versot op is, beteken nie dat hulle die slegte imitasie verkies bo die ware kuns nie; dit is enkel die gevolg van onkunde betreffende goeie musiek. Dit vereis baie takt en insig om die oningewydes in te wy, en hoe vroëer in die jeug 'n mens sy musikale opleiding kry, hoe beter dit is. Die jeug is die toekoms van die nasie. Meer en meer word gevoel dat kulturele vakke op die skool van ewe groot belang is as enige ander vak. Hier en daar word daar ook pogings in die werk gestel om in die behoefte te voorsien; jammer genoeg te dikwels deur mense wat die kinderverstand nie begryp nie, en die psigologie van die kind nie bestudeer het nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 72

Dit sal ons te ver voer om metodes in besonderhede aan te wys waardeur 'n goeie grondslag kan gelê word en waarop verder kan gebou word. Laat dit genoeg wees om te sê dat die kind in die allereerste plek 'n oor moet ontwikkel vir klank (melodie en later saamklank of harmonie). Die metode wat in die praktyk die beste daaraan beantwoord, is die deur so vele veragte Chefé-metode (d.i. do, re, mi, etc., op syfers). Dit gee almal 'n relatiewe - en sommige selfs 'n absolute gehoor. Op die verdere besonderhede kan later uitvoerig ingegaan word.

Vandag kry die jeug die grootste gedeelte van hul musikale opleiding by hul klavier- of vioolonderwyser. Vir minstens die laaste 25 jaar is daar op dié gebied baie gearbei. En wat is die resultaat? Die konsertbesoek het sterk afgeneem, en juis die jeug wat meer van musiek behoort te weet as hul ouers, wat nie 'n opleiding gehad het nie, sien ons amper glad nie in die konsertsale nie.

Dat daar met die hedendaagse musiekonderwys iets radikaals verkeerd is, is die enigste konklusie waartoe ons kan kom. Eén van die belangrikste faktore in die mislukking is die sisteem van onderwys, wat die suksesvol aflê van eksamens en die behaal van medaljes by kompetiesies as hoofdoel beskou.

'n Ander faktor is die onderwys deur onbevoegdes gegee. (Hier bedoel ons nie ongesertifiseerdes nie, maar diegene wat nie voldoende kennis of vaardigheid besit om die opleiding van 'n student op hom te neem nie. Daar is helaas baie gesertifiseerdes wat hoegenaamd nie deug om onderwys te gee nie.) Die onbekwame onderwyser (wat hom ten oorvloede nog Professor noem) sal ons seker wel altyd behou, omdat die publiek slegs by ervaring kan ontdek of die onderwys goed dan wel sleg is, en as die ervaring éénmaal opgedoen is, is dit gewoonlik te laat.

Oppervlakkig beskou is die eerste groep dan ook nie so sleg nie. Gaan ons egter dieper op die saak in, dan sal ons spoedig ontdek dat ons hier te doen het met ''n ‘paddestoel-groeisel’. Die studente gee byna al hul tyd aan die voorgeskrewe stukke, en van die agtergrond waaruit die stukke slegs 'n greep behoort te wees, weet hulle so goed as niks. So gaan hulle jaar na jaar deur; met die gevolg dat hul musikale kennis uiters gering (dit kom werklik voor dat studente hul finale eksamens doen sonder om ooit iets van Brahms of Scarlatti of Debussy of Schumann te gehoor of gespeel het), en hul praktiese vaardigheid beperk bly tot dié werke wat hulle met bomenslike inspanning vir die eksamen of kompetiesie geleer het. Artistiek verloor daardie werke bowendien nog hul waarde vir die student omdat hy by gebrek aan

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 73 die spontane tégniek daarvan, die werke kunsmatig moes aanleer. Hoeveel studente speel ná hul eksamen nog wel eens die voorgeskrewe werke?

Musiekgeskiedenis, wat so'n onmisbare vak is vir diegene wat die ontwikkeling van die musiek behoort te verstaan, is by verreweg die meerderheid 'n onbekende iets. Van al die musiekeksamens is die Matrikulasie-musiek-afdeling die enigste wat 'n juiste kyk gee op die ontwikkeling van die student na 4 jaar se studie.

Is dit nodig om nog verder die futiliteit van die sisteem te bewys? Bekyk die resultate maar: van al die gesertifiseerde en gedekoreerde studente, en selfs onderwysers sien 'n mens maar baie min in die konsertsale, wat bewys genoeg is dat hulle maar min belangstelling en liefde het vir die kuns waar hulle dan ‘so ver in gevorder’ is. Dis natuurlik dat selfs die musikaalste mens 'n teensin in musiek moet kry, as hy op die manier studeer. Dié studente wat nie alleen musikaal is nie, maar ook ywerig, sal ondanks die leraar tog 'n sukses wees. Ons kan dus nie die sisteem roem op grond van die musikale sukses van 'n enkeling nie.

Die konsertgewers, instrumentaliste, vokaliste en dirigente oefen ook baie invloed uit op die groei en bloei van die kunslewe. Teenswoordig begin hul in te sien (sommige van hul ten minste) dat die saamstelling van 'n program of die keuse van 'n groot werk ook insig vereis. Dit is van groot belang vir die ontwikkeling van die publiek dat by elke geleentheid waar musiek uitgevoer word, van die beste sal gelewer word. In die konsertsale vanself is die standaard vry goed, maar dan, ons bereik daarmee slegs 'n klein gedeelte van die volk. In die kerk is baie geleentheid om goeie musiek te verskaf. Helaas is die aantal orreliste wat hul instrument goed meester is en hul werk serieus opvat gering. Dié orreliste wat vaardigheid genoeg besit en 'n goeie instrument bespeel, behoort hul uiterste te doen om die smaak en kennis van die publiek te verbeter en te verryk. Helaas is daar nog altyd invloedryke orreliste wat die publiek (op versoek weliswaar) op Sullivan's ‘Lost Chord’ onthaal. So 'n versoek behoort beleefd maar beslis geweier te word.

As 'n mens van die standpunt uitgaan dat aan die mins ontwikkelde smaak moet gehoor gegee word, dan kom daar van die toekoms niks tereg nie. Oor honderd jaar sal daar waarskynlik nog 'n seksie van die publiek wees, wat 'n traan wegpink by die aanhoor van 'n lamentasie oor 'n verlore akkoord, wat intussen deur Schönberg of Strawinsky lank reeds teruggevind is.

Die groot massa is vandag die gemaklikste te bereik in die bioskoop. Daar is min of meer goeie orkeste, soms orrels, waarvan die moontlikhede

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 74 deur min orkesleiers ingesien of gebruik word. Dis mode teenswoordig om by 'n dramatiese scêne 'n niksseggende lawaai te maak, of by 'n tragiese scêne 'n flou sentimentele ‘liflafje’ op te dis. Is dit nodig? Is daar geen beter materiaal wat die tragiek van die handeling beter sal illustreer en op sy beurt beter verstaan sal word deur die in beeld vertoonde handelinge nie? Sal die finale van die Simfonie-Pathétique van Tschaikowsky nie beter aan die doel beantwoord as ‘Falling Leaves’ of ‘Hearts and Flowers’ by 'n passende tafereel nie? Waarom moet 'n voorstelling altyd ingelei word deur 'n vulgêre foxtrot of, wat miskien erger is, 'n verwronge setting van 'n ‘Musical Comedy’ (wat vaker 'n ‘Musical tragedy’ is.)?

Van die moontlikhede word vir geen 10% gebruik gemaak nie, wat miskien te wyte is aan die kortsigtigheid of totale onkunde van hulle wat die werk doen.

Nou is dit maklik om te veroordeel en af te breek. Laat ons dus probeer so kort moontlik die vraag te beantwoord: ‘Wat moet gedoen word om 'n kragtige en gesonde groei van die musikale lewe te bevorder?’ 'n Meer allesomvattende en grondige musiekonderwys, sowel op die skole as by private musiekonderwysers. Daar moet meer gekonsentreer word op 'n opwek van liefde tot die kuns. Daar moet 'n end kom aan die fabriseer van Paderewski's en Paganini's in sakformaat, met as enigste doel sertifikate en medaljes. Daar moet meer verskillende instrumente beoefen word; waarom die seuns nie 'n klarinet of 'n hoorn gegee en die dogters 'n fluit, pleks van ieder die viool of die klavier te laat bestudeer? Leer die violiste ook die viola bespeel, 'n instrument waar so 'n nypende gebrek aan is, dan sal deur saamspeel elke student 'n kans kry, terwyl nou alleen die meer gevorderdes en uitmuntendes hul kan laat hoor. 'n Skoolorkes is 'n ideale middel tot opwekking van belangstelling en tot die uitbreiding van kennis.

Maak die musiekonderwys in die skole 'n ware kultuurvak, deur wat minder te praat van kwinte en kwarte en in plek daarvan die geskiedenis van die kuns te stel. Die kinders sal die teoretiese kant dan sien groei en dit veel gemakliker vat en onthou. Die onderwyser, wat 'n bekwame speler behoort te wees op verskillende instrumente, kan verder, bygestaan deur sy leerlinge om beurte, eenvoudige en goeie musiek reëlmatig vir hulle speel.

Moenie die konsertprogrammas volstop met konwensionele of tradisionele werke en pure-skoolse komposiesies wat alleen interesse het vir die musikaal wetenskaplik ontwikkelde nie, maar kies sorgvuldig uit die beste en skoonste wat daar is, die kulturele standaard van die publiek ingedagte houdende.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 75

Laat die orreliste in die kerke hul taak ernstig opvat en voorberei, en bedink, dat vir die Godsdiensoefening lank nie alles goed genoeg is nie. Laat die koorverenigings nie altyd in die selfde ou sirkeltje ronddraai nie, en so moontlik jaar na jaar nuwe werke bring.

Om van 'n nasionale kuns te praat, lyk miskien bietjie voorbarig in so 'n jong land. Laat ons net dit sê dat vir nasionale kuns seker nie kans sal wees as ons dit eensydig beinvloed nie. Tot ons ons eie komponiste van betekenis het (vir die hele wêreld), dus mense van hulle tyd, sal ons wel verplig wees om in te voer van vreemde bodem. Daar steek nie kwaad in nie. Laat die oorwegend Duitse invloed op die Franse skool van voor Debussy en op die Hollandse skool van die 19e eeu, wat so verlammend gewerk het op suiwer nasionale kunsuiting, 'n waarskuwing wees vir ons, wat miskien dieselfde hier toelaat uit ander bron.

Hou die balans, en laat die invloede nie eensydig word nie. Dan sal daar tenslotte, ondanks alles, 'n nasionale kuns gevorm word, waarop ons trots kan wees.

GERRIT BON.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *6

KOTTLER. 1. RUSTENDE MEIDJIE (Hout).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 76

Die Nuwe Brandwag Tydskrif vir Kuns en Lettere

DEEL I. No. 2. PRETORIA-KAAPSTAD. MEI 1929.

Koors.

Fragment uit die trek naar Duits-Oos in 1907.

DIE kwartsriwwe van die Usambaragebergtes weerkaats die moordende strale van die ekwatorson. Oor die laeveld hang koorsige verstikkende blou wasems. Vreemde kaktussoorte en giftige insekte broei hier uit, en oor die versmagtende plantegroei van die dorre sandveld heers die donker gestalte van die naboom. In eindelose gramadoelas, tussen die somber nabome, wat in swaar massas die lae rante kroon of enkeld in die laagtes en slote versprei staan, slinger die stowwige karavaanpaadjie deur. Die son het toegeneem aan geweld. Selfs die dik vlesige litte van die naboom het slap en verwelk gehang; waar 'n boom omgekap word om die weg te open, het dik taaierige melk uitgetap en in die son geborrel soos 'n giftige heksekooksel. Groot swart spinnekoppe het bewegingloos tussen die gekartelde litte gehang, of langsaam met klewerige harige pote hulle noodlottige drade geweef. Urelank het hulle uit donker hoeke soos 'n swart noodlot op die blinkende weefsel in die sonskyn gestaar. Gonsende kleurige insekte het deur die middaghitte gedreun. Af en toe worstel een skielik in die bedrieglike blink gaas, 'n swart medusakop skiet uit die skaduwee op hom toe, 'n ontasbare mistigheid trek oor hom en benewel sy kragte. 'n Ligte trilling van lewe in die onheilsboom, maar dit is alleen die sug wat 'n lewe eindig, want giftig is die naboom en hy haat die lewe. Snags staan die grillerige swart silhoeëtte van die nabome teen die lug, en op die hoogste toppe sit narok-kong - die ‘swartoog’ - en sy vreemde grieselige skreeue val eentonig en sonder end, afgemeet asof hy meedoënloos die verbygaan van elke sekonde van die nag wil aankondig. Hy pas goed by die naargeestige vorme en die nagtelike stemming van die boom, en hy is die enigste voël wat die naboom liefhet. Narok-kong noem die Ol-Masai hom, om sy onheilvolle swart oë, wat star in die nag uitkyk, asof die gewone belange van die lewe hom nie aangaan nie. Sy krete is kort afgeskeur en ril deur die donker met 'n hoë, musikale en oneindig melankoliese klank, en die hele nag deur is die noot onveranderlik, meedoënloos onveranderlik en tot in die oneindigheid herhaal. Bewaar die arme menslike slagoffer van die laeveld wat veroordeel is om wakend die sekondes van die nag met hierdie fatale be-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 77 geleiding te tel en die oë op die fronsende swart gedaantes van die duisternis te hou! Wanneer hy lank genoeg op die een boom gesit het, vlieg hy naar die volgende, en 'n ander voël neem sy plek in. Deur die lang ure van die drukkende nag antwoord die krete mekaar, altyd klaagliker en moedeloser vir die menslike oor, en hou eers met die eerste lig op. Wanneer eet hulle - waarvan leef narok-kong? word aan 'n gerimpelde grys nomade, 'n wyse in die weë van die woestyn, gevra. Die antwoord is altyd dieselfde: ‘Dit weet niemand nie, hy is 'n voël van die nag.’

Maar klein Dolfie lê al twee dae in die tent. Hy word deur dors en waanvoorstellings gekwel en rol rusteloos heen en weer op sy bed. As die middaghitte kom en die arms van die naboom skrille figure op die dak van die tentjie gooi, begin sy gedagtes in die rondte te yl en op sonderlinge weë te wandel. Maar sy liggaam is loodswaar en weier om die gedagtes te volg by die deur uit, naar die koelte van die karee- en wilgerbome wat hulle in die verte sien. Hy probeer om te redeneer met hierdie twede gedeelte van hom wat dood is, en as plotseling die gevoellose liggaam in 'n ander persoon verander, smeek hy hom om hom naar die bome te laat gaan. Want daar is water, dit weet hy, yskoue water en donker varingslote waar die groot blink druppels langs die groen moswande afpêrel en met musikale geluidjies in die diep sekelgate val. Hy hyg daarna om soos 'n erdwurm sy gloeiende gesig in die koel modder te druk, tussen die sappige wortels van die biesies en palmiet waar die fonteintjie vloei en hulle die wurms uitgegrawe het om kurpers en silwervisse mee te vang. En, O! die duik van blanke kinderliggame deur glashelder water naar die diepte van skoongespoelde dryfsand, waar die blinkgeskubde bewoners verstrik uitmekaarspat en onder die skaduwee van die walle skuiling soek! Daar moet hy heen. Waarom moet hulle hom hier vashou? Dan word hy ongeduldig en ruk homself met geweld orent in die bed. Die visioen van groen bome verdwyn en in die tent is niemand nie. Inplaas daarvan begin sy oë nou groot te staar naar die droë takke en arms wat om die stam van die naboom voor die tentdeur opgehoop lê. Toe die kinders die plek op die vorige dag vir die tent reggemaak het, is een van hulle daar deur 'n skerpioen gesteek geword. Die droë, van hitte kromgetrekte litte van die naboom is in die lug gekrul en skyn mat naar iets te voel. Nou beweeg hulle naar hom toe, maar hulle tas oneindig langsaam voorwaarts. Dolf se oë brand koorsig, maar hy durf hulle nie sluit nie, want hy het skielik die oorsprong van die beweging ontdek: die doringlitte is bedek met 'n menigte kruipende skerpioene wat oormekaar klim en krioel dat sy brein verbyster raak om daarna te kyk. Van 'n gewonde tak bokant drup langsaam

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 78 groot druppels taai wit melk op die droë litte en op die skerpioene, maar soos hulle val word hulle pikswart, en hierdie swart kolle skyn tegelykertyd duister vlekke op sy brein te gooi. Hulle dans voor sy oë en laat hom die skerpioene nie meer goed sien nie.

Met 'n wanhopige inspanning van sy afgematte liggaam wend hy hom af van die walglike diere en wil by die ander deur uitvlug. Maar sy hoof val dof en swaar terug op die kussing, en vir 'n lang tyd klop die dik warm bloed soos gesmelte lood teen sy geslote ooglede. Plotseling is dit of die band wat soos staal om sy slape pers en hom aan die bed gekluister hou, aan stukke spring. Groot druppels sweet breek op sy voorhoof uit, en met 'n mat-koel gevoel word sy hele liggaam soos in 'n weldadige bad opgelos. Dolf voel homself sink... diep, diep wegsink... Dan weet hy meteens dat hy geduik het, deur glashelder water, die koel water van die sekelgat waar die snyruigte sy skaduwee oor gooi. Af... af... tot onder op die dryfsand, en as hy begin beangs word, merk hy tot sy verwondering dat hy hier kan asemhaal. Maar hoe hy ook al smag, geen druppel wil oor sy droë lippe nie, en as hy behoedsaam begin rondtas, gly sy vingers oral van versteende water af wat hom aan alle kante soos glasmure insluit. Nou merk hy dat die sand waarop hy kruip, droë woestynsand is, en dat die water bokant hom soos deurskynende kwartsriwwe hang waarin die sonstrale gebreek word. Soos dolkpunte steek hierdie skerp strale naar sy oë, wat hom genoodsaak om hulle vaster te sluit en moeisaam in die sandskemering verder te kruip. Dit kom hom voor of hy ronddwaal in 'n eindelose verskroeide landskap, waar die bome blaarloos is en die hitteduiseling om sy ore dreun. Hierdie gedreun word 'n wilde ritme, 'n gedans wat hom om en om sleep, tot hy die omtrekke van 'n verlate dorsvloer in die veld herken en die woeste maat van Kaffervoete in sy ore hoor slaan. Dit was 'n toneel wat hy eenkeer bygewoon en wat 'n stemming nagelaat het wat sy fantasie uit die vroegste kinderjare beheers het, hierdie musiek tot 'n hoogte van intensiteit gevoer waar dit klankloos word en die lug laat pols met die ritmiese bewegings en wilde uitstraling van verhitte swart liggame. Deur sy gedagtes rol vurige sirkels, hy voel homself oorrompel en meegesleep in die wilde rondedans, in sy ore suis die lied van 'n sonbesie... As Dolf weer sy oë oopmaak, sien hy die naakte kwartsriwwe van die Usambaraberge bokant flikker, en deur die donker grillerige naboomtakke oor sy tent skiet die son fyn dolkstrale wat aan sy ooghare bly hang en blink weefsels vleg. In die middel hang die groot swart son self wat die hele landskap verdonker. Die lug staan in swaweldamp, die horison word vaag, en dreigende boomgestaltes dring hulle daar saam soos verskrikte diere. Dit

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 79 kom hom voor of dit nag is, en deur die angstige stilte ril die droewe geskreeu van narok-kong. Sonderling roer hom die stem, soos iets welbekends, vol kwaalvolle en treurige herinnerings, asof dit uit die diepste van sy eie hulpeloosheid opstyg, maar in sy kop is 'n pynlike leegte wat geen gedagte vaste gestalte laat kry nie. Nogtans wend hy vertwyfelde pogings aan om sy gedagtes in die donker vol van veraf geruise en vormlose gevare, op hierdie bekende, illusievolle geluid te vestig, asof die raaisel van narok-kong se bestaan hom in 'n ander lewe reeds gekwel het. Met rukkies is dit of die geroep oor bodemlose afgronde, uit onmeetlike ruimtes naar hom kom, dan weer yl die grillerige krete soos rooi dwaalliggies deur die donker. Dolf voel of hy die klaende geskreeu volg deur 'n verlate veld met donker nabome en of dit altyd swakker en moedeloser op hom indring, soos die hulpelose gesnik van 'n angstige kind. Nou was dit digby... maar daar besluip hom die angs vir die onvatbare iets wat in die donker van die bosse skuil en snags die menslike fantasie oorweldig. Hy wil nie verder nie, span al sy kragte in om hom te verset, maar voel met rillende vrees hoe hy die grond onder hom verloor en magteloos daarheensweef, 'n onbekende, dreigende iets tegemoet, wat hom sterker aantrek hoe meer hy trag om daaraan te ontsnap. Plotseling sien hy die donker omtrekke, die grillerige spinnekoplitte van die naboom weer dig bokant sy gesig, en tussen die litte, glinsterend soos in maanlig, die blink weefsel waarin narok-kong hang en sy lewe uithyg. Hy skyn alleen nog sy vlerke mat met die swak polsslag van sy asem te kan beweeg, en met toenemende beklemming wag Dolf daarop dat die swart spinnekop sal te voorskyn kom om sy buit te verslind. Naamlose angs omvat hom. Sy gedagtes tas langsaam soos deur 'n digte newel. Hy wil sy hand uitstrek om die sterwende voël te red, maar 'n verlammende angs en swakheid maak hom magteloos. Trane van hulpeloosheid stroom oor sy wange, want nou was dit nie meer narok-kong nie maar hyself wat gevange hang in die klewerige blink gaas en swak met sy hande roer en vrugteloos die onheil probeer afstoot wat soos 'n digte ontasbare iets op hom aandring. Nou weet hy dat dit kom... Al die verskrikkinge van die nag vind gestalte in die swart ding wat op hom aankruip om sy bloed uit te suig. Hy onderskei nog soos deur 'n rooi mistigheid die uitgestrekte arms, die kromgetrekke vlesige litte wat langsaam oor hom heenbuig. Maar dit was geen naboom meer nie - dit was 'n swart monster met klewerige harige pote, onvatbaar groot, en sy asem is soos 'n gesuis deur die ruimte - - - Dolf probeer nog om met 'n laaste benoude skreeu los te ruk, maar geen geluid kom deur sy toegesnoerde keel nie. Dan slaan sy hand wild uit, 'n gerinkel van brekende glas dring soos van veraf tot sy gehoor, en hy voel hoe hy naar benede deur yskoue afgronde val....

SANGIRO.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 80

Geding van TOTIUS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 81

Ek hoor dat daar 'n ster is.

(Enige jare gelede is daar gemeld dat die ster Beta Ceti plotseling verander het van die twede tot die eerste grootte. Dit moet daar in die verte plaasgevind het vier eeue gelede, want die ster is 2,350,000,000,000 myle hiervandaan.)

Ek hoor dat daar 'n ster is wat van ons af so ver is; dat dit meteens in nagt'like uur vergroot is in die diep asuur; en dat die glans al lank vertrek het al eeue en eeue 't dit geduur - voor ons dit hier ontdek het.

O Ruimteveld wat ek nie skat nie, en duur van tyd wat ek nie vat nie, wat, wat is ek, verganklikheid, by só 'n ruimte en só 'n tyd? En sien die Heer my, nietling, aan wat in die ruimte nêrens is, en in die eeue skaars bestaan?

My siel, die ruimte is groot maar voel nie, die tyd het duur maar ken geen doel nie. Maar jy deurvoel die oneindigheid; jy sien hoedat die eeue slyt; en jy, wat op hul gange let, het smart, wat hul nie het!

TOTIUS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 82

Blou en Geel.

Die herfs daal saggies oor die land in gloriekleed van geel en blou, sluimer op veld en asvaal rand soos sagverdwaalde skemerdou... Die herfs! A, hier is geen geweld, geen ysgekorste winterkou: geel gerwemantels dek die veld, onder 'n helder hemelblou.

Dis blou en geel die wêreld rond! Ag, kon my lewensherfs maar wees geel gerwe op die sielegrond, blou heldernis in hemelgees; geel van die sonlig en die maan, blou van 'n rein gedagtesee, geel rypheid van 'n taak gedaan - en blou, geseënde sielevree!

FRANCOIS PIERRE ROUSSEAU.

Soos 'n Blaar.

Soos 'n blaar op die woeste wind, Soos 'n bootjie op die roekelose see: Waarheen, O God! Waarheen?

My siel het teen homself gestry Totdat my hart met al sy bloed gestort 'n Bleke, vose stuk oorbly.

A.J. BRUWER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 83

Skoonheid.

1. Die Skoonheid van Kleanthe.

Kleanthe, almal is verlief op jou, Maar jy - jy is verlief net op jouself. As jare wysheid bring of winterskou, Sal jy - nog steeds verlief wees op jouself. 2. Die Skoonheid van Helena.

Senex Trojanus loquitur: O soeter as die vrug van Hubla-by, En fyner dan die Middel-see se blou! Voor jou word duisend harte uitgesprei Vandag: en môre is dit net soos nou. 3. Die Skoonheid van Aegle.

(Vgl. W.S. Landor.) Staan digter om jul skimme-drom Wat saam met Aegle word geroei; Of Charon meen dalk hy's nog jonk En sy - nog in haar lewensbloei. 4. Die Skoonheid van Theophite.

Die uiterlik vermom die gees Vir oppervlakkig-siende oog; Soos ster ontnewel vér omhoog Sal jy vir siende oë wees. 5. Die Skoonheid van Tant' Lettie.

Die liggaam lomp, verstand maar min verfyn, Stem onbeskaaf, brand-arm; maar in haar hart Lê daar 'n mag van goud - diep is die myn Van teer gevoel, met wil van stoisyn - Die sagte goud in harde kwarts verberg. Daar's humor wat deur trane lag en tart Die slae van die Noodlot, harte-rein. En woed die lewensstorm driedubbel-erg, Self ly sy, ander red sy uit hul smart: En ander babbel oor hul brekend' hart, Maar onvertolk bly al haar stille pyn.

T.J. HAARHOFF.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 84

Lied van Alie.

Rosse wat kop aan kop skiet na die wenpaal! Dis Allah se strale wat styg oor die kim; Pers is die renbaan, maar vinnig verkleur dit, En goud is die steilte waarteen hul nou klim. Warm die wit sand wat heen en weer skuiwe. Gloeiend die hittewaas op karavaan, Saraseen-skedel moet hier goed bedek word - Anders kom ruiter nog markware aan! Marktyd - daar lê oor die tafels gesprei Oosterse weefsels van kleurryke sy Webbe vir wandelaars deur die basaar - Gretig die oë daarmee hul aanstaar: Mirre uit Arabië, Pêrels, robyne, Systof uit Sjiena met rose besaai, Jasper, ivoor en getinte satyne, Wierook gevoer oor die beenwit woestyne, Goudsteen gebeitel uit Siam se myne - Kom koop by ons tafels so weelderig belaai! Saans as die skaduwees sluip oor die sandsee En Allah met goudlig die deinings omboor, Bid ons met hoofde gebuig na die ooste Waar langsaam, die heuwels hul pragkleur verloor. Sag soos 'n duifswerm wat daal uit die hoogte En oor en weer kruis in hul langsame vlug Kom daar van minaret stil die gebede Van Muessins, wit teen die koperblou lug: ‘Allah i Akbar! Een ware God is daar, Mahomed Sy Dienaar die Tolk van Sy Woord’ - Maar skaars streel die son weer die palmboomblare Of daar klink ons marklied met volle akkoord: Mirre uit Arabie, Pêrels, robyne, Systof uit Sjiena met rose besaai, Jasper, ivoor en getinte satyne, Wierook gevoer oor die beenwit woestyne, Goudsteen gebeitel uit Siam se myne - Kom koop by ons tafels so weelderig belaai!

I.D. DU PLESSIS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 85

Uit: Skakels van die Ketting.*

IN my kinderdae, toe ek nog piepjonk was, moes ek elke winter die lammerooie in die appeliefies en die afgeoeste lande oppas. Nie te lank moes hulle daar bly nie, want anders gooi hulle dooie lammers, het Vader gewaarsku. Daar ver van die huis, in die droë-lande, lê ek dan bedags op die naat van my rug en luister hoe die wolbalies aangewei kom met 'n geluid asof hulle gedroogde boerbeskuit kou. Daar is altyd 'n paar skelms wat soos stout kinders wegspring van die trop af, en dan saans as hulle by die huis kom en Pa hulle tel - Pa kon so vinnig tel as die ooie met hulle vet agterlywe verby hom waggel-galop - kry ek sieps-en-braaibout, omdat ek hulle nie almal gebring het nie.

Dit was heerlik daar ver van die huis. Alleen het ek dan smiddags my tiffen geëet, met die grootmangevoel van selfstandigheid, daar agter die skape. As ek nog dink aan die knapsak of klitsgras, wat my kouse altyd soos gerekte krimpvarkies laat lyk het, of daardie wit steekgras wat, as jy die kous uittrek, soos asgaaitjies ingeryg sit, dan verlang ek weer na daardie dae toe ek ‘Skaaprin! skaaprin!’ of ‘hôi-hôi-hôi!’ geskree het. Niks was vir my lekkerder as om weg te buk agter die trop en 'n kruppel ooi aan haar agterbeen te gryp nie. Dit was dan ook sommer kinderspeuletjies om haar vierbeen-in-die-lug te laat lê en dan met 'n regte doktersgesig my ondersoek te begin; eers agter die kloutjie, dan op die bors of al langes die blad, tot ek die vuilgoed gekry het. Versigtig, met die bene styf om die ooi se maag geknyp, word dan die rooi-leventel-botteltjie met die ‘littles’ uit die broeksak gehaal, waar dit gelê het in die slingerdraai van die rekker. Meer as een keer het die ooi net gewag tot ek mooi gerus was, om my 'n streep te trek, en dan sien jy net twee skurwe groottone die lug kies. Innerlik ontstoke, word dan eers 'n paar slae in die hande gespoeg, die hoed vasgedruk en voor omgedop, en dan sou die ooi haar heiland leer ken as sy dit weer waag. En as ek nou nie die bosluise kon kry nie, word met alle erns agter die oor gekrap, die kop geskud met 'n uitgehoeste ‘nee!’ en dan maar weer in die rimpels van die keelvel of onder die stert wegval. Dit was vir jou uithaaldae daardie!

Maar wanneer ek eintlik verjaar het, was met skeertyd. Dit was my werk om die wolbale te trap. Daardie ou lang waanhuis by ons het altyd vol

* In die pers.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 86 van die outas gesit, en jy hoor die heeldag net die gekliek-kliek van skaapskêre. Maar hulle kon vir jou skeer, hoor! En saans dan word die strepies op die muur opgetel en is dit maar gewoonlik ou Antoon Britou wat lei. ‘Hiert! julle swartgoed, hiert julle!’ en ou Antoon stap styf-styf, met windmakerige langhale, weg en slaan die donsies van sy olie-taai broek. So'n wedstryd was werd om na te kyk. In die begin dan girts-girts die skêre soos klokslag deur die wol en krul die heerlike geel wol soos vars grond agter 'n ploegskaar om. En as die ooi dan miskien 'n rapsie kry, word gou-gou 'n bietjie ‘kerol’ aangesmeer. Maar later tap die sweet, so al langes die neus af, en word elke keer met die sy van die hand afgestroop en weggeskiet.

Een-vir-een loop die wit dril-lywe, wat hulle eers regskud en dan soos 'n springbok deur die deur na buite spring. Die kloutjies en penswol word afgeskeer, die ander soos 'n kombers gevou en in die wolbaal, wat met vier rieme aan die balke vas was, gegooi. Soe! dit het vir jou warm geword in daardie wolsak, en ek het naderhand geblink van die vet! Snags droom ek dan dat ek 'n nuwe wit skaap is en hoor nog die gekliek-kliek van die skaapskêre in my ore. As ek dan by die deur uitspring, is dit asof al die ou vuilgeid en laste van my af is en spring ek 'n nuwe lewe tegemoet, met net nog 'n paar littels-merkies waar die wol te vas gesit het. En dan het die Here ons, met die gedaante van Antoon Britou, na grasige weivelde gevoer, waar ons 'n nuwe lewe begin het en weer tekere gegaan het soos jong lammers.’

‘Luister jy nog, Elka?’

Maar Elka is lankal klaar vir die wêreld hier langs hom, en Kobie, opgewonde van pure geluk, draai hom ook maar om hier langes haar.

P. DE VILLIERS PIENAAR.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 87

Aan die kind op die Vrouemonument.

Daal soos die sneeuvlok wit, Daal na 'n stilwit graf, sonder 'n mens wat bid vir jou, of vriende se klag.

Lê jou saggies neer moeg van lewensswoeg, 'n vlok van die mensesfeer, donker en somber genoeg.

Smelt soos die sneeuvlok weg met lewensverandering, neem van die sonskyn saam om nuwe lewe te bring.

Maar net 'n sneeuvlok smelt, net suiwerste blank donskristalle. Daars bene wat nòg bleik op die veld, of in Konings se dodehalle.

Die sneeuvlok se lewe was rein. Ons gun hom die sagte rus. Of is daar nog harte so klein, wat 'n sneeubal gooi vir 'n kus?

Hamburg, 25ste Jan. 1929. P. DE V. PIENAAR.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 88

Die Namib-Woestyn, Suidwes-Afrika.*)

Verlate, verdor, deur die lewe verstoot, is my wese verbitter met nyd, en ek voer in die diens van my Meester, die Dood, met alles wat lewe 'n stryd. Heet soos my sonskyn en diep soos my sand en hard soos my berge se rots, is die wreedheid van weerwraak wat binne my brand met die haat van gekrenkte trots. Geen skoonheid, geen skadu, geen groenheid of gras, geen vleie my vaalte versier; seëvierend verdryf ek indring'rig gewas en folter vir mens en vir dier: ek teken mirages met tergende spot vir verdwaaldes, gemartel deur dors, en my sande dans juigend met helse genot oor geraamtes verstrooi op my bors.

Maar saands as die mis oor my westlike strand soos 'n lykkleed my kaalte bedek, en die nagwinde kerm oor my eensame sand, en skadu 's my lengte oorstrek, - dan word ek meteens met weemoed omgewe, al bly ek hoogmoedig en wreed, en ek smag na die wellus van groenheid en lewe en sug in my eensame leed.

E.A. SCHLENGEMANN.

*) Die Namib is die lang streep sandduine wat, met 'n afwisselende breedte van 100 tot 200 myl, al langs die seekus van Suidwes-Afrika van Noord na Suid uitstrek. Dit is die enigste woestyn van suidelike Afrika wat in egte wrede verlatenheid met die Sahara gelykstaan.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 89

Bekentenis.

Ek ken die dae warm van woeling in gange van beslommernis, en ure grou van haatlikhede, versomber soos in môre-mis. Ek ken die dae vol strydgedoente, aanstormend wild soos golwesee wat gruiswit tuimel oor die rotse, met niks meer wins as skuim en wee. Ek ken die dae - soos dorre akkers deurstreep hul my herinneringsland, daar bloei g'n aandblom uit die vore, daar spruit g'n rooitulp uit die sand. Ek ken die dae - soos rooi-grou rotse staar hul my aan, die woesterny, en grynslag in die môreskemer, en grynslag as die oujaar skei! Ek het my siel in heetste woeling, in vrugtelose kommer-stry, 'n bly-gebore glans geware.... sy spore-skim het my ontgly.

Die nyd van daad het my ontrowe my heimelike klankgenot.... Ek soek hom in die skemer-ure, maar ag, my soek word reine spot. Ek ken die dae, die naar-gelyfde, die dae sonder hart-verbly, hul grynslag in die môreskemer, hul grynslag as die oujaar skei!

D.F. MALHERBE.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 90

Geluk daarmee! (Na die Hebreeus van David Frischman.)

(David Frischman is een van die moderne Hebreeuse skrywers, 'n Russiese Jood, gebore in 1863, gestorwe in 1924, opgevoed in die kennis van Bybel, Talmud en tradisioneel - Joodse geskrifte, 'n vroegontwikkelde kind, onderwese in verskillende Europeese tale. Sy lewe was vernaamlik aan die journalistiek gewy en aan literatuur. Hy was medewerker aan verskillende Joodse tydskrifte, het baie van die mees bekende groot skrywers en digters in die Hebreeus vertaal (b.v. Byron, Nietzsche, Tagore, Wilde, Goethe, Ibsen, Anatole France), maar is veral belangryk om sy korte sketse en vertellings, vernaamlik die wat versamel is in die bundel ‘In die Woestyn’. Hierdie skets, in die klassieke Hebreeus geskrywe, gee 'n goeie proewe van sy gees en styl. Meer as die tema van die verhaal sal die simpele manier van vertel en die amper-simboliese van sy woorde ons tref. Ek het my so nou moontlik aan die oorspronklike Hebreeus aangepas.

Die tietel van die verhaal is in die Hebreeus fyner; letterlik: Word vernuut; dit is die woord waarmee op feesdae die draer van nuwe klere gelukgewens word, en beteken: dra dit in gedurig geluk. Die oorspr. betekenis moet by die lees van die verhaal in gedagtenis gehou word. Nog hierdie opmerking: by die Paasmaal geld die vader en moeder as koning en koningin.)

EK moet vir julle vertel van 'n seun, 'n arme kleremakerseun - maar julle moet tog nie al te jammer hieroor wees nie, dit was mos maar net 'n kleremakerseun En die kleremaker was 'n baie arm kleremaker, en die seun was nog jonk, en sy gesig was altyd bleek, en alleen sy oë het gebrand...

En die nag was die eerste nag van die Paasfees. - In die laaste drie nagte het die kleremaker nie na bed gegaan nie, want hy het nog die werk aan die nuwe klere moet klaar maak, die feesklere vir die ryk man van die stad, en vir sy seun, en vir sy skoonseuns, en vir die kleinkinders van hulle. Nog op die vooraand van Pase in die agtermiddag het hy gewerk, en eers toe, by die val van die aandskaduwees, het hy hulle in 'n laken gepak en gebring na hulle eienaars.

En die ryk man en sy seun en sy skoonseuns en die kleinkinders het die nuwe klere aangetrek en hulle het gekom na die sinagoge - maar die klere-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 91 maker het g'n ander klere aangetrek nie, maar net haastig sy gesig gewas, en ook hy het gekom na die sinagoge; en sy seun, die klein knaap, ook hy het g'n ander klere aangetrek nie, maar hulle het net sy gesig gewas, en ook hy het, met sy vader, na die sinagoge gekom.

En in die sinagoge was die lig en sielevreugde en harterus - en die kleremaker het daar gestaan, moeg en mat en vaak, en hy het gehoor die stem van die voorsinger, en elke oomblik het hy gehoor die geruis wat opgegaan het uit die nuwe syklere rondom, en langs hom staan Efrajim sy seun, en ook hy hoor die geruis wat opgaan uit die nuwe klere - en sy gesig is baie bleek, en alleen sy oë brand.

En hierna, toe die kleremaker gesit het by die Paasmaal in sy benoude opkamertjie, toe het ook oor hom die rus gekom. Was dit nie 'n feesdag nie! Die kamer was skoongemaak van al die stukkies lappe klerestof, die skottel en die rosyntjiewyn staan gereed op die tafel. Die vat vol rooibietwater staan in die hoek - en die koningin sit aan die regterhand van die koning.

En die seun lees die vrae - en sy bleek gesig word rooi en sy brandende oë word dof. Die knaap was nie gewoon aan die letters van die gebedeboek nie.

En die vader het die antwoorde gegee: oor ‘Knegte, ens.’ en oor ‘Die rabbies wat gesit het tot die tyd van die môregebed aangebreek het, ens.’ - en Efrajim luister en verstaan g'n woord nie.

En plotseling onderbreek hy sy vader en vra nog 'n keer - maar die nuwe vraag wat hy doen was nie 'n vraag uit die gebedeboek nie.

‘Vader! hoekom sê hul ook vir my nie: Geluk daarmee?... Al die seuns wat in die sinagoge is sê vir mekaar: Geluk daarmee, en alleen vir my sê hulle niks....’

En sy gesig word baie bleek. En sy oë begin baie te brand.

En die kleremaker hakkel-hakkel en wil antwoord. Maar ook hy weet in die eerste oomblik nie wat om te antwoord nie; ook hierdie antwoord staan nie in die gebedeboek nie. Maar na verloop van 'n oomblik weet hy dit. En hy antwoord:

‘My seun! Almal wat g'n nuwe klere het nie, vir die sê hul nie: Geluk daarmee!’

‘Maar hoekom het ek nie nuwe klere nie? My hele lewe het ek nog niemand vir my hoor sê: Geluk daarmee!’

Al die dae van Efrajim se lewe het hy nog g'n nuwe klere gehad nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *7

KOTTLER. 2. GEN. HERTZOG (Brons).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 92

En hy slaan sy oë op uit die gebedeboek, en sy oë is brandende fakkels - en toe hy sy oë opslaan kyk hy en sien sy moeder, en in haar oë is trane.

‘As dit Gods wil is, in die komende jaar,’ antwoord sy moeder vir hom, ‘in die komende jaar, as dit Paasfees is, sal jy nuwe klere hê.’

En sy moeder het hom op sy voorhof gekus.

En die knaap sit - en sy oë was die oë van 'n dromer. 'n Dromer wat die uitkoms verwag.

Maar ook in die jaar daarna, en ook in die jare wat kom het Efrajim nog g'n nuwe klere nie. Kusse - hulle het sy moeder vir hom kan gee, maar g'n nuwe klere nie.

En ook in die jaar daarna, en ook in die jare wat kom het Efrajim nog g'n nuwe klere gehad nie. Want waarlik, daar is mense soos hierdie op die aardbodem wat nooit nuwe klere het nie.

Daar is mense wat gedurig bly aan die kant van die straat waar die sonskyn is, en daar is mense wat bly aan die ander kant, daarteenoor, aan die kant van die skaduwee.

En Efrajim het gedurig gebly aan die kant van die skaduwee wat in die straat is.

En Efrajim vra gedurig: Waarom? Dis net asof 'n muggie in sy klein brein sit en daarin boor. En die muggie boor en maak daar 'n groot gat in en die muggie vul die gat met die vrae: Waarom dit?

En die vraag van alle vrae was: Waarom het ek g'n nuwe klere nie? En nog moeiliker as dit, was die vraag: Waarom dit, dat ander nuwe klere het?

En Efrajim het g'n afguns in sy hart gevoel nie - hy het net pyn gevoel.

En as hy in die skool is en hy die seuns sien en hulle het klere wat nog gister en nog eergister nuut was - hy het vir hulle nie beny nie, hy het net pyn gevoel in sy hart.

En in die strate van die stad het hy nuwe klere gesien - en hy het net pyn gevoel in sy hart.

En ook die honger het hom nie gekwel nie, soos die ene gedagte, wat sy hele hart gevul het, hom gekwel het.

Heel sy siel binne in hom is saamgekrimp en is één gedagte geword. Eén sielsverlange - die sielsverlange na die geluid van die woord: Geluk daarmee!

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 93

En alleen eenmaal was hy gelukkig - eenmaal in die nag. Maar toe hy wakker geword het uit sy slaap, skree hy. En sy moeder vra wat hom mankeer, en hy vertel in haar ore dat hierdie keer seuns by hom gekom het, en een vir een sy klere betas het, want hy het 'n nuwe pak klere gehad, en elkeen het vir hom gesê: Geluk daarmee, geluk daarmee! En sy siel in hom het oorgevloei van groot blydskap - maar nou kyk, daar is niks vir hom nie. En sy moeder het gesê: Blykbaar het die kind 'n nuwe pak klere gesien in sy droom! En Efrajim het geword tot 'n dromer ook oordag. En sy siel het nog gewag vir die geluid van die woord: Geluk daarmee! En die knaap het groter geword, en het tien jaar geword, en het twaalf jaar geword, en hy het leerjonge geword by een van die kleremakers - maar nieteenstaande dit alles het hy g'n nuwe klere gehad nie. En die kleremaker het hom geslaan, en die vrou van die kleremaker het alle plae op hom laat neerkom, en die bediendes van die kleremaker het hom geknyp in die kale vlees wat deur die lompe van sy klere sigbaar was - maar al hierdie dinge het hom nie seer gemaak nie, alleen as hy in sy hand die naald en draad hou en daar is 'n nuwe kleed tussen sy vingers om dit te werk, dan het hy pyn gevoel in sy hart. Die kleed het sy lewende vlees deurboor, en nie die naald nie - en dan was sy gesig baie bleek, en het sy oë baie gebrand, en die muggie het geboor in sy hart, en in sy ore het sonder ophou die stem gegons: Geluk daarmee! En hierdie stem het gedurig gegons in sy ore en in sy siel. En sy sielsverlange het al groter geword. En as die kleremaker hom uitstuur om die nuwe klere te bring na die huise van die rykes en sy oë het hulle prag en al hul rykdom gesien, en as hy dan terugkom in sy benoude tuiste en sy oë sien sy ellende en sy armoede, dan het hy maar die een ding gedink: want hulle het nuwe klere en hy nie. Waarin het hy gesondig dat hy g'n nuwe kleed het nie? En wat het die ander gedoen en wat verdiensteliks het hulle gedoen dat hulle nuwe klere het? Die sielsverlange het al groter geword. En op 'n sekere dag is hy betrap op diefstal. Die brawe seun wie se gesig was as van een wat nog g'n vraag kon stel nie. Hy was niks as 'n dief nie - so het die vrou van die kleremaker gesê. Want die vrou van die kleremaker het die saak van die diefstal ontdek. En die ding was so 'n eenvoudige ding: 'n nuwe kleed was gemaak in die huis van die kleremaker en hulle het dit aan Efrajim gegee om dit te bring na die huis van een van die rykes vir sy seun. En Efrajim het die kleed nie na die huis van die ryke gebring vir sy seun nie, maar hy het dit gebring na sy tuiste in die dakkamer. Eenmaal in sy lewe het hy oor sy lyf 'n nuwe kleed wil aantrek. Slegs eenmaal in sy lewe het hy wil proe die smaak van 'n nuwe kleed - ag, maar net een oomblik!

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 94

En die vrou van die kleremaker, sy was dit wat hom by sy diefstal gevang het. En daarna het hulle hom geslaan en gewond en hom weggestuur. En die knaap het 'n knaap van sestien jaar geword, en 'n seun van agtien, maar ‘Geluk daarmee’ is vir hom nie gesê nie. En sy gesig het baie bleek geword en die geluid van die hees is gehoor uit sy mond by oomblikke, en hy spuug bloed by tye - alleen sy oë het gebrand soos kole. En die asem in hom brand, in sy siel gloei één groot begeerte, die begeerte na die geluid van die woord: Geluk daarmee! Waarom? Waarom alleen hy so arm? Waarom dit, dat ander mense baie nuwe klere het en hy selfs nie een nie? En die nuwe kleed het vir hom soos 'n obsessie geword. En hy het niks meer gedoen nie as net te praat oor die nuwe kleed wat hy sou kry. En in die openbaar het hy sy mening te kenne gegee dat die dae nog sal kom dat daar gedurig nuwe klere sal wees vir alle mense, vir almal. Die dae sal nog kom, dat vir elke mensekind sat gesê word: Geluk daarmee! Maar hierdie dae het nie gekom nie - en alleen ander dae het gekom. En hy het siek gelê op sy bed in die hospitaal. Die hoes het erger geword. En die bloed het gestroom uit sy keel by oomblikke. En hy droom sy drome wakend: sy oë sien van ver 'n nuwe kleed en sy ore hoor van ver die stem: Geluk daarmee! In die eerste dae het die dokter van tyd tot tyd by sy bed gekom op die middag - maar nou het dit reeds opgehou. Dit is niks as dat binnekort hy sal opstaan van sy bed en sal uitgaan en die nuwe lewe sal begin in die nuwe klere. Maar sy krag het al minder geword. Sy keel versmag en sy tong is verdroog en sy oë brand. En sy oë sluit hulle, langsamerhand. En hy sien voor hom 'n wonderbare gesig: Kyk, engele daal neer, klein engele, groot engele, engele by duisende, en in kort is die hele kamer vol van hulle; en die engele gaan op en gaan neer, gaan op en gaan neer, en ruis met hulle vleuels. En plotseling, kyk, klere in hulle hande, almal wit klere, en sy ore hoor 'n lieflike gesang, 'n gesang waar g'n end aan kom nie: Geluk daarmee! Geluk daarmee! En plotseling, kyk, 'n swart engel....

En op daardie dag het hulle hom begrawe in die wit, nuwe klere: Maar: Geluk daarmee! het sy ore nie gehoor nie. Kyk, dit is wat ek belowe het om vir julle te vertel oor 'n seun wat nie verdien het om 'n nuwe kleed aan te trek al die dae van sy lewe nie. Maar julle moet tog nie al te jammer hieroor wees nie - dit was mos maar net 'n kleremakerseun. B. GEMSER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 95

Aan die Beiaardier.

Trap pedale, Vuis die toetse, Lui die klokke Beiaardier! Daar is nuwe Jong geslagte Vol van kragte, Vol van vuur!

Steek die stywe Olie-fakkels In die vlamme - Gee ons lig. Daar is nuwe Lewensarbeid, Nuwe bouwerk Te verrig. Trap pedale, Vuis die toetse, Lui die klokke Beiaardier! Word die oue Nou begrawe, Laat die nuwe Bo-toon vier.

Laat ons wegkom Van ruïene, Trane-sugte En verdriet, Daar die toekoms Nuwe uitsig Aan ons nasie Hier wil bied. Speel 'n nuwe Liederwysie, Soet en kragtig - Speel dit fier. Trap pedale, Vuis die toetse, Lui die klokke Beiaardier!

HEIWEE.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 96

Hart van Hialmar.

'n Helder nag, yskoud die wind. Die sneeu is rood bevlek. Hier lê 'n duisend kloeke jonkmans, hier slaap hul sonder graf roerloos, met swaard in hand, en oë bleekwit wydgerek. Bo krys 'n swerm kraaie, wentlend, swewend op en af.

Die kil halfmaan se spookwit dowwe skynsel glim verweg. Hialmar lig hom op. - Die dooies lê hier ver en wyd - steun op sy swaard, met albei hande om die hef gevleg. Af langs sy sy glinster en gloei die purper van die stryd.

‘Vanmôre nog het hul gelag, uit volle bors gesing soos merels wat oor koringvelde styg en daal, so vrolik, sterk en jonk - en nou hier in die skemering helaas! Is daar nie van hulle wat nog asem haal?

Almal is stil. My helm stuk, my harnas is vergruis, die skroewe los, die byl het mokerslae my gegee. My oë bloei. Ek hoor 'n eindloos diepe dof gedruis soos van die wolwe of die verre dreuning van die see.

Kom hier, swart kraai, jy wat so fluks ons liggame verslind! Skeur met jou ysterbek my boesem oop wat jou versper. Net soos ons werklik is sal jy ons almal môre vind. En dra my hart nog warm na die dogter van Ylmer.

In Upsal waar die Parle van die lekker rooi bier drink - Sweef o so vlug daarheen, jy wat die hemelruim deurvaar! - ensing in bly refrein, en luid die goudbokale klink, soek daar na my verliefde en gee my hart aan haar.

Bo in die toringtop waarom die rawe swaai en gaan, sal jy haar wit sien staan, met hare golwend swart en sag. Twee silwerringe, tinklend aan haar ore, fyn beslaan, en helderder haar oë dan die sterre in die nag.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 97

Gaan, droewige gesant, en sê dat ek haar minnaar is, wys haar my hart, sê dis die hart van my, o neem dit der! Sy sal erken dis rood en sterk en kragtig fier en fris; en sy sal vir jou glimlag, sy die dogter van Ylmer!

En ek, ek sterwe. O, deur twintig wonde vloei my gees. Drink, wolf, my purper bloed. My lewe om, my dag aan kwyn, jong, glimlaggend en vry, en vlekloos, onbevrees, tussen die Gode sal ek plaasneem, in die sonneskyn!

Uit die Frans van Leconte de Lisle, deur UYS KRIGE.

Die Erewoord.

Ou vriend, hou jou woord waar jy kan, Gee jou woord nie te gou, Soek geen later berou; Ou vriend, hou jou woord waar jy kan, Wees 'n man!

Ou vriend, laat jou woord wees jou daad, Laat geen maat in die steek, Moet jou woord tog nie breek; Ou vriend, laat jou woord wees jou daad, Geen gepraat!

Ou vriend, laat jou woord wees jou eer, Jou belofte maak plig, Waarvoor alles moet swig, Ou vriend, laat jou woord wees jou eer, Elke keer!

E.M. MÖNNIG.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 98

C.P. Hoogenhout.

(Vervolg en slot.)

DIE man met die grootste verstand wat ek ooit in Suid-Afrika ontmoet het, is S.J. du Toit,’ het my vader meer as eens aan my gesê. En hoewel sy pad en dié van ds. du Toit later in verskillende rigtings geloop en hulle uitkyk op sake hemelsbreed verskil het, het Hoogenhout tot op die dag van sy dood daardie bewondering vir sy vroeër vriend behou. In die vorige hoofstuk het ons gesien hoedat C.P. Hoogenhout byna elke Saterdag op die Pêrel deurgebring het. Hierdie besoeke is afgelê nie alleen om vir du Toit met sy koerantwerk behulpsaam te wees nie, maar ewe seer uit louter vriendskap. Treffend is sy afskeidsgroet aan S.J. du Toit tydens die benoeming van sy Eerwaarde tot Direkteur van Onderwys van Transvaal in 1881. Ek gee die gediggie, wat, tussen hakies, weer in goeie Nederlands geskrywe is, in sy oorspronklike vorm hieronder:

‘Ga, leraar, broeder, vriend, hoe zwaar ook 't scheiden zij! Het is de wil van God en daarom zwijgen wij. W' aanbidden 't Raadsbesluit, dat u ten tweede maal De roepstem horen deed: ‘Kom over naar Transvaal!’ Ga, vorm in Godes kracht, het volk dat worden zal. De Alwijze die u riep, verzelle u overal. Gewichtig is de taak voor tijd en eeuwigheid, Die in 't verkiezingsplan door God u werd bereid. Wij gunnen 't heldenvolk en aan hun dierbaar kroost U, trouwbevonden vriend, - en 't offer geeft ons troost. Het offer, ja, dat is 't - meer waard dan goud en goed; Het dierbaarst staan wij af aan 't volk van eigen bloed.

Dat die agting en liefde wedersyds was, blyk uit die feit dat na sy benoeming S.J. du Toit by my vader aangedring het om die Kaapprovinsie te verlaat en Transvaal-toe te kom as Sekretaris van Onderwys. Hy het hom egter nie geroepe gevoel om die betrekking te aanvaar nie, maar dit is opmerklik dat sy oudste seun vandag dieselfde pos beklee waarin sy vriend destyds gestaan het, en dat een van sy oudleerlinge tans sekretaris van onderwys is!*)

*) Die skrywer self - die derde seun van C.P. Hoogenhout - is hoofeksaminator van die Transvaal. - Red.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 99

In later jare het daar verwydering gekom tussen die twee boesemvriende. S.J. du Toit het 'n politieke rigting ingeslaan wat lynreg ingedruis het teen C.P. Hoogenhout se oortuiging, en nog voor die Jameson-strooptog

was die vervreemding so groot dat die twee voorstanders van die Eerste Taalbeweging nie eers meer met mekaar gekorrespondeer het nie. Dit was baie jammer, en vir die Eerste Beweging noodlottig. Ja, ek wil byna so ver gaan om te beweer dat dit die uiteindelike doodkwyn van die Genootskap beteken het.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 100

Treffend is 'n gediggie - of dit op sy vroeër vriend doel, kan ek nie met sekerheid sê nie - wat in Januarie 18...... geskrywe is. 'n Mens kan dit nie deurlees sonder 'n traan in die oog te kry nie. Die opskrif is ‘Myn Vrend’, en ek laat net die laaste koeplet hier volg, omdat die gedig in sy geheel aanstoot mag gee: -

‘Nu blyft hy weg, - verdween uit mijn gezicht... Maar lezer van dit kreupele gedicht, Als gy hem ziet, of waar gy hem ook vindt: Doe aan hem wel! - Hy was en blyft myn vriend!’

C.P. Hoogenhout het die vervreemding baie diep gevoel, en hoewel, sover ek weet, die breuke nooit weer geheel is nie, het hy van sy kant tog altyd van sy vorige vriend met die grootste agting en liefde gepraat.

Hier voor my lê sewe skrifte vol gedigte wat C.P. Hoogenhout eienhandig afgeskrywe het, en dit is opmerklik dat in die eerste drie boeke net een gedig voorkom wat in Afrikaans geskrywe is, terwyl al die ander (met die uitsondering van 'n stuk of ses wat in Engels opgestel is) in Nederlands gedig is. Dit lyk vir my baie of Hoogenhout tussen die jare 1873 tot 1885 onder die indruk verkeer het dat die Afrikaanse taal nie geskik was vir die hoër vlug van die poësie nie. Dit kan ook wees dat hy gemeen het dat die ontwikkelde mense liewer Nederlands as Afrikaans lees, en dat dit die minder ontwikkelde tog nie werke van 'n hoër gehalte sou appresieer nie, al was hul ook in Afrikaans geskrywe. Die versies uit sy pen wat in Reitz se ‘Uitgesogte Gedigte’ verskyn, het hy hom nie eers die moeite getroos om in sy versameling, wat hy aan die skrywer van hierdie artiekeltjie nagelaat het, op te teken nie.

In 'n bedanking aan hoofregter Reitz by die ontvangs van 'n presenteksemplaar van die ‘Vyftig Uitgesogte Afrikaanse Gedigte met Prentjies’ maak hy enkel melding van die feit dat die kleinspan blaai en lag en praat, en dat ou Ewa, die meid, gesteurd is omdat sy so swart afgeteken is in die boek; maar hy is baie versigtig om geen oordeel oor die gehalte van die gediggies uit te spreek nie, hoewel hy die vrome wens uit dat ons volk van

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 101 die boekies weldra 'n menigte mog vra. En die leser kan die sin voltooi deur die volgende by te voeg: ‘Sodat die leeslus by hul opgewek word en ons vir hulle lektuur van 'n hoër gehalte kan verskaf!’ Ek laat die versie van bedenking hier volg: -

Hoe die ‘Vyftig Uitgesogte Afrikaanse Gedigte met Prentjies’, versamel deur Hoofregter Reitz, ontvang is.

Oom Jan en sy vrou voel net baie vereer Met ‘Versies en Prentjies’, Hoogagbare Heer! Die kleinspan die blaai, en dis lag en dis praat; Maar een was gesteur en sy lyk my bra kwaad, - Dis Aja die - toe ons die prentjie laat kyk, Toe vra sy: ‘Wil nooi sê, dat ek dan so lyk!’ ‘Og nee,’ sug ons toe, ‘dis die drukker se fout, Maar voor op die boek staan jy reg en van goud!’ A, toe was ou Ewa so reg in haar skik, En die kinders die skree en die lag dat hul hik. My dogtertjie vra my: ‘Maar, Pa, is dit waar, En lyk 'n gordyntjie dan regtig so naar? Dan dra ek dit nooit nie, so lank as ek leef....’ Met stryk sy haar haar weg, dit was effens skeef. My niggie, wat noumaar eendag dink te trou, Sê: ‘Bolandse jonkmans die lyk nie so rou!’ Dog waar sou ek eindig om alles te skryf?’ Die rym wil nie vlot nie, die maat is te styf. Dit is ook nie nodig (hoe Volksbode spot) - 'k Het hom gereview in ons ou Patriot. Voorts, alle sukses met die Proef, en mog dra Ons volk van die boekies 'n menigte vra! Alleen nog: ek dank u, en sal dit bewaar, So lank as die Here my lewe mag spaar.

5 November 1888.

Dog vereers genoeg. Die leser mag hom dalkies verveel. Miskien sal ons - ten minste as die redakteur ons nie die swye oplê nie - by 'n later geleentheid die een en ander van C.P. Hoogenhout as prosaskrywer vertel.

IMKER HOOGENHOUT.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 102

Iets omtrent die volksoorlewerings van die Suid-Afrikaanse Bantoe.

II. Die verhalende prosa.

NA ons vlugtige beskouing van die genres, taal- en stylsoorte van die Bantoe-volkstradiesies in die algemeen, kan ons nou daartoe oorgaan om elkeen van die genres 'n bietjie noukeuriger te ondersoek. Ons kan nie beter begin nie as met die fabels, legendes, sages en verhale: eerstens omdat daardie genre die vlugste en blywendste ingang vind by die westerling, vir wie die ander produksies van die Bantoe-volksgees nog vreemde terrein is; en twedens, omdat daardie genre die meeste aandag getrek het by westerlinge en gevolglik die meeste opgeteken is, sodat ons 'n groter skat materiaal daarin het as in die ander genres. Daar bestaan 'n ontsaglike rykdom van daardie verhale, en 'n amper ewe groot verskeidenheid in temas, taal en styl. Dierfabels is natuurlik, soos by alle natuurvolke, in die oorgrote meerderheid, maar daar is ook 'n baie groot aantal natuurmietes, legendariese vertellings en moraliserende verhale. Dit is egter moontlik om die oorweldigende voorraad materiaal te groepeer en te rangskik, en dit is ook probeer geword, o.a. deur Junod en Jacottet. Ons wil hier nie in besonderhede ingaan nie, maar net melding maak van die hoofideë wat die verskillende temas in die algemeen skyn te beheers. Die hooftendens in die verhale is, in die laaste instansie, moralisties: gewoonlik word kwaad gestraf en goed beloon, gewoonlik triomfeer knapheid oor domheid, ywer oor luiheid, soms ook sluheid oor argeloosheid, lis oor krag. Maar - en dit is 'n ding wat ons dikwels nie raaksien nie - selde of nooit kom reg bo mag, lis bo knapheid. Dit kom veraf uit in die verskillende sieklusse van die dierfabels - die Hasie-sieklus, die Skilpad-sieklus, die Jakkals-sieklus. Anders as in die Europese Reinaert-sieklus, triomfeer die heldefiguur, nie oor die goedige argloosheid van sy vyande nie, maar oor hulle listigheid en domme magsvertoon. Dit karakteriseer Junod in die mooi uitgedagte uitdrukking ‘The Wisdom of the Little People’, waar 'n klein swak dier se reg die oorhand kry bo 'n groot sterk dier se mag, deur die knapheid van die swakke teenoor die domheid van die sterke. Dieselfde tema kry ons weer by die verhale waar kinders of swak mense moet stry teen die boweaardse mag van 'n reus, 'n towenaar, 'n mensvretende dier, of wat ook al.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 103

Met hierdie kort beskouing gaan ons nou volstaan, om die lewende tekste self aan die woord te laat kom.*) Ons kan nie meer as 'n paar voorbeelde gee nie, maar ons hoop, dat hulle tenminste 'n idee sal gee van die pittigheid, die lewenswysheid en die diepe eenvoud van die Bantoe-volksgees, sowel as van die innigheid, kunssin en tegniek van die volksoorlewerings.

Die tarentaal en die veldhoender.

(BaMasemola-stam. Origineel (seSothe) en vertaling (Duits) by C. Hoffmann, ‘Märchen und Erzählungen der Eingeborenen in Nord-Transvaal,’ Zeitschrift für Eingeborenen-Sprachen, Bd. VI, Heft 3.) Die tarentaal en die veldhoender het oor 'n tuin gestry. Die tarentaal sê: ‘Hierdie tuin is van my.’ Die veldhoender het gesê: ‘Hierdie tuin is van my.’ Toe het die tarentaal hierdie sack voor skeidsregters gebring. Die skeidsregters kom toe en roep vir die veldhoender en sê: ‘Tarentaal, praat, hier is die veldhoender. Nou vertel julle vir ons hoé julle oor die tuin stry.’ En hulle sê ook: ‘Hoe het julle te werk gegaan?’ Die tarentaal sê: ‘Ek het geroep: Kê, kê, kê, kê, kê, en twa! en klaar was die tuin!’ Toe sê hulle: ‘Veldhoender, praat jy non joú woord.’ Die veldhoender sê: ‘Ek, edelagbare here?’ - en hy vat aan sy kind, en die kinders wat met hom saam die tuin bewerk het - en toe sê hy: ‘Ek het opgestaan en altyd saam met hierdie kinders van my gekom. En wanneer dit somtyds gebeur het dat my kinders miskien moeg was en by die huis gebly het, het ek alleen gaan ploeg; tik het opgestaan terwyl dit nog donker was as ons die tuin gaan bewerk. Al was ons ook in die middel van 'n fees, tog het ons voortgegaan met die tuin te bewerk. En toe het my tuin groot geword, omdat tik dag vir dag geploeg het.’ En toe sê die skeidsregters: ‘Hierdie tuin is van jou, veldhoender;’ - hul het die veldhoender ondersteun - ‘daardie kêrel sê vir ons niks nie. 'n Tuin word nie somar op een dag geploeg nie, en 'n mens maak hom ook nie somar dalk klaar nie. Die tuin is van jon, veldhoender!’

Die leeu, die wolf en die jakkals.

(BaPedi-stam. Origineel (seSotho) by P.E. Schwellus, Padishô I.) Op 'n seker oggend het die leeu 'n erdvark geëet, en toe kry by maagpyn en was baie siek. Al die diere het gekom en vir hom gesorg en hom opgepas, maar die jakkals het tuis gebly en nie na die koning toe gekom nie.

*) Die Afrikaanse vertalings wat hier gegee word, is almal onafhanklik deur die skrywer gemaak, ook waar daar reeds vertalings in ander tale bestaan. Hy het natuurlik probeer om in die Afrikaans soveel as moontlik die taal en styl van die oorspronklike weer te gee. Daarom is die vertalings met opset baie letterlik.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 104

Die wolf het 'n hekel aan die jakkals gehad, en praat toe met die leeu en sê: ‘Koning! Majesteit! Die jakkals verag vir jou; hy gee glad niks vir jou om nie. Hy het nie eers gekom om vir jou te Borg soos ons nie: hy wil nie vir jou oppas nie!’ Die wolf het so gepraat om vir die leeu só kwaad te maak dat hy die jakkals sou haat en vir hom doodmaak. Terwyl die wolf nog so praat, kom die jakkals in en hoor wat die wolf sê. Hy sien ook dat die leeu alreeds agterdogtig geword het deur die woorde van die wolf, en hy word mismoedig. Maar gou word hy rustig en sê vir die leeu: ‘Heil, koning! Magtige vors! Luister tog asseblief na my, Majesteit! Ek is laat omdat ek die hele land afgeloop het; die hele tyd het ek gehardloop om vir die koning medisyne te soek by die dokters. Die dokters sê die koning moet sy maag omwikkel met die vel van 'n wolf, maar 'n vel wat nog nie droog is nie, dan sal hy beter word. So is dit, Majesteit!’

Die leeu sê: ‘Hier is mos 'n wolf. Maak hom dood en stroop vir hom die vel af.’

Listigheid maak sy eie baas dood. Leuens eet vir die leuenaar op.

Hy wat 'n stok pluk om te slaan, pluk vir homself.

Die akkedis en die kleurmannetjie.

(BaRolong-stam. Origineel (seTshwana) en vertalings (Engels) by D. Jones en S.T. Plaatje: ‘A Sechuana Reader’.) Die Betsjoeana van die ou tyd het hulle manier gehad om te verklaar hoe dat die dood begin het. Hulle sê dat die skepper van alle dinge die kleurmannetjie gestuur het en vir hom gesê het: ‘Loop jy en vertel vir die mense en sê dat wanneer mense doodgaan, hulle weer sal terugkom.’ Die kieurmannetjie, omdat hy so vreeslik langsaam is, het agtergebly, stilgestaan en dan weer skok-skok vooruitgekom en langs die pad geslaap, sodat hy nie nog die dag op die plek waarheen by gestuur was, aangekom het nie. En toe kom die akkedis agter hom aan, loop baie vinnig en loop hom verby; en so kam hy dan ook eerste aan en vertel vir die mense en sê: Wanneer mense doodgaan, vergaan hulle vergoed.’ En toe die mense daar so sit met hierdie baie treurige nuns, toe sien hulle die kleurmannetjie heeltemal agter-agteraan kom. Hy bereik hulle en vertel vir hulle en sê: ‘Wanneer mense doodgaan, sal hulle weer terugkom.’ Die mense sê toe: ‘Loop! Jou langsaamheid het ons doodgemaak. Die wet het ons al gehoor; dit het glister met die akkedis saamgekom.’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 105

Hoe die diere hulle kleure gekry het.

(BaVenda-stam. Origineel (tshiVenda) by Ndede ya luambo lwa Tshiveda.)

Dit word gesê dat die kleure van die diere deur die grys muishond geskilder is. Hy het naamlik gepraat en gesê: ‘Hy wat 'n dier doodmaak en my die vleis gee, hom sal ek kleure opskilder.’ Toe die hiëna dit hoor, het hy uitgegaan om 'n dier dood te maak, maar hy self het die vleis geëet. Toe hy klaar was, kom hy aan net met die bene en gee dit vir die grys muishond, Die grys muishond sê: ‘Gaan op jou maag lê, dan sal ek jou verf.’ En hy sê: ‘Hierdie mens behandel my sleg; ek sal hom ook so behandel.’ Toe hy dit sê, smeer hy die hiëna daardie opsigtelike lelike kleure van hom op.

Die tier het ook uitgekom en het op jag gegaan. Hy het 'n dier doodgemaak en vir die muishond sy maag vol gegee. Toe sê die muishond vir hom ook: ‘Gaan op jou maag lê.’ En hy sê ook: ‘Hierdie mens behandel my behoorlik; ek sal hom ook so behandel.’ En toe verf hy hom daardie mooi kleure van hom op.

Die goeddoener doen die goeddoener goed,

Die kwaaddoener doen die kwaaddoener kwaad.

Die dood van die hasie.

(BaThonga-stam. Origineel (shi-Ronga) en vertaling (Frans) by H.-A. Junod: ‘La tribu et la langue Thonga.’) Tussen die hasie en die hoender het daar groot vriendskap bestaan. Nou gaan meneer Hasie een slag by sy vriendin kuier. Juffrou Hoender sê toe vir hom: ‘Môre, as jy kom, sal jy vind dat ek nie hier by die huis is nie. Jy sal vind dat ek uit is om te gaan vis.’ Meneer Hasie gaan weer na Juffrou Hoender toe, vroeg in die môre. Toe sê die vrouens vir meneer Hasie: ‘Jou vriendin is weg; sy is uit om te vis.’ Die hasie sê toe: ‘En hierdie hoender dan wat nie 'n kop het nie, is dit nie sy nie?’ Toe praat die ander vrouens uit en sê: ‘Dis sy. Net haar kop het weggegaan om te vis, en haar liggaam het agtergebly. Kyk maar; sy haal mos asem.’ Meneer Hasie sê: ‘Goed, ek sal bly om te kyk hoe die kop terugkom van die visvangs af.’ Nou het sy natuurlik haar kop tussen haar vere weggesteek. Die dag verstryk. Toe sê hulle: ‘Loop soek vir haar by die water.’ Hy gaan uit en weg om die kop van die hoender te soek. En die vrouens het na die rivierkant toe gegaan, en vis gekoop, en dun lyntjies in die water gesit om hul nat te maak. Hul kom toe terug, sit die lyntjies in die son, en die hoender het hulle ook nog daarby gehelp.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 106

Meneer Hasie kom terug sonder dat hy haar by die rivier gevind het. Hy sê toe vir die hoender: ‘Ou vriendin, ek wag vir jou al so lank!’ Sy sê: ‘Dit kom nie daar op aan nie! Hier, vat hierdie vis!’ Hy sê: ‘Goed.’ Die hoender sê: ‘Môre sal ek by jou kom.’ Meneer Hasie sê: ‘Jy sal vind dat ek ook my kop afgesny het om te gaan vis.’ Die hoender staan baie vroeg op en gaan naar die huis van die hasie toe. Sy vind daar die mense in treurigheid, want die hasie het sowaar vislyntjies mooi klaargemaak, en toe sy kop afgesny en is dood.

Hoe die dassie sy stert verloor het.

(AbakwaSoeloe-stam. Origineel (isiSoeloe) by H. Callaway: ‘Nursery tales, traditions and histories of the Zulus.’)

Dit word gesê dat die dassie nie 'n stert het nie omdat hy 'n boodskap deur middel van ander gestuur het. Want op die dag toe die sterte uitgedeel is, was die hemel met wolke bedek. Nou het die ander uitgekom om hulle sterte te kry daar waar hulle te kry was; maar die een was verhinder om met hulle saam te gaan, en hy stuur, 'n boodskap na al die diere wat sterte gehad het en sê: ‘Ag, liewe mense, kry jul tog vir my die stort wat myne is. Ek kan nie uit my holletjie kom nie, want dit reent.’

Nou ja, die ander kom terug met sterte. Maar hy, hy was nog altyd sonder stort, want hy wou mos nie uitkom terwyl die lug bewolk was nie. Al die voordeel van 'n stert te hê het hy gemis. 'n Stert is mos nuttig wanneer 'n mens die vlieë van hom af wil jaag. En so jaag die dassie tot vandag toe niks van hom weg nie.

Hoe die leeu koning van die diere geword het.

(BaTshwana-stam. Origineel (seTshwana) en vertaling (Engels) by S.S. Dornan: ‘Pygmies and Bushmen of the Kalahari.’)

Die volstruis was koning, maar die diere het saamgeloop met die leeu. Toe die volstruise so loop, sien hulle tropee ander diere. Nou was die leeu bang vir die volstruis. Toe loop die volstruis voor die ander uit en sê: ‘Loop en maak vir ons diere dood, ons het mos nie tande nie.’ Die leeu het dan ook diere doodgemaak, maar was bang ons te eet. Toe sê die volstruis vir die leeu: ‘Sny dit nou vir my klein.’ En toe eet hy net die lowers, omdat hy nie tande gehad het nie. Die leeu het al die vleis opgeëet, en toe gaan hulle uitmekaar. Toe hulle uitmekaar gaan, toe brul die volstruis, en die leeu het ook gebrul. Maar tog was die leeu bang om teen die volstruis te brul. Op 'n ander dag gaan die leeu vir die volstruis sien, en kom by hom terwyl hy

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 107 slaap. Die volstruis lê daar en slaap met sy bek oop. Toe die leeu die oop bek van die volstruis sten, toe sê hy: ‘My koning het nie tande nie, hy kan nie doodmaak nie.’ Toe word die leeu koning van die diere.

Hoe die Bahuruthse hulle totem verander het.

(BaHuruthse-stam. Origineel (seTshwana) opgeteken deur die skrywer.) Die BaHurutse van die ou dae het mos die eland as totemdier gehad. Dit wil ook sê hulle mag nie van die vleis van die eland eet nie, hul mag dit selfs nie aanraak nie, hul mag selfs nie aan die vel of horings vat nie. Nou wou hulle tog so graag van die vleis van die eland eet, en ook die binnevet gebruik vir die seremonie waarby hul die binnevet om die hals van 'n persoon hang. Toe kom die ou mans bymekaar in die vergaderplek van die mans, en beraadslaag hoe hulle die wet omtrent die eland kan verander. Toe sê hulle: ‘Ons sal 'n ander dier as totem neem.’ Dit word aangneem. Toe beraadslaag hulle oor watter dier hulle as totem sou neem. Hulle sê toe: ‘Die bobbejaan is die dier wat nie binnevet het waarmee 'n mens die seremonie kan uitvoer nie, en die bobbejaan se vleis sal tog ook niemand eet nie.’ Toe neem hulle die bobbejaan as nuwe totemdier.

Meneer haas en meneer skilpad.

(passim. SeSotho-origineel by P.E. Schwellnus: ‘Padisho I.’)

Op 'n seker oggend het meneer Haas na sy tuin gegaan om groengoed te eet en is toe agternagesit deur honde wat geblaf het, maar hy het vinnig weggeloop en het hulle afgeskud.

Toe dit lig word, sit hy daar in die son vir homself te verwarm, en prys sy pote en sê: ‘Hulle het my deur hulle vlugheid gered.’

Toe kom meneer Skilpad, en hy sit ook en verwarm homself in die son. Meneer Haas skimp toe op die skilpad en die pote van die skilpad, en sê: ‘Dis tog maar klein ou pootjies wat jy het; jy kan nooit 'n resies wen nie.’

Meneer Skilpad sê: ‘Ek kan jou tenminste verbyloop!’ Die Haas lag en sê: ‘Môre sal ons teen mekaar hardloop.’ En meneer Skilpad sê: ‘Dis goed.’

Die skilpad gaan huis toe en sê vir sy vrou: ‘Môre, as die hoenders kraai, gaan jy na die grensklip wat aan daardie ander kant van die tuin is, en steek jou daar weg. En wanneer die haas daar dan aankom, sê jy. ‘Ek het allank aangekom.’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *8

KOTTLER. 3. CHARLOTTE (Gips).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 108

Sy vrou maak ook so; sy is weg toe dit nog donker was, gaan na die grensklip van die tuin en steek haar weg. Toe die son opkom, gaan meneer Skilpad na die tuin en staan daar by die grensklip. Meneer Haas kom en sê: ‘Môre, ou stomppootjies!’ Meneer Skilpad sê: ‘Môre ook, ou langpootjies!’ Die haas sê: ‘Kom ons gaan teen mekaar hardloop’, en begin te draf. Die vrou van die skilpad hoor hom aankom, kom uit en sê: ‘Ek het dan lankal aangekom!’ Die haas is verwonderd en sê: ‘Genade! Toemaar, laat ons weer terughardloop.’ En hy hardloop met al sy mag. Net toe hy terug aankom, kom meneer Skilpad weer uit en sê: ‘Man, ek is lankal hier!’ Die haas is weer van vore af aan die hardloop, en elke keer loop hy die koers weer oor en sê: ‘Ek gaan daardie skilpad nog verbyloop!’ Op die ou end verloor hy al sy asem en sterf.

Die haas sê: ‘Ek is gou.’ Die veld sê: ‘Ek is breed.’

G.P. LESTRADE.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 109

'n Paar aantekeninge in verband met die Twede Afrikaanse Taalbeweging (1905). Deur Vaalswaer. (Izak van Heerden.)

Ter Inleiding.

Dit het baie moeite gekos om mnr. van Heerden te beweeg om hierdie aantekeninge oor die ontstaan van die Twede Beweging vir publikasie beskikbaar te stel. Hy koester die vrees dat dit sal beskou word as 'n poging tot self-advertensie. Gelukkig het ek egter daarin geslaag om die skrywer te oortuig dat sy aantekeninge waarde het vir die geskiedenis van ons taalstryd. As sekretaris van die A.T.G. in Pretoria het hy die hele stryd meegemaak en hy werp heelwat lig op verskillende puntjies. Dit hoef geen betoog dat sy indrukke 'n welkome aanwins is vir ons kennis van die eerste woelige dae nie, al sal sy medestryders seker nie met al sy gevolgtrekkings saamstem nie. In elk geval vertrou ek dat hierdie aantekeninge ook hulle skryflus sal prikkel.

Die taalstryders word so stadig aan oud. Is dit nie hul dure plig om hul indrukke op te teken vir jong Suid-Afrika nie? Die algemene feite van die taalstryd is bekend, maar daar moet nog baie interessante besonderhede wees, wat meer lig kan werp op hierdie feite en wat vir die nageslag van groot waarde kan wees by die bepaling van die tydsgees. En dit is alleen die taalstryders self wat hierdie intieme besonderhede vir ons kan opteken. 'n Klein anekdote, 'n ou vergete brief of skynbaar onbelangrike gesegde kan soms van onberekenbare waarde wees vir die literêr-historikus wat hom probeer inleef in die verlede. Ons kultuurgeskiedenis sou arm wees as hierdie gegewens moet verlore gaan. Wie van die ander voormanne in ons taalstryd gaan Vaalswaer se goeie voorbeeld volg?

Omtrent die ontstaan van hierdie aantekeninge deel mnr. van Heerden my die volgende mee:

‘Ek weet nie wat my 'n paar aande gelede makeer het nie, maar ek kry mos skielik die idee om 'n paar aantekeninge te maak in verband met die Twede Afrikaanse Taalbeweging. Dit word so stadig-aan tyd dat my maters van daardie dae my maar stompoor sal moet sny, en ek het toe gedink dat as ek nog voor my ‘heengaan’ iets wil bydra tot ons letterkunde, of liewer tot ons kennis van wat in die jare 1905-6 en daarlangs deur die A.T.G. (waarvan ek die sekretaris was) gedaan en ondervind is, dan word dit hoog tyd dat ek vir my roer. Nouja, ek het toe voor die tikmasjien gaan sit en het

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 110

in die loop van 'n paar aande darem sowat 33 bladsye aanmekaar gepiets. Dit is aantekeninge en nie 'n geskiedenis nie. Ek skryf net neer wat ek my persoonlik nog so hier en daar herinner van ons beweging van daardie dae.’

Van belang is verder nog die volgende opmerkings uit 'n ander brief:

‘Ons Afrikaanse taalstryd - veral gedurende die jare 1903-4-5 en later - het onder die eienaardigste omstandighede plaasgevind. Aan die een kant moes ons ons ontworstel aan die omhelsing van Hollands; aan die ander spook vir ons lewe om nie deur Engels kafgeloop te word nie. Hollands het dit goed gemeen, maar die stryd teen Engels vir ons baie bemoeilik. Engels was ons aartsvyand. Ons had dit enersyds dus te doen met sielsdodende liefde: andersyds met verwoestende kwaadwilligheid.

Die Afrikaanse taalknopkierie (van daardie dae) moes gehanteer word om die kultuur van ons Hollandse vriende sowel as dié van ons Engelse vyande mee te beveg. Dit was dan ook onder die indruk van hierdie toestand wat ek daardie ode Een van Sin geskryf het (sien hieronder P.C.S.). Ek het my niks gesteur aan die letterkundige gehalte van my bydrae nie; ek wou 'n beroep doen op ons mense om tenminste eensgesind te wees in die worsteling.’ Ek weet dat hierdie aantekeninge met genoeë sal gelees word deur almal wat belangstel in die geskiedenis van ons taalstryd. Dit was vir my 'n genot en 'n eer om dit persklaar te maak.

Vryheid, Feb., 1929. P.C. Schoonees.

OP sekere opstalletjie van my vader se ou woonplaas in die Sneeuberge, distrik Cradock, K.P., het indertyd - ongeveer die jare 1880-1885 - 'n sekere oom Fans Stapelberg gewoon saam met sy vader, oom Lou, en hulle famielies. Hulle het vóor die tyd veel in die Vrystaat rondgeswerf. Daar was in daardie dae nog volop wild: blou- en swart wildebeeste, kwaggas, blesbokke, springbokke; en oom Frans en oom Lou was albei, heel natuurlik, liefhebbers van die jag. Maar nadat hulle gla sowat genoeg van die nomadiese lewe gehad 't, en vir hulle versadig geskiet 't, het hulle op hulle gemak na die Kolonie teruggekeer en is sodoende uiteindelik by ons op die plaas telande geraak. Ek was destyds nog maar 'n seun van 'n jaar of tien, vyftien. Maar daar ek toe al 'n betreklik ervare jagter was (met pyl-en-boog, slingervel, rekkerroer en poena), en daar oom Frans en oom Lou op meesterlike wyse kon vertel van hulle jagawonture, het ek elke geleentheidjie te baat geneem

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 111 om vir hulle te gaan kuier en met hulle oor hulle ondervindinge in die jagveld te gesels.

Oom Frans veral het my geboei. Want dit was nie alleen dat hy insidente sprekend kon afskilder nie: hy had daarby nog 'n sekere eienaardige manier van praat.

So het die uitdrukking ‘onpeilbaar’ byvoorbeeld tepas en te onpas in sy verhale en gesprekke voorgekom. 'n Eenlopende wildebeesbul is op 'n goeie middag laat - net so kort voor sononder - op daardie kale haaie vlaktes van die Vrystaat deur oom Frans bekruip en op ‘onpeilbare’ wyse, net agter die blaaie deur, geskiet. Of hy het 'n strandjutwolf wat byna iedere nag die stropee van hulle skeie kom vreet het een môre in 'n ruie grasleegte raak geloop en van die honde op ‘onpeilbare’ wyse laat vang en doodbyt. Ensovoort.... Partykeer, as my vader of iemand anders teenwoordig was, het die gesprekke geloop oor politiek. Dit wil sê so tussen die jaganekdotes in. Dan was dit meesal - so ver ek my herinner - oor sekere S.J. du Toit, of ‘Die Patriot’. (Ek glo oom Frans het ‘Die Patriot’ destyds al gereeld gekry.) Ek het aanvanklik nie geweet wie die S.J. du Toit was nie. Of wat niet die Patterjot of Patterjots bedoel is nie. Ek het later so verlangs verstaan dat ‘Die Patriot’ 'n koerant was, in Patterjots geskrywe, en dat mnr. S.J. du Toit daar iets mee te doen had. Wel, dit is waar ek vir die eerste keer in my lewe van die Patterjot en van Patterjots gehoor het. Van die beweging in die Boland om Patriots (of Afrikaans) tot skryftaal te verhef, het ek destyds niks bepaaldeliks geweet nie. En ek het feitlik ook niks tewete gekom nie voor-en-aleer ons met die Twede Beweging in 1905 in die Transvaal begint het nie. Ek het wel vóor die tyd lektuur in Patriots onder die gekry, maar van die bewuste strewe om dit tot erkende lands- en volkstaal te verhef wis ek nie. Nie in daardie dae nie.

Ons huistaal was natuurlik Afrikaans. Maar ek het altoos verstaan dat dit Hollands was. Afrikaans en Hollands was vir my nie jufs dieselfde nie; maar ek het die onderskeid nie geweet nie. Ons voormanna - onderwysers en predikante - het dikwals uitgewei oor die handhawing van ons taalregte. Ons ouers ook. Dit was my egter nooit duidelik of hulle Afrikaans (die taal wat ons gepraat het) of Hollands (die taal wat ons moes leer, lees en skryf) bedoel het nie. Maar dat ons ons taalregte moes handhaaf: dit was nou eenmal seker.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 112

Op skool het hulle dan ook op 'n manier probeer om my te hulp te kom met die handhawing van my taalregte: deur middel van Stucki en later Elfers. Ek sal menere Stucki en Elfers onthou tot aan die end van my aardse bestaan. En ook die baie pakke slae wat ek met die platriem ontvang het omdat ek nie in staat was om soveel bladsye geslagsreëls uit my kop op te sê nie. Of om die werkwoorde korrek te vervoeg nie! Vertaalwerk was nou eenmal 'n nagmerrie vir my.

Ons had egter min of meer dieselfde moeilikheid met Engels. Hoewel in hierdie geval die platriem 'n maat gehad het. Dit was 'n taamlike groot plank met die woorde ‘I spoke Dutch’ daarop in kryt aangebring. Die bevel was dat ons op sekere dae in die week uitsluitend Engels onder mekaar moes praat. Doen jy dit nie, dan moes jy daardie plank om jou nek hang en daarmee in die openbaar rondstap tot 'n spot en 'n spektakel vir 'n iedereen. As jy een of ander van jou maters kon verlei om ook 'n Hollandse woord of uitdrukking te besig, dan moes hy die plank van jou oorneem. Eer so op die ry af. Die Hollands wat ons gebruik het was natuurlik Afrikaans. Maar dit het daar nie op aangekom nie. Die twee tale is in daardie dae - so het dit my voorgekom - beskou as een en dieselfde.

Ons skryf Engels.

Ek kan my werklik nie herinner dat ek in my skooldae ooit daaraan gedink het om 'n private brief in Afrikaans of in Hollands te skrywe nie. Uitgenome dat ek miskien aan my ouers so 'n enkele keer in Hollands geprobeer skrywe het.

(My voorstelle aan jonge dames was deurgaans gestel in die deftigste Engels waaroor ek kon beskik. Ook die briefwisseling wat in sommige gevalle daarop gevolg het.)

By die uitbreke van die Anglo-Boereoorlog (1899) was ek al gehuud en te Pretoria woonagtig. Toe ek die dag weg is op kommando het my gade vir my 'n klein Engelse sakbybeltjie meegegee. Ek het die testamentjie die hele veldtog deur in my sak gedra. Hy was naderhand vol kanttekeninge: almal in potlood tevelde gemaak en... almal in Engels. Die paar briewe wat ek die kans gekry het om deur te smokkel was ook almal in dieselfde Engelse taal geskryf!

Ek maak 'n gediggie in Afrikaans.

Kort voor die sluiting van die vrede in 1902 - terwyl ek 'n krygsgevangene was in 'n Engelse kamp digteby Pretoria - het ek my vir die eerste

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 113 keer in my lewe van Afrikaans bedien om 'n gediggie te maak. Of om dit bewus te skrywe in ieder geval. Wat my eintlik beweeg het weet ek nie. Maar dit is 'n feit nietemin. Vir die res is my korrespondensie - selfs nog in daardie dae - in die Rooitaal gevoer.

Mnr. Preller begint te woel.

Ongeveer die jare 1904-1905 het mnr. Preller se artiekels in die ‘Volkstem’, oor Afrikaans as skrytaal van die Afrikaner, my aandag getrek. Ek het oor sy voorstel gaan nadink, met meer as een van my tyd- en geesverwante daaroor geredeneer, en uiteindelik besluit om die saak te steun. Ek het mnr. Preller toe 'n briefie geskrywe en hom van my medewerking verseker. Hierop het hy simpatiek geantwoord en so is ons twee - wat malkander vroeër nie persoonlik geken het nie - in voeling gekom.

In die tussentyd het die polemiek in die ‘Volkstem’ en ander blaaie - betreklik Afrikaans as skryftaal - in omvang toegeneem en het ek ook af en toe my aandeeltjie daartoe bygedra onder die skuilnaam van ‘Vaalswaer’.

Aan opposiesie het dit ons gelukkig nie ontbreek nie. Nie in die publieke pers nie en ook nie in die private omgang met mekaar nie. Die gekste vir my was altoos dat 'n man met jou vir 'n uur lank in Afrikaans sal argumenteer en vir hom sal moeg maak om vir jou te bewys en te oortuig dat Afrikaans geen taal is nie. Of dat dit op sy bes 'n hotnotstaal is. Of ook wel 'n patois. Of iets dergeliks. Maar geen taal nie. Want waar is sy grammatika? Waar sy literatuur?

Opposiesie op sigself was nie die ergste nie. Daar was Afrikaners wat ons bepaaldelik vyandig gesind was. Wat ons met veragting en minagting behandel het. Een van ons gevierde dominees, met wie ek oor die saak gepraat het, het so ver gegaan as om ons vir ‘nasionale skouts’ uit te skel. Ons sou dan Engels in die hand werk. En hy het daarby gevoeg dat hy met ons en ons strewe niks ter wêreld wou te doen hê nie. En hy was gladnie 'n uitsondering nie. Baie van ons predikante was destyds heftig teen ons gekant. En het hulle opienies - waar hulle dit die moeite werd geag het om van ons notiesie te neem - dikwels onomwonde uitgespreek ook.

Ons besluit om 'n vereniging op te rig.

Ten einde ons strewe ten gunste van Afrikaans rigting te gee het mnr. Preller en ek toe ooreengekom om tot die oprigting van 'n vereniging oor te gaan. My funksie in die eerste plaas sou wees om solank vir ons 'n konsepkonstitusie op te stel. Hierin is ek in die loop van tyd deur mnr. Preller self

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 114 asook deur adv. N.J. de Wet en dr. N.M. Hoogenhout daadwerklik bygestaan.

My twede gedig in Afrikaans.

In my ywer vir ons saak het ek my in hierdie tyd (September, Oktober, 1905) ook aan die versiesmakery gaan wy. Huiwerig om my ontboesemings die lig te laat sien het ek een van hulle aan my swaer J.S.M. Rabie - destyds redakteur van ‘De Afrikaner’, Pietermaritzburg, Natal - gestuur en hom gevra om dit tog vir my deur te kyk en my te laat weet wat hy daarvan dink. Mnr. Rabie was 'n vurige medewerker en ondersteuner van die rewolusionêre rigting deur ons in Transvaal voorgestaan en het sy sienswyse oor my gedig te kenne gegee deur dit as 'n Inleidings-artiekel in die uitgawe van ‘Die Afrikaner’ van dato 19 Oktober 1905 met huid en haar te publiseer. 'n Paar dae later het mnr. Preller dit ook, in ietwat verkorte en miskien heelwat verbeterde vorm, in ‘Die Volkstem’ opgeneem.

Dat ek die spoor byster was toe ek ‘De Afrikaner’ oopmaak en sien wat daar gebeur het, is om my besadig uit te druk. Maar die koeël was deur die kerk!

Wat mnr. Rabie aanbetref, ek glo hy het my bydrae as 'n wanhoopsmaatreël die lug ingestuur in die hoop dat dit die direksie van sy blad - met wie hy bietjie oorhoop gelê het, omdat hy dit gewaag het om stukke in Afrikaans op te neem - mogelikerwys tot ander insigte sou bring. Of dit die beoogde doel bereik het is my nie bekend nie. Maar daar my berugte kontribusie moontlik van geskiedkundige waarde kan wees vir ons toekomstige taalvorsers gee ek dit hier in sy geheel weer. Die leser sal seker sien dat ek destyds nog geen da Costa was nie. Dit was dan ook nie doel nie. Een van Sin.

Mannen broeders, skaar tog same - as het ware in die geest - want dis bietjie baie nodig, dat ons so byeen moet wees: om ons planne en ons skemas in een enk'le groef te lê: dis die liefde vir ons nasie en ons taal om so te sê. Soos ons sien gaat dit nie goed nie en die uitsig is maar duister; - en dan praatjies maak net gaatjies - maar ons mog tog darem fluister, van die luister in die duister, van die hoop wat ons nog het: vir ons taal en ons tradiesies, wie sal ons dit durf belet?

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 115

Maar die nood is hoog gerese, en die tyd is seker daar, dat ons werkend sal moet optree; want dit is tog alte waar, dat die dragte en die klagte: dus die vragte van ons volk langs geen ander pad of paadjie sal kan worde weggetolk. Dit is naastenby die kwessie, en ons weet dit almal goed, dat ons nie kan anders sê nie, as dat waar ons kyk is bloed: op die rande, in die brande, en verskeie sombre plekke kry mens tydings van die lydings en die spore en die vlekke

Wil jul aandag dus bepaal, by ons welgemeend verhaal: by die mening van ons rympie met die oog op onse taal. Dis ons ‘erns’ en ons meen ook dat dit julle net so is. En ons gaan die saak oorweë - dis tog altevol gewis - van die swaar en van die hartseer, van die kommer en die trane, van ons mense, wat soos reuse, om vir ons 'n weg te bane al die sware en gevare van 'n woes Suid Afrika op hul skouers, as ons ouers, vir hul kinders het gedra. of ons nou die ding sal opgee en ons somar laat vertrap: ons laat uitroei en vermorsel en dit somar vir die grap: of ons alles so gaan weggooi en ons moeders en ons vaders hulle grafte gaan ontheilig met die dade van verraders! Nou die tye is verander - dit is alles reg genoeg - maar om pligte te verrigte - dit sy laat of dit sy vroeg - bly 'n taak wat ons vaak as 'n moet moet beskou; en te sorge dat die morge ons nie bitter sal berou.

Of ons niks geen ag gaan slaan nie op die lewes van ons ouers; - en in swart gehul as rouers - wyl as lede van éen nasie onse kinders tot ons opsien

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 in die hoop en die verwagting dat ons alles vir hul veil het en dus werd is hulle agting. Onse leuse moes tog wese: vir ons taal en vir ons reg! om ons helde in die velde, tot die dood toe het geveg: om ons vrouens en ons kinders in die nare, wrede kampe is getartel en gemartel onder gruwelike rampe.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 116

Deur dié en sulke redes - en deur andere nie genoem- - is dit wenslik vir onsselwers, vir ons kroos, en vir die roem, van ons klein maar kragtig volkie dat ons daadlik samespan: in gedagte en in kragte en in alles wat maar kan Ja, die sange oor die bange - of die glorieryke dae - van die moorde in die oorde, of die trekkers met hul waë, op die wysies van ons meisies moet die wêreld nog bekoor: om ons nooientjies O, so skoontjies in hul moedertaal te hoor!

om die strewes van ons lewes te verenig op éen doel wat die dinge, in ons kringe, wat ons pla en wat ons woel, sal verwyder en versag: ons sal opbeur om te groei, soos 'n boom aan 'n stroom: of 'n lelie in sy bloei. Maar die taak om so 'n saak te doen reik tot in die sterre is om wille en verskille, in ons éenheid te verberre: dis die liefde vir ons nasie - dis die liefde vir ons leer - vir ons sedes en gewoontes: vir ons God. Hem sy die eer!

Só 'n doel sal ons laat voel - is van ernstige aard - Hy is groot en is groots is ons alles ook wel waard. En ons moet hom kan erlang al moet ons hom ook vang op 'n vlug deur die lug met gebed of met gesang. Dis die band wat ons sal binde. Dis die hand wat ons sal lei. Dis die boodskap, waarde vrinde, laat ons dit tog nie vermy, wat ons harte sal beroer, op sy vleuels ons sal voer, ons sal bring by wat ons beid vir die Tyd en Euwigheid!

Oprigting van die A.T.G.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 'n Vergadering van belangstellendes was bepaal vir die 13de Desember 1905, met die doel om te probeer 'n vereniging op te rig vir die bevordering van Afrikaans as die spreek- en skryftaal van die Afrikaner. Ten spyte van al ons aktiwiteit in die pers wat toe al weerklank gevind het in Natal, in die Vrystaat, in die Kaapkolonie en elders, deurdat blaaie soos ‘Die Afrikaner’, ‘Die Vriend des Volks’, ‘Die Goede Hoop’ e.a. - van ons strewe hier in Transvaal nota geneem het - het ek gevrees dat ons voorneme om 'n vereniging tot stand te bring sou misluk. Hoewel mnr. Preller die nodige kennisgewings geplaas het en alles in sy vermoë gedoen het om sake nie te laat verkeerd loop nie, kon van hom nie

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 117 teveel verwag word nie. Hy had sy hande meer as vol as subredakteur van 'n groot koerant. In dié omstandigheid het ek dit my persoonlike plig beskou om so veel immer moontlik al my vrinde en kennisse in Pretoria op te soek, met hulle oor die saak te praat en hulle te beweeg, en te laat belowe, om ons voorgestelde byeenkoms by te woon en onse taalsaak te steun. Daar ek geen opleiding in tale as sodanig ooit gehad het nie - en dus van die onderwerp maar bedroef weinig geweet het, het ek besef dat my kennis in verband met die saak heeltemal ontoereikend was. Ek het dit dikwels te doen gekry met ontwikkelde mense en 'n hele paar van hulle het nie geaarsel om my dit aan die verstand te bring dat hulle my gladnie bevoeg beskou om met ‘hulle’ te wil redeneer nie. Hierdie treurige feit (wat heeltemal korrek was) het dan ook daartoe gelei dat ek in daardie dae al my vry tyd aan 'n intensiewe studie van taalaangeleenthede gaan wy het. Met al my rondval - jy kan maar sê in die duisternis, want ek had niemand om my voor te lig of te help nie - het ek in die Staatsbiblioteek te Pretoria - onder al die Hollandse boeke wat ek saans daar deurgesnuffel het - 'n Bloemlesing van Nederlandse Prosa-skrywers (1552-1840) deur van Kampen raak geloop. Die inhoud van hierdie werkie was vir my 'n openbaring! 'n Arsenaal waarin ek m.i. nagenoeg al die skietgoed kon kry wat ek (ons) in ons taalstryd nodig had. En waarin ek dit - wat my persoonlik aanbetref - ook werklik gekry het. Veral die Inleiding - wat 'n resumé gee van die opbloei van die Nederduitse of Hollandse taal van daardie dae - was vir my doel die ‘Wahre Jacob’. Die skrywer haal b.v. daarin aan onder andere 'n ekserp uit 'n geskrif van 'n Amsterdamse Hoogleraar - Petrus Francius - van die jaar 1699 waarin hy sê:

Alle menschen kunnen geen redenaars zyn, maar alle menschen kunnen en behoren goed Duitsch te spreken die inboorlingen dezer landen zyn. In den gemeenen ommegang kan men hier niet altoos op letten en het riekt enigsins naar neuswysheidt; maar wat onachtzaamheidt is het niet als men in 't openbaar of spreeken of schryven wil hier geen acht op te slaan. Is 't niet fraey een Hollander te zyn en geen Hollandsch te kennen? Hoe is het te verschonen daar alle andere volken, Spaansche, Italiaansche, Fransche, Engelsche, Duitsche zo veel werks aanwenden om hunne spraak net te spreken dat wy in de onze zoo slordig zyn? Of is het alleen geoorlooft en den Nederlanderen als eene voorrecht gegeven geene wetten noch regelen te onderhouden en de palen van alle rechtmatigheid te buiten te gaan? Beklagelik en niet min schandelik is

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 118

het daar we zoo eene schoone taal hebben en de schoonste mogelyk van alle Europesche - geene te na gesproken - dat we die zo weinig in acht nemen, dat we die zo verwaarlozen, en met vreemde spreekwyzen en uitheemsche bastaardwoorden willens en wetens bederven. Daar we op onze eigene beenen staan kunnen gaan we liever op krukken, en daar we woorden in overvloed hebben om onze mening klaar, kragtig en cierlyk te kunnen uiten ontlenen we die van anderen buiten noodzakelikheidt.

Dat ek met dit een en ander die ontstaan en groei van die bekende Engelse taal ook in die haastigheid bietjie nagegaan het sal u wel begryp. Dit het dan ook nie alte lank geduur nie of ek het my gaan beskou as minstens voldoende op hoogte van sake om my man te staan. Om vir Spieghel, Coornhert, Hooft, Vondel, Cats, Huygens, Brandt, Heemskerk en ander skrywers van daardie dae tot en met die tyd van Clarisse, van der Palm c.s. in 'n argument te kwoteer was vir my niks. Waar was nog - wat Engels aanbetref - sulke outoriteite soos oorlede Caedmon, Wyclif, Chaucer, Tyndale, Bacon en, natuurlik, ou Shakespeare? Een van die moeilikste dinge was om die bewys te lewer - by wyse van 'n redenasie - dat 'n taal 'n taal is. Dat dit 'n lewendige ding is. Dat dit gebore word, groei en doodgaan. Ensovoorts. Wel, as mens my partykeer gehoor het, sou jy tot g'n ander konklusie gekom het nie as dat ek daar alles van wis. Aan ywer en erns het dit in hierdie verband seker nie ontbreek nie.

13de Desember, 1905.

Eindelik was dit dan die 13de Desember, 1905. Ons het in die aand in 'n saal in die Volkstemgeboue, St. Andriesstraat, Pretoria, bymekaar gekom, vir ons net gou 'n voorsitter gekies (dr. N.M. Hoogenhout) en onder geesdriftige belangstelling 'n aanvang gemaak met ons werksaamhede. Dr. Hoogenhout en adv. Klasie de Wet het albei warm toesprake gehou (‘Volkstem’, 20. 12. 1905) terwyl wyle genl. Tobias Smuts en nog 'n stuk of wat sprekers ook hulle sê gesê het. Allengs is daar toe 'n eenparige besluit geneem om 'n vereniging op te rig met die naam van ‘Die Afrikaanse Taalgenootskap’ en is ons ontwerpstatute, nagenoeg onveranderd, goedgekeur en aangeneem. Volgens ons statute was die doel van die pas opgerigte vereniging: (a) om Afrikaners te oortuig dat Afrikaans ons taal is en dat die deur Afrikaners as hul spreek- en skryftaal behoort gebruik te worde;

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 119

(b) ontwikkeling van die Afrikaanse taal in suiwere vorm; en (c) aankweking en ontwikkeling van 'n suiwer Suid-Afrikaanse nasionaliteitsgevoel.

(Vir verder inligtings kan dr. Pienaar se boek: ‘Taal en Poesie van die Twede Beweging’, 3e druk, bls. 51, geraadpleeg word.) Daar was, as ek my goed herinner, net een dame op ons samekoms teenwoordig, naamlik mejufv. Burgers, 'n dogter van wyle president Burgers. My was 'n dag of wat vóor die datum van ons vergadering opgedra om een van ons plaaslike leraars te vra om ons verrigtinge by te woon en die vir ons met gebed te open. Hierin had ek geen sukses nie. Dr. Malan (tans Minister van Binnelandse Sake) wat destyds op Pretoria was, moes juis die aand weg na sy nuwe standplaas toe - ek meen Montagu in die K.P. - en kon dus nie aan my versoek voldoen nie. En dr. H.S. Bosman het eweneens een of ander moeilikheid gehad. Trouens ek het verstaan dat hy dit nie juis roerend met ons eens was nie. Ons moes dus maar sien om klaar te kom. Na afloop van die agenda het ons toe gou vir ons ons eerste bestuur gekies en wel as volg:

Dr. N.M. Hoogenhout (Normaal Skool); Mnr. A.J. van der Walt (Potchefstroom); H. Visscher (later Inspekteur van Skole); Adv. N.J. de Wet; F.T. Nicholson (Staatsbibliotekaris); Mnr. G.S. Preller (‘Volkstem’) en I. van Heerden.

Tot so ver het alles dus vlot van stapel geloop. Mnr. Preller het in alle stilligheid - en haas ongemerk - noukeurige aantekenings van ons doen en late gemaak en later in sy blad (van 20. 12. 1905) gepubliseer. Maar daar moes nog 'n sekretaris gekies word. Ek wou nog diep en ernstig oor die saak nadink, toe hoor ek tot my ontsteltenis iemand sê: Ek stel voor die heer van Heerden. Voor ek my positiewe kon bymekaar kry was 'n ander onnadinkende vriend - of was dit 'n vyand van my? - klaar met: Ek sekondeer! In die wyl wat ek toe nog staan en gaap, van werklike ontroering, glo my vry, word die m.i. onbesonne voorstel met akklamasie aangeneem en begos die mense die saal, vrolik en skynbaar baie tevrede oor wat hul aangevang het, die een na die ander vinnig te verlaat. Ek wou nog probeer protes aanteken - op grond van 'n leemte in die prosedure wat gevolg

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 120 was - maar daar was geen kans nie. Ek moes my die keuse voorlopig laat welgeval. Nou wil ek hier in alle beskeidenheid boekstaaf dat ek innig gevoel het dat ek nie vir die amp in die wieg gelê was nie. En dat die bestuur deur my aan te stel nie in belang van ons pasgestigte vereniging gehandel het nie. In die eerste plaas had ek nie die nodige bekwaamheid nie. In die twede plaas was ek werksaam op 'n drukke prokureurskantoor en had dus ook nie die tyd beskikbaar nie. En helaas! juis in daardie belangrike periode van ons strewe ook nie die nodige gesondheid en kragte nie, gesien dat my senugestel in 'n benarde toestand verkeer het. Soseer dat ek aan kroniese slapeloosheid gely het en beswaarlik met my daelikse werksaamhede kon voortgaan.

Wat ons toe gedoen het.

Mnr. Preller, onbewus van my haglike toestand, het dadelik begin vuurmaak onder my. Ons moes on ledetal uitbrei. Ons moes takke stig orals in die land. Ons moes die Vrystaat, Natal en die Kaapkolonie aan die brand steek. Ons moes dit alles en nog sowat 'n honderd-en-een dinge doen. Ek het gedwee my bes probeer, maar dit het nie al te lank geduur nie of ek het begin steeks te word. Die administrasie het onrusbarende verhoudinge aangeneem. Al die briefwisseling; al die omsendbriewe; al die aanwerf van nuwe lede; insameling van fondse; hou van vergaderings; en wat dies meer sy: om nie te gewaag van die ontmoedigende louheid en teëstand waarmee mens veelal te doen gekry het in jou omgang met jou eie landgenote; dit het my miskien ook nie - vir hierdie fase van my werk - met die nodige ywer besiel nie. Dan wou die ongeluk dit glo ook hê dat ek dit nie juis entoesiasties eens was met mnr. Preller waar hy gemeen het dat ons ons aktiwiteit moes uitbrei op groot skaal nie. Ek het daar nie voor kans gesien nie; en het daar ook nie voor gevoel nie. Dit het later geblyk dat ons vereniging goeie werk gedoen het; dat ons dit sonder 'n organisasie miskien nie so gou en so effektief sou klaar gespeel het nie. Maar, soos ek sê, ek was aanvanklik nie baie ten gunste van uiterlike vertoon nie. Met ander woorde, ek kon nie begryp waarom ons juis 'n honderd of 'n vyfhonderd of desnoods 'n duisend lede van ons vereniging nodig had om ‘die gras aan die brand te steek’ nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 121

Ons had die ‘Volkstem’ in Pretoria met mnr. Preller aan die redaksie. In Natal was daar ‘Die Afrikaner’ geredigeer deur mnr. Rabie; in Bloemfontein die ‘Vriend’ deur Visscher; en in Kaapland die ‘Goede Hoop’ deur de Waal.

Wat was daar meer nodig?

Ek was wel hart- en siel daarvoor dat daar moes ‘geskryf’ word!

En daartoe het die geleentheid voorwaar nie ontbreek nie. Ons had vier welgesinde Hollandse koerante in die vier provinsies tot ons diens om propaganda te maak. Ons moes meer van hierdie middele gebruik maak om ons doel te bereik met die oog op ons konstitusie.

‘Die Brandwag’!

Ons het egter eenparig gevoel dat dit uitstekend sou wees as ons ons eie orgaan kon hê.

Maar so 'n ding kos geld.

En dit is wat ons nie gehad het nie.

Ek het 'n paar oproepe geplaas - en die ook onder die welgesinde publiek laat sirkuleer - en dringend om die nodige fondse gesmeek. Helaas, helaas!

Om lid van ons vereniging te word moes die applikant minstens een sjieling in ons kas stort. So het ons statute bepaal. Ons het heirdie reël gemaak juis omdat ons dit wou vrylaat vir iemand om te gee soveel hy wil. Ons (ek persoonlik) het daar nooit aan getwyfel of ons sou finansieel bevredigend gesteun word nie.

Wel, die grootste bedrag wat ek ooit van éen enkele lid ontvang het was een pond sterling. Twee van ons lede het my elk 'n pond gestuur. Ek sou graag hulle name hier wou noem. Donasies van £5 of £50 of van £100 of ook wel van £500 het my nooit bereik nie.

Hoekom nie? Was die saak ons dit nie werd nie? Ek het genoeg sjielings bymekaar gesamel om ons lopende onkoste en uitgawe te dek; maar ek kon nooit genoeg bymekaar kry om daarmee 'n tydskrif op te rig nie.

Die spesiaal aangestelde Tydskrifkommissie kon ook nie veel uitvoer nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 122

Dr. Engelenburg op die toneel.

Pretoria, 17 Junie, 1910. De Heren H.C. Jorissen en N.J. de Wet, Verteenwoordigers Tydskrifkommissie ‘Die Brandwag’, Pretoria. Weledele Heren, Vernemende dat de tydskriftkommissie van ‘Die Brandwag’ niet geneigd is om de finansiele risiko der uitgave van genoemd tydschrift op zich te nemen en vrede heeft ermee dat de Wallachs (‘Volkstem’) Maatschappy als eigenaar en uitgever van ‘Die Brandwag’ zal optreden, heb ik de eer u te berichten dat de Wallachs (‘Volkstem’) Maatschappy gaarne bereid zal zijn: 1. om de keuze en benoeming van een editeur en in het algemeen alle editoriale aktiviteit over te laten aan de tijdschriftkommissie in het vertrouwen dat de kommissie zal zorg dragen dat de redaktie aan bekwame en ijverige handen zal worden toevertrouwd; 2. De Wallachs Mij. is bereid zich te verbinden om maandeliks een minimum geldsom van £40 voor redaktie doeleinden uit te geven op instruktie van de door de tijdschriftkommissie te benoemen redaktie; 3. De Wallachs Mij. is ook bereid zich te verbinden geen advertenties tussen de editoriale tekst toe te laten behalve met toestemming van de redaktie; 4. Wat nu betreft de alreeds gestorte of nog te storten bijdragen voor de oprigting en instandhouding van ‘Die Brandwag’ geloof ik dat het raadzaam is dat de uitgevers-eigenaars daarover de beschikking zullen krijgen. Immers indien ‘Die Brandwag’ zichzelf kan finansieren zullen geen bijdragen van buiten meer behoeven te worden gevraagd. Bovendien heeft de uitgever by het maken van reklame voor de eerste nummers van ‘Die Brandwag’ gerekend op de beschikking over het oprichtingsfonds. Ten derde kan het leiden tot moeilikheid indien na enige tijd de uitgever aanzoek doet om overhandiging van het fonds op grond van verlies op de eksploitatie van het tijdschrift. Ten vierde is het aan geen twijfel onderhevig dat degenen die alreeds bijdragen leverden, of van wie door mij nog bijdragen worden verwacht volkomen zullen instemmen dat die bijdragen ter volle beschikking komen van de eigenaar van ‘Die Brandwag’ hetzij die eigenaar

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 123

tijdschriftkommissie heet of wel Wallachs Mij. In afwachting van uw gewaardeerde beslissing heb ik de eer te zijn,

Uw dienstwillige, get. F.V. Engelenburg.

In antwoord op hierdie brief het die Kommissie, na raadpleging met die bestuur van die A.T.G., as volg geantwoord: Pretoria, 23 Junie 1910. Aan die Directie van Wallachs P. en P. Co., Ltd. Pretoria. Mijne Heren, In antwoord op uw schrijven van 17 Junie jl. is ons opgedragen u te berichten dat wij de daarin voorgestelde condities aannemen. In een onderhoud dat wij gisteren den 22sten' dezer met u hadden is verder het volgende overeengekomen: 1. Dat de Tijdschriftkommissie zoo spoedige mogelik een Redacteur aanwijst die de leiding van ‘Die Brandwag’ op zich neemt. Deze persoon wordt door uw Mij. in dienst genomen en door u gesalarieerd, terwijl verder ook alle andere kosten voor uwe rekening komen. 2. Indien de Tijdschriftkommissie van het A.T.G. het nodig oordeelt dat van de diensten van den Redacteur geen verder gebruik zal worden gemaakt, neemt u aan den persoon in kwestie te ontslaan en zal alsdan de Tijdschriftkommissie ten spoedigste een ander persoon aanwijzen om als Redacteur op te treden. 3. Hoewel de Redacteur in uwen dienst is zal hij gehouden zijn voeling te houden met de Redactiekommissie van de Tijdschriftkommissie van het A.T.G. over de te volgen politiek en richting van ‘Die Brandwag’ zodat de opperste leiding van het Taaigenootschap in het Genootschap blijft berusten.

Het thans tussen u en ons overeengekomene zal ook goed houden voor onze opvolgers tot tijd en wijle daarin met wederzijdsch goedvinden wijziging wordt gebracht. Uwe dienstwillige, H.C. Jorissen. N.J. de Wet.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *9

KOTTLER. 4. EERW. C.F. ANDREWS (Gips).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 124

In die wyl wat hierdie briefwisseling plaas vind was ‘Die Brandwag’ glo al op die pers - of het al verskyn - dit heug my nie meer goed nie. Hy sou in ieder geval gedateerd wees 31 Mei 1910. Op Uniedag dus!

Ek het in alle stilligheid my hoed vir Dr. Engelenburg afgehaal. Dit was nou vir ons om te toon wat ons kon doen.

Hoe die eerste nommer van ‘Die Brandwag’ - wat sy inhoud aanbetref - klaar gekom het weet ek nie meer nie.

Mnr. Preller sal weet. Trouens hy het die blad geredigeer tot en met die aanstelling van Dr. W.M.R. Malherbe as ons redakteur. Hiervandaan af is die propagandawerk van ons vereniging dan ook grotendeels deur ons eie orgaan verrig.

Die akademie.

Dat ons 'n handjie gehad 't in die oprigting van die Akademie voor Taal Letteren en Kunst sal u saggies begryp. Trouens ek is onder die stellige indruk dat mnr. Preller die vader van die gedagte was. Want ek herinner my dat ek vantevore inleidingsartiekels in die ‘Volkstem’ oor die wenslikheid van so 'n instelling gelees het. Hoe dit ook al sy, ons vereniging is later by die Akademie formeel geaffilieer en het met hulle saamgewerk solank as wat dit moontlik was om dit te doen.

Tannie.

Tannie het vir my die eerste ledelys van die A.T.G. opgestel, en vir my boekgehou van ons finansiële toestand. Ek het haar allengs in ons beweging geïnteresseer en haar oorgehaal om aktief deel te neem in ons taalstryd. Met die totstandkoming van ‘Die Brandwag’ het sy dan ook ingewillig om 'n spesiale kinderrubriek op haar te neem. Haar eerste bydraes het gehandel oor ‘Die Kaskenades van Klein Duimpie’ wat later in boekvorm verskyn het. Hierdie kinderkolom het onder haar redaksie min of meer gereeld voortgeduur tot en met die staking van die tydskrif in 1922. Intussen het sy vir ons saak baie ander literêre werk gelewer.

Na die verdwyning van ‘Die Brandwag’ het Tannie op haar eie houtjie - hoewel deur middel en samewerking van die simpatieke ou ‘Volkstem’ - uitgegee ‘Ons Brandwaggie’ 'n pragtig geillustreerde kinderblaadjie vir die kleinspan. Sy kon dit nie oor haar hart kry om Jong-Suid-Afrika so in die

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 125 steek te laat nie. ‘Ons Brandwaggie’ het dan ook uitmuntend aan sy doel beantwoord maar hy moes ongelukkig - tot grote ontsteltenis van die leeslustige kleingoed - ook later die weg opgaan van sy peetvader wat op so 'n treurige wyse in 1922 gesneuwel het. As die eerste dameslid van die A.T.G. het Tannie dus al klaarblyklik haar aandeeltjie bygedra tot die verwesenliking van die gestelde ideale van ons vereniging. En onder watter moeilikhede het sy nie moes werk nie! En hoe het sy nie in die jare met haar gesondheid gesukkel nie! En die volharding!... (Word vervolg.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 126

Oor Boeke.

Die jongste Afrikaanse roman.

(Bodemvas, deur S. Bruwer. - Nasionale Pers, 1929.)

NA Ampie - laat my maar dadelik die vreugdevolle feit konstateer - is hierdie jongste openbaring van die lentebloei van ons moderne Afrikaanse romankuns die eerste wat ek met klimmende waardering en genot, meermale met intense ontroering, dwarsdeur gelees het sonder om die boek neer te lê. Bekoorlik-fris van taalbeelding, maar veral fyn-speurend en oortuigend-sterk van mensskepping, is dit terselfdertyd ook 'n boek met 'n onmiskenbare tendens - 'n boodskap uit en vir ons eie tyd.

Laat ek my eers tot hierdie tendens bepaal, nie omdat dit die belangrikste is in hierdie werk nie, maar omdat dit so pragtig pas in die raamwerk van ons momentele maatskaplike verhoudinge. Die skryfster (ek ken haar glad nie, maar dit kan alleen 'n vrou wees, en wel 'n Afrikaanse vrou van die moderne skool - in goeie sin! - maar met die stempel van 'n rasegte Afrikaanse tradiesie diep op haar siel afgedruk) die skryfster kon seker geen gewenster tydstip getref het nie, want ‘Bodemvas’ verskyn, veral met die oog op die a.s. verkiesingstryd, op die psigologiese moment. Hoofmotief van hierdie roman is nl. die blanke rasseprobleem in Suid-Afrika: die kloof wat daar gaap tussen die inheemse tuiste-standpunt en die uitheemse home-standpunt - bodemvas teenoor home-vas. ‘Solank daar “Sons of England” en Seuns van Suid-Afrika op een bodem voortgebring word, sal daar sure vrugte moet gepluk word.’

Tussen hierdie twee onversoenbare uiterstes woed daar in hierdie roman verterende vooroordele en ontembare hartstogte, word die intiem-huislike band tussen ouers en kind onverbiddelik verbreek, word maagdelike romantiek en allesopofferende liefde in die modder van blinde rassevooroordeel vertrap, word 'n sieldeursoekende louteringstryd gestry, wat uiteindelik voer tot begrypende meegevoel, tot hartgrondige bekering, tot vergifnis en versoening en hereniging.

So verkondig hierdie roman sy boodskap, juis omdat die tendens nie opsetlik en van buite af aan die persone opgedring word nie, maar uit hulle eie verlede en hede, hulle karakter en omgewing vanself voortvloei. Die een uiterste word verpersoonlik in oom Gerrie Enslin van Palmietfontein, 'n welgestelde Transvaalse Boer van die ou stempel wat graag vertel

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 127 het dat hy sy ‘welvaart te danke had aan die feit dat hy niks met nuwighede, soos byvoorbeeld motorkarre, grammofoons en elektrisiteit te doen wou hê nie.’ Daarby 'n geswore vyand van al wat Engels is. En nou moet juis sy enigste dogter op 'n Engelsman verlief raak. Maar gebiedend-kort is sy afwysende gebaar: ‘Nooit, nooit sal 'n Engelsman sy dogter kry nie - daarvoor sal hy sorg!’ Want rotsvas is sy oortuiging: ‘As 'n Boeremeisie met 'n Engelsman trou, is sy vir haar volk nie net verlore nie, maar 'n lewendige gevaar.’

Al die tekens van verwording en denasionalisering - daarvan dra die geleerdheid die skuld: ‘Almal moet mos teenswoordig leer; leer om hulle volk te vergeet en te verag. Ons seuns moet mos gaan leer omdat hulle slim is. Hulle is te goed vir die grond wat hulle vaders bewerk het, en wat deurtrek is met hulle sweet en bloed. Almal moet leer om die opofferings van die verlede te minag en saam met die verraaier te skreeu: ‘Vergewe en vergeet!’ Bang-aarselend waag tant Hessie om hom sagter te stem: ‘Die tye verander. Ons moet saam met die Engelse leef. Wat kan ons doen? 'n Engelse vrou het my van die dood gered daar in die kamp.’... ‘Oom Gerrie se swaar bolyf sak meer vorentoe; hy druk met gebalde vuiste heftig op sy knieë, en, elke woord wat daar val, skeur los uit sy siel: Hulle trap jou in die modder, hulle verpletter alles - jou hoop vir die toekoms, jou moed! Dan, as hulle jou het - onder hulle mag, in hulle beskerming - ja, dan wil hulle jou red; dan wil hulle hê jy moet saamwerk, saam om hulle doel te bereik... met hulle... nadat hulle haat in jou siel gepomp het. Is dit dan nog net ek - sê die ou man verbitterd as sprekende met homself - wat die Boeretradiesies wil hooghou, daarop wil bou?’... En daarom sien hy sy dogter liewers dood as getroud met 'n Engelsman... Die ander uiterste is beliggaam in dr. Harold Cary. Hy praktiseer as medikus in Durban en meen dat die ou Backvelder dit as die hoogste eer moes beskou dat 'n Engelse dokter sy dogter tot vrou wil hê. Maar dit beteken nie dat hy hom met haar hele ras versoen nie, want ‘hy het gely aan die selfvoldaanheid, die oorskatting van eie waarde - die meerderwaardigheidskompleks wat al in die Engelsman deur die eeue heen oorerflik geword het. Sy het altyd met hom Engels gepraat, en omdat haar ouers hom nie eens wou ontvang nie - net juis omdat hy 'n Engelsman was -, het die tradisionele rassehaat by hom nog dieper wortel geskiet. Hy het Suid-Afrika nie beskou as sy tuiste nie, maar as 'n soort van myn waaruit hy rykdom kan put en dan, as hy die skatte besit, net die gate kon agterlaat.... Omdat sy haar ouers se liefde vir hom opgeoffer het, het hy dit as vanselfsprekend beskou dat sy met haar hele verlede gebreek het. Dat sy hoofsaaklik 'n Boeremeisie was

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *10

KOTTLER. 5. PROF. DE VOS (Gips).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 128 wat in Suid-Afrikaanse bodem gewortel was net soos 'n suikerbosblom, het hy nie begryp nie. Met die tradiesie van haar volk wou hy eenvoudig nie rekening hou nie.’ En daarom het hy ten slotte aan sy vrou die eis gestel dat sy moet vergeet dat sy 'n Boeremeisie was!

Tussen hierdie twee pole beweeg Lena haar. Sy is net terug van 'n Bolandse skool, waar sy met vakansies dr. Cary by Engelse vriende ontmoet en heimlik aan hom verloof geraak het. As hy kort daarop aan oom Gerrie verlof vra om haar te kom besoek, bars daar 'n geweldige storm los in die stille woning op Palmietfontein. Heen en weer word Lena geslinger tussen die rotsvaste vooroordeel van haar ouers en haar groot liefde vir Harold Cary, met die gevolg dat sy in die nag die benouende atmosfeer ontvlug om 'n paar dae later met hom in die huwelik bevestig te word.

Aanvanklik is alles rosegeur en maneskyn, maar alte spoedig reeds volg die onvermydelike ontnugtering. Die vervreemding van haar ouers werp 'n donker skaduwee op haar huweliksgeluk, wat al groter afmetings aanneem namate haar bodemvastheid in onvermydelike botsing kom met die blinde vooroordeel van haar man. Langsaam het die verwydering ingetree. ‘Lena het met 'n beklemde gevoel in haar 'n leemte ontdek - 'n leemte wat, deurdat hulle wense en verlangens so verskillend, selfs teenstrydig was, al hoe groter geword het.’ Eindelik, na radelose sielsangs en herhaalde mislukte pogings tot toenadering, die finale breuk: ‘Harold, ek gaan hewer dood as om hier te bly - hier waar jy, my man, nie eens die sedelike moed het om my te beskerm nie; hier waar ek gevaar loop om my en my volk te verloën. En as ek 'n afbreuk vir jou praktyk is, gaan ek weg! Ek verdra liewer die smarte van die hel as om my so te laat verneder, of om 'n kind van my in dié omgewing op te voed.’ Weer vlug sy weg uit 'n onhoudbare posiesie om die ou tuiste op te soek. Hoe sy daar in die sluier van 'n donker reënnag aankom, die bekende plaasgeluide gretig opvang, die bekende plaasvoorwerpe vaag onderskai, ou Bles se welkomsblaf teen haar bors smoor, op haar moeder se kransbedekte graf in swym val, in die grou skemer van die dag bykom, na die huis sluip om tog net ‘die breiblikkie wat aan haar moeder behoort het’ saam te neem, plotseling te staan kom voor die pataties-gebroke figuur van haar vader soos hy daar geboë sit oor die groot oop Bybel, met hom versoen word, met die dood worstel terwille van haar ongebore kindjie; hoe haar man self die slagoffer word van rassehaat en deur martelende selfontleding tot die selfbekentenis gevoer word: ‘Ek is 'n gek... 'n dwaas... 'n skurk!’ - dit alles, so manjifiek van deurskouing en inlewing en weergawe, kan ek hier nie nader aantoon nie, want dan sou ek alles moet oorskryf.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 129

Ek kan my egter nie weerhou van die volgende as tiperende voorbeeld nie. Die louteringsoordeel van die laaste weke het oom Gerrie week gemaak, veral na hy nagte aaneen by die siekbed van sy kind getuie was van haar ylende geworstel om haar man te oortuig hoe onmoontlik dit is om haar volk en haarself te verloën. En nou worstel hy met homself op sy eie bed: ‘Iets wat die ydelheid in hom krenk, knaag in sy bors... Sy oortuigings waarin hy homself so onwrikbaar vas gewaan het, is met een slag omvergegooi. Lena se liefde vir die Engelsman kan hy nie kleinkry nie... en tog... en tog... oom Gerrie voel bang om die gedagte wat nou by hom opkom, te laat vorm vat... en tog... soos dinge vandag staan, sal die twee wit rasse moet saamsmelt... saamsmelt om een waaragtige Suid-Afrikaanse volk op te bou. As die Engelsman nou op die telegram wat hy môreoggend teen wil en dank sal wegstuur, plaas-toe kom, dan sal hy om sy kind ontwil versigtig met hom te werk gaan. En - draai oom Gerrie hom op sy sy - dit sal glad en geheel nie met sy wense strook nie. Tog, dit hang natuurlik alles daarvan af in watter gees die meneer hier sal aankom. In elk geval, en oom Gerrie blaas vyandig, hy sal my eers beloof om hom hier of in die Vrystaat te vestig... anders... Gestadig, met die vae hoop dat hy hom nog op die Engelsman sal kan wreek, maar tog met die skerp-bewuste, innige vertroue dat Lena nog weer haar geluk terug sal vind... en met die wete dat dit ook haar oorlede moeder se bede sou gewees het, het oom Gerrie hom, vol swaarmoedige gedagtes, deur die slaap laat oorweldig.’

Tyd en ruimte verbied om stil te staan by die menigvuldige skoonhede van hierdie roman. Daar is b.v. die digterlike natuurbeelding ('n enkele maal bederf deur verkeerde woordgebruik, soos ‘wolwitte wolke wat daar teen die hemelblou in kiese kleure gedoesel lê’); die stemmingsvolle interieur-skilderinge, soos b.v. op p. 122-123; die sterkgestileerde momente van intensdramatiese spanning, soos op p. 156-157 (waar oom Gerrie sy vrou dood vind, met 'n portret van Lena op die vloer), p. 177-189 (waar Lena die tyding kry dat haar moeder dood is en 'n laaste poging aanwend om by Harold troos te soek); daar is verder die plaaslewe, binnenshuis en buitenshuis, by droogte en donderweer, met sy wekgeluide in die vroeë môre en sy tallose skemergeluide in die aand, alles deurgeur van die plaasatmosfeer, en nog soveel meer. Deur dit alles heen die skryfster se opvattinge oor liefde en huwelik, haar afkeer van politiek en dogmatiek, waarby predikante sowel as parlementslede 'n flinke veeg kry.

Maar bokant dit alles staan haar voortreflike mensbeelding, orals veruiterlik of verinnerlik deur fyn-suggestiewe trekkies, 'n woord, 'n gebaar, 'n gelaatstrek, 'n beweging, wat onmiddellik die onsigbare en onderbewuste aan

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 130 die oppervlakte bring, wat die persone laat leef. Ja, hierdie mense lewe inderdaad! Hulle is nie inmekaargetimmerde boekwesens wat geleef word nie, maar onder die lees vervaag die letterskrif en kry hulle 'n lewendige gestalte waarmee jy in persoonlike aanraking gebring word, sodat jy hulle geestesgewaardwordinge meevoel en ondergaan, hulle sielsloutering saam deurleef. Natuurlik sou by detailkritiek ook swakhede in hierdie roman kan aangewys word - taal- en stylfoute, anglisistiese woordgebruik, onmoontlike beeldspraak, e.d.m.; maar dit betref ondergeskikte puntjies wat by 'n herdruk maklik verbeter kan word. Ten slotte wil ek net die wens uitspreek dat hierdie roman eersdaags in Engels vertaal sal word, in ewe mooigestileerde Engels as die Afrikaans waarin dit gestel is. Om sy letterkundige betekenis verdien hy dit, maar veral omdat die lees daarvan, deur die eentaliges aan die anderkant, meer sal doen om rassevrede in ons land te bewerkstellig as al die honderde toesprake wat gedurende die volgende maande met kwistige en verkwistende welsprekenheid die politiek-beswangerde atmosfeer ingeslinger sal word.

Stellenbosch, 15 April 1929.

E.C. PIENAAR.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 131

Ampie.

(Deel II.) Die Meisiekind.

Deur Jochem van Bruggen. 137 bladsye. - Swets en Zeitlinger, Amsterdam. (1928.)

'n Waardering.

NA vier jaar het eindelik die langverwagte vervolg op ‘Die Natuurkind’ verskyn, wel 'n bewys hoe ernstig Van Bruggen se opvatting van sy kuns is. Ek wil meteens konstateer dat hy in alle opsigte daarin geslaag het om die hoë peil van die eerste deel te handhaaf. In die twede deel tree die Tys-famielie meer op die voorgrond en veral Annekie, wat nou as verloofde ‘meisiekind’ en vrou die hoofrol speel. By die lap dekgras, waar sy eerste liefde uitgebot het, vind Ampie weer vir Annekie, wat hom help om dié skone herinnering van die vlamme te red. Maar selfs by hierdie twee eenvoudige siele is dit nie sommer net 'n geval van ‘mekaar kry’ nie - daar is ernstige hindernisse wat moet weggeruim word voordat Ampie sy droom kan verwesenlik.

Gedurende die eerste maande egter, gee hy hom ongestoord oor aan sy verliefde fantasie. Hy leef vèr weg in 'n gelukkige toekoms, waar die tallose kwellings van die gewone, alledaagse lewe tot nietighede versmelt. Ampie, die onnosele flenterkind van die vlakte, het nou 'n digter geword, wat by die es van oom Flip se verlate huisie droomgesigte van sy toekomstige geluk sien. Weemoedig peins hy oor sy mislukte liefde vir die aanstellerige Hester, maar hierdie gedagtes laat net sy bewondering vir sy volmaakte meisiekind styg. Helder besef hy nou hoe Hester hom maar net as haar hotnot wou gebruik. Elke stappie wat hom teruggevoer het tot Annekie kry 'n nuwe betekenis - alles is mos so beskik deur 'n wyse Voorsienigheid, wat hom sy bestemde deel wou gee. Die pondokkie van Staander word 'n heiligdom vir hierdie eenvoudige aanbidder van die skoonheid van 'n vrou, en as hy die leë slaapkamer binnedwaal, waar die geheimsinnige moontlikhede van die toekoms hom oorweldig, dan rys daar spontaan uit sy boesem op die heilige drang om alles vir sy liefste op te offer, en slaak hy die innige versugting: ‘Ag Here, maak ons twee gelukkig hierso!’ So kom onder invloed van die liefde Ampie se beste eienskappe tot ontplooiing. Sy intelligensie mag beperk wees, sy uiterlik ru en onbeskaaf, maar

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 132 hy beleef tog die teerste emosies. Sy gevoel van eie - waarde styg en met naïefoulike astrantheid beraam hy plannetjies om die nodigste dingetjies vir 'n eie boerdery in hande te kry. Die onnosele kind van die vlakte swerf nou nie meer gedagteloos rond nie. Hy het 'n doel in die lewe en met 'n onverwoesbare optimisme oorwin hy alle swarighede. ‘Sy planne kom vanaand tromp-op mekaar, soos 'n span osse, wat op die draaiplek onklaar getrap het’ (p. 12). In werklikheid is al hierdie planne gebaseer op oom Kasper se vrygewigheid, of op sy eie onbeperkte vermoë om skynbaar nuttelose ‘losgoed’, wat net in ander mense se pad is, tot bruikbare dingetjies om te toor. Hy dien Booysen met 'n gewillige werkywer en reken dat hy die volste reg het op sulke toevallige voordeeltjies of byverdienstes wat hom as voorman op die plaas toekom. Hy is trots op sy eie vindingrykheid wat sulke nuttelose ‘afval’ produktief kan maak. Hy voel dan ook nie die geringste skaamte om met herhaalde aansoeke tot Booysen te kom nie. As hy die vernuf het om Booysen daarop te wys dat sy populierbome te dik staan en die moeite doen om die nuttelose bome uit te dun, dan het hy mos reg op 'n klompie pale vir 'n katel! As hy 'n hok maak vir die lastige, ‘onbesabelde’ sog, dan spreek dit tog vanself dat hy een varkie moet kry! Booysen het gelukkig voldoende pedagogiese insig om Ampie se werkywer deur billike belonings aan te moedig, al moet hy sy vrypostige annekseer-lus ook soms binne redelike grense beperk. Hy weet dat sulke indirekte voordeeltjies, ‘perquisites of office’ as 't ware, Ampie se werkvermoë vertiendubbel, sy selfrespek laat styg en hom prikkel tot getroue pligsvervulling. Een van die hindernisse wat voorlê is die teenstand van tant Annie. Met die skerpsinnigheid van 'n moeder het sy al gou die ‘strawwe vryery’ opgemerk, maar haar welgemeende, hoewel taklose waarskuwing spoor Annekie net aan tot koppige verset. Noudat die geliefde bedreig word, verander haar kalme geneentheid vir Ampie eensklaps in 'n gloeiende passie, wat klem en oortuiging verleen aan haar vernuftige argumente. Vol kinderlike vertroue bepleit sy Ampie se saak: ‘O Ma ken nog nie vir hom nie. Ampie begin nou al te sorg.... Ampie het baie groot kanse en sy planne is agtermekaar...’

Met 'n kragwoord probeer die moeder haar neerlaag dek. Sy is mos die arme sukkelaarster wat almal se swaar moet dra! Met veel meer tak voor sy die saak by haar man aan. Oom Tys het deur 'n noukeurige studie van die Bybel 'n verbluffende redeneervermoë ontwikkel, wat hom in staat stel om alle andersdenkende persone met 'n welgekose teks morsdood te gooi. Met sy eenvoudige logika bereik hy die sonderlingste gevolgtrekkings, en daar hy met 'n ruime mate van verwaandheid bedeel is, kan hy hom maklik verbeel dat hy

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 133 eintlik predikant moes geword het. Tant Annie maak 'n goedgeslaagde aanval op sy verantwoordelikheidsgevoel en verplig hom om uit sy ‘hoëre regione’ af te daal tot die beskouing van die huwelikskanse van sy dogter. Maar die uitkoms is vir haar 'n verrassing! 'n Huwelik tussen bloedverwante - daarvoor is daar mos bewysgrond in die Bybel en al is Ampie ook hoe dom, hy wat oom Tys is, sal hom volleerd aflewer aan die predikant!

Met so 'n magtige bondgenoot as oom Tys is die saak vir Ampie gewonne. Pragtig word die styging in Annekie se liefde uitgebeeld in die hoofstuk ‘By die Dekgras’. Sy is nou nie meer die skamerige meisiekind nie, maar die vrou van aksie, wat alles reël, en daarby ook die teder beskermende moedertjie wat Ampie soos 'n hulpbehoewende kind opbeur en vertroos. Die aanneming, wat soos 'n reuseberg vir hom wil platdruk, lyk nou die eenvoudigste saak van die wêreld. Annekie se innige geloofsvertroue - ‘Jy sal nie afgewys word nie! Die Here sal jou deurhelp!’ - en haar intieme kennis van die eksamenstokperdjies laat in Ampie die ou ingebore optimisme herleef. Annekie is inderdaad 'n vrou-duisend! Haar liefde maak haar sterk. En sy leef, omdat sy so eg-menslik is. Op oortuigende wyse laat die skrywer ons hier voel dat die liefde, selfs in sy eenvoudigste en aller-primitiefste openbaring, altyd ons hart ontroer. Ander skrywers mag hul besighou met die ingewikkelde verhoudings tussen verkultuurde modernelinge, maar Van Bruggen hou ons aandag gespanne deur sy afbeelding van een van die oerinstinkte by twee eenvoudige siele. Ampie se optimisme maak weer plek vir die ou beklemmende gevoel as hy Vlakplaas se woning instap. Oom Tys lewer 'n lekeprekie, wat Ampie opnuut laat wanhoop aan sy kansie om deur die gevreesde aanneming te kom. Annekie weet egter hoe om hom te bewerk en wy hom in die geheime van ouers-vra in. Hierdie middernagtelike toneeltjie vol komiese trekke is besonder goed geslaag. Annekie dring soos altyd daarop aan dat alles in verband met die bruilof ‘propper’ moet gaan en as gevolg moet Ampie nog 'n behoorlike bekendmaking selfs aan oom Kasper skrywe - 'n vermaaklike brief waarin Ampie dit nog regkry om 'n paar ‘losgoed’ te annekseer. Op die tog na die nagmaal is Ampie weer vol rebelse gedagtes. Sy vrees vir die aanneming laat hom al die onnodige omhaal verwens. Waarom kan hy Annekie nie eenvoudig ‘vat’ as vrou nie? 'n Aanmerking oor sy slegte drywery gee hom 'n kans om sy opgekropte bitterheid uit te haal op die onskuldige osse en as sy bui gesak is, kry hy weer nuwe moed. By die katkisasie kom hy onder die besef van sy sonde en begryp selfs waarom die bliksem ou Jakob getref het. Mooi word die ewolusie van sy

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 134 godsdienstige begrippe aangedui en sy klimmende bewondering vir Annekie, wat al haar maats uitstof deur ratse antwoorde.

Bart, noual twintig jaar, is aangesteek deur die diamantkoors; die groue verveling van die eensame lewe op Vlakplaas en sy afkeer van gereelde plaaswerk dryf hom na die delwerye. Op Vlakplaas het hy hoegenaamd geen vooruitsigte nie en as hy maar 'n paar pond kan los kry sal hy 'n fortuin gaan uitgrawe. Pragtig is die toneeltjie waar Bart met sy meerdere ‘wêreldkennis’ spog, maar Ampie hom sa netjies troef met die argument dat hy nog nie mondig is nie.

Met meer sukses bewerk Bart sy pa, wat ook al geluister het na die lokstem van die delwerye. Bart is 'n gebore diplomaat en as gevolg van sy slimpraatjies verower hy die moeisaam opgegaarde spaarpennings van sy moeder, wat bedoel was vir Annekie se bruilof.

Vir baie lesers sal hierdie droë bruilof seker maar net 'n droewige spektakel wees. Maar let op hoe die skrywer deur sy suiwere weergawe en pittige plastiek, lewe en beweging, kleur en geur gee aan die bywoner-plegtigheid. Alles lyk so simpel, so plat-ordinêr, maar daarby tog weer so menslik en so innig dat elke besonderheidjie ons ontroer. Van Bruggen staan nie van ver om met 'n hoogmoedige glimlag die spektakels van hierdie bruilofsmense te betrag nie. Hy het met hulle geleef, met hulle gewerk en... diep in hul siele gekyk.

Trots oor sy mondigheid het Ampie eindelik aan alle eise van wet en kerk voldoen, en agteraf beskou, was al die lastige formaliteite tog darem nie so erg nie - ‘Hy sien kans om elke dag te trou’ - as hy maar Annekie se hand kan hou! Langs die sewentienjarige bruid sit hy nou; 'n wit laken waarop ‘orals blink sigaretspapiertjies vasgehaak is’ moet die feesatmosfeer aandui in oom Tys se pondokkie. Maar die hoofrol op die bruilof word eintlik gespeel deur Ampie se moeder wat, uit haar gewone versuftheid opgeskrik, nou astrant die voortou vat. Waar sal ons nog so 'n voorbeeld van skrynende ironie kry as die gelukwens van hierdie verdwaasde moeder: ‘Hier staan julle vandag soos ek en Dawid vanmelewe ook gestaan het. Deur ons is jy vandag so 'n aansienlike man as jy nou is. Wandel in die voetstappe van jou vader, dan sal jy jou nooit hoef te skaam nie, en jy sal nooit nodig hê om te bedel nie!’ Die huwelikslewe het vir Ampie se moeder niks as eindelose ellende en ontbering gebring nie, maar in hierdie vlaag van helder-bewustheid sien sy dit nog steeds as die glanspunt van haar bestaan. En hoe leef die moedertrots oor haar eersgeborene nie weer op nie, as sy Ampie as ‘'n aansienlike man’ so

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 135 beskou! Al die jare van swaarkry tussen haar rumoerige kroos het nie die stralekrans om ou Goor Dawid se hoof laat verbleek nie! Hy is nog steeds die ideale eggenoot van haar jong dae. Almal moet vir hom padgee, sodat hy sy seun kan gelukwens. Hoe sterk voel ons hier die tragedie van die huwelik tussen swaksinniges, met sy nasleep van menslike verwording tot in verre nageslagte. Ook Goor Dawid, eenmaal amper die moordenaar van sy kind, besef vandag iets van die trots van sy vaderskap. Ampie het hom wel ontgroei, maar hy het tog deel aan sy seun se sukses. ‘Hulle het hom deeglik opgebring en kyk waar staan hy vandag!’ As ‘die twee ruwe hande mekaar pak en mekaar onbarmhartig vasknyp’ by die gelukwens, dan kom daar tog 'n soort toenadering tussen hierdie ontaarde vader en sy seun. Die aankoms van die Booysens veroorsaak heelwat verwarring onder die bruilofsgangers. Interessant is dit om te sien hoe hulle reageer op die besoek van hierdie ‘hoë lui’. Oom Tys verwens Bart wat hom van die middele beroof het om sy naam op te hou; Dawid word meteens gedienstig en maak die stringe los; die kleinspan is skoon oorbluf en ‘hul lyfies is styf soos boontjiestokke’. Maar dis weer Ampie se moeder wat die situasie beheers. Hier is nou 'n kostelike geleentheid vir die Nortjé's om te wys dat hulle nie niksgewend is nie: ‘Ampie, my kind, hier kom hulle, hou julle naam op!’ En haar moedertrots vind uiting in die spoggerige uitroep: ‘Ek sê, nig Grieta, waar op die aarde wil jy 'n mooier bruidspaar hê, as daardie twee?’ Booysen slaan meteens die regte toon aan en slaag daarin om die halfbewustelose bruidegom uit sy dommeling op te skrik. Maar dis net vir 'n oomblikkie, want hierdie bruilofgedoente is vir Ampie 'n foltering. Hy is so gelukkig, maar wil tog net graag alleen met sy vroutjie wees. En soos 'n opgewonde kind, moeg gespeel en oorspanne, bars hy in trane uit. Dis eers in hul stille woninkie dat hy werklik tot die besef kom van wat daar met hom gebeur het.. Ook hierdie eerste aand is mooi van uitbeelding. Ampie wil nog wegsak in sy bedwelmende geluksroes, maar Annekie voel meteens die verantwoordelikheid van haar taak as huisvrou. Na 'n bietjie speelse stoeiery moet Ampie kleingeld maak van 'n paar stompe, want daar moet vetkoek gebak word. Nou vind sy groot geluk 'n uitweg in heftige aksie. Hy duik oor die onderdeur en ‘met die dissonantse geluide soos van 'n hotnot wat drie dae al nuwejaar gehou het sak hy toe met die groot byl op die stompe in dat die yster sing en die spaanders spat.’ Kinderlik is die blydskap van die jonggetroudes oor hul groot kosvoorraad, waarvoor oom Kasper gesorg het. By die vroomgestemde Annekie

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *11

KOTTLER. 6. HOTTENTOTMEIDJIE (Gips).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 136 wek dit innige bewondering vir die Booysens se godsvrug en 'n begeerte om ‘ons ou-mense te help as hul uitraak’. Met so 'n oorvloed weet hierdie bywoner-bruidjie amper geen raad nie!

Haar vrome bewondering vir die Booysens gee egter aanleiding tot 'n wanklank in Ampie se gemoed. Vir haar is dit die natuurlikste saak van die wêreld dat Ampie nou nes haar pa sy pligte as huisvader moet uitvoer. Hulle gaan mos ‘na die Woord lewe’. Maar Ampie se hart rebelleer teen wat hy as onnodige omhaal voel. In sy hart is hy nog steeds die losbandige natuurkind, wat alleen terwille van sy liefde effens toegee aan Annekie se ideaal om ‘propper’ te lewe. By die tafelgebed kan hy nog verbyskrams, maar die gedagte aan boekevat beneem totaal sy eetlus. Vroutjie is natuurlik vererg oor hierdie gemis van waardering vir haar kookkuns, maar Ampie het alweer 'n oulike koudleiplan - die wedstryd met die vetkoeke. Annekie gaan egter onverstoor haar gang en hy moet deurdruk met die huisgodsdiens. Die lees uit die Bybel gaan nog, maar as dit by die gebed kom, voel Ampie soos 'n moeg gejaagde dier wat deur die honde gegryp word. ‘Sowaar, ek kan nie bid nie, Annekie, so wragtig waar nie!’ klink sy hulpelose smeekstem. Die onbarmhartige wêreld het die natuurkind weer vasgevang in sy striknette. En as Annekie hom sy hulpeloosheid verwyt, bars die ou dierlike drifte weer los in hom, sodat hy dreig om haar om te stamp.

Pragtig volgehou tot die einde toe is hierdie beskrywing van die bruifofsnag, met die wedersydse vertedering wat tot 'n gelukkige versoening lei. Met 'n koppie koffie as vredesoffer en 'n vriendelike ‘Môre, my vrou’ keer Ampie terug tot die nuwe lewe wat hom wag. In 'n drifbui kan hy soos 'n wilde dierasie te kere gaan, maar die liefde laat die teerste roersels van sy hart tril, totdat sy eerste spontane gebed opstyg. Hy en Annekie sal same soos die môrester opklim tot in die hemel.

Elke besonderheidjie in die bruilofstafereel hou ons aandag gespanne. Daar is 'n dramatiese element in die komposiesie, wat ons van verwikkeling tot kliemaks voer. Suiwer en innig van aanvoeling is die emosies van bruid en bruidegom, wat deur elke gebaar en woord hul ganse wese vir ons blootlê.

Met die naamgee van die eerste kind kom Ampie weer in verset teen die aloue gewoontes waaraan sy vrou so hardnekkig kleef in haar sug om alles behoorlik te doen. Die ou wrok teen sy vader herleef weer as die hele tros Nortjé's die kraamkamer inborrel om moeder en kind om te krap met hul luidrugtigheid. En die herinnering aan sy vader se onregverdigheid laat hom

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 137 meteens dink aan die trooster van sy jeug, ou Jakob.*) Na die moet sy seuntjie heet! Oom Tys vind natuurlik 'n Bybelse voorbeeld wat presies op hierdie geval pas; sy bewysgronde, soos Van Bruggen dit tiepies uitdruk, kom so met broek en baadjie uit die Bybel uit.’ Annekie moet swig vir hierdie onomstootlike argument en haar man se verering van sy ou jeugmaat maak haar hart so week, dat ook sy die kind spontaan Jakoppie noem. Hierdie insident en ook Ampie se gevoelens as hy die nuwe donkie ‘Kortkom’ kry, laat ons besef hoe knaend die honger na simpatie in Ampie se troostelose jeug moes gewees het. Hoe diep het sy eenvoudige maar gevoelige siel nie gely as gevolg van die onsimpatieke omgewing waarin hy opgegroei het nie. Noudat hy eindelik in vrou en kind 'n steunsel in die lewe gekry het, bestaan daar ook die moontlikheid van 'n verdere ontwikkeling van sy wese, wat die skrywer ons seker in 'n vervolg sal gee.

Opmerklik is dit hoe ook in hierdie deel Van Bruggen se taal vasgegroei sit in die bywonerpsiege. Dis nie afgeluisterde sinnetjies nie, so terloops opgeteken ter wille van die snaaksigheid, maar spontaan ontspringende beeldspraak, wat op voortreflike wyse die bywoner-sfeer karakteriseer. Hierdie beeldende taal kan die kunstenaar alleen skep as hy hom diep ingeleef het in die siel van sy mense en hul omgewing. Dit is 'n skeppende arbeid wat hoë eise stel aan die verbeelding van die skrywer. Van Bruggen voer sy mense meestal handelend op; hy bring hulle in dialogiese kontak, sodat ons die klank van hul stemme hoor en hul voor ons oë sien beweeg. En selfs waar hy beskrywend optree, bly hy as vanself binne die gedagtesfeer van sy eenvoudige mense.

As voorbeelde noem ek die volgende: ‘Die lewensvolle oomblikke van die laaste ure het sy siel gebrei soos 'n voorslagvel, wat deur die breier op- en inmekaar verfrommel, bruikbaar word.’ (P. 56.)

‘Die delwerye trek hom soos 'n soutplek 'n uitgevarste bees.’ (P. 82.)

‘Soos die ore van 'n dommelende donkie skielik opklap as hy iets vreemds geware, staan Ampie en Annekie gelyk, penorend voor oom Kasper.’ (P. 103.)

‘Hy voel soos sterk suipkalwers wat van lewensvolheid en begeerte agteropskop.’ (P. 109.)

*) Hoe innig hierdie ou esel vasgeweef sit in sy jeugherinnering blyk uit so 'n sin: ‘Met al haar nukke is Annekie so opreg soos ou jakob was.’ (P. 16.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 138

‘Lewe na die Woord! - Dis weer die klipbank wat nie nate het nie. (P. 130.) ‘Hy dink glo dat sy nou soetbroodjies sal bak en flikflooi, terwyl hy met die krulstert rondloop.’ (P. 135.) ‘Sy planne kom vanaand tromp opmekaar, soos 'n span osse wat op die draaiplek onklaar getrap het.’ (P. 12.) Dit hoef geen betoog dat hierdie taal volkome pas in Ampie se denksfeer nie. Dis die manier waarop Ampie self die dinge voel en sien, en Van Bruggen se eie taalbewussyn is as 't ware op non-aktiwiteit. As 'n ouderling gaan sit in die kerk, dan sien ons die handeling deur Ampie se oë aldus: ‘Die ouderling het sy bobaadjie agter oopgesmyt en toe gaan sit....’ (P. 99.) En dis nie deur enkele tiepiese bywoneruitdrukkings soos gedeps kontant, uit wans uit ens, dat hierdie effek verkry word nie. Dit is eintlik 'n herskepping van die bywoner se hele taaleie, wat alleen kan ontstaan in die gemoed van 'n kunstenaar, omdat hy sy karakters nie alleen van buite-af observeer nie, maar van binne-uit kreëer. Daarom ook kan Van Bruggen hom so volmaak inlewe in al die wisselende stemminge van Ampie, wat hy op seldsaam gelukkige wyse weergee. Daar is die optimistiese Ampie, wat alle swarighede kafloop en hoë lugkastele bou op die goedgeefsheid van sy baas; die berouvolle Ampie wat bewe by die gedagte aan die toornige God, maar deur sy eienaardige logika tog tot 'n soort begrip kom van die ganse wêreldorde, die dood van ou Jakob inkluis (P. 77); die opstandige Ampie wat soos 'n malmens te kere gaan teen alle ingestelde gebruike, maar dan weer in 'n helder oomblik so naïef kan redeneer oor die noodsaaklikheid van die trouseremonie (P. 95); die mondige Ampie, so ernstig onder die indruk van sy verhoogde status, ens. Stap vir stap kan ons nagaan hoe Ampie uit die skrale gegewens van sy beperkte ervaringsfeer en met sy steeds verrassende logika 'n soort verklaring vind vir al die raaisels van sy heelalletjie. En sterker en sterker word onder die lees die oortuiging dat ons hier te doen het met 'n lewende, 'n waaragtig lewende mens, wat volgens die wette van sy eie sielsaard op natuurlike wyse groei en ontwikkel.

Mag die skrywer daarin slaag om ook in die volgende deel die hoë peil van hierdie kunswerk te handhaaf.

Vryheid, Februarie, 1929. P.C. SCHOONEES.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 139

Nuwe Boeke.

Alle nuwe boeke deur die Redaksie, Bus 1266, Pretoria, ontvang, word hier aangekondig. 'n Latere bespreking van die aangekondigde boeke is nie uitgesluit nie.

Afrikaanse Kerkkoor. Dertig uitgesoekte Kerk-, Fees- en Geleentheids-liedere. H.A.U.M., Kaapstad, Firma J.H. de Bussy, Pretoria. 1929. 5/6.

Bouman, A.C.: Die Vikings in Byzantium. Swets en Zeitlinger. Amsterdam. 1929.

d'Arbez: Die Famielie van die Sieketrooster of Die Franse Vlugtelinge. Afrikaanse bewerking deur Dr. P.C. Schoonees. Derde Druk. Eerste Afrikaanse Uitgawe. H.A.U.M., Kaapstad. Firma J.H. de Bussy, Pretoria. 1929. 4/-.

Herzog, Dr. A.: Die Juriste-Obsessies. Sakelike Reg en meer bepaald Eiendom. Swets en Zeitlinger, Amsterdam.

Marais, Eugène N.: Sketse uit die Lewe van Mens en Dier. Nasionale Pers, Beperk, Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein. 6/6 posvry.

Maré, Leon: Mooi Annie. Toneelspel in vier bedrywe. Na die historiese verhaal van d'Arbez. J.H. de Bussy, Pretoria. H.A.U.M., Kaapstad. 1/6.

Pienaar, Dr. W.J.B.: English Influences in Dutch Literature and Justus Van Effen as Intermediary. An aspect of Eighteenth Century Achievement. Cambridge at the University Press. 1929.

Smuts, Dr. J.P.: Filosofies-opvoedkundige Sketse (opgedra aan Jong-Suid-Afrika). Swets en Zeitlinger. Amsterdam, 1929.

Webb, Mev. B.J.: Naomie of Die Laaste dae van Jerusalem. Afrikaanse bewerking deur F. Postma. Met prente. H.A.U.M., Kaapstad. Firma J.H. de Bussy, Pretoria. 1929. 4/-.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *12

KOTTLER. 7. CASSIE (Gips).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 140

Knut Hamsun.

DIE verskyning van ‘Landstrykere’ (Rondlopers’) van die gevierde Noorweegse skrywer Knut Hamsun verskaf 'n passende geleentheid om sy werke en persoonlikheid onder die aandag te bring van dié lesers van ‘Die Nuwe Brandwag’, wat nog nie met die grootste moderne Skandinawiese skrywer kennis gemaak het nie. Vandat Hamsun die internasionale lesende publiek verower het met sy ‘Sult’ (‘Honger’, 1890), het hy verskeie artistieke metamorfoses deurgemaak, maar tog steeds van krag tot krag voortgegaan, totdat in 1920 die seël op sy werk en skepping gesit is deur die toekenning van die Nobel-prys. Die verskyning van sy ‘Markers Gröde’ (‘Groei van die Veld’) in 1917 het grootliks tot die besluit van die pryskomitee bygedra, maar selfs voor 1917 was Hamsun ongetwyfeld reeds die grootste skrywer in Skandinawië, wat in ons tyd die een eersterangskrywer na die ander voortgebring het, soos Pontoppidan (Deen), Lagerlöf (Sweed) en Kinck (Noorweër). Dit is eers in die laaste tien jare, dat 'n ernstige mededinger tot die posiesie van die grootste lewende Skandinawiese skrywer in die persoon van Sigrid Undset opgestaan het. Maar dit is onbillik om haar met Hamsun te vergelyk, want hulle doel en strewe op sosiologiese en kunsgebied is totaal uiteenlopend. Dit is destemeer 'n feit, waarop Noorweë kan trots wees, dat Hamsun en Undset die twee meesgelese moderne skrywers van die wêreldliteratuur is. Undset is ook een van die nuutste Nobel-pryswinners.

Hamsun het 'n lewe, wat amper self so boeiend soos 'n roman is, deurgemaak. Hy is in 1859 in Gudbrandsdal gebore uit boereouers, behorende aan 'n oeroue boeregeslag met sy eie tradiesies en kultuur, daardie stand wat aan Noorweë van sy grootste skrywers, soos Björnson en Lie gegee het, en wat verantwoordelik is vir die frisheid en naïveté wat vir die meeste lesers die grootste bekoring van die Noorweegse literatuur vorm. Die lange, triestige Noordlandwinters en die ewige stryd om die bestaan teen die wrede, onverbiddelike natuurmagte het hulle seël afgedruk op die werk van Hamsun en menige ander Noorweegse skrywer. Hieruit spruit sy satieriese pessimisme en sy optimisme albei. Dit was ook die bron van inspirasie vir die skepping van die ‘Hamsun-held’, 'n wispelturige, sorgvrye, waaghalsige natuurkind, soos ons hom in omtrent iedere roman van Hamsun aantref, van ‘Sult’ tot ‘Landstrykere’. Die oertiepe van daardie figuur tree reeds in die ou sagas op; by Hamsun is hy 'n gemoderniseerde viking, wat steeds verteer word deur

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 141

'n brandende verlange na die onbekende en awentuurlike, wat steeds ‘undres paa, hvad kan skal faa se over de höie fjelde’ (‘wonder wat hy sal sien, agter die hoë berge), soos Björnson dit in sy onvergetelike gedig van Jong-Noorweë uitgedruk het. Maar by Hamsun is die tema altyd op digterlike, nooit op 'n sentimentele manier uitgewerk nie. Die ewige onrus, die geluk-soekende maar geluk-nooit-vindende motief is vir sommige die groot aantrekkinkskrag van Hamsun se werke. Daar was 'n tyd, toe dit gelyk het asof dié leitmotiv sy werke sou laat ontaard in futiliteitstudies. Die boodskap van die vroeëre romans was duidelik: ontvlug die sordiede materialisme van ons tyd, deur terug te keer na die poësie. Maar was die boodskap nou ook konstruktief genoeg vir die moderne mens? Daarop gee Hamsun se hoofwerk ‘Markens Gröde’ antwoord in die vorm van 'n twede boodskap: terug na die natuur, terug na die arbeid, - die handearbeid! Die held en heldin trek die woesteny in en bring dit na jare van ontbering en harde werk tot welstand en tevredenheid. Die arbeid om die arbeid ontwil is al deur ander skrywers, vernaamlik Tolstoj, behandel, maar nog nooit op so 'n oorweldigende manier nie. Die byna klassieke eenvoud en nugtere grootsheid van konsepsie van die werk grens aan die epiese. Gelukkig is ‘Markens Gröde’ vir Afrikaanse lesers toeganklik in uitstekende Engelse, Nederlandse en Duitse vertalings.

Na hierdie hoofwerk het Hamsun die volgende romans geskryf: ‘Konerne ved Vandposten’ (‘Die vroue by die waterpomp’), wat algemeen as minder geslaag beskou word, maar vir dié wat Hamsun kronologies gelees het baie interessant is, omdat dit duidelik die invloed van Kjelland laat sien, en die Noorweegse kleinstadslewe met groot insig en virtuositeit beskryf. Na 'n driejarige swye het ‘Siste Kapitel’ (‘Laaste Kapittels’) in 1923 uitgekom, waarin die verhouding tussen die man en die vrou die hoofmotief is. Dit skyn asof Hamsun nie meer in dieselfde trant gaan skryf as in ‘Markens Gröde’ nie, want sy laaste werk ‘Landstrykere’ herinner baie sterk aan sekere romans van sy middelperiode, soos ‘Segelfoss By’ en ons kry weer die bekende Hamsun-held met al sy grille en onberekenbaarheid. Die boek is mynsinsiens een van Hamsun se beste, omdat dit pure Hamsun is. Die enigste tendens wat dit bevat, is die stryd teen emigrasie na Amerika. Die kleinstadagtergrond is weer die milieu en selfs die tiepiese Hamsun-heldin vind ons terug; sy is altyd ‘das ewig Weibliche’, maar sonder die onaangename bysmaak, wat al aan dié uitdrukking kleef. Die vrou in Hamsun se boeke bly vir ons altyd 'n probleem, omdat ons haar feitlik nooit leer ken nie, behalwe in haar verhouding tot die manlike geslag. Maar daardeur kry sy 'n grootsheid ver verhewe bo die salonproduk van baie moderne skrywers.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 142

Hamsun se kort verhale behoort tot sy beste werke. Hulle behandel alle moontlike temas: van die grote Eros tot die kaskenades van 'n huisvlieg. Etlikes van hulle speel in Amerika, waar Hamsun jare geleef het en agtereenvolgens prairie-dagloner, tremkondukteur en visser op die New-Foundlandse visbanke was: daardie versamelplek van die skuim van die wêreld.

Hamsun leef op 'n plaas in die suide van Noorweë, ver van die gewoel van die grote wêreld daarbuite, waarmee hy so goed bekend is, maar wie se stof hy van sy voete geskud het. Hy is as mens die onbekendste van die groot wêreldskrywers, omdat hy so beskeie van aard is. Sy buitelandse reputasie het hy eers in Rusland verwerf en daarvandaan het sy roem oor alle beskaafde lande versprei, sodat 'n nuwe werk van Hamsun gelyktydig in sowat sewe tale verskyn. Hy is te beskeie om 'n groot volksfiguur te wees soos Björnson. Noorweë besef, dat as hulle hom moes mis, hulle een van die grootste kulturele kragte wat die Noorweegse volk voortgebring het, sal verloor. C.G.S. DE VILLIERS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 143

Willem Kloos Sewentig Jaar.

IN Mei sal Willem Kloos sewentig jaar oud wees. Die naam van hierdie groot digter en krietikus het 'n historiese klank; dit is nou verbonde aan een van die belangrikste herlewingstydperke van die Hollandse letterkunde. Sommige mense verbaas hulle inderdaad om te hoor dat Kloos nog lewe, - ja, Kloos lewe nog, maar dit is 'n kalmer, bedaarder mens as die magtige stryer van Tagtig. Ook die leeu van Deyssel slaap - die stryd is gewin. In juister historiese perspektief begin ons die beweging van Tagtig vandag sien. Die ‘stormende stortvloed van passie’ van van Deyssel oorweldig ons nie meer so erg dat ons totaal verblind staan teenoor die gebreke van die beweging nie; Kloos se deurdringende, sterk persoonlike oordeel kan ons nie meer altyd so boei nie, dat die rein indiwidualistiese, wat die siel uit die eentonige menigte tot sulke lieriese hoogtes verhef, ons blik so vashou, dat ons nie daaronder die afgrond gewaar nie - ons weet wat die lot was van Icarus wat met verbrande vlerke op die aarde teruggestort het. Niemand twyfel vandag meer aan die waarde van die beweging nie. Resultate bewys dit. Die Hollandse letterkunde het sedert 1880 van sy suiwerste kunswerke ryker geword; die smaak is so suiwer as dit seker nog nooit was nie; daar het 'n geestelike verdieping in die letterkunde gekom wat alleen gepeil kan word deur iemand wat weet hoe dit onmiddellik voor die tyd met die letterkunde gestaan het.

Die beweging van Tagtig was ongetwyfeld 'n voortsetting van die Romantiek. Die golf het miskien hier sy hoogste bult gemaak voor hy gebreek het om te vervloei in die rustige voortstuwing van realisme. In wese was die beweging romanties. Die sterkste bewys daarvoor is die geloof aan die ‘geniale’, aan die ‘onbewuste skeppingskrag’, die ‘goddelike’ en dergelike woorde, wat die Romantisie so graag toegepas het. Geen wonder daarom dat die beweging se voortbrengsels so byna uitsluitend lieries was nie. Tot die rustigheid en breedheid wat die epiek eis, was hulle nie instaat nie, - die gekonsentreerdheid, spanning en botsing van hartstogte wat die drama se wese vorm, was vreemd vir alleen-lopers, wat met 'n veragtende kunstenaarsblik neergekyk het op die kleinheid van menslike gedoentetjies en dus nie die wrywing wat maatskaplike omgang meebring, objektief kon weergee nie; al het hulle dan epiese werk gelewer wat sterk die naturalistiese kenmerk dra, ware epiese werk was dit nie, al was dit daarvoor bedoel; op sy beste het dit

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 144 geword 'n vae objektivering van lieriese passie. Eers later kom die groot realisme wat beter pas by die Hollandse volksaard van die jong stryers.

Hoe heftiger die teenstand, hoe skerper die wrywing met 'n selfvoldane omgewing, hoe driftiger word die indrukke, omgesit in lieriese vorm, teruggewerp, - want die lierikus is soos 'n fonograaf wat opvang en teruggee. So hoog styg die lieriese verrukking dat dit soms aan die waansinnige grens, - en daarom is die gevolg dan weer die diepste verslaendheid, - weemoed. ‘Ik ben een God in 't diepst van mijn gedachten!’ Wie die reëls aandagtig lees, voel al dadelik dat die digter op 'n koord dans bokant 'n onmeetlike afgrond. Hy voel die geweldigheid van sy innerlike vermoë, maar net onderkant die vlam van selfverheerliking is die leegheid, huiwer die vrees wat netnou die siel bespring en hom terugtrek in die dieptes van minderwaardigheidsgevoel en onmag. Dit is by uitstek die hoofkenmerk van die Romantisie. Na 'n ronddobbering op 'n see van onewewigtigheid het Kloos later min of meer die innerlike harmonie gevind en toe het hy self gesê dat bogenoemde sonnet geen waaragtige uitdrukking van sy werklike ek is nie. So 'n verklaring van 'n skrywer self is soms onnodig en misleidend. Het Gorter nie tot by sy dood ontken dat die ontsterflike ‘Mei’ en sy beste gedigte uit die eerste tydperk swak is in vergelyking met sy sosialistiese maakwerk nie? Ook by skrywers is daar innerlike wendinge, ook hulle moet gehoorsaam wees aan die beloop van onnaspeurbare lewenswette, aan die golfbewegings van die tyd waaraan geen mens ontkom nie. En daarom het die juigende en verslae Kloos later tot homself ingekeer, tot die ‘in-binnenste’, diepste psiegiese grond of nog ander benaminge waarmee hy die wesenskern van sy gees beskrywe het. Die dondering van van Deyssel se woordvloed het vervloei in 'n rustige stroming van die gedagte. Uit sy later werke herken jy gladnie meer die geselaar van Netscher nie, die kwaaijong wat arme prof. Jan te Brinck se siel so uitgetrek het. Ook hier die lieriese drif vir 'n oomblik hoog opgespruit en toe weer teruggesak na die gelykvloeiende aar. Jy kan miskien sê: verslaan deur hulself, verslaan deur die noodlot. Dit is die grootste kenmerk van die grootste lieriese digters van die Romantiek: hulle werk word soms belig met 'n bo-aardse glans, daar is 'n verblindende verskittering in wat jou 'n skoonheidshuiwering gee, daar is die openbaring wat alleen die magiese krag van die intuïesie kan gee. Soms is dit ver verhef bokant gewoon weggestoke verlange, omdat die gewone mens se siel nooit in sulke hoë sfere vertoef nie. Die gees word deur lieriese opwinding tot hoogte gedryf waar ewewigtige digtersnature nooit naby kan kom nie. Kloos het ingekeer tot homself, hy het homself gevind in die ewige lewe wat in ons algar is - ons diepste wesensgees. Wie die eerste kritieke van

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 145

Kloos lees, die gang van sy gees navoel en naspeur, word met bewondering en eerbied gevul vir hierdie ryk gees. Geen Hollandse krietikus het voor 1880 so suiwer, so fyn onderskeidend, so gevoelig oor hierdie geskrywe as Kloos nie. Sy werk is 'n openbaring. Agter uit sy siel rys die beelde omhoog, word hulle gedra deur die breë beweging van sy prosa. Die inleiding tot Perk se gedigte deur hierdie aanbidder van skoonheid is onvergeetlik. In sy lieriese prosa het Kloos hierdie hoogte nooit weer bereik nie. Die drang na die hoogste hoor jy in die statige sinne - die digter wat bewus is van sy innerlike rykheid, maar ook sy verlatenheid besef onder middelmatige mensies. ‘Die stormt en juigt, en weent en mymert, eenzaam met zyn ziel onder de blauwe oneindigheid.’ Net uit hierdie enkel aanhaling al gaan 'n skoonheidsontroering wat net die grootste digters by ons kan opwek. Sy prosa word almeer ontledend, betogend en minder hartstogtelik lieries - tog in die wese lieries. En dit juis was altyd Kloos se krag en tewens sy beperktheid. Oor lieriese digkuns het hy later heeltemaal uitgepraat geraak, hy het hom eindeloos herhaal en byna ondraaglik omslagtig geword. As hy 'n bundel poësie wil karakteriseer, dan gaan hy eers op lang ou plesiertogte en 'n paar reëls op die end moet dan min of meer die hele bundel kenskets. Kloos was altyd die krietikus wat gesoek het na die wesensessensie, en onder sy eerste kritieke, en selfs onder enkele latere, staan formulerings wat deur juisheid, fynheid van psiegiese insig en diepte seker nie maklik oortref sal word nie. Maar juis hierdie metode om soos, 'n duiker te daal tot in die diepte van die ‘zyn’ en die waarheid op te vis, het by later gebrek aan die konsentrasiekrag van gesonde jeugjare verswak tot prekerigheid en langdradigheid, al duik uit die verstrooide uitsprake dan soms nog heerlik-sterk op die verrassende, waaraan ons dadelik die groot krietikus van vroër ken.

Uit eerbied vir wat die digter eenmaal was, moet mens nie 'n te harde oordeel uitspreek oor sommige van sy latere gedigte en kritieke nie, ook nie oor die ondigterlike skeldsonnette nie. Kloos was altyd so opreg menslik as kon wees, en daarom het hy baie gebots met die huigelagtigheid van sommige van sy medemense.

In sy teleurstelling het Kloos baie dinge gesê wat enigsins soos lelike plekke afsteek teen die hoogheid van sy jeugwerk, maar ons vergeef hom dit maklik uit menslike oorwegings, want het hy nie in een van sy aangrypenste sonnette die diepste bekentenis opgebieg nie; ‘Ik was te veel een mens geweest’? En daarom het die bewoë sonnette uit sy jeugtydperk vir ons so'n waarde. In die hyging van sy ritme, in die sonore klank soos die gedagte in die sonnette voortbeweeg, gedra deur hartstogtelike verlange en byna roman-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 146 tiese heimw6ee, of soms in die gedempte musiek wanneer hy ‘n oomblik na die hoogste liefdesvreugde weer ‘gedoken’ sit in die skaduwee van sy ewige smart, - in dit alles hoor ons die verlange van ons eie jeugjare wat in verhewe vorm hier verklanking gevind het. As die nageslag die sifwerk doen, sal ongetwyfeld baie van Kloos se werk in die dryfsand van die vergetelheid wegsak, maar 'n aantal sonnette en gedeeltes van sy prosa sal seker, sonder om breedsprakig te word, aan hom die onsterflikheid in Hollandse letterkunde besorg. En waar die digter nou na gedane arbeid van die hoë berg afkyk na die vlakte waardeur hy gekom het, moet dit vir hom seker tevredenheid verskaf om te sien wat De Nieuwe Gids vir die Hollandse letterkunde gedoen het. Ons wat nie deelneem nie aan die kleingeestige, katterige getwis wat jammer genoeg soms so 'n onsmaaklike indruk nalaat as jy party Hollandse letterkundige tydskrifte lees, kan veilig sê dat Holland baie aan Kloos en die ander oprigters van De Nieuwe Gids verskuldig is. Om die vreugde wat sy beste werk aan ons nog altyd gegee het, sal meer as een Afrikaner hom dankbaar wees.

Wat sou die Hollandse letterkunde sonder 'n Klous, 'n Gorter, 'n Verwey, 'n van Deyssel, 'n van Eeden gewees het - maar veral sonder 'n Kloos?

C.M. VAN DEN HEEVER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 147

Styl in Moderne Frans.

DIT gebeur soms dat skrywers ontevrede is met hulle medium. Hulle verbeel hulle dat die taalbronne tot hulle beskikking 'n onvoldoende is om hulle aandoenings reg te vertolk. Die gevolg is dat neologismes in groot getal voortgebring word. So'n verskynsel duur gewoonlik nie lank nie en slaag nie daarin om die ingebore siel van die taal in 'n groot mate te wysig nie. Die hoofstroom word nie verstoor nie.

Racine en La Bruyère was nie onnodig bekommer oor die luime van die Precieux nie, nòg Flaubert en Renan oor dié van die romantisie en die beste skrywers is seker nie deur die taalkundige goëlery van hulle tydgenote die gebroeders Goncourt en die simboliste beïnvloed nie.

Uit 'n suiwer taalkundige standpunt beskou, kan daar geen twyfel bestaan dat die invloed van die Goncourts skadelik is nie. In hulle poging om wat hulle ‘l'irrendable’ genoem het uit te druk, het hulle die taal verkrag. Met hulle het impressionisme die Franse letterkunde ingeneem. Loti was een van hulle disiepels. Hy boei deur die uitwerking wat hy het, maar tegnies en esteties is sy werk vol foute. Huysmans, meer aanvallend as die Goncourts, het die skadelike werk voortgesit en het aanmerklik meegehelp om die taal te ‘dénaturer’. Al het party krietisie ywerig aangetoon dat die invloed van die taal van die Goncourts nie net skadelik was nie, staan dit vas dat hulle verderflike werk verrig het in soverre as hulle die weg vir die manier van uitdrukking so gewild by die simboliste gebaan het. Natuurlik het Rimbaud hom vryhede met die taal veroorloof, maar sy disiepels, wat sy genie gemis het, het hulle aan allerhande belaglikhede skuldig gemaak - iets wat hy vermy het. Hierdie buitensporighede word in die eerste werke van Camille Mauclair en André Gide aangetref. Die styl van Mallarmé is geneig om duister en ellipties te word, maar hy is die leier van 'n reaksie teen die impressionisme. Die geslag skrywers, wat ongeveer 1885 tot rypheid gekom het, dra die stempel van Mallarmé. Sy invloed was heilsaam, want hy het die uitstaande betekenis van regte sintaksis en die waarde van uiterste versigtigheid in die keuse van waarde verkondig. Om die bevalligheid, duidelikheid en harmonie, waartoe die Franse taal instaat is te waardeer, moet ons ons alleen wend na 'n groot figuur wat beroemd was in 1895 (in 1896 is hy tot lid van die Akademie gekies), en die

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 148 eerste kwart van hierdie eeu beheers het (in 1922 is die Nobel-Prys vir letterkunde aan hom toegeken). Hierdie skrywer is natuurlik Anatole France. In sy styl word die tradisionele in die letterkundige uitdrukking in Frans volmaak. Hoewel beskeie in sy metodes ken hy die geheim om in sy kuns die meeste krag voort te bring. Laat ons liewers in plaas van lank uit te wei oor die skoonheid van die skrywer se styl 'n paar reëls aanhaal wat meer as enige vertoog die bevalligheid, die mooi gemak en harmonie van sy styl sal openbaar:

Je voudrais, pour ma part, que tous les français fissent le pélerinage de Fontainebleau. Ils y apprendraient à respecter, à admirer, à aimer l'ancienne France; qui a enfanté ces prodiges. Nous croyans trop aisément que la France date de la Révolution. Quelle erreur détestable et funeste! C'est de la vieille France que la nouvelle est sortie. Ne serait-ce que pour cela il faudrait la chérir. Il n'y a de salut pour nous que dans la réconciliation de l'ancien esprit et du nouveau. Il me semble que, bien mieux que partout ailleurs, c'est à Fontainebleau que cette réconciliation pourrait s'opérer par coup de la grâce. C'est pourquoi je supplie tous mes compatriotes d'aller passer une journée dans ce palais, dont les souvenirs marquent la continuité de l'esprit français à travers ces régimes qu'une illusion nous montre opposés entre eux, mais qui, en réalité, sortent naturellement, nécessairement l'un de l'autre. Ils s'en iraient de là, j'en suis sûr, dans un heureux état d'esprit, aimant leur temps, qui est ingénieux, inventif, tolérant, spirituel, et respectant les vieux âges et leur fécondité magnifique.

Ils ne manqueront pas, au sortir du Palais, de se promener dans la forêt, dont les arbres séculaires, qui verdoient pour nous, verdiront encore pour vos enfants, et nous enseignent que la vie est trop courte pour qu'on doive l'occuper d'autre chose que de ce qui élève et de ce qui console.

H.P. LAMONT.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 149

Kottler.

TOE Kottler ons almal die anderdag vertel het, dat hy nie in Suid-Afrika kan bly nie omdat kuns hier nie gewaardeer word nie, het hy nie wil te kenne gee, soos 'n onwaardige skrywer in een van ons nuusblaaie verklaar het, dat hy nie 'n bestaan hier kan maak nie. Ek weet baie goed, dat hy wel 'n bestaan gemaak het.

Nee; hy het gemeen, ons waardeer kuns nie terwille van die kuns self nie. Ons stel daar g'n belang in nie. Ons raak nie opgewonde daaroor nie. Ons praat nie daaroor nie.

Dit is hierdie gebrek aan waardering, wat dit so moeilik maak vir Kottler en vir alle kunstenaars wat nie net ‘winkeliers’ is nie, om in ons land te lewe.

'n Kunstenaar kannie sonder waardering lewe nie. Hiermee bedoel ek nie, dat hy nie kan lewe sonder om sy werke te verkoop nie; dit spreek vanself. Ek bedoel dat hy, meer as iemand anders, nie ‘by brood alleen’ kan lewe nie. Sy skeppende genie het die prikkel nodig wat die omgang met ander mense, wat ook in estetika belangstel, gee deur middel van diskussies, sonder end en sonder finaliteit, oor daardie allerbelangrikste vraagstukke wat Waarheid en Skoonheid lewer. Hy, self 'n jong man, sou bly gewees het om enigeen van ons jongmense, wat lus gehad het om oor kuns te praat, in sy klein woninkie in Wynberg te ontvang. He sê dat ons jongmense nooit oor kuns praat nie, dat hulle nie die minste belang daarin stel nie.. Die verwyt is verdien. Die paar uitsonderings hier en daar bewys maar net die reël. Ek gaan my hier nie besighou met die oorsake van ons jongmense se houding teenoor kuns nie; maar dit is daar - ongetwyfeld. Ek hoor iemand uitroep: ‘Maar die Studente van Stellenbosch het Kottler dan opgedra om borsbeelde van Christiaan de Wet en van Professor de Vos te maak! En die studente van Grey het 'n replika van de Wet se borsbeeld gekoop! Dit bewys tog seker, dat daar by ons jongmense belangstelling is vir Kuns?’ Wel, dit was nie soveel kunswaardering wat hulle aangespoor het om hierdie borsbeelde te koop nie as sentiment, bewondering vir 'n nasionale held en 'n geliefde professor, wat die studente daartoe beweeg het. Maar ons hoef dit nie op ons jongmense te munt nie. Die oueres is niks beter nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 150

Dit het my dikwels getref, dat die onverskilligheid van die mense om ons heen teenoor estetiek vir'n groot deel te wyte is aan die kunstenaars self. Hulle hou vol dat kuns niks met etiek uitstaande het nie. Hulle skreeu dit uit, dat kuns net kuns is as dit daar is terwille van die kuns self, omdat dit die kunstenaar se doel en sy enigste geregverdigde taak is om suiwere Vorm weer te gee. Hulle verklaar uit die hoogte van hulle eiewaan dat kuns iets esoteries is, wat net 'n paar uitverkorenes kan waardeer. Hulle praat van tradiesie, van die klassieke, waarmee 'n mens goed vertroud moet wees, of anders - so verklaar hulle - kan kuns vir ons g'n betekenis hê nie. Daar is weer ander wat van mening is dat die doel van kuns net maar is om te versier, om ons te vermaak of ons gedagtes af te lei van die vaal-alledaagse. Goethe was nader aan die waarheid toe hy geskryf het: ‘Dit is die roeping van kuns om ons met die lewe te versoen.’

Hierdie wagwoorde skrik die eenvoudige man wat deur kunsvorme geroer word, af; die een wat voel, maar nie weet nie. Hy hoor hierdie mandaryne in 'n brou-taal preek, wat vir hom net so goed Sjinees kan wees, en hy wantrou homself - nie hulle nie. Hy weet nie dat wat hulle uitroep onwaarhede, of hoogstens net halwe waarhede, is nie. Hy weet nie dat dit dikwels net 'n napraat van die mode is nie. Hy wonder waarom die kunswerke, wat hy verstaan en geniet, by al hierdie oorwegings gladnie in aanmerking kom nie. Vir hom lyk dit, of kuns 'n voorstelling van die lewe moet wees en om groot kuns te wees, moet die kunstenaar iets hartstogteliks en belangriks, wat die beskouer sal ontroer, te sê hê. Hy voel dat al hierdie gepraat oor kuns terwille van die kuns vals is, dat kuns daar is terwille van hom, dat die ware kunstenaar sy simpatie en ondersteuning wil verkry en nie net sy mede-kunstenaars s'n nie.

En as ons nou alle voorwensels laat vaar, vind ons dan nie dat dit die waarheid van die saak is nie? Terwyl die kunstenaar òf tekere gaan teen die domheid van die publiek, òf onverskillig daaromtrent lyk, - in die grond van sy hart verlang hy na die goedkeuring van hierdie selfde domme publiek, wat hy ‘die onnosele goed’ noem.

Die groot kunstenaars, die Meesters, het nie ‘terwille van die kuns’ gewerk nie. Elkeen van hulle het 'n boodskap gehad om te verkondig en hulle hartstogtelike begeerte was dat ons dit sou aanneem. Het Rodin se ‘Denker’ nie 'n boodskap nie? Of Michelangelo se ‘Moses’ nie? Het Leonardo se ‘Laaste Awendmaal’ nie een nie? Of Beethoven se Vyfde Simfonie of Tolstoi se ‘Anna Karenina’ of Rembrandt se ‘Staalmeesters’ nie?

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 151

Nog die kampvegters vir die wagwoord ‘Kuns om die kuns’ nòg diegene wat beweer dat kuns niks met etiek uitstaande het nie, sal durf sê dat hierdie nie groot kunswerke is nie. Het Kottler 'n boodskap? Ja, maar hy het dit nie hardop verkondig nie, want ons wil dit nie hoor nie. Dit is in sy hart, maar hy is te fyngevoelig om meer te doen as dit net vir 'n paar te fluister. Hy sou ons van die Skoonheid wat Afrika is, vertel het, as ons hom net die kans gegee het. Hy het vurig begeer om ons die werklike Suid-Afrika te toon, naak en maagdelik en onbederf deur die knoeiende hande van wat ons beskawing noem; maar ons wil nie die regte, naakte Afrika sien nie. Ons gee die voorkeur daaraan om hom in Europese kleredrag uitgedos te sien. Ons het Afrika weggesteek. Ons het sy ruwe berge met uitheemse bome beklee, net soos ons die glansende liggame van sy mans en vrouens in kleurlose, vuil, afgedraagde klere gesteek het. Ons is besig om hom so goed te beskaaf, dat daar nooit Suid-Afrikaanse kuns (soos ons van Franse, Vlaamse of Italiaanse kuns praat) kan wees nie, maar net ‘Kuns in Suid-Afrika’. 'n Eie nasionale kunsvorm kan alleen opgroei waar dit die eie nasionale kenmerke van die land en die mense weergee. In alles wat met kuns in verband staan, is ons nie Suid-Afrikaners nie; ons is nog maar net in-Afrika-gevestigde Europeane. Is daar g'n boodskap in Kottler se ‘Rustende Meidjie’ (No. 1), wat uit die stam van 'n sipresboom gesny is nie? Ons het hom nooit die kans gegee om vir ons die een of ander boodskap wat hy miskien het, te gee nie, omdat die werke van hom wat uiting daaraan gee in sy ateljee bly, sonder enige tasbare teken van waardering. Hulle kry nie kopers nie. Sy ondersteuners het net portrette van hom verlang. Sy heel eerste ondersteuner was die Verteenwoordigende Raad van die Stellenbosse Studente wat die opdrag gegee het vir die brons borsbeeld van Generaal de Wet. Sinds die tyd het Stellenbosch ook die brons borsbeeld van Professor de Vos gekoop. (No. 5.) Hy het portrette gemodelleer van die Goewerneur-Generaal, van Generaal Hertzog (No. 2), Lady de Villiers, Regter Japie de Villiers, Mnr. H.C. Hull (No. 8), Sir George Cory, Rabbie Bender, Eerw. Andrews (No. 4), Mnr. C.J. Sibbert, e.a., en het 'n groot aantal pragtig-mooi portrette van kinders voortgebring. Kottier slaag altyd daarin om 'n pakkende en absoluut sprekende gelykenis te kry. 'n Mens kan jou nie in sy sitters vergis nie. Maar bowenen buitendien gee hy ook nog 'n essensiële uitdrukking van die temperament van sy onderwerp, soos 'n mens met een oogopslag kan sien by die de Villiiersen Hull-portrette.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 152

Kottler is egter nooit tevrede om net 'n goeie gelykenis te kry nie. Hy streef daar net so ernstig na om 'n gevoel van ritme en harmonie van lyne en omtrekke te gee. Hierdie eienskap ontbreek by g'n een van sy werke nie. Dit is hierdie eienskap wat 'n werk van hom vir my altyd 'n voorwerp van skoonheid maak. In sy portret van Lady de Villiers en van Mej. Ruth Prowse word hierdie eienskap in die hoogste graad vertoon, asook in sy ‘Hottentot Meidjie’, hier gereproduseer. (No. 5). Ons het in ons midde (miskien by die tyd wat dit in druk verskyn, sal dit wees: ons het in ons midde gehad) 'n kunstenaar wat al hierdie jare beskeie geleef en gewerk het in die klein ‘Lodge’ van ‘Wynberg House’, in die skaduwee van Tafelberg se ruwe rotse en hoë boom-gange - 'n kunstenaar wat ons veronagsaam het omdat hy nie die gawe besit om homself te adverteer nie. BRANDER.

Kunsnuus.

G.W. PILKINGTON. Tentoonstelling van Skilderye 15 Mei tot 31 Mei. Gallery: Herbert Evans, Pritchardstraat, Johannesburg.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 153

Musiek.

Waarom Suid-Afrika agter staan by ander lande.

JAAR in jaar uit hoor 'n mens dieselfde versugting: ‘Daar bestaan geen musiek in Suid-Afrika nie. Wat daar nog is, word gewaardeer omdat dit deur 'n Afrikaner, of 'n Engelsman wat hom hier gevestig het, geskrywe is, maar vir die buitelander het die op Afrikaanse bodem gewrogte musiek maar min bekoring, met net 'n paar uitsonderings.’ Van bevoegde kant is daar reeds op gewys dat 'n land onmoontlik 'n eie kuns kan voortbring as die Staat nie met geldelike hulp bystaan nie. Natuurlik, ons weet dat Afrika nog 'n baie jong land is, en uit hierdie oogpunt beskou sou die wens te voorbarig kan genoem word. En tog, as ons bedink wat 'n hoë standpunt dié lande inneem wat vir hulle kuns 'n Staat-subsiedie verkry, dan voel ons dat invloedryke persone genader dien te word om alles wat moontlik is in die werk te stel om 'n Staat-subsiedie te verseker.

'n Deel van die musikale publiek deur heel Suid-Afrika wat 'n eie kuns ter harte neem, maar die middele mis om die bevordering aan te moedig, vind dit 'n pragtige geleentheid vir die ryke. Dog ek betwyfel of die ryke daarvoor te vinde is; hulle kies gewoonlik 'n ander terrein vir hulle weldade. En tog, 'n nasie wat sy talentvolle mense geen aanmoediging gee nie, sal ook nooit 'n eie kuns hê nie. Met die talentvolle bedoel ek komponiste. Uitvoerende musisie het ons genoeg, maar dis skeppende kunstenaars wat Suid-Afrika nodig het. Die uitvoerende kunstenaars moet nou bykans al hulle musiek uitsluitend van ander lande neem, terwyl 'n artiest van Frankryk, Duitsland, Engeland of Rusland, 'n hele program kan opstel met musiek van sy eie land. Waarom het Rusland gedurende die laaste vyf-en-twintig jaar so op die voorgrond gekom? Omdat omtrent 1865 'n vrye skool opgerig is met die doel om nasionale musiek aan te moedig. Nie een van die komponiste wat op die vrye skool gevorm is, het aanvanklik musiek as sy loopbaan gekies nie, maar die Staat het dié wat talent getoon het, aangemoedig en geldelik gesteun, sodat die uitslag vandag is dat 'n mens vir elke geleentheid 'n ruime greep uit die Russiese musiekvoorraad kan neem. Komponiste soos Borodin, Tschaikovsky, Moussorgsky, Strawinsky, sou miskien nooit bestaan het nie as dit nie was vir die Staat-subsiedie nie.

En Frankryk? Hulle jaarlikse ‘Prix de Rome’ word verstrek deur die Staat. Elke jaar word aan die mees belowende komponis, te oordeel na

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 154 ingestuurde werke, 'n verblyf van drie jaar in Rome verskaf. Elke jaar moet hulle bewys lewer, in die vorm van 'n komposiesie van hulle vorderings. Die Staat het aan alle Franse komponiste in hul studietyd 'n ‘Prix de Rome’ toegeken, met uitsondering van César Franck, wat eers op sy vyftigste jaar sy eerste belangrike werk geskryf het: Symfonie, in d mineur. Was dit nie vir die ‘Prix de Rome’ nie, die wereld sou nooit die ‘Carmen’ besit het nie.

Daar is nie 'n kuns wat so 'n wye en onmiddellike beroep op die mensheid doen as musiek nie. Musiek spreek tot die harte van dié mense wat nooit geleentheid het om die taal van poësie en skilderkuns te leer nie. Onder die volk kan ons duisende mense vind vir wie musiek 'n deel uitmaak van hulle lewe, maar vir wie ander kunste 'n geslote boek is. Musiek is, sonder mededinger, die kuns van die volk, en dis een van die goedkoopste dinge in die wêreld, 'n Subsiedie van die Staat is miskien 'n saak van die toekoms, maar 'n private geldelike steun vir 'n studie van drie jaar in Europa kan 'n seën vir die land word.

Miljoenêrs in Amerika sal enige som geld gee vir kuns. Hulle steun operas, orkeste, garandeer konserte, verskaf veelbelowendes 'n deeglike opleiding, ens. Want 'n deeglike opleiding, van meet af aan, tot in die kleinste onderdeel is die artistieke taak van hom wat hom geroepe voel om musiek te skep. Die kunstenaar kan nie sonder beheersing of nadink aan sy gevoel die vrye loop laat nie; die kuns eis tweevoudigheid; deur die organisme van sy persoonlikheid moet hy teorie en gees verenig. Skilderkuns en plastiek beeld die stof; die digkuns ontstaan in 'n denkbeeldige voorstelling. Die musiek, egter, kan nie 'n denkbeeldige voorstelling hê nie, ook nie uit stoflike voorwerpe opgebou word nie; dis 'n hoëre openbaring. Gelukkige land wat die waarde hiervan weet te erken! Gelukkige land wat die middele het om geestelike besit gemeenskap van sy volk te maak!

JOH. LUYT.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 155

Kerkmusiek.

IN die volgende beskouing sal nie die geskiedenis van die kerkmusiek in die algemeen behandel word nie, want om dit ook enigsins kompleet te doen, sal verskeie boekdele nodig wees. Hierdie artiekel sal, met enige klein uitsonderings, beperk bly tot die musiek in gebruik in die Afrikaanse kerke.

Die Gemeente-gesang, die Koorsang en die Orrelspel.

Voor ons die drie faktore nader ontleed, sal 'n kort beskouing omtrent die posiesie van musiek in die algemeen by die godsdiensoefening nuttig wees. Sonder twyfel speel die gesproke woord die belangrikste rol in die diens en dis ook reg. Die gesproke woord sou egter maar in geringe mate die doel bereik (n.l. stigting en opbouing), sonder die hulp van die kuns. Die omgewing b.v. waar die hoorders in is, kan baie aan die stemming af- of toedoen. Is dit 'n mooi, rustige gebou, dan is die stemming gewoonlik reeds ernstig. Die wat 'n aktiewe aandeel aan die kerkdiens neem, soos die predikant, die diakens en die koster, is stemmig aangetrek, want die mens vereis van nature 'n seker mate van harmonie tussen die uiterlike en innerlike.

Daar word heelwat sorg en moeite aan hierdie punte bestee om die kerkdiens aan sy doel te laat beantwoord. Word dieselfde hoeveelheid sorg en aandag bestee aan die musikale gedeelte van die diens? Gevoel die leiers en die gemeente bewus die noodsaaklikheid van goeie en goed versorgde musiek by die diens? In ons Afrikaanse kerke is die saamsing van die gemeente die belangrikste faktor van die musikale deel in die diens. Waar dit dus die meeste aandag behoort te verkry, sou 'n mens kan verwag, dat die standaard taamlik hoog is. Die teendeel is die geval, en die merkwaardigste is nog wel dat min mense bewus is van die treurige toestand van die gemeentegesang. Dit het naamlik tradiesie geword om die Psalm- en Gesangwysies op 'n seker manier te sing, wat ons in kort as volg kan saamvat. Daar is nie frasering nie; die betekenis van die woorde word totaal verwaarloos; elke lettergreep kry dieselfde toonwaarde, waardeur selfs klemtoon of aksent uitgeskakel word. Alles word ewe hard gesing, en as daar een voorbeeld is waar die gemeente wel sagter sing, dan bevestig die uitsondering juis die waarheid van die bowestaande. Immers, daar is baie gesange wat op dieselfde wysie gesing word; as die toongradering wat van toepassing is op een van die gesange met veel

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *13

KOTTLER. 8. H.C. HULL (Klei).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 156 moeite aan die gemeente geleer is, in 'n geval b.v. waar die eerste paar reëls 'n lofsang en die vervolg 'n gebed is, dan sing die gemeente in die vervolg orals waar dieselfde wysie gebruik word, dieselfde toongradering, of dit nou paslik is of nie. In poësie eindig elke sin nie altyd aan die end van 'n reël nie. Tog hou die gemeente heeltemal op as hul aan die end van 'n reël uitkom, haal diep asem en begin met nuwe moed aan die volgende reël. Dis duidelik dat verder betoog oorbodig is. Die kerkkoor, waarvan die invoering in ons kerke te danke is aan die invloed van die Engelse kerke, is 'n groot stap in die goeie rigting. Dis nie te verwag dat met die materiaal wat die orreliste ten dienste staan, in so'n kort tyd die ideaal sal bereik word nie. Tog, as alle gemeentelede wat oor 'n draaglike stem beskik en musiek kan leer, hul beskikbaar wil stel, sal die koor 'n baie belangriker plek kan gegee word in die diens. Hul werk behoef dan nie beperk te bly tot een eenvoudige nommertjie per Sondag nie. Daar is 'n skat van gewyde musiek waarvan gebruik gemaak kan word, maar dit sal alleen dan kan gedoen word, as die kerkkore bestaan uit ‘sangers(esse)’ en onder goeie leiding staan. Die orrelspel, wat ons tenslotte noem, beklee wel die mees beskeie posiesie, wat eensdeels te wyte is aan die oorheersing van die gesproke woord, en ook (gedeeltelik) aan gebrek aan kennis en vaardigheid van die orreliste. Ek haas my om hieraan toe te voeg dat die orreliste daar nie altyd voor te blameer is nie. Die meeste mense verkeer onder die indruk dat, solank iemand 'n psalm of gesang, en bowedien 'n sagte stukkie kan speel by die begin en end van die diens, die persoon geskik is om as orrelis diens te doen. Dis logies dat, hoe laer die eis, hoe laer die trap van vaardigheid.

Dis in kort ongeveer die posiesie van die musiek in die kerk. As ons daar nog byvoeg dat by 'n groot deel van die publiek die musiek by die diens as 'n lukse gereken word, dan meen ons dat ons nie te veel gesê het nie.

Dit gee 'n mens 'n skok as hy daaraan dink dat ons kerke al 'n paar eeue bestaan en die godsdiensoefeninge gedurende al die tyd op byna dieselfde manier gehou het. Maar dit word amper onbegryplik as ons die kerkmusiek van die 15e en 16e eeu bestudeer. Daar vind ons meesterwerke van Palestrina, Orlando Lassus e.a. wat in innige vroomheid, maar ook in kunstige saamstelling hul weerga nie vind nie. En ‘daardie’ musiek is deur die kerke gebruik. Waaraan is die geweldige agteruitgang dan toe te skryf? Die antwoord is: ‘Aan die Hervorming’. Voor die Reformasie was die enigste kerk die Roomse kerk. Laat ons sien, watter posiesie die musiek beklee het in die kerk, voor die Hervorming. Die posiesie van orrelis en koordirigent (dikwels ook komponis) was een wat alleen beklee is deur seer begaafde

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 157 en bekwame manne. Hul het al hul tyd en krag gewy aan die kerkdiens, deur daagliks die koor te oefen, hulself te ontwikkel en gewyde musiek te komponeer. Daar was nie tyd vir privaat werk nie. Die koor het bestaan uit beroepsangers en die gemeentegesang het beperk gebly tot samekomste buite die hoofdiens. Al die faktore in oorweging geneem, is dit begryplik dat die kerkmusiek van die dae tot 'n ongekende hoogte kon opgevoer word. Toe het die Hervorming gekom met Luther in Duitsland en Kalvyn in Frankryk. (Waar ons kerkmusiek nou verwant is aan die Hollandse, sal 'n ondersoek na die Hervorming in Holland noodsaaklik wees.) Soos bekend is, het die grootste deel van die Hollandse gemeenskap onder invloed van Kalvyn gekom; 'n klein deel onder die van Luther. Luther, wat in prinsiepe nie vir afskeiding was nie, omdat hy 'n oop oog gehad het vir die goeie punte in die R.K., was 'n groot musiekkenner en liefhebber. Dis aan hom te danke dat die Duitse kerk musikaal ver bokant die Kalvinistiese kerke staan. By hulle speel die musiek 'n groot rol in die diens. (B.v. die Liturgie.) Hul gemeentesang is baie beter en die posiesie van orrelies is een wat baie kennis en vaardigheid vereis. Die Kalvinistiese groep het hulle skerper afgeskei van die R.K. en gepoog om 'n kerk te stig wat so min moontlik aan enige gebruik van die R.K. kon laat dink. So het hulle in die begin daartoe gekom om, in hulle strewe naar soberheid en eenvoud in teenstelling met die R.K. diens, so ryk aan uiterlike vertoon, alles wat uiterlik skoon is, te verwyder uit die diens. Die pragtige kerkgeboue, waardeur soveel kuns en arbeid ten toon gesprei word, is vervang deur kaal, onartistieke geboue. Die simbool van die kruis, wat op alle kerke te vind was, is deur 'n haantjie vervang. (By die Lutherse 'n swaan.) En al die musikale prag van die diens het verdwyn met die afskaffing van die mis. Vir die laaste het in die plek gekom die gemeenskaplik sing van psalms (later ook gesange). Die wysies van die psalms is grotendeels van Franse oorsprong en is oorspronklik ritmies gekomponeer... In die loop van die jare, en deur die oormatige gebruik van slegs 'n paar van die melodieë, het die ritme, 'n mens kan amper sê, uitgeslyt en die sinlose, betekenislose gegalm van vandag is die resultaat. Eerlik gesê, is die musiek wat die Kalvinistiese kerk in die plek gestel het van die gewyde kuns van voor die Hervorming, seker nie 'n verandering ten goede nie. Dit lê nie binne die grense van hierdie beskouing om die skoonheid in die kerk te verdedig nie. Dis 'n kwessie van dogma. Waar ons egter, deur in sekere mate die musiek toe te laat in die kerkdiens, bewys dat dit nie stry teen Kristelike beginsels nie, daar moet ons konsekwent wees en nie tevrede wees met iets minder as die beste nie. Waar die skema van ons

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 158 kerkdienste nie vergelyk kan word met die van voor die Hervorming nie, daar kan ook die vorm van kerkmusiek nie sonder meer oorgeneem word nie. (Strik beskou is ons dienste nie ‘Eredienste’ nie, maar ‘Leerdienste’.) Dit weer was maklik begryplik in die eerste dae van die Hervorming, toe die mense nog verstandelik ingewy moes word in die betekenis van hul godsdiens. Maar nou dat daar in byna alle lande godsdiensvryheid bestaan, kan die Sondag opsy gesit word vir godsdiens en kan ander dae gebruik word om die mense te onderwys in skrifverklaring. As aan die musiek die plek toegeken word in die diens wat dit toekom, dan behoort die diens ongeveer as volg gereël te word: Die voorspel by die begin van die diens moet deur die orrelis en gemeente beskou word as deel van die diens. Dit behoort n.l. die gemeente in die vereiste stemming te bring, wat dan insluit dat die orrelis en predikant moet saamwerk. Die gemeente moet die stuk rustig aanhoor en nie die geleentheid waarneem om te sit en rondskuif en hoes tot die predikant inkom nie. Elke gesang behoort deur 'n goeie koraalvoorspel voorafgegaan te word. Dis 'n kuns wat hier totaal onbekend is, ja, deur 'n seker deel van die gemeente as ongewens beskou word. Tog is ook dit weer 'n middel tot stigting en opheffing, wat nie ongebruik mag bly nie. Die koraalvoorspele van Bach, Brahms, Reger, Karg-Elart e.a. is voorbeelde wat 'n mens deur improwisasie nie naby kom nie. Maar 'n grondige studie van hierdie werke en die gebruik daarvan op orreluitvoerings, of as inleiding van 'n diens, sal orreliste en gemeente oortuig van die onskatbare waarde van 'n goeie koraalvoorspel. Dit berei die mense voor op die inhoud van die gesang of psalm en sal hul daartoe bring om die lied met aandag en gevoel te sing. Die gemeentesang moet in een woord ‘hervorm’ word. Dis nie nodig om nuwe wysies te maak nie. Die oues is baie beter as hedendaagse komponiste kan maak. Dit moet net gesing word, soos die komponis dit bedoel het; suiwer gefraseer, die toongradering gereël na die teks. Die kerkkore moet bestaan uit die beste sangers van die gemeente en hul moenie bang wees vir twee of drie oefenings per week nie. En die posiesie van orrelis moet - - - maar nee, ek is self orrelis.

GERRIT BON.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *15

WENNING. LOURENCO MARQUES (In die besit van Mevr. v. Elden, Pretoria.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 159

Die Nuwe Brandwag Tydskrif vir Kuns en Lettere

DEEL I. No. 3. PRETORIA-KAAPSTAD. AUG. 1929.

In Memoriam. Dr. Andries Gerhardus Visser. (1878-1929.)

‘Hier iewers op die vrye veld, Met geur van awendblom, Sononder op die wye veld - Laat hier... die Donker kom!’

MY oorlede moeder het altoos gesê: Die Dood is ook uitsoekerig’ - so sus 'n vrou en moeder haar smart in een van Grosskopf se dramas. Hoe kort nog maar die dag-lemier van 'n eie ontluikende volkskuns - en reeds staan ons in droewe gepeins geskaar rondom die graf van 'n te vroeg ontslape volksanger. Hoe klein nog maar die kring van begenadigde uitverkorenes wat die verlossing van ons volk aangekondig het uit geestelike slawerny, wat ons gemoed gestreel het deur die klank van eie taal, ons oë geopen het vir die skoonheid van eie natuur, ons volkstrots aangewakker het vir die grootsheid van eie verlede, ons volksideaal gesterk het vir 'n eie toekoms - en reeds moet ons een van hulle mis. Ja, dis waar - die dood is uitsoekerig, want hier het hy uitgesoek onder die uitgesoektes. En hoe oorbluffend plotseling. Net een enkele nag tussen lag en lied en... die stilte van die dood. Daarom kan van Visser inderdaad gesê word dat sy son

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 160 ondergegaan het terwyl dit, veral wat sy kunsloopbaan betref, nog vroeg-dag was.

Ek het nie die voorreg gehad om Visser persoonlik te ontmoet nie, maar uit ons briefwisseling sowel uit sy nagelate werke het ek hom leer ken en waardeer as 'n beminlike persoonlikheid, iemand wat jou onwillekeurig aangetrek het deur sy ernstige en nobele lewensopvatting, sy kinderlike godsdienssin, sy sprankelende vernuf, sy uitgesproke sin vir humor, sy lewensblye optimisme.

Daarby was hy 'n geleerde wat, naas sy liefde vir die mediese wetenskap, 'n veelsydige belangstelling openbaar het, veral ten opsigte van musiek en literatuur. Soos waarskynlik geen ander Afrikaanse digter het hy diep gedrink uit die kultuur van die oorsese lande, wat bewys word deur veelvuldige navolginge en bewerkinge van uitheemse motiewe en bronne. Maar by dit alles het hy tog in sy diepste wese die warmvoelende Afrikaner gebly wat so innig-roerend sy heimwee vertolk het in Terug na die Karo: -

Waar smôrens nog weerklink 'n lied Op stil-gewyde toon, En waar die Heer Sy seën gebied Omdat daar liefde woon;

Waar daar nog deur die lewe vleg 'n Silwerblanke koord; Die man eenvoudig en opreg En slaaf net van sy woord;

Die vrou nog trou aan haar gemaal, Gelukkig met haar kroos; Waar nog die seun sy perd opsaal, Die dogter nog kan bloos.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 161

Hier iewers op die vrye veld, Met geur van awendblom, Sononder op die wye veld - Laat hier... die Donker kom!

As ek Visser se eintlike betekenis vir ons literatuur met een woord moes karakteriseer, sou ek hom wil noem: die apostel van sonnig-stralende Lewensvreugde. Luister maar na sy Bede, byvoorbeeld, waarin hy smeek nie om 'n plek in die hemel nie, maar ‘'n Plekkie op die aarde weer, U nuwe aarde wat sal wees’: -

'n Heiligdom van boom en blom Waartussen voëltjies bly gesels, Klein armpies my nogeens omhels, Klein voetjies my weer teëkom.

Laat sag daar 'n Verskyning ruis Wat grasie, vreugde en skoonheid is, En liefdes soet geheimenis Bekoring bring aan hof en huis;

'n Bergtop in die vrye lug Met groue newels aan sy voet, Pers wolke wat die aandson groet; Wit swane op 'n verre vlug.

Laat lag en lied net soos weleer 'n Hemel huis vir liefde maak - Dit het ek reeds op aard gesmaak - Skenk ons die liewe aarde weer!

Nie dat Visser geen smart geken het nie, inteendeel. Sy huweliksmart was des te skrynender gewees, omdat sy huweliksliefde soveel innniger en teerder gewees het

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 162 as dié van die meeste prosaiese sterwelinge. Daarvan getuig o.m.:

'n Lied van marmer-wit gesig, Van dierb're oë sonder lig; Die liewe lippe bleek en kil; Die warme hart vir ewig stil;

Die hande op haar bors gekruis Vir lange rus in laaste huis; Madonna-lelies op haar skoot, O, kalme Skoonheid van die dood!

Die Heer het menige ligpaleis En daarheen sal haar siele rys, En daarheen volg my liefde haar na - Laetitia Beatifica!

Onverbreekbaar was die liefdesband, en daarom kon selfs sy diepste smart getemper word deur dankbaarheid ‘vir elke wonderdag van lewe, liefde en lag’, kon dit omgeskep word tot vreugde’, want Moedertjie kom elke nag, en nou is daar één Engel meer’: -

Wel weet ek - waar sy ook mag wees - Op sterrebaan, in ligpaleis, Daar kom 'n blydskap oor die gees, 'n Lig as van die Paradys.

Dis ondoenlik om Visser se digterlike werksaamheid hier verder in besonderhede na te gaan, omdat dit reeds elders gedaan is, maar op twee kenmerkende aspekte van sy kuns wil ek tog nog die aandag vestig. Die eerste is sy behandeling van Bybelse motiewe. Uit die inhoud van sy digbundels is dit duidelik dat hy uit 'n huisgesin kom waar die Bybel nog 'n ereplek ingeneem het,

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 163 maar wat hier veral tref, is sy besondere voorstelling van bekende gegewens, aangevul en verlewendig deur 'n sterk verbeeldingselement. Ek dink aan sy sonnette-reeks Die Offerande van Isak, waarin die simboliese betekenis van die offer so treffend belig word, en aan die kinderlik-digterlike tekening van 'n Knaap in Lank Gelede in Nazareth. Dan is daar sy humoristiese siening van Toe die wêreld nog jonk was, so lewenswaar dat ‘die Raadslid vir Jerusalem’ ten slotte in lewende gestalte voor ons staan as oertiepe van ons eie Boerebeskawing, waar hy op die dorp gaan woon vlak by die dokter en die predikant: -

En so verslyt Metusalem Sy ou-dag op Jerusalem, En drink en rook op sy gemak Sy koffie en sy pyp tabak.

Geestig is ook sy toepassing van Nat en Sap op die wingerdbedryf van Noag. 'n Twede genre, waarin die humoristiese element (wat dikwels oorslaan tot satiere) veel sterker verteenwoordig is, kan saamgevat word onder die benaming Puntdigte. Van hierdie digsoort kom verskeie reekse voor in albei bundels van Visser. Daaronder tref 'n mens sommige aan wat herinner aan 'n sewentiende-eeuse naamgenoot, nl. die lewenslustige Roemer Visscher; ander weer laat dink aan Huygens, maar meer nog aan Staring en De Génestet. Trouens, Visser het in sy onderwysersdae, volgens 'n mededeling in een van sy briewe, verskeie gedigte in Hooghollands geskrywe, waaronder 'n hekeldig teen die destydse Vereenvoudigde Spelling: -

‘Het zijn apen die nog redeneeren: De taal en 't volk gaan hand aan hand!’ Als 'n tiental wijzen konfereeren, Ach, wat vermag niet het verstand?

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 164

Als ooit 'n Babelsche verwarring Zuid Afrika tebeurt zou vallen, Zij maakten in 'n uur of wat Een taal verstaanbaar weer voor allen!

Hy het gemeen dit moes òf onvereenvoudigde Nederlands òf onvervalste Afrikaans wees. Maar al die dinge het hy later betrag met 'n gevoel van ‘Sla de zonden nimmer ga, die mijn jonkheid heeft bedreven’. Ten slotte 'n paar aanhalinge uit sy briewe wat die leser wellig sal interesseer.*) Ek laat hier volg sy eie relaas van sy geboorte, aangesien omtrent die plek nou al twyfel skyn te bestaan: - ‘Ek is gebore 1 Maart 1878 op Zaaifontein in die distrik Fraserburg. Weens die groot droogte van '77 moes my vader daarheen trek om veld te kry vir sy vee. Daar in die tuin onder 'n groot safraanpeerboom het oom Gert Visser my, na ek uit Europa terug was, die tentvloer gewys waar ek gebore is. Dit was spesiaal ingerig vir die geleentheid, omdat daar te veel jongmense in die groot huis was. Miskien daarom dat 'n tuin vir my nog steeds so 'n bekoring behou het. Dieselfde nag is daar 'n klein Du Toit op Zaaifontein gebore, en arme ou tant Wiesie wis nie waarheen nie. Maar met behulp van Moeder en tant Wiesie het ek hom gewen by vyf minute! Sit omen!! En die reën kom net daarna!’ Op 'n aansporing van my kant om sy prosasketse, waarvan twee in die Nuwejaarsnommer van Die Burger (1924 en 1925) verskyn het onder die tietel Gedaantes en Gedoentes uit die Karo, te vervolg en later in 'n buntel uit te gee, het hy o.m. geantwoord: - ‘U weet, medisyne is my wettige huisvrou en sy lê beslag op al my beste kragte en ure, en veel kans is daar nie om die Vriendin - die Kuns - op haar sonneheuwel te gaan besoek nie. Daarom sal my letterkundige poginge, vrees ek, in die woorde van

*) Sien Facsimile, bls. 165.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 165

Facsimile: UIT 'N BRIEF VAN A.G. VISSER, 23 Maart, 1925.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 166

Hullebroeck (toe hy die opbrengs van een van sy konserte betrag) ‘maar povertjes!’ bly. Nogtans, die weinige wat 'n mens doen is nie sonder eer selfs in jou eie dorpie nie. Nou die dag kom daar 'n pragtige donderwolk uit agter die Suikerbosrand, en ek sê aan 'n sekere persoon: Is dit nou nie presies so nie: -

‘Maar dit groei in die blou tot 'n stapelbou van marmer wat krul en leef!’

‘Ag nee, Dokter,’ sê hy, ‘daardie ou versie wat jy nou probeer maak, kom nie naby Waar Ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand nie!!

Ek hoop ek sal dit eendag aan J.F.E.C. kan vertel.’

Laat ons dankbaar wees dat Visser, in die kort tydjie wat hom gegun was, tog af en toe die sonneheuwel kon gaan besoek het. Die vergesigte wat hy daar gesien en die skeppingsvreugde wat hy daar gesmaak het en in klank en beeld vertolk het, sal vir ons 'n inspirasie bly tot in lengte van dae. REQUIESCAT IN PACE! Stellenbosch, Julie, 1929. E.C. PIENAAR.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *16

WENNING. KAFFERBASAAR.

(In die besit van Mevr. J. Giliam, 'n dogter van die kunstenaar, Pretoria.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 167

In Memoriam A.G. Visser.

Te kort die aanhef van jou digtersang, Te swaar die slag om swyend te verduur; Ons wou die spranke van jou digtervuur Vir jare nog so gretiglik opvang. So nodig was jy vir ons volksbelang, So onontbeerlik vir ons jong kultuur, Ons voel in hierdie droewe skeidingsuur Jou eerste lied was ook jou swanesang.

Maar vir Jou doel het jy genoeg gesing, Jou kragte aan 'n edel taal bestee; 'n Boodskap het jy aan jou volk gebring, Jou veelbeminde taal 'n lied gegee Wat tot ons diepste wese binnedring - Omfloers met rose van herinnering.

I.D. DU PLESSIS.

Kaapstad, 1929.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 168

See-Skoon.

I.

Ek het gesien as daeraad verskyn Oor Tafelbaai hoe wonderskoon die lig Verheerlikend die water kus In onuitspreeklik' rus, En ons deurskiet met skoonheid soos 'n pyn Wat onbevredig soek en immer soek En worstel met die drukkende gewig Van vrae ongeantwoord, ongeboek. II.

En skepe oud, Oud, roestig lê daar rustend diep tevree In skoonheid opgevang; romanties-vol Van awenture op die wye see En van gemeenskap, as groot golwe rol Met skim-gevaartes wat nog spook - wie weet? - Op gindse seepad woes: Ou skepe diep verroes Wat kragte met die storm se hartstog meet. III.

‘Daar is die see, wie sal sy kragte toom?’ So sing die Digter van ou Griekeland. En wie het van diè kragte ooit verstand? Want altyd, altyd, kreun hy vroed en vroom Of vloek, weerbarstig, wild, En wie sal ons sy Groot Geheim vertolk? Vanmore lag hy sag, welwillend - lui Vanmore is sy lag toegeeflik, mild, Sy duisend-liggies-lag

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 169

Asof hy op die punt was iets te fluister. Maar ou Lucretius het vergeefs gewag En Aischylos voor hom, en menigeen, Ja, en Plotinus... teer Vergilius - - Vergeefs verlangend het hul steeds geluister En nooit het hy aan hul 'n tolk verleen. IV.

Kon ek verstaan Wat tog die see vertel en steeds vertel En die verborge taal van al sy skoonheid, En half-gedagtes wat hy op laat wel Kon opbou, aanvul ooit, O, dan sou ek my ook 'n weg kon baan Verheerlik met 'n lig wat daar bestaan Op aardse velde nooit, Tot by die hart van al die Kosmies' lewe Waar al ons onvervulde diep verlange En alles wat ons harte nog voor bewe En al wat ons verstand laat rustloos strewe Sal rus, sal lewend rus; En ek voldaan, trillend bewus, Van al die onuitspreeklik' Wonder Wat om ons sing sy min-waardeerde sange En aansteek al die toorts van ons verlange Na oorde - eens gesien, wie weet? - daar vèr (Flou ons geheue soos 'n mistig' ster) Waarheen ons siel na lang, lang pelgrimsreis, Na storm die hawe, lig na blinde duister Sal vind, die Groot Geheim bekroon met eeuw'ge luister.

T.J. HAARHOFF.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 170

Die Terugkeer.

SO in sy kort velbaadjie en klapbroek; met sy waaier-vormige baard, tuitaartjies by die ore uit en met sy onbesorgde ruie wenkbroue, waaronder 'n paar goedaardige, dog kragtige blou oë van lewenslus en genot tintel; en met sy kragtige neus en ondeunde mond - so sit Kasper van Staden onder die beskutting van sy eie grasdakwoning vanaand weer in Schoemansdal, na sestien lang togmaande. En met 'n wegende pyp in die een hand, asof myl vir myl van 'n tog afgeweeg word, en met 'n kommetjie stomende koffie in die ander hand, vertel die togganger van Port-Natal, onderwyl die venstertjie links van sy breë skouer elke keer lig word, onder die val daarbuite van 'n sagte bui reën. In die middel van 'n seringhout-tafel word die pit van 'n flapperende kers in 'n lang-gedraaide koperkandelaar versigtig gesnuit. Daar is die voetval van 'n slavin nog êrens in een van die vertrekke van 'n rooisteenwoning. En behalwe vir die fors stem van 'n verhaler van gebeurtenisse op 'n lang handelstog tussen Schoemansdal en Port-Natal, is alles eindelik doodstil. Meisiekinders, op 'n groen klerekis, langs 'n veldtafeltjie, waarop 'n brons koffiekan met tessie rus, sit gretig en luister. Ook word daar groot aandag gegee deur 'n klomp ondeunde seuns daar langs die kerfblok op die riempiesbank, waarvan die tabakbruin hout so netjies en kunsmatig uitgelê is in ivoorsterretjies van verskeie groottes, in swart vierkantjies en ligbruin langwerpige blokkies van boekenhout en in ander versierings tot verfraaiing van die eenvoudige meubelstuk. En teen 'n gewitte muur, versier deur rooimienie-blousel-nastergal gekleurde blomme en spatsels, hang die voorlaaier, sowel as die groot krom buffelhoring - kruithoring, in breë reguit en krom swart skaduwees, rustig en onopgemerk. Maar elke keer, wanneer die gewonde seekoeilbul die nuwemaan-nag op die trekdiere aan die jukke skrikmaak en verdrywe word, word die ou wapen en dan deur vroegtydige koeëls belet word om 'n ligte vaartuigie met jagters en al in oop kake te verbrysel; of krokodille listig saamtrop; of brullende leeus die trekdiere aan die jukke skrikmaak en verdrywe word, word die ou wapen en kruithoring so teen die geblomde muur skielik opgemerk en deur kinderoë gadegeslaan in stille dankbaarheid: Die weerligvlam in die venster word elke keer opgemerk. En met haar glansende bos rooibruin hare, en met haar lang wit vingers van die een hand teen die slaap van 'n skuinsgehoude hoof gekniel, sit die skoondogter van

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *17

WENNING. SELFPORTRET.

(In die besit van Mnr. D.C. Boonzaaier, Newlands, K.P.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 171

Natal, Kasper van Staden se oudste seun se jong bruid, peinsend langs haar bruidegom op 'n mooi versierde rusbankie daar by 'n gloeiende kaggel van 'n rooisteengebou se voorhuiskamer.

Maar die simpatieke vrou van Van Staden, die bekende togganger van Schoemansdal, het alreeds opgemerk en nie gewag nie. Sy staan op, tree oor en gaan haar hand op die skouer van haar skoondogter strelend neerlê, om saggies te fluister: -

‘Beur op, Helena. Beur op, my kind. Jy is nou ons skoondogtertjie en so goed as ons eie liewe kind. Aanstaande jaar as die jag in die skietveld daaronder aan Sabie en Loendie geluk, en die handelwaens weer met ivoor en heuning en spek gelaai is, dan gaan jy met klein Kasper saam om jou liewe ouers in Pietermaritzburg te sien, gehoor, my kind?’ Watter trooswoorde vir 'n vèr-verwyderde verlangende? Tog elke keer, as die donker venstertjie lemoenbome daarbuite vertoon, dan voel klein Kasper dat sy jong gehude vrou peins na die Drakensgebergtes, waaroor diéselfde weerligvlammetjie van vanaand saans in die verlede altoos oorgewink het, agtertoe na ou Naa-tal. ‘As die Heer in ons harte woon, Helena,’ so sê die troostende moeder van die bruidegom weer vir haar skoondogter, ‘moet ons nie omgee waar ons woon nie: of dit nou hier in die afgeleë oord is of daar vèr by die seewater; of dit nou in 'n hartebeeshuis is of in 'n paleis - dit moet nie saak maak nie.’ 'n Klompie skaapwolkies, waardeur die maan gedurig klim, lê oor die swart grasdakhuis van die van Stadens in Schoemansdal vanaand. Die motreën is bedaar. Diekant staan die lemoenboord nat, stil en alleen. Onder sulke bome het Helena en haar vader so menige keer gewandel. Of as oom Fanie Minnaar, haar pappie, gesit en lees het op een van die groot stamme, het sy en die meidjies, Dolfina en Martien, op die kweekgras altoos rondgejakker. Statig en deftig, so in haar geblomde ylblou krinolien, met die af en toe se glinster van die maanstrale op haar rooibruin bos geskeie hare, is die bruid langs haar bruidegom eindelik daarbuite vanaand in 'n wandeling in een van die strate van Schoemansdal, 'n beeld van skoonheid. Die paddakoor word in 'n watervoor gehoor. Die bruidegom stap nie alleenlik na ou Kassemier, die Portugees se winkel-toe nie, nee, maar hy neem sy bruid ook tegelyk saam om haar aanstons aan die bure voor te stel. Hoe fris is die môre op Schoemansdal na die terugkeer van die handelwaens van Port-Natal! Hoe opgeruimd almal na die verfrissende bui reën van die voornag! Donkerblou is die weer in die vroeë oggend agter die groen lemoenbome opgesteek, en vèrweg langs die noord-oostelike gesigseinder val die lentereëns, in 'n breë witskuinste, miskien as 'n belofte om aanstons

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 172 ook aan die strate van Schoemansdal weer verkwikkende waterstrome van 'n voorjaarreën te gee.

En tog is die wye-wye wêreld vanmôre vir die moeë toggangers 'n welkomsgroet in sonstrale. Soos soveel kristalle, tril die reëndruppels van 'n voornag op die groen blare van die bome. Die verkoelende wind uit die rigting van die Magatoeberge verstrooi die geur van oorryp perskes en appelkose en die rook van mieliestoppels en misvure van opgeruimde Kaffers by uitgespande waens orals op die werf. Onder in die vrugteboord kreun die takke van 'n swaar oes. Watter voorspoedige jaar! Tussen die tjilpende en kwelende vinke en blouborsies en sysies in die lanings, vlie die pieperjolle gedurig hier en daar rond, om adamsvy op adamsvy rooipêrs oop te skeur en vernielsugtig half te vreet en dan hulle krasse gedurig te laat hoor, asof in ondankbaarheid vir so'n oorvloed.

Die vrugte is ryp! Die weer is koel. Behalwe vir die geriffelde staalblou opdrifseltjies in die lug, soos soveel stroomgekerfde sandbankies aan die oewer van 'n rivier, is die lug wolkeloos. Watter vreugde is daar nie met die terugkeer van die handelwaens nie? Watter gewoel op die ruime agterplaas van die van Stadens? Net volk, waens hoog gelaai met ruilhandel in negosieware - en bulkende beeste orals! Die waens, wat in die begin van die grootreënjaar, sestien maande gelede, met ivoor en ander handelsware uit Schoemansdal Baai-toe vertrek het, is eindelik teruggekeer sonder ongeval. Voortaan sal die slagreëns nie meer teen die bokseile in afgeleë streke verneem word nie! Voortaan sal die koue winde nie meer gevoel word nie! Die tog is verby. En met sy koeël-ronde wange, rooi soos wyn, roep Kasper van Staden sy famielie bymekaar, om die een of ander geskenk uit verre Naa-tal te maak. Daar is 'n groot kardoes banket vir Sarie. En van sus Helena, boet Kasper se bruid, kom vir klein Sanna 'n aangetrekte pop - ag mensig tog! - en met so'n mooi glaaskoppie van geel haartjies en blou kykers. Hoe fraai! Die seuns verjaar tegelyk. Tot ou Siegman toe is nie vergeet nie. Tussen die vrolike kinders huppel die troue ou dienskneg ook rond, met 'n nuwe pyp in die mond, in die een hand 'n vuurslag met 'n blink tonteldoos, en in die ander hand 'n sak gekerfde matroos-tabak. Fransiska, die oudste dogter van Kasper van Staden, is só verheug oor haar presente, dat sy haar sus Helena en broer vir die soveelste keer toehardloop, om arms weer om halse te slaan en hulle herhaaldelik te soen, nieteenstaande haar ma se bewaring daarteen weens die reisigers se vermoeienis na die tog uit Natal Soutpansberg-toe! En só ingenome as wat Kasper van Staden se vrou op die eerste oomblik van omhelsing met haar skoondogter was; so tevrede en in die skik weer is die kinders met hulle nuwe suster, want die Natalse bruid van Ouboet is

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 173 mos só aantreklik. Sy is tussen donker-wit, 'n slank geboude vroumens, met fyn-besnede gelaatstrekke. Sy is persoonlikheid vanself. 'n Mooi vrou! En tog het Helena met haar grys gespikkelde oë effens oormekaar gekyk, dog die tekortkoming het haar gelaatstrekke meer gepas as bederwe. Die twede dag van terugkeer is verby. Die famielie van Staden vergaar weer na aandete om die hoof van die huis. En vanaand word die luidrugtigheid van die seuns op die markplein, soos gewoonlik, nie verneem nie, nee, hulle luister vanaand hier op die agterstoep van oom Kasper se woning, soos die bure, met die grootste aandag na al die wedervarings gedurende 'n lang reis na Port-Natal. Klein Kasper, met sy songebruinde gesig, sy ondeunde glimlaggie, dartelende oë en gitswart baardjie, sit langs sy bruid, en verhaal op beurt van die klomp leeus daarvoor in die sandkol in die trekpad agter die Drakensberge, en hoe die ongediertes die waens vir byna 'n hele dag opgehou het, deurdat die trotse swartvoorlywe hulle rolplekke met hulle goudgeel wyfies nie wou verlaat nie. Maar Kasper van Staden blik sy seun ernstig aan, na die verhaal van die gebeurtenis, en begin te vertel van die ergste wat op tog gebeur was. Met angstige gesigte luister vrou, kinders en bure aan, hoe die vol Toegela een van die waens met ivoor en osse weggespoel het. Daar kom sugte van jammerte en medelye onder donker tabakwolke op die agterstoep van die grasdakhuis. Nie één olifantstand of vaatjie heuning of spek is van die verongelukte wa gekry nie. Tande, soos van tagtig pond gewig, behoort tog in die walle vas te steek! Maar die arme, hulpelose rooispan - - - ! Die handelsverkeer en toestand van sake aan die Baai word oormekaar onder die mans bespreek. Met die ellemboog, waarvan die rug van 'n geknoetse hand 'n gebaarde wang steun, sit Kasper van Staden, die onverskrokke jagter en togganger, en herhaal weer van die gebeurtenis van die ongeluk van die ivoor-wa in die Toegelarivier. Daar kom 'n diep sug eindelik uit sy breë bors, hy sit en nadink in weemoedigheid maar eindelik breek 'n glimlag oor sy aangesig. Die skade is vergoed. Want het sy seun nie vir hom en sy ou vrou 'n dierbare flukse skoondogter meegebring nie - 'n agtermekaar meisiekind uit ou Naa-tal? En die nag in die jaar 1856 in ou Schoemansdal, droom 'n jongman in 'n lang rooisteenhuis, met 'n swart grasdak, waaroor die kwart van 'n silwer maan hang, van brullende leeus, wrede krokodille en vol riviere. En die nag toe hy ook van die ontmoeting van 'n skone meisie droom, draai hy hom met 'n glimlaggie in sy bed om en om, langs 'n slapende moeë Natalse bruidjie.

LEON MARE.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 174

Gee My.

Gee my 'n koppie in die kaal Karo Waar aalwees waghou oor die asvaal veld Totdat die droogte breek, en teen die hang Die vygies juig met een groot kleur-gesang; Ek wil die langsteel-garingbome sien Wat uitstaan teen die ondergaande son, Terwyl die sweep se voorslag klap van ver Waar vetstert Afrikaner-skape blêr En staan-staan oor die bulte kraal-toe wei Terwyl die rooi stof oor die kudde hang. Ek wil die bobbejaan verskrik hoor kla As hy uit turksvy-laning word geja; Gee my die gannabos en botterboom Die wit pendoring langs die spruit se wal, Die melkbos met lanterns aan elke tak Die plakkie sierlik prykend in die vlak; En O, die glorie van sonsondergang As wolke dik lê aan die Westerkim; Dis goud en purper, pers en diepste rooi Wat hy op hierdie kanopie uitstrooi Totdat die pragkleur breek, en stilletjies Versag in teerste blou en karmosyn - Dis nag in die Karo! O Wonderuur! Die Suiderkruis hou wag oor sy gebied; Luister - daar skreeu 'n kiewiet; en wild-droewig huil 'n Jakkals om die kraal waar skape skuil. Gee my die krag van die Karo - die forse lyn Van ysterklip en kaal Kareedoringstam;

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 175

Die wyn-lug wat oor wye vlaktes waai Met allerhande kruie-geur belaai. Ek wil die springbok oor die pad sien spring Wanneer die kapkar oor die rant uitslaan; Die draaghout op die disselboom hoor kap En perdepote wat in die gruispad klap. Gee my die aandblom met haar heuning-geur En gousblomplate wat die heuwels dek; Gee my die woorde om dit te prys; en O, Gee my die grootste gees van die Karo!

I.D. DU PLESSIS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 176

Dans. (Na die Hebreeus van David Frishman.)

(Die weeropbloei van die Hebreeuse taal en letterkunde sedert die end van die agtiende eeu het verband gehad met 'n stryd teen en afwending van Rabbinistiese formalistiek, wat die godsdienstige en maatskaplike Joodse lewe in 'n dwangbuis van ritueel geknel het. Soos Luther oor die kerklike tradisies heen teruggegryp het na die briewe en verhale van die Nuwe Testament, so het die Joodse herlewing oor Middeleeue en Talmud heen sy voedingsbodem gesoek in die verhale en figure van die Ou Testament, in die oerkragtige en fris-natuurlike lewe van Ou-Israel. Hoewel Frischman geld as een van die mees Westerse, Europese van die moderne Hebreeuse skrywers, het hy wel in hierdie skets seker die felle gloed en geheimsinnig-magiese agtergrond van die Ou-Oosterse lewe goed aangevoel en in primitiewe verhaaltrant treffend weergegee. Ook in hierdie verhaal word die taal so eenvoudig moontlik weergegee soos in die oorspronklike Hebreeus.)

MY moeder het die storie verneem van haar moeder, en haar moeder van haar moeder, en haar ouma van haar ouma, en haar ouma van haar ouma, geslag van geslag. En my moeder het die storie aan my oorgelewer. In die tyd toe die kindere Israels uit Egypte getrek het was daar onder die uittrekkendes 'n man van die ‘vermengde volk’, mooi van gestalte en mooi van gesig, en sy naam was Poet, en al die vrouens en al die jongmeisies van die een ent van die laer tot die ander ent het die hele dag na hom gekyk. En in die nagte, as hulle op hulle beddens lê, sien hulle hom in hul drome. In daardie dae het vir hom gesien 'n jongmeisie uit die kindere van Gersom, uit die geslag van die halwe stam van Manasse, en haar naam was Timna. In daardie oomblik het haar gesig rooi geword, en daarna het dit baie bleek geword - - - en sy het hom liefgekry. En in daardie wonderlike dae was die hemel nog nuut en blou, duisendmaal duisend keer meer as dit nou is, en die aarde was nog fris en groen, duisendmaal duisend keer meer as dit nou is, en ook die liefde was sterk en geweldig, duisendmaal duisend keer meer as dit nou is. En die seun het agter die jongmeisie aangeloop, en agter haar tent het ook hy getrek van staanplek tot staanplek. Toe sy getrek het van Ramses na

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 177

Sukkot, het hy swyend agter haar getrek, en as sy trek van Sukkot na Etam het ook hy swyend agter haar getrek, en as sy trek van Etam na Pi-Hagirot, toe het ook hy swyend agter haar getrek. Soos die skaduwee, wat op die wand is, het hy agter haar getrek. In Pi-Hagirot kom hy op 'n keer in die môre na haar toe, op 'n oomblik dat die son baie-baie skerp skyn, en hy gee vir haar 'n ringetjie, gemaak van gedrewe goud, en hy skuiwe dit aan haar vinger. Toe kom die sonnestrale af op die ring, en die ring baai in die menigte van lig, en hy flits en straal op al wat rondom is. Op daardie oomblik buig die seun sy hoof oor haar, en hy soen haar hartstogtelik en lank, en ook die meisie soen hom, - en die swart en groot oë van die meisie was nog tweemaal groter as hulle gewees het. En van Pi-Hagirot het hulle nog saamgetrek na Migdol, en na Mara, en na Elim, en na die Skelfsee, en na die woestyn Sin. Oordag het die son op hulle geskyn om te beswyk, maar hulle het dit nie gemerk nie; en snags het hulle gelê in die poort by die ingang van die tent, op die drempel, sy linkerhand onder haar hoof, en sy regterhand op haar hart; en hulle het geen woord gesê nie. In die woestyn Sin het die seun plotseling verdwyn, en hy is nie meer gesien van die een ent van die laer tot die ander ent nie. En daar was baie mense wat gesê het: sy siel het plotseling van haar vervreemd geword, en hy is teruggekeer na Egipte. Maar die meisie het dit nie geglo nie. In die môre het sy opgestaan, en na die ring gekyk, en haar swart groot oë het tweemaal so groot geword. In die middag het sy die ring geneem, en daarna gekyk, en altyd maar gekyk, en altyd maar gekyk. En in die nag het sy hom onder die kussing gelê, en sy het gedroom, en sy het die ring gesien in haar droom. Enigeen aan wie 'n ring soos hierdie behoort - hy behoef nie bang te wees nie, en hy behoef nie neerslagtig te wees nie, en eingeen wie 'n ring soos hierdie gee - hy sal nooit kan lieg nie. Dit was maar net 'n toeval; gou-gou sal hy terugkeer. Maar die seun het nie teruggekeer nie. Toe hulle kom in Dofka, het die vrouens en die jongmeisies van die hele laer na haar gekyk, en hul het oor haar gefluister in die geheim, en hul oë was vol spotterny en venyn. Maar die meisie het op hulle nie gelet nie. Hier is mos die ring, wat hy vir haar gegee het, en die sal nie lieg nie. Die ring het vir haar die inhoud van haar lewe geword. En toe hulle kom by Aloes, ook toe het die seun nie teruggekeer nie. 'n Lang rimpel het in één nag opgekom op haar voorhoof, en het dit oor sy hele lengte in twee gedeel, en haar groot oë het 'n waas bedek. Plotseling het uit die aarde ontspruit 'n swyende en duistere en sware kommer, en dit

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 178 het hom geleër rondom haar aan alle kante. Die vrouens wat haar sien, hou plotseling op om haar te bespot, maar hulle praat vriendelik met haar. En in hul oë verskyn trane as hul praat. En die meisie het niks gedoen nie as telkens te kyk na die ring wat aan haar vinger is; en dan het sy gelag en dan weer gehuil, en dan het haar oë lig geword, en dan weer het sy die deur agter haar toegesluit, en sy het haar verberg, so dat niemand haar gesig kon sien nie, en dan weer het sy opnuut gehoop. En toe hulle in Rafidim kom, toe was die dae eensaam, en die nagte was baie eensaam. En sy het maar net gewag, gewag. Op die môre van 'n seker dag het sy opgestaan, en het die spieël van gepolyste koper geneem, en sy het daarin na haar gesig gekyk, en sy het gesien dat aan haar slaap 'n wit haar gekom het - en sy het die haar met haar vingers uitgetrek. En die vrouens en die jongmeisies het nou baie vriendelik teenoor haar geword, en het haar probeer troos, om haar te bemoedig en haar sterk te maak; maar sy het dit amper nie gehoor nie. Net het sy die ring vasgehou met al haar krag, en dit vaster om haar vinger geskuiwe. En dikwels het sy geglo, dat die ring niks anders was as die seun nie, en sy het hom met haar hand omhels. En dikwels het haar gedagtes deurmekaar geraak, en sy het nie geweet of die ring haar verlaat het en Poet nog by haar was nie, of dat Poet haar verlaat had en die ring nog om haar vinger was. So het hulle gekom in die woestyn Sinaï. En die meisie het van dag tot dag die ring vaster gehou. Die ring was vir haar haar lewensadem, waaraan haar sielsbestaan hang, en al wat in hierdie siel was. Al haar drome en al haar begeertes was bevat in daardie ring. En die ring het vir haar 'n talisman geword, 'n amulet, 'n gedurige lig wat die duisternis verhelder. Al wat haar oorkom het, en wat nog oor haar sou kom, al dit het sy saam gemeng in die ring. Al die dae dat sy hierdie ring nog het, het sy nog alles, en kan sy nog hoop. En by al die kwaad wat haar getref het, het sy nog begeerte gehad om verwagting te koester. En in die woestyn Sinaï het daar in daardie dae groot en wonderlike dinge gebeur wat die aandag van die hele volk afgetrek het van die alledaagse gebeurtenisse, en wat al sy aandag in beslag geneem het: God is gegee aan die volk! Drie dae, nag en dag, het heel die berg Sinaï gerook, en die volk het elk in sy huis moet bly, en hulle het hul geheilig en gereinig en hul klere gewas. En die geluid van basuine het gegaan en al sterker geword, en daar was donderslae en vuurfakkels en groot bliksemstrale drie dae lank, nag en dag, en daar was 'n groot fees, soos nog nie gewees het nie: God is gegee aan die volk! In hierdie wonderlike en vreeslike dae het die aandag van al die volk, ook van die vrouens en van die kinders, gebly alleen by God wat hul nie gesien het nie, en wie se stem hul alleen gehoor het, en by al die dinge

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 179 wat gebeur het, maar op die ander klein gebeurtenisse wat elke dag gebeur het niemand gelet nie, niemand het daaraan gedink nie. Wie sal in sulke dae dink aan 'n arme meisiekind, wat in die verborge van haar tent sit met haar ellende en met die verdriet wat in haar hart is? En na 'n paar dae was daar ander nuwe dinge. Die volk het moeg geword van te wag op die God midde in die wolke, wat hul nie sien nie, en plotseling het hulle verlang na 'n God wat 'n gestalte het. En hul het bymekaar gekom by die Hoëpriester en geroep: Kom, maak vir ons 'n God! En die Hoëpriester het hulle vir 'n oomblik gekalmeer, en gesê: Môre, dan sal ek dit maak. Laat elkeen 'n geldstuk of 'n neusring of 'n vingerring of enigiets van hom offer, en ek sal van hierdie goud die God maak. Die volgende môre brand die dag soos 'n oond. Uit die poort van die tent van die Hoëpriester kom 'n groot nuwe wa. Hy was vas aan twee rooi osse. En die wa was verguld aan sy hoeke, en het glans en gloed versprei waar hy maar uitgedraai het. En die horings van die osse wat aan die wa vas was, ook hul was bedek met glinsterende goud, en purper linte met blou blomme was bevestig aan die horings, en hul fladder in die wind. En op die rugte van die osse was daar blou doeke, pragtig om te sien, en aan albei die kante van die wa gaan daar twee priesters, aan elke kant een, en hul is gekleed in linne-onderklere met die efod-mantel en die borslap, en in hul hande basuine, en die blou granaatappeltjies aan hul klere rinkel as hul stap. En die osse wat aan die wa vas is, gaan stadig, en trek die wa soetjies-soetjies, en terwyl hul die wa trek, blaas die priesters op hul basuine, en as die basuine geblaas word, hoor elkeen in sy tent die geluid, en gaan na die ingang van sy tent, en agter hom gaan uit sy vrou en sy seuns en sy dogters en al sy mense. Toe trek die wa deur die hele laer van die een ent na die ander na die ingang van elke tent. En die mans wat uitkom en die vrouens wat uitkom werp, man en vrou, in die wa hul bondeltjie goud om daarvan 'n God te maak. Daar was g'n man nog vrou in die hele gebied van die een ent na die ander wie se hart vir hom nie gedryf het om sy offer te gee nie. Die mans het hul geldstukke gegee, en hul goue kettings, en al wat van goud was, en die vrouens het afgetrek neusringe en vingerringe en halwe maantjies en voorhoofbande en het hul in die wa gegooi. Sowel die rykes as die armes het gegee, want hul het gewens dat elkeen 'n aandeel sou hê aan die God. 'n Gees van dronkenskap het die hele gemeente aangegryp om te gee. Op die drempels van die tente en by die leunings van die dakke en by die vensters het die mans saam met die vrouens gestaan en wag vir die koms van die wa. En hulle gooi selfs goue kandelaars en goue vuurpanne en goue skottels op die wa, en ook bekers en stawe van goud het hul gegooi, en 'n vername vrou het gekom en vat die goue fluit waarmee haar siek kind, wat

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 180 aan haar bors lê, speel, en sy gooi dit in die wa. En die wa het baie swaar van goud geword, en vol tot aan sy rand, sodat hy amper nie van sy plek kon beweeg nie, en die volk het altyd nog meer gebring, en nie opgehou nie.

So kom die wa ook na die ingang van die tent van Timna. En Timna staan aan die ingang van die tent, en haar ring was aan haar vinger. Nee! Al wat sy besit sal sy gee, maar nie hierdie ring nie. In hierdie ring is mos saamgevat haar hele lewe en al wat sy besit, en al wat sy besit het; en wie weet of daarin ook nie is saamgevat al wat sy nog kan besit nie! Hierdie ring sal sy nie gee nie, sy sal nie! Sy sal nie! En die wa kom al nader. En van die dakke en uit die vensters en van die balkons werp haar buurvrouens elkeen wat sy besit. Kyk, 'n goue neusring val voor haar oë van die balkon langes haar, en duik en word begrawe in die goud op die wa. Kyk, daar val 'n goue beker; kyk 'n groot goue skottel! 'n Gees van dronkenskap kom oor die laer, en gryp almal aan, en spring soos 'n besmetting oor van man op man. In hierdie oomblik kom die wa vlak voor die ingang van die tent, en die priesters blaas en die osse loei en die granaatappeltjies rinkel. En Timna staan voor die wa. 'n Plotselinge skrik het oor haar gekom, sonder dat sy dit gemerk het. En met die vingers van haar regterhand skuif sy die ring af wat aan die vinger van haar linkerhand is, sy skuif af en skuif aan, skuif af en skuif aan, asof sy daarmee goël of speel, en voordat sy weet wat sy doen, kyk, sy het die ring van haar vinger getrek, en nog 'n oomblik, kyk, hy lê reeds midde in die hoop goud binnekant die wa! In hierdie oomblik voel sy, dat daar iets geskeur is in haar hart en plotseling geknak, en haar hart is leeg geword, en ook die wa is verdwyn en al die mense is verdwyn, en die son is uitgedoof, één oomblik, en daar was duisternis rondom. In daardie oomblik het die meisie geweet, met eens, dat haar uitverkorene nooit weer sal terugkeer nie, en dat hy vir haar dood is vir ewig.

En die volgende môre was daar 'n groot fees in die laer. Die Hoëpriester het al die goud geneem, wat die wa gebring het, en dit in die vuur gegooi, en hy het die gesmelte massa geneem wat uit die vuur gekom het, en hy het dit bewerk met beitel en passer, en het daarvan 'n Kalfgod gemaak. Toe het die volk die God gesien, van oog tot oog en van aangesig tot aangesig, en hulle het 'n groot gejuig aangehef. En die priester het 'n altaar gebou vir Hom, en die brandoffers geoffer en die dankoffers gebring, wat hulle gegee het, en die vreugde was baie groot. En die volk het neergesit om te eet, en hulle het baie gedrink, en daarna het hul opgestaan om te speel. Toe het ook die vrouens en die jongmeisies uitgegaan en gekom. En die mans het gespeel op fluite en geslaan op trommels. En die vrouens het mekaar handgegee, die een aan die ander, en hulle het rondom die Kalf geloop, en hulle het gedans.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 181

En plotseling het hulle almal agteruit gedeins, en padgegee; kyk, 'n meisiekind het plotseling verskyn tussen die dansers, wat wonderlik dans, en wat nog nooit so gedans het nie. Kyk, sy roer haar voete en haar hoof, en beweeg haar liggaam, nou omhoog dan omlaag, nou na agter dan vorentoe! Nou stadig, dan so vinnig, dat elke hart bewe by die gesig, en dat die hare van elkeen wat dit sien oorentstaan. Is dit nie Timna, die meisiekind uit die sone van Gersom, uit die halwe stam van Manasse nie?

Kyk, nou dans sy soetjies, soetjies en kalm - dit is soos die begin van haar hoop, toe al die blomme gaan bloei wyd en syd oor die hele veld en binne in haar hart. En as sy die kruin van haar hoof vorentoe buig, en haar gesig gaan straal, dit was die eerste kus.

En plotseling kronkel sy en krimp haar soos 'n slang - kyk, die eerste smart kom op. Die wind blaas oor die blomme en oor haar hart, en daar is kou en verskrikking. En nog 'n oomblik, en sy trippel, trip-trippel, trip-trippel. Nog het sy die ring, nog het sy die ring, nog het sy die ring! Al haar lewe en haar asem, saam met haar uitverkorene, is dit nie versonke in hierdie ring nie, en al die dinge saam, hul is net één ring! En nog 'n oomblik, en sy sleep haar moeilik vorentoe. Al die lede van haar liggaam sterwe weg, en al die lyne van haar gesig versteen. Die hoop word swakker en swakker, en vervloei. Dis net nog 'n dun klaagstem: miskien! miskien! miskien! En plotseling rig sy haar op, en herstel, en haar hoof is opgehewe; dit sal sy nie gee nie! sy sal nie! wat ook gebeur! En nog 'n oomblik, en in één hewige, vinnige storm hardloop sy rond, rondom die Kalf in 'n warrelwind, en sy breek los soos 'n orkaan, en draaidraai soos 'n wiel voor die wind. Die res van al wat vir haar nog gespaar was, het sy gewerp in hierdie God! Haar geliefde het sy vir Hom gegee, en hy is in Hom opgegaan! En sy dans in storm en warrelwind. Haar voete raak nouliks die aarde, en één oomblik is sy baie naby die son, en 'n twede oomblik is sy baie ver. Al die verdriet het verbygegaan, vervloei en versmelt. Daar is geen asem meer in haar nie, maar haar verkorene alleen. Daar is geen verkorene van haar hart meer nie, maar 'n ring, daar is geen ring meer nie, maar lewe. En nou, daar is ook geen lewe meer nie, maar God - en die asem en haar uitverkorene en haar ring en haar lewe en die God het plotseling deurmekaar geraak en is vermeng en opgelos en is één ding geword. En sy weet aie meer om hulle te onderskei nie: die asem het opgehou in haar binneste, en het ingekom in haar uitverkorene, haar uitverkorene het opgehou en hy het opgegaan in die ring, die ring het opgehou, en het vir haar lewe geword,

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 182 die lewe het opgehou en het vir haar tot God geword. En die dans het sterker en sterker geword. Die verdriet het heeltemal opgehou, en daar was net God alleen. Die verdriet het opgehou alleen van haar te wees, en dit het die verdriet geword van al die menigte mense hier. Want die God het dit weggeneem van haar, en God, Hy is God van die hele aarde. En die dans het sterker en sterker geword. En die storm het sterker en sterker geword. En die opwinding het groter en groter geword - en 'n hewige skrik het al die volk rondom aangegryp, en hulle het elkeen sy trommel en elkeen sy fluit weggegooi, en hulle het in beweging gekom, en gaan staan, en hulle het gevlug vir hulle lewe. En sy gaan nog aan met dans sonder op te hou, sonder end, sonder grens. Op haar lippe is wit skuim verskyn, en dis of haar lede losgeraak het, en plotseling val sy op die grond. Toe hulle haar optel van die grond sien hulle dat sy dood was.

B. GEMSER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 183

Lieriese Tussen-In.

1.

Wys my die plek waar ons saam gestaan het Eens toe jy myne was - Vroeër voor jou liefde vir my getaan het, Vroeër toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde; die silwer see Blink in die sonskyn soos lang verlee Dit eenmaal geblink het, 'n welkomsgroet Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saamgekniel het Eens toe jy myne was - Vroeër toe een siel vir ons saam besiel het Vroeër toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde; die hemel blou Lag, soos voorheen, op my en op jou; Dit skitter nog altyd 'n welkomsgroet Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saamgeloop het Eens toe jy myne was - Vroeër toe ons harte so veel gehoop het, Vroeër toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde; net jy nie. Vra, Wie van ons twee moet die meeste dra? Jy wat vergeet het - of ek wat boet Vir my liefde wat uithou en alles vergoed? 2.

Eis van die vonk wat spartel Sy goud as sieraad trug, Vra van die vis wat dartel 'n Jammerwoord of sug,

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 184

Of laat die branders van die see 'n Antwoord op jou vrae gee, Eerdat jy van my eis ek moet Wat lank verby is weer vergoed.

Goud in die skemer skitter Die sterreskaar se prag; Die see blink wit, en witter, Die maan se dowwe krag. En net so in die skemerswart Van jou vergeetheid blink my hart, Want witter as die witste see Is wat jou liefde vir my gee. 3.

Keur van die beste Wat lewe besit, Gun ek vir jou wat vir my van jou beste Ryklik gegee het vir dit.

Ver in die weste Verwissel die kleur Van die neerdalende son in die weste Ryklik met wierook vergeur.

Liefde die sterkste, Wat liefde kan eis Leen ek vir jou dat die swakste die sterkste Liefdevol plig kan bewys.

Sê nie die leste Is luttel en klein; Min was die eerste maar meer is die leste Ryklik deur liefde verfyn.

Keur van die beste Wat liefde kan win, Stort ek vir jou want ek weet dat die beste Is dat jou siel my bemin.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 185

4.

Sonstrale op die nat veldsand, Veelkleur'ge surings op die land, Gousblomme oor die gras versprei, En wateruintjies op die vlei, Suurknolle in die bot; die bome Nog blaarloos en die bergkloof-strome Nog troebel met die modderklei, En bo 'n blou lug uitgesprei; So kom die lente in sy tyd Na winterwit se wanhoops-stryd Teen wat die son se goud kan bring Om van sy wintermag te dwing Die rus vir wat in kiem en saad Verskuil lê voor die dageraad, Van lewe aanbreek en die land Versier en elke leegte en rand In weelde bloei, met wierook spog Die geure van die lewesvog Wat deur wat lewe liefhet loop Eer môredou die weiland doop, En uit sy koue wintersroes Die wêreld wakker skud vir oes. 5.

As ouderdom, wat alles breek, sy volmag oor my kry, Dan gaan ek na die Hantam waar ek hoort En dra demoedig wat 'n mens van ouderdom moet ly, Voordat hy aanklop by die hemelspoort. Dit lyk vir my die Hantam is die vredevolste plek Hieronder op die wêreld wat ons het Hoe lank die somersdae daar hul warm goud sonskyn rek, Hoe jubel daar die vinke in hul pret, Hoe skitter daar die voorjaarsprag in kleure honderdtal, Hoe verf die najaarberge met sy bruin, En in die koue winterstyd hoe raas die waterval En blink kapok op elke berg se kruin. Die wilde bok wat voel sy krag verminder as hy stry Soek rustyd in die skuiltes van sy soort. As ouderdom, wat alles breek, 'n houvas oor my kry, Dan vlug ek na die Hantam waar ek hoort.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 186

6.

Daar kom 'n weerklank oor die veld, 'n Weeklank van die see, Van branders wat die rotse streel, En met die wit strandskulpe speel En skuim vir aalmoes gee.

Daar kom 'n weerklank oor die veld, 'n Weeklank van 'n stad Waar mense huil en mense haat En met mekaar oor mense praat En mense roem beklad.

Daar kom 'n weerklank oor die veld, 'n Weeklank van die kloof, Waar teen die krans die klimop bloei En met die wilde haakdoorn stoei Vir groeikans vir sy loof.

Daar kom 'n weerklank oor die veld, 'n Weeklank van die vlei Waar tussen ruigte-gras die riet Sy halme na die sonstraal skiet Om van die goud te kry.

Daar kom 'n weerklank oor die veld, 'n Weeklank van 'n hart, Wat voorjaar deurgelewe het En somer met sy sonskyn pret, En nou vergaan van smart.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *18

WENNING. ‘MALTA’, OBSERVATORY-WEG.

(In die besit van Mnr. D.C. Boonzaaier, Newlands, K.P.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 187

7.

Kom gee vir my polfyntjie, Dit maak nie saak nie wat, Die kleinste, nietigste lyntjie Waardeer ek as 'n skat. Koop waar jy wil, by smouse, Penswinkeltjies, of wat Jy kry in Krismis-kouse - Dit bly vir my 'n skat. Net iets wat jy as joue Betrag het, gee my dit, Ek neem dit aan as goue Gesteente tot besit. En as jy eenmaal sterwe Dan pryk dit nog by my, Gegee meer as ge-erwe, As liefdeblyk gekry. 8.

Sielsanker as die vloedgolf van vertwyfling oor die strand Van kennis bruis en alles met hom trek, 'n Houvas in die weemoudsuur as deur die hele land Die duisternis van dorre nagte strek, 'n Goue gryp vir iedereen, 'n steun deur dik en dun; 'n Aalmoes vir die arme van gemoed; 'n Lawedrank vir flouval as die wêreld ons misgun En met 'n hoonklank wat ons doen vergoed; Dis die ingebore sterkte, dis die oorgeërfde krag Om deur duisternis die sterre te sien blink, Om die halfgebore klagwoord te onsenu met 'n lag, En met skerts die wyn en mirre op te drink. 9.

Sokrates, as jy hier was, nou vandag Met jou nare ou gevreet, Gierig om van ons te weet Wat elkeen van ons beskou As sy menseplig, en trou Aan jou roeping om oor wat ons dink te lag, Sou jy nog die moed besit, Of die neiging altemit, Om te sê wat jy wil sê Sonder om eers uit te lê Vir die stommerikke wat op woorde wag?

C.L. LEIPOLDT.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 188

Die Verband Tussen Kuns en die Onderbewuste. Deur Monsignor Kolbe, D.D., D. Litt.

ONS maak ons verskyning in die wêreld as 'n eensellige organisme, waarvan die protoplasme op geheimsinnige wyse 'n erfenis van vorige geslagte ontvang het - en hierdie erfenis is vir ons 'n dryfveer deur die lewe, somtyds tot in die onbeduidendste kleinighede. Vanaf die eerste stonde van ons bestaan, ageer ons omgewing op ons en reageer ons daarop, en die hele verhaal van hierdie wedersydse gemeenskap en worsteling word teboekgestel op ons lewensstof of protoplasme, wat onafgebroke deur die selwande in ons hele liggaam loop. Daar gaan niks verlore nie, hoe diep dit ook mag wegsink wat bewussyn betref. Hierdie hele apparaat, die groot-totaal van wat ons oorgeërf en ondervind het, laat sy invloed geld op elke handeling, hetsy waarneming, hetsy herinnering, hetsy gedagte, hetsy opsetlike beweging. Dit moet nooit in sielkunde verbygesien word nie. Hierdie skatkamer van moontlike herinnerings is deur die vroeëre denkers ‘Memoria’ genoem. Hulle het nie so'n suiwere kennis van fisiologie gehad as ons nie, maar hulle veronderstellings was wonderlik raak. Hulle het die verstandelike lewe beskryf as gedeeltelik skeidbaar in drie fases: Memoria, Begrip en opsetlike handeling of Wil. Ek gebruik die woord Memoria, omdat ‘Geheue’ 'n ander betekenis gekry het; en met hierdie verandering in die woord het daar 'n verandering in de teorie gekom. Die Geheue is onttroon, en vandag word die verstandelike lewe dikwels uitgedruk net in terme van Kenvermoë en Wilsvermoë, terwyl Geheue as 'n blote toestand beskou word. Ek moet egter nie verder hieroor redeneer nie, maar spreek alleen my oortuiging uit dat hierdie verandering van teorie fisiologies sowel as filosofies verkeerd is. Ek neem aan dat Memoria, van die stoflike kant, die fisiese teenhanger is van die onafgebroke siele-lewe. Daarom, soos hulle in die ou-tyd gesê het, is Memoria die mees-fundamentele en mins-onderbroke: daaruit spruit Gedagte voort en van altwee tesame kom die werksaamheid van die Wil. Hierdie inleiding stel my in staat om my tesis in 'n paar woorde saam te vat. Die Grieke, op hulle veelsêende, tekenende en mietiese wyse het gesê: Memoria is die Moeder van al die Muses. In normale omstandighede openbaar die onderbewuste hom gedeeltelik as 'n drang agter ons bewuste handel- en denkwyses. Ons voel dit as ons na die ontbrekende skakel in 'n reeks van ideë soek of na die woord, wat nou juis presies die gepaste een is. George Eliot in haar romans en Newman in sy

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 189

‘Grammar of Assent’ het 'n belangrike diens aan filosofie bewys deur ons aandag op die psigologie en logika van die Onderbewuste te vestig. 'n Karakteristieke gesegde van eersgenoemde was: ‘Daar is nog groot stukke onbekende land in ons binneste waarmee rekening gehou moet word in enige poging om ons rukwinde en storms te verklaar’; en van laasgenoemde: ‘Ons hele verstand beweeg: Logika is maar net die verslag op papier van die beweging.’ In sy opwinding besig 'n redenaar 'n taal wat onmoontlik sou wees as hy kalm is. Drome, wat nou so intensief bestudeer word teneinde die Onderbewuste te probeer verstaan, is net so normaal. Hulle is komplekse wat sonder die beheer van ons redelike vermoëns oprys en op geheimsinnige wyse word hulle baie maal herhaal en word herinnerings van die een droom na die ander oorgedra. Dikwels droom ek, dat ek deur die lug seil soos 'n sweefmasjien, en elke keer sê ek vir myself: ‘Dit het nou geblyk, dat al my ander ondervindings van hierdie aard nie werklik plaasgevind het nie, maar hierdie keer is dit dan tog regtig werklikheid.’ Dan word ek wakker en kom na die aarde terug en bly daar. Dagdrome, lugkastele en mymerye is ook sulke normale ervarings.

Patologiese gevalle is nog wonderliker. Koorsige delierium en kranksinnigheid is welbekende voorbeelde. Daar word een abnormale geval vermeld van 'n ongeletterde diensmeisie wat hele stukke uit die Grieks en Hebreeus sonder haak of stoot opgesê het. Soos natuurlik was in daardie tyd en plek, het die mense gemeen dat die arme meisie van 'n bose gees besete was; maar by ondersoek het geblyk, dat sy eenmaal in diens was by 'n geleerde professor, wat die gewoonte gehad het op en af te loop en stukke in daardie tale op te sê. In 'n abnormale toestand van ontvanklikheid het die meisie die klanke opgeneem en hulle later in 'n ewe abnormale toestand soos 'n grammofoon weergegee. Alkohol en ander verdoofmiddels het wonderlike uitwerkings en somtyds lyk dit of dit iemand heeltemal van persoonlikheid laat verander. Ek het eenmaal 'n man geken, - onder gewone omstandighede 'n goeie beminlike kêrel - wat so nou en dan homself aan drank te buite gegaan het. Met sulke geleenthede het hy byna niks van sy gewone lewe afgeweet nie, maar woes, wreed en kwaadaardig geword. Wat hy wel onthou het, was wat by die vorige drinkparty gebeur het. Hy het 'n dubbele lewe gevoer - soos dit gelyk het presies Jekyll en Hyde. Hipnotisme is nog die ergste. Party proefnemers vind dit tog te mooi om twee of selfs drie ‘persoonlikhede’ by hulle pasjente voorttebring. Dit beteken, hulle bring 'n siekte te weeg. Dis iets wreeds. Hipnotisme behoort net so streng binne die perke van ware nuttigheid gehou te word as viwiseksie.

Hier gaan ek nou 'n ander verklaring maak, wat ek wil kursiveer. Dit druk my eie ondervinding uit, en dit moet my toegelaat word myself van

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 190 enige sweem van egoïsme vry te spreek. In introspektiewe psigologie moet iemand, as hy van enige nut wil wees, homself eers oefen in die gewoonte om sy eie geestes-toestande krities te ondersoek, en dan moet hy streng eerlik met homself wees met die gee van die resultate van sy kritiek. Ek het getrag om hierdie twee dinge te doen, en my getuienis is alleen in soverre van waarde as wat dit my geluk het. Daar is g'n egoïsme by nie. Ek moet myself op die snytafel sit vir die demonstrasie. Ek kannie iemand anders introspekteer nie.

My verklaring dan, is dit: dat in al hierdie opstotings na die geweste van die bewussyn is die Onbewuste altyd skeppend. Dit is 'n punt wat Generaal Smuts wel in oorweging mag neem in sy teorie van Holisme. Ek het nog nooit 'n droom gehad wat 'n blote herinnering was aan die een of ander verbygegane werklikheid nie.

As ek van kennisse droom, sê en doen hulle altyd dinge wat vir my nuut is. Selfs het ek blikke in hulle karakters gewerp wat my verbaas het, en wat tog later heeltemal gegrond geblyk het.

Tweemaal het ek die intrieges van verhale gedroom - en so reëel was hulle elke keer, dat ek hulle vir publikasie kon gebruik. Eenmaal het ek 'n gedig gedroom: dit wil sê, die inbeelding was so helder en lewendig, dat ek net maar die tegniek van versemaak te pas moes bring om dit 'n aansyn te gee.

Die gedig is ‘The Origin of Flowers’, en ek het dit, met die verhaal van sy ontstaan, gepubliseer.

Ek kan natuurlik nie sê wat die waarde daarvan is nie: maar kinders hou daarvan, en in sulke dinge is hulle die kritiesie, wat ek liefste tevredestel. Dan weer het ek enige jare gelede 'n lesing gehou oor 'n serie meetkundige proewe, wat, sover ek weet, heeltemal oorspronklik is. Een van hierdie proewe is my in 'n droom gegee. Ek het daar wekelank tevergeefs aan gewerk. Maar in 'n droom het dit gekom en ek het dadelik opgestaan en dit neergeskrywe. Dit was volkome geldig. Ek moet daar egter nie oor gaan kraai nie, want 'n paar nagte later het ek 'n vervolg gedroom, opgestaan en, halfwakker, dit neergeskrywe. Die anderdag-more het die geblyk 'n eersteklas voorbeeld te wees van die logiese drogrede: petitio principii.

'n Mens kan geluk hê met die Onderbewuste in jou, maar jy kan nooit daarop vertrou nie. Afgesien van drome, het Coleridge eenmaal gesê: ‘My oë maak prente as ek hulle sluit.’ Ek weet nie of dit die algemene ondervinding is nie. By my is dit 'n gewone iets waar dit dinge betref wat my groot belang ingeboesem het. Toe ek Dierkunde bestudeer het, en vol geesdrif besig was om eksemplare veral van kewers te versamel, het ek altyd, as ek nadenkend my oë toemaak, tallose voorbeelde uit die kewer-wêreld gesien, - maar nooit

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 191 een waarmee ek bekend was nie. My gees het hulle almal geskep. Dit was ret so, gedurende die tyd wat ek 'n studie van Plantkunde gemaak het.

Ek het in myself blomme te sien gekry wat totaal onbekend is in Kew. En selfs nou nog ‘sien’ ek partymaal gesigte, wat ek, weëns gebrek aan tegniek, nie kan teken nie, - meesal gesigte van klein kindertjies. Ek het 'n bietjie beheer oor hulle as hulle kom, maar hulle koms is spontaan. Ek kan hulle laat glimlag. Die glimlag van 'n visioen-kind is iets liefliks, - nie so lieflik as die glimlag van 'n regte babetjie nie, maar ons merk dit meer as dit in ons eie oë gebore word. Die groot ding om op te let is, dat nie een van hierdie gesigte ooit iets van bekende gesigte het nie. Ek vra eenmaal 'n kunstenaar of hy ook sulke ondervindings het, en hy vertel my toe, dat hy gesigte so duidelik en vas ‘sien’, dat hy hulle kan teken. Ek glo, dat dit die manier is, waarop sigbare ideale kom. Rafael se Madonnas is nie saamgestelde skilderye nie: hy het hulle gesien oprys uit die Onderbewuste soos Venus, soos gesê word, uit die see-skuim opgerys het.

My derde gekursiveerde verklaring is, dat Kunstenaars die mense is, wat weet hoe om die skeppingsvermoë van die Onderbewuste te gebruik. Soos Shakespeare dit so juis en skoon uitdruk:

The poet's eye in a fine frenzy rolling Doth glance from earth to heaven, from heaven to earth; And as imagination bodies forth The forms of things unknown, the poet's pen Turns them to shapes, and gives to airy nothing A local habitation and a name.

Oorweeg by uself hoe uitermate fyn die koördinasie van senuwees en spiere in oor en oog moet wees vir musiek en skilderkuns. Mozart het niks geweet van die dertig-duisend en meer vesels van Corti nie, maar Helmholz verklaar, dat hy elkeen van hulle as 'n aparte onderskeidingsorgaan kon gebruik. Watter tower-klanke het hy nie opgevang van daardie harpklavier in sy oor nie! Die meeste van hulle het met hom gesterf, maar party het nou ‘a local habitation and a name’. Die plek ontbreek om meer te doen as terloops 'n blik te werp op Mistiek; maar die blik kan dalk 'n ligstraaltjie laat opgaan. 'n Franse skrywer, M. Bremond, het 'n boek geskrywe met die tietel Gebed en Digkuns. Met gebed bedoel hy die mistieke lewe, en hy beweer dat die psigologiese prosesse dieselfde by altwee is. Volgens hom is die teken, wat die mistiekus van die digter onderskei, dit: die mistiekus trag om homself te verskuil in sy eie onderbewuste binneste, waar hy die weerklanke van die ganse heelal kan hoor, ter-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 192 wyl die digter probeer om op te rys uit daardie binneste en aan die wêreld die eggos van die eggos wat hy gehoor het te gee. Ek is dit nie geheel en al eens met die teorie nie, maar daar is wel iets van waar.

Owen Glendower het gesê: ‘Ek kan die geeste roep uit magt'ge dieptes.’ Hotspur, tiepe van die gewone man, antwoord: ‘Ja, ek kan ook: maar kom hul as jy so vir hulle roep?’ Met alledaagse mense vergeleke, het 'n kunstenaar meer mag om hierdie geeste te voorskyn te roep, hy het groter beheer oor hulle as hulle kom, en deur middel van sy met-moeite-verworwe tegniek kan hy hulle op 'n vlak projekteer, en dus word die res van die wêreld in staat gestel om saam met hom deel te hê aan sy visioen.

Wat ek gesê het is miskien al genoeg, hoewel aan alle kante vergesigte opdoen wat tot verdere ondersoekingstogte lok. Die hele teorie is in verhewe dramatiese vorm in ‘The Tempest’ te vinde. Dit was Shakespeare se afskeid van sy digterlike kuns, en toevallig is dit die volmaakste voorstelling van die metodes wat daardie kuns gebruik. In die gaos van die Onderbewuste het die digter, net soos Prospero, 'n betowerde eiland gevind (‘die eiland is vol geluide’) en daar het hy die geeste en gepersonifieerde elemente opgeroep en hulle in aanraking met die werklikheid gebring, en as hy die hele kompleks tot 'n harmonieuse slot gelei het, begrawe hy sy towerstaf en kom hy terug na die sfeer van menslike liefde en menslike plig - en dit is die hoogste betowering wat daar is.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 193

'n Paar Aantekeninge in Verband met die 2e Afrikaanse Taalbeweging (1905.) (Vervolg en slot.) Deur Vaalswaer. (Izak van Heerden.)

Vaalswaer.

DIT was my skryfnaam in daardie dae. Dr. Pienaar in sy ‘Taal en Poësie van die Twede Beweging’ (derde uitgawe bls. 49) siteer uittreksels uit briewe van my wat ek in die hittigheid van die stryd in 1905 in die Volkstem geskrywe het en gee my daar die naam van ‘'n Sekere Korrespondent’.

Wel, ek het onder omstandighede my bes gedoen om te help waar ek kon. Buiten en behalwe wat ek in die Volkstem en later in Die Brandwag bygedra het - by wyse van prosa sowel as gedigte - het ek heelwat aan literêre arbeid gedaan. Nie dat ek talent of 'n besondere liefhebbery daarvoor had nie. Maar skrywers was nog skaars. En gesien dat ons strewe om Afrikaans tot taal te proklameer in die smeltkroes was, het ek gemeen dat dit my plig was om ook iets te produseer.

Baie van my kreasies het ek egter nooit die lig laat sien nie. Daar het in later jare goedontwikkelde manne en vroue op die toneel verskyn en ek het toe maar begint ‘troei’ te staan.

Die vlakte.

Toe ek een oggend in 1906 die Volkstem oopmaak en die gedig, Die Vlakte van oom Jannie Celliers sien, het ek dadelik na Tannie gehardloop en vir haar gesê: Lees! en sê my nou of dit nie die laaste bodem inslaan van al die redenasies van ons teenstanders nie. 'n Oom van my, predikant in die Kaapprovinsie, was ook net in Pretoria. Ek wis nog nie hoe hy teenoor ons beweging gesind was nie; maar ek het hom ook die gedig gewys en sy opienie daaroor gevra. Sy enigste opmerking was: ‘dit is miskien bietjie te deftig en ingewikkeld.’ Na 'n paar oomblikke het hy daaraan toegevoeg: ‘Hollands het geen die minste toekoms in Suid-Afrika nie.’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 194

Die brandwag gestaak.

Ek sien dr. Schoonees sê in sy ‘Prosa van die Twede Beweging’ (2de druk, bladsy 58): Dat die blad (Die Brandwag) 'n faktor van groot betekenis in die kultuur- en taalstryd was, is ongetwyfeld en die verdwyning daarvan moet as 'n ramp beskou word -, 'n sienswyse wat ek sekondeer. Op die vorige pagina sê hy dat die blad in 1922 om finansiële redes opgehou het om te verskyn. 'n Bewering wat ek nie kan sekondeer nie voorenaleer ek nie daar 'n paar woorde oor gesê het nie.

Ons moenie met finansiële redes dalkies die indruk wek asof die uitgewers (drukkers) nie die geld had - of die geld wou verskaf - om die blad te finansiëer nie. Hulle wou dit maar te graag doen maar nie met 'n verlies nie. Daar lê die knoop. Hulle het beweer dat die blad nie betaal nie en ons voortdurend aangepor om 'n plan te maak. Aanvanklik het die mense die blad mooi gesteun maar mettertyd - veral gedurende en in die jare na die groot wêreldoorlog - het baie van hulle om allerhande redes bedank en nuwe intekenare het nie vinnig aangesluit nie. En ons poginge om nuwe intekenare te werf en die belange van die tydskrif te bevorder het ook te wense oorgelaat.

Maar die kliemaks het gekom met die onverwagte bedanking van ons fungerende editeur.

Mnr. Preller het toemaar tydelik die redaksie op hom geneem. Maar hy het ons nadruklik gewaarsku dat hy nie permanent sou kon aanbly nie.

Wel nadat ons geruime tyd rondgeval het - dog sonder die minste sukses - het mnr. Preller ten einde raad voorgestel dat Tannie en ek (Vaalswaer) die redaksionele werksaamhede van ons blad op ons sou neem. Ons het hierdie voorstel in ernstige oorweging geneem. Ons kon nie daaraan dink dat onse geliefde ou Brandwag so 'n ontydige, so 'n onnodige en betreklik roemlose einde sou tegemoet gaan nie. Maar daar was niks aan te doen nie. En toe het die masjinerie doodgewoon gaan staan. Wat ons beweging daaronder gely het? Ek boekstaaf hierdie paar allesins gebrekkige en in die aard van die saak onvolledige aantekeninge van my in die jaar 1928. En ons taalstryd - die Afrikaanse taalstryd - van die Twede Beweging altans - het begint sowat die jaar 1905. Dus ongeveer 23 jaar gelede. Nou kan gevra word: waar het julle in 1905 gestaan en waar staan julle vandag? My antwoord is: raadpleeg die dissertasies oor die onderwerp gelewer deur dr. Pienaar onder die hoof: Taal- en Poësie van die Twede Beweging en dr. Schoonees s'n, getietel: Die Prosa van die Twede Beweging.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 195

As u hierdie twee werke deurlees en nogeens deurlees - en aanhou met dit te lees en te bestudeer - dan sal u nie daardie vraag hoef te stel nie. In die loop van die jaar 1905 het adv. Klasie De Wet (later Minister van Justiese) en een van ons bestuurslede eendag aan my gesê: van Heerden as ons teenstanders moes sien hoe jy ‘lichaam’ in Afrikaans spelle maak hulle jou dood. (Ek glo ek het dit ‘liggaam’ geskrywe.) Vandag (1928) sal niemand meer daaraan dink om daardie woord op 'n ander manier te spelle nie. O ja, miskien wel. Maar nie omdat ons taal geen spelreëls het nie! En so het die ‘patwa’ van ons teenstanders die ‘wapad’ van die Afrikanernasie geword. Ek reken ons het ons aanvanklike doel: om Afrikaners te oortuig dat Afrikaans deur Afrikaners as hul spreek- en skryftaal behoort gebruik te worde, bereik. Nou is daar nog: ‘Die ontwikkeling van die Afrikaanse taal in suiwere vorm’, waaraan ons, d.w.s. die Afrikanernasie bepaaldelik sonder twyfel bedrywig is. Ek hoef maar net te verwys na die beskikbare lektuur wat ons reeds in hierdie rigting besit. Ten slotte is daar: die aankweking en ontwikkeling van 'n suiwer Suid-Afrikaanse nasionaliteitsgevoel. Die A.T.G. tree ongelukkig nie meer direk as sodanig op nie. Dit is volkome waar. Maar ek verstout my om te beweer dat ons suurdesem ook op die laasaangehaalde punt nog steeds heilsaam deurwerk. Met die bemoedigende opbloei van ons taal en letterkunde kan dit ook nie anders nie. Die Afrikaner woel op elke gebied. Noudat hy sy eie taal het en vry is om dit te gebruik waar en wanneer hy verkies - hoef niks hom in sy kulturele en nasionale ontplooiing te stuit nie. Die omstandigheid dat die A.T.G. in Transvaal feitlik van die toneel af is, hoe jammer ook al, behoort ons nie juis ontroosbaar te stem nie. Ofskoon ek moet erken dat dit my grief omdat ek voel dat ek persoonlik tot op seker hoogte daarvoor verantwoordelik is. Miskien moes ek ons vereniging aktief in die lewe gehou het. Dit het grootliks van my afgehang. Laat ek maar ronduit erken. Omstandighede het dit egter vir my onmoontlik gemaak. In my hoedanigheid sekretaris van die A.T.G. moet ek dus noodwendig ook maar onder diegenes getel word wat op die slagveld agtergebly het. Maar daar het tog nuwe kragte te voorskyn gekom. Ons taal word in die skole geleer, op die kansels gebruik en in ons raadsale gehandhaaf. Dan is daar ons Akademie vir Taal, Lettere en Kuns wat waak en rigting aanduie. I. VAN HEERDEN.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 196

Die Kunsnywerheid van die Suidelike Bantoe.

'N lewensbeskouing wat deur 'n menigte van Europese spreekwoorde verkondig word en waarin die mens gevra word om homself te ken en sy persoonlikheid te handhaaf, het gedurende die laaste jare begin wortel skiet in die Afrikaanse naturellebeleid. In Suidafrika staan dit onder die naam van differensiasie bekend. Dit sê aan die een kant nogal baie vir die Suidafrikaanse publiek dat hulle glo aan die ontwikkeling van 'n Bantoekultuur onafhanklik van hul eie, want dan moet hulle immers ook oortuig wees van 'n sterk kultuuraanleg by hul swart landgenote. Aan die ander kant is heel waarskynlik die wens na blywende sosiale verskille tussen blank en swart die vader van hierdie geloof.

1.

Die oppervlakkige mens is hoogs tevrede nadat 'n naam, 'n formule gevind is wat die twee rasse van mekaar moet skei en wat blykbaar reg aan albei partye laat geskied. Hulle vind dit koppig en dwaas van die naturelle dat hulle nie gretig die nuwe beginsel aanvaar nie. En tog is die houding van die naturelle heel natuurlik, want hulle weet nie wat die term differensiasie eintlik beteken nie, behalwe dat dit 'n skeidsmuur moet optrek tussen hulle en die blankes. Weet ons dan wat die boustene vir 'n toekomstige Bantoekultuur is? Sal enigeen van ons somar kan uiteensit hoe die nuwe beleid van ‘langs eie lyne ontwikkel’ in die praktyk moet toegepas word - nie in 'n land waar die naturelle 'n lewe afgesonder van die blanke lei nie - maar hier in Suid-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 197 afrika waar minstens elke manlike Bantoe permanent of tydelik in aanraking met die Europeaan lewe? Ek moet beken dat vir my onder ons huidige ekonomiese stelsel die differensiasiebeleid 'n contradictio in terminis is, en ek tas in die duister rond waar ek probeer om dit in positiewe opbouende handeling te vertolk. 'n Paar ligstrale sien ek tog in hierdie donker; en hoewel ek geensins oortuig is van die lewenskrag van die kultuurkieme wat ek hier noem, wil ek nogtans graag probeer om, al geld dit net één enkele gebied van Bantoelewe, daardie naam ‘differensiasie’ wat soos 'n gordyn voor die toneel van die toekoms hang aan die een hoekie effentjies op te lig. Ek gaan hier nie stilstaan by die taal, wat die onmisbare kultuurdraer is nie, en ook nie by die skraal letterkundige oes van die verlede. Ook oor musiek en dramatiese kuns, albei miskien potensiele kultuurfaktore, sê ek hier niks. Net in verband met hulle kunsnywerheid wil ek 'n paar gedagtes uitspreek.

2.

In die huis van 'n vriend sien ons 'n mooi stuk porselein op tafel staan; dadelik voel ons die wens om dit om te draai - ons wil sien of die mooi figure daarop geskilder hand- of masjienwerk is. In ons voorkamer staan 'n paar ouderwetse stinkhoutmeubels; ons is trots omdat hierdie stukke nie deur 'n siellose masjien vervaardig is nie. Besoek ons 'n egte Bantoe stat dan vind ons geen enkele voorwerp wat presies op 'n ander lyk nie, alles is handewerk. Die nywerheid van die Bantoe is inderdaad kunsnywerheid, want elke stuk dra as het ware die merk van sy maker. Dit beteken nie dat elke voorwerp mooi is nie, maar ongetwyfeld vergelyk die Bantoe artiekels oor die algemeen gunstig by die gewone Europese gebruiksartiekels. Onlangs het ek 'n besending van ‘kaffergoed’ uit Betjoeanaland ontvang en moes dit uitpak in 'n

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 198 kamer waar huisraad vir 'n losieshuis op rakke uitgestal gestaan het. 'n Paar vriende wat toevallig daar gekom het was verbaas oor die teëstelling tussen goedkope fabrieksware en produkte van handearbeid.

'n Mens hoef nie na die pakkamer van 'n museum te gaan om daar mooi naas lelik te sien nie. Teenswoordig kry jy in al die kafferstatte naas die kleipot die lampolieblik, naas die gebrande kalbasbeker die afoor-koppie en naas die rokkie van tressies die vuil voorskoot-lap. Hier sien ek 'n duidelike taak vir die vriend van die naturel. Hy moet die Bantoe leer om die skoonheid van hul eie produkte te sien, om dit hoër te stel as die inhoud van die naburige

3.

4. kafferwinkel. Terwyl dit in ons geval 'n duur stokperdjie is om belang te stel in oudhede en kunsartiekels geld die teenoorgestelde vir die Bantoe. Oor die algemeen kan ons beweer dat sy tyd nie geld is nie en dat dit goedkoper vir hom sou wees om self die artiekels vir daaglikse gebruik te maak dan om gedurig sy geld na die winkel te dra.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 Ek meen dit is een van Gandhi se leerstellings, wat hy probeer om in die praktyk om te sit, om die arm bevolking van Indië onafhanklik te maak van die winkelier. Sou dieselfde beginsel nie ook vir Suidafrika geld nie? Maar hier sondig ek alweer teen 'n kardinale gebod van ons ekonomiese evangelie, wat eis dat die Bantoe 'n steeds beter afsetgebied vir ons industrie sal word.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 199

Daarom haas ek my om te sê dat huisnywerheid nie alleen ekonomies tot voordeel van die naturel sou wees nie, maar ook by gesonde ontwikkeling daarvan 'n positiewe plank kan word in die differensiasie-program.

Ek hou vol dat die kunsnywerheid van die Bantoe iets is waarop hulle tereg mag trots wees en dat die erkenning daarvan hulle sal help om as volk daardie selfvertroue te kry wat noodwendig is vir die opbou van nasionale gevoel en nasionale strewe.

Dit is onmoontlik om sonder na die voorwerpe self te kan verwys oor die besonderhede van hulle tegniek te praat of om patroon en vorm vanuit 'n

5.

7. estetiese standpunt te bespreek. Hier kan ek dus net meld dat hulle uitmunt in pottebakkery, vlegwerk, hout- en leerbewerking. Die potte word eenvoudig versier met krapornamente, dit word met witklei, rooiklip en grafiet gekleur. Mandjies so

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 sterk soos die deur die Bantoe gemaak het ek nog nooit in die handel gesien nie en die vorme is eenvoudig en bevallig. Hulle houtbewerking sien ons op sy beste waar lang kettings van hout, sonder enige lasplek, uit 'n boomstam gesny of 'n groot tamboer uit één enkele houtblok gebeitel word. Dit is miskien nie algemeen bekend dat die velklere altyd met die harige sy na binne gedra word, omdat op die binnesy kunstige patrone uitgesny word.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 200

Die ystertegniek van die Bantoe, hoewel baie oud, is te primitief as dat dit die moeite werd sou wees om dit te behou. Hulle tegniek tree 'n nuwe stadium in waar Europese materiaal beskikbaar word. Feitelik is daar net twee dinge wat hulle leer gebruik het op 'n selfstandige manier; dit is krale en koperdraad. In Soeloeland en in die Oostelike Provinsie het hierdie nuwe kuns sy toppunt bereik. Aan die ander kant het die langjarige assimilasiebeleid van die Kaap Provinsie dit bewerk dat vrywel al die oorspronklike takke van hul nywerheid daar verdwyn het. 'n Paar prente sal duideliker as woorde aantoon hoeveel meer lewe in die ou kultuur sit dan in die nuwe rigting wat al meer en meer veld wen. Vergelyk hierdie besonder netjiese maar ook besonder siellose moderne stat van die

6.

Temboe (No. 1) met die stylegte voorplaas in 'n Pedi-dorpie (No. 2). No. 3 toon ons 'n meidjie nogal van Noord-Transvaal met haar rokkie uit Europese katoen. Veel beter reeds lyk die Matebele vrouens met hul ringe van krale, hul komberse bevallig om die lyf gesit en die lang voorskoot van leer met krale versier (No. 4). Let op hoe deftig dieselfde vrouens in hul feesklere lyk (Nos. 5 en 6). Hier het die Matebele gebruik gemaak van Europese krale om, sonder enigsins Europese modes na te volg, 'n nasionale drag van eienaardige skoonheid te ontwerp. Wie sal uiteindelik ontken dat die drie Pedidogters wat hier (No. 7) by die vuurherd van hul moeder staan die hart van enige Bantoe jonkman vinniger sal laat klop, tensy dit ons geluk het om sy gesonde skoonheidsgevoel te versmoor in ons stede, waar ons besig is om die manlike jeug van die Bantoe volk te vervorm van binne en buite.

W. EISELEN.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 201

Letterkundige Kritiek.

DIT is Ruskin wat gesê het dat dit die taak is van alle goeie kritiek om verdienstelike skrywers onder die aandag van die publiek te bring en swak skrywers te verhinder om die publieke aandag in beslag te neem. Daarom is dit ironies dat Ruskin self nie by magte gewees het om die werk van Whistler, wat vandag erken word as een van die wêreld se grootste skilders, te kan waardeer nie. ‘I have seen and heard much’ - so het hy in 1877 in 'n koerantartiekel geskryf na aanleiding van twee in Londen tentoongestelde skilderstukke van Whistler - ‘of the Londoner's impudence before now, but never expected to hear a cockscomb ask two hundred guineas for flinging a pot of paint in the public's face.’ Natuurlik het geld hoegenaamd geen betrekking op die estetiese waarde van 'n kunswerk nie, maar dit is interessant om te weet dat dieselfde kunswerke wat Ruskin so afgekam het, later aangekoop is vir tienmaal die som wat die skilder self gevra het en vandag 'n plek beklee in die Britse Nasionale Kunsgalery. Herhaaldelik het dit reeds geblyk dat 'n goeie krietikus dikwels in gebreke bly om die werk van 'n tydgenoot, wat iets nuuts deur sy penseel of pen te verkondig het, na waarde te skat. En tog, hoewel Ruskin gefaal het om die verdienstes van 'n groot kunstenaar raak te sien, sy opmerking bly nog altyd waar: dat dit die taak is van die krietikus om kunswerke 'n plek te verseker in die publieke aandag en prulwerke te verhinder om daardie aandag in beslag te neem. Daarom moet hy hom daarop toelê om verdienstelikheid te ontdek en dan sy ontdekking aan die wêreld bekendmaak. Daarby moet dit sy roeping wees om diegene wat ‘verfpotte rondgooi’, of boeke met onsin volkrap, sonder skroom te ontmasker, al is die prulskrywer ook sy vriend. Dit word vertel dat Ruskin eenslag 'n vriend van hom baie skerp gekritiseer het. Toe skryf hy aan sy vriend om te sê dat hy hoop dat die kritiek geen verskil sal maak aan hulle vriendskap nie. Daarop antwoord die vriend: ‘Beste Ruskin, as ek jou weer ontmoet, sal ek jou 'n opstopper gee, maar ek hoop dit sal geen verskil maak aan ons vriendskap nie.’ Om 'n goeie boek by die leser aan te beveel en hom te verhinder om 'n slegte te lees, is dus die taak van die literêre krietikus. En dit bring ons vanself tot die hoofkenmerk wat by 'n krietikus vereis word, ten einde sy taak waardig te wees. Hy moet natuurlik in staat wees om te kritiseer. Dit

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 202 beteken nie, soos baie mense skyn te dink, om net af te kam nie. Dit beteken nie om te verkleineer nie, maar om te diskrimineer. Gedurende al die jare van 'n lang lewe waarin ek voortdurend belanggestel het in boeke en skrywers en lesers, het ek uitgevind dat onderskeidingsvermoë 'n gawe is wat maar by baie min lesers aangetref word. Laat my sê, voor ek verder gaan, dat ek my hier sal beperk tot die prosaverhaal. Dit sou my te ver voer om ook die ander kunsvorme, soos poësie, drama, ens. in te sluit. Wat is nou eintlik hierdie literêre Kuns, waarmee ons hier besig is? Wat is Kuns? Leo Tolstoy, die grootste woordkunstenaar van die vorige een, het 'n lywige boekdeel geskryf met hierdie vraag tot tietel; maar selfs hy wat so goed geweet het hoe om te skryf, het sy eie vraag nie kon beantwoord nie. Dit skyn of hy van Kuns verwag het om meer 'n saak van veredeling as van ontroering te wees, hoewel hy ten slotte tot die beste formulering gekom het, van wat 'n kunstenaar uitmaak, wat ek nog teëgekom het. 'n Skrywer, sê hy, wat in staat is om die ontroering wat hy self ondergaan het, in sy leser te wek, is 'n kunstenaar. Emile Zola, 'n ander letterkundige genie van die vorige een, wat deur die smaak van ons moderne tyd verkleineer word (omdat ons lagwekkende prikkeling hoër stel as grootsheid van gedagte, net soos ons plesier verkies bokant geluk), sê in sy groot roman ‘L'Oeuvre’ dat Kuns die voorstelling is van 'n stuk lewe, soos weerkaats deur 'n temperament. Om 'n stuk lewe uit te beeld en om dit lewenswaar te doen, dit is die taak van die literêre kunstenaar. As 'n leser dus 'n krietikus wil wees, moet hy die lewe ken. Hy moet kan onderskei tussen 'n oppervlakkige bioskoop-storie en 'n innerlik-deurleefde, lewensware uitbeelding. En hier kom ons tot 'n twede vraag, dieselfde vraag wat 'n magtige stadhouder tweeduisend jaar gelede uit die hoogte van sy regterstoel gestel het aan die bekende Beskuldigde, wie se antwoord hy hom nie eers verwerdig het om af te wag nie: Wat is Waarheid? Pilatus het geweet dat daar geen antwoord is op hierdie ewige vraag nie; dat die Waarheid vir elke mens maar sy eie siel is; dat die Griekse poësie 'n diepsinnige wysheid verkondig, waar dit die Godin van die Waarheid op die bodem van 'n put plaas, sodat elkeen wat haar soek, net sy eie weerkaatsing in die water sien. Maar dit is nie genoeg vir die kunstenaar om die lewe volgens die eise van die waarheid voor te stel nie. Hy moet sy gedagtes die passende vorm kan gee, d.w.s. hy moet sy woorde kan gebruik - daardie subtiele, ontasbare uitingsmiddele wat nietemin magtiger is as armadas en armees. Hy moet die tegniek daarvan beheers, net soos die skilder moet weet hoe om sy kleure te meng. Ek bedoel nie dat hy die grammatika moet ken nie, want dit is maar

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *19

WENNING. STILLEWE.

(In die besit van Mnr. D.C. Boonzaaier, Newlands, K.P.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 203

'n konwensionele afspraak om onderling verstaanbaar te wees. Om egter verwarring by die leser te voorkom, moet hy hom soveel moontlik aan daar- die afspraak hou. Maar dit is nie voldoende nie. Hy moet sy woorde mooi gebruik. Ongelukkig is daar niks so moeilik as om ons gevoel vir die aard van letterkundige skoonheid te bepaal nie. En dit bring ons tot 'n derde vraag: Wat is Skoonheid? Net so moeilik om te beantwoord as die vorige twee, want dit baat ons nie veel om, herinner te word aan die gesegde: ‘Skoonheid is in die oog van die aanskouer’ nie, hoe waar dit ook mag wees. Hoe dikwels voel ons nie by die lees van 'n beoordeling dat die krietikus se blaam of prys op 'n verkeerde maatstaf berus nie. Een skrywer word geroem om sy sielkundige deurdringing, 'n ander weer om die sierlikheid van sy sinsbou of die goedgebalanseerde bou van sy intriege. Een is vermaaklik, 'n ander diepsinnig, 'n derde gebruik mooi beeldspraak of vermy die gebruik van te veel adjektiewe, ens. Ek besef dat al hierdie eienskappe deel uitmaak van letterkundige skoonheid en ek let self daarop wanneer ek lees; en tog hoef 'n groot skrywer soos Charles Dickens dit alles maar te negeer en net Little Nell of Sairey Gamp te laat verskyn, om my dadelik al die sogenaamde wette van literêre kuns te laat vergeet by die ewige triomf van Lewe oor Logika.... Waarin dan bestaan letterkundige skoonheid? Is daar so iets, een of ander besondere sentiment of ontroering waaraan ons daardie benaming kan toeken? 'n Beroemde Franse krietikus het onlangs in verband met hierdie onderwerp opgemerk: ‘Nie alleen is ons onmagtig om wat vir ons so dierbaar is te omskryf nie, maar ons weet nie eers in watter rigting ons daarna moet soek nie. Ons sien die weerkaatsing daarvan orals, maar nêrens die vlam self nie.’ Hierdie vrae: Wat is Skoonheid? Wat is Waarheid? Wat is Kuns? kan nie beantwoord word soos ons wetenskaplike vrae beantwoord nie. Die wetenskap het niks uit te staan met die estetiek nie, hoewel 'n groot skilder soos Leonardo da Vinci en 'n groot romanskrywer soos Zola wetenskaplike beginsels op hulle werke probeer toepas het, maar tog vereer ons hulle vandag nie as wetenskaplikes nie dog as kunstenaars. Maar al is 'n wetenskaplike antwoord nie moontlik op hierdie geestelike en estestiese vrae nie, bestaan daar tog geen rede waarom ons hulle nie sal ondersoek nie. Inteendeel, dis selfs baie wenslik om dit te doen, aangesien die wens om te ken beter is as die kennis self. Laat ons begin met te erken dat daar 'n verwantskap bestaan tussen al die skone kunste, of liewer tussen al ons gewaarwordinge van die skone. Van 'n estetiese standpunt besien, is ons die beste vertroud met die argitektoniese

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 204 kuns. Ons kyk almal ons hele lewe lank elke dag na huise, hoewel ons selfs daarvan nie eintlik veel weet nie. Ons kan verklaar dat 'n stuk argitektuur mooi is, byvoorbeeld die Unie-Geboue op Pretoria, maar ons kan nie verduidelik waarom dit so is nie. Tog meen ek dat ons kan sê dat die skoonheid van iets geleë is in sy vorm. Ons gewaarwordinge by die aanskouing van 'n kunswerk is so gekompliseerd dat dit 'n belangrike resultaat van ons ondersoek is om die gewaarwording wat vorm by ons opwek, te kan onderskei en afskei as 'n bepaalde estetiese aandoening. In 'n skildery kom daar kleur by die vorm en ook die speling van die lig daarop, maar selfs sonder kleur is en by 'n houtsnee reeds die idee van vorm voldoende om 'n skoonheidsgevoel te wek. Vorm, afgesien van kleur, is dus van fundamentele betekenis as skoonheidselement. Daarsonder kan geen skilderstuk 'n kunswerk wees nie, terwyl dit sonder kleur wel die geval kan wees. Watter analogie bestaan daar in literatuur met betrekking tot hierdie idee van vorm? Net soos die vorm-begrip in die plastiese en grafiese kunste alle materiële moontlikhede toelaat, meen ek dat die korresponderende literatuurbegrip alle geestelike moontlikhede behoort toe te laat. Sielkundige Werklikheid - dit is die materie waarmee die skrywer moet skep, die alledaagse werklikhede van die siel, al die vorme van ons innerlike lewe. Net soos die skilder en beeldhouer gelykenisse van materiële wesens skep, so behoort die skrywer sielkundige wesens te skep. Die figuur van Ampie kan dien as illustrasie van wat ek bedoel. Dit is die sielkundige werklikheid van Sangiro se leeus en ander diere, wat sy boek op 'n hoër peil plaas as die blote beskrywing van 'n jagtog, wat dit tot kunswerk stempel. Die meeste mense dink dat 'n skilder hom ten doel stel om een of ander voorwerp op sy doek af te beeld, d.w.s. die werklikheid wat hy voor hom sien, natuurgetrou te kopieer. As dit die geval was, sou hy nie veel van 'n kamera verskil nie. Net so algemeen is die opvatting, selfs onder skrywers self, dat literatuur beskrywend moet wees. Talloos is dan ook die voorbeelde van haarfyne beskrywings van natuurtonele, gewoontes, kleredrag, karaktereienskappe, uiterlike voorkoms, ens. Ek hoef maar te herinner aan Walter Scott. Alle letterkundiges het waarde geheg aan hierdie kopiëerlus, maar terselfdertyd het hulle die regte van verdigting beskerm onder name soos fantasie, verbeelding, ens. Die taak van die krietikus is nou om vas te stel of die werk van 'n skrywer 'n onafhanklike skepping is, d.w.s. 'n werklikheid, net so onmiskenbaar soos 'n man of boom of huis, dan wel of dit enkel 'n geografiese of historiese dokument is, of 'n opsomming van psiego-analietiese waarnemings. Ons kan hierdie twee gesigspunte nie met mekaar vereenselwig nie, hoewel hulle ongetwyfeld met mekaar verwar kan word. Maar ek vertrou dat die tyd sal

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 205 kom wanneer dit net so belaglig sal lyk vir 'n skrywer om te probeer bydra tot die sielkunde, as wat dit vir 'n landskapskilder sou wees om te probeer bydra tot die kennis van Geologie of Botanie. Die studie van die reeds bestaande werklikheid moet nie verwar word met die skepping van 'n nuwe werklikheid nie. Natuurlik is so 'n skepping die resultaat van 'n studie van die natuur, maar ons moet oppas om nie as doel te beskou wat net middel behoort te wees nie. 'n Roman behoort 'n lewende skepping te wees en nie 'n bron van noukeurige informasie nie. Ek het mense Romain Rolland hoor lof toeswaai as 'n groot sielkundige, terwyl hy in werklikheid 'n groot digter is, wie se roman Jean Christophe vir my die grootste letterkundige kunswerk van hierdie een is. Daar bestaan 'n ander opvatting, teenoorgesteld aan dié wat van 'n romanskrywer enkel 'n kopiëerder of 'n laboratorium-navorser wil maak, nl. dat hy enkel 'n virtuoos van die tegniek moet wees, 'n werktuigkundige om dit so uit te druk, by wie die onderwerp van behandeling nie daarop aankom nie, maar alleen die manier van behandeling. Volgens hierdie opvatting is die belangrikste die vorm, die ritme en harmonie, die suiwerheid van taal en die rykdom van woordeskat, en wat dies meer sy. Weliswaar kan 'n skrywer, net soos 'n skilder, na aanleiding van enige voorwerp 'n kunswerk skep. So is b.v. 'n klein skilderytjie in die Michaelis-Galery in Kaapstad, van 'n bord met pruime en 'n rooi blom in 'n bottel, 'n groter kunswerk as die lewensgroot portret in dieselfde versameling deur Van Dyck, van 'n mooi man in al die glorie van 'n mooi pak klere. Om 'n ander en miskien meer bekende voorbeeld te neem, wanneer Sangiro in Op Safari die voëltjies in die vlei met sonsondergang teken, is die onderwerp op sigself niksbeduidend. Maar ontstaan die gevoel van skoonheid wat hy daardeur by ons opwek, nou deur die woorde wat hy gebruik, hulle klank, hulle ritme, sy goedgebalanseerde sinne en hulle grammatikale juistheid? Of moet ons dit toeskryf aan die aangename en subtiele verbeeldingsfeer wat die gesig van die voëltjies by hom opgewek het? Die antwoord is sekerlik dat dit nie die ritme van die woorde is wat ons genot verskaf nie, maar hulle betekenis; dit is nie ons oor nie, maar ons gees wat die skoonheid daarvan waardeer. 'n Geestesmoment van Sangiro het deur sy woordgebruik 'n geestesmoment van onsself geword. Die realiteit van hierdie digterlike woorde lê opgesluit in hulle geestelike vorm, terwyl b.v. die estetiese realiteit van 'n kerk nie geleë is in die godsdienstige gevoel wat dit mag veroorsaak nie, maar in sy uiterlike vorm. Woorde op sigself kan natuurlik ook genot verskaf, maar nie wanneer hulle van alle betekenis ontbloot is nie. Hiervan kan elkeen hom oortuig deur b.v. te luister na die voordrag van 'n gedig in 'n onbekende taal, hoe mooi

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 206 dit ook al mag gedoen word. Literêre kuns is en bly dus essensieel 'n geesteskuns. En so kom ons weer tot wat ek vroeër reeds opgemerk het: dat die doel van letterkunde is die skepping van sielkundige of geestes-wesens.

Laat ons nou sien wat die aard van sulke skeppinge is of kan wees. Die eenvoudigste wat ons in die letterkunde aantref, is gemoedstoestande, of sal ek sê, geestesmomente, soos b.v. in die kort verhale van Anton Tchehov en Alexander Kuprin. Hulle vertel wat die mens op 'n gegewe moment is: die toneel wat hy betrag, die gevoelens wat deur sy waarneming gaande gemaak word, laat dit wees die vlug van 'n springbok, bye om 'n tros doringboombloeisels, die rooi kandelaar van 'n alwyn. Die uiterlike realiteit word met die innerlike saamgesmelt tot 'n geheel. 'n Gemoedstoestand is nie noodsaaklik van sentimentele aard nie. My bedoeling is nie dat die romanskrywer sy leser deelgenoot moet maak van sy vreugde en smarte nie. Voor ons 'n boek opneem waarvan die tema ‘Liefde’ is, ken ons daardie liefde?, en geen beskrywing daarvan kom naby die eie ervaring nie. Maar ‘liefde’ is dan ook net die voorwendsel van die skrywer. Die roman self is nie liefde nie - - dis iets anders. Wat die kunstenaar geskep het, is 'n nuwe geesteservaring, en nie een van die oog of oor nie. Dis 'n onverwagte ineenvloeiing van sensasies, gedagtes en emosies wat hulleself rangskik, ons weet nie hoe nie, tot een geheel, tot 'n eenheid.

Om hierdie eenheid te kan waarneem, moet die krietikus die woorde een vir een aandagtig beluister; hy moet opreg wees en nie te seker dat hy alles begryp het nie, selfs al is dit die eenvoudigheid van Tolstoy se Famieliegeluk of die ingewikkeldheid van Dostojefsky se Karamasov.

Op die enkelvoudige geestesmoment volg dan die gekompliseerde karakter. Daarna kom die situasies, die verwikkeling, of as u dit so wil - die verhaal. Geestesmomente, karakters, situasies en hulle verhoudinge tot mekaar - dit alles vorm die wese van literêre kuns; en die poging om van die konsepsie in die gees oor te gaan tot die neerskryf daarvan - dus juistheid van taal, woorderykdom, lewendigheid en sierlikheid van styl, ens. - behoort m.i. genoem te word skryfkuns.

Net soos die skilder of beeldhouer van die eerste skets af tot die laaste detail voortdurend die oog gerig hou op die geheel, moet die skrywer vorm gee aan die totaliteit van sy konsepsie terwyl hy besig is met die keuse van woorde, en sinne, met grammatikale kleinigheidjies, wat per slot van rekening tog maar almal as gedagteskakeringe soveel skakels uitmaak van die hele ketting.

Op 'n wandeling in die Laan in Kaapstad het Sangiro my eenmaal vertel hoe hy die einde van sy Leeuverhaal ‘gesien’ het, terwyl hy besig was met die beskrywing van die leeu se lêplek aan die begin daarvan. Luister net na

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 207 hierdie voortreflike einde van sy treurige verhaal van die lotgevalle van 'n leeufamielie:

‘Op donker misaande, wanneer spookgestaltes teen die Koueberge afkruip en vaal oor die vlaktes trek, staan die ou hartbeesbul nog op die uitkyk daar op sy kaal heuweltjie; en sy oë soek om tussen die onseker skemergedaantes van die nag die bekende leeuvorms te onderskei. Maar sedert daardie wilde aand toe die twee leeutjies van die sandsloot af in die reën hier by hom verbygedraf het, word die ou paadjie nie meer gebruik nie.’

As 'n skrywer nie 'n kunstenaar is nie, sal sy gedagtegang losraak van wat hy neerskryf, met die gevolg dat die geskrewe bladsy die indruk sal maak van 'n reeks holklinkende woorde sonder volledige betekenis, somar neergepen uit sleurgewoonte of oorgelewerde tradiesie, in plaas van voortgestu deur innerlike geestesdrang. Die gedagtegang in 'n roman kan vergelyk word met die vorm van 'n beeldhouwerk of skilderstuk en die geskrewe teks met die omtrekke en oppervlakte. Die manier waarop die oppervlakte van 'n beeldhouwerk of die lyne van 'n skildery behandel is, kan by die aanskouer in meerdere of mindere mate 'n estetiese gevoel opwek. So is dit met woorde by die leser. Maar hulle moet in eerste en laaste instansie dien om volmaakte vorm te gee aan die kunswerk as geheel. Een van die skoonhede van die klassieke is die noukeurigheid waarmee alles in die teks by mekaar pas. Elke woord het sy betekenis en sluit so volmaak aan by die res, dat alles saam 'n massiewe geheel word; en ek meen dat geen werk sonder hierdie eienskap ooit ‘klassiek’ kan word nie. En tog is dit alleen nog nie voldoende om 'n kunswerk te skep nie, anders sou 'n kubus of 'n wet van die parlement ook skoonheid besit! Ons het nou 'n ondersoek ingestel na die wese van letterkundige kuns en 'n min of meer aanneemlike formulering daarvan opgestel. Laat die krietiese leser homself nou afvra of dié persoon 'n groot skrywer is wat harmonieuse, korrekte, diepsinnige sinne vorm, of dié wat lewende wesens skep. 'n Skrywer kan nog groot wees, al besit hy nie al hierdie hoedanighede nie, maar ek dink dat die krietiese leser van Romain Rolland se meesterwerk nou miskien sal verstaan waarom Jean Christophe altyd sal voortleef en die held van 'n swak roman nie. Die feit dat goeie krietisie en groot skrywers dikwels met mekaar verskil, dat b.v. in die 18e een Goethe en Victor Hugo met Shakespeare gedweep het, terwyl Jules Lemaitre en Tolstoy dit in die 19e en Bernard Shaw in die 20e een nie gedoen het nie, hoef ons nie te ontstel nie. Soos ek gesê het, moet die krietikus eerlik en opreg wees. Voeg daarby 'n behoorlike kennis van letterkundige kuns en die vatbaarheid vir estetiese aandoening - en hy besit drie hoedanighede wat van hom 'n goeie krietikus sal maak. BRANDER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 208

Nuwe Boeke.

Alle nuwe boeke deur die Redaksie, Bus 1266, Pretoria, ontvang, word hier aangekondig. 'n Latere bespreking van die aangekondigde boeke is nie uitgesluit nie.

Brand, Hendrik: Adriaan Hugo (Speurder). Nasionale Pers Beperk, Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein, 1929. Eden, Fanny: Meer as Goud. 'n Verhaal vir oud en jonk. In Afrikaans bewerk deur Ds. P.J. Marais, H.A.U.M., Kaapstad, 1929. Farrington, B.: Samuel Butler and the Odyssey. Jonathan, Cape, 30 Bedford Square, London. Fitzsimons, F.W.: Slange en die Behandeling van Slangbyt. Nasionale Pers Beperk, Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein, 1929. 2/9. Gail, Otto Willy: Per Raketvliegtuig naar de Maan. Met 8 Platen. N.V.A.W. Sijthoff's Uitgeversmaatschappij, Leiden. f3.25, Geb. f3.90. Hofacker, W.: God met Ons. Gebede tot diens van Kristelike Huisgesinne. In Afrikaans bewerk onder toesig van Ds. J.D. Kestell, H.A.U.M., Kaapstad, 1929. 4/9 posvry. Hofmeyer, Nico: Op die Walle van die Vaal. Nasionale Pers, Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein, 1929. Hopwood, David: South African English Pronunciation. Juta & Co., Ltd. Capetown and Johannesburg, 10/6. Malan, J.P.: Kwakkie se Awonture. Die Natalse Pers, Pietermaritzburg, 1929. Prys 1/6 posvry. Ritter Jr., Dr. P.H.: De Kritische Reis. Biliografische Aantekeningen van P.H. Muller, U.M., Holland, Amsterdam. Rose Innes, Sir James: The Native Franchise Question. A Speech read at the Opening Meeting of the Non-Racial Franchise Association. Cape Times, Limited, Cape Town, 1929. Published Price 1/-. Schoonees, P.C: Kleingoed. Die Natalse Pers, Pietermaritzburg, 1929. 4/3 posvry. Smit, W.A.P.: Feesten van 't Jaar, U.M., Holland, Amsterdam, MCMXXIX.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 209

Schmidt, B.F.: Meetkunde vir Matrikulasie. Standard IX en X. Juta & Ko., Beperk, Kaapstad, 5/-. Schmidt, B.F.: Meetkunde vir Junior-Sertifikaat. Standard VII en VIII. Juta & Ko., Beperk, Kaapstad, 4/6. Van de Graft, Dr C. Catharina: Verzen van Vondel. Bloemlezing voor onzen Tijd. Verzameld en toegelicht door -. Met twee portretten, een titelprent en zeven Facsimilé's. W.L. en J. Brusse's Uitgeversmaatschappij, Rotterdam, MCMXXIX. Ing. f2.25, Geb. f3.25. Van Leeuwen, W.L.M.E.: Natuur en Dichter. Een Monographie ter Afsluiting van het Literatuuronderwys en voor Zelfstudie. Met Bloemlezing. J.B. Wolters, U.M., Groningen, Den Haag, 1928. Ing. f3.90, Geb. f4.50. Van Leeuwen, W.L.M.E.: Korte Schets van de Ontwikkeling der Nederlandsche Letterkunde. J.B. Wolters, U.M. Groningen, den Haag, 1928. Ing. f3.90, Geb. f4.50.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 210

Selma Lagerlöf en Haar Kuns.

TUSSEN die ernstige woude van Wermland in Middel-Swede, Noord van die Wener-meer, waar Dalelf en Klarelf stroom, waar ou berge die Sagas en vertellings van lang-vervloë dae bewaar, waar vrolike bergstrome nie moeg word om van die vrolike dade en die lewenslus van Eheby se Kawaliers te vertel nie - daar in daardie wonderbare land, bloei 'n stille blom. Sy bloei al sewentig jaar daar. Maar tog is sy nie verwelk nie. Met daardie blom gaan dit net soos met 'n sprokie wat nooit oud word nie. 'n Wonderblom. As 't ware uit 'n ander wêreld, 'n wêreld van paradysdrome, in die werklikheid van hierdie lewe oorgeplant. Sy het die suiwere blankheid van 'n krisant, die bloedwarm kleur van 'n angelier, die ope oog van 'n goue sonneblom. Haar rosegeure stuur sy die hele wêreld deur. Sy is vèr buitekant die grense van Wermland en Swede bekend. Tog is sy nederig, beskeie soos 'n veldlelie en by nadering en aanraking van buite trek haar siel hom terug soos die fyngevoelige mimosa. Daardie blom is die wêreldberoemde skryfster: Selma Lagerlöf. - En dié wat haar ken, weet, dat ek nie teveel gesê het nie.

I.

Ek het haar 'n stille blom genoem.. En wel om haar uiterlike lewe. Dit is nie 'n lewe wat stof sou oplewer vir 'n film nie - awonture soos die van die Kawaliers op Eheby kom daar nie in voor nie. Wat daar na die uiterlike gebeur in daardie lewe, is volstrek nie belangwekkend nie. Ek ontleen die volgende aan 'n uiknipsel uit die ‘Nieuwe Rotterdamsche Courant’, van 'n mooi artiekel deur Karin Michaelis by geleentheid van haar 70ste verjaarsdag:

‘Sewentig jaar - is dit nie die drumpel van die dood nie? Ja, vir almal van ons, wat verdwyn sonder dat daar selfs 'n spoor agterbly. Maar daar is nog ander onder ons, wie se lig nog eeuelank, soos die lig van sterre wat lankal ondergegaan en verdwyn het, die hele wêreld bestraal en verwarm. Selma Lagerlöf is een van hulle. As mens beteken Selma Lagerlöf eintlik wonderlik min vir ons. Sy het haar lewe in stilte deurgebring; 'n stilte soos ons maar baie selde vind, 'n stilte waarvan maar baie min mense, miskien niemand, die rede

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 211

weet nie. Het dit uit vrye wil geskied, uit angs vir die mense of uit behoefte aan vrede van 'n verhewe siel? Wie kan sê?

Daar is stellig duisende mans en vrouens in en buitekant Europa, wat myle ver sou reis en daelank sou wil reis om in die nabyheid van Selma Lagerlöf te kom, om haar te sien, om haar te hoor praat, te ontdek waarin haar mag wortel. Dit het 'n enkelde een miskien geluk om deur die stilte te dring wat haar omgewe; baie naby haar het egter ongetwyfeld maar baie min mense gekom, alleen dié wat aan haar verbind is deur bloedverwantskap of herinnerings uit haar kindertyd.’ Tot sover Michaelis.

Herinnerings uit haar kindertyd! Hoe dierbaar hierdie herinnerings vir haar is, blyk uit haar boek ‘Märbacka’. Die naam Märbacka is inderdaad baie nou met Selma Lagerlöf verbonde. Want dit is die naam van die landgoed, waar sy haar hele lewelank gewoon het, waar sy nou nog woon. 'n Foto van die woonhuis, soos dit vandag is, gee vir ons 'n breedgeboude huis te sien, met twee syvleuels en 'n groot, mooi veranda. Ag, watter herinnerings bêre hierdie huis, hierdie hele pragtige landgoed Märbacka nie! Herinnerings uit 'n heerlike bly kinderlewe. Die blydskap woon in hierdie huis van lieflikheid en harmonie. Die blydskap wandel daar tussen die geheimsinnige bosse en langs die lang paaie onder lower-gewelwe. En dit lag uit honderde blomgesigte. Dit is hierdie blydskap, wat deur haar werke straal en lag. Sy het self oor haar kinderjare geskrywe in daardie boek, wat na die landgoed genoem is: Märbacka. Daarin vertel sy hoe sy as kind die ongeluk gehad het om opeens lam te word. - Ja, dit het skielik gekom - somar opeens terwyl sy in die kamer gespeel het. Duidelik herinner sy haar die ontsettende angs wat toe oor haar gekom het. Die diensmeisie kom in, kry haar in trane en wanhoop en vra: ‘Wat makeer, Selma? Is jy siek?’ - ‘Ek kan nie meer loop nie, Bach-Kajsa’, snik die klein meisie. Toe het twee sterk arms haar opgetel, so maklik, asof sy 'n klein katjie was. ‘Nou moet jy nie meer huil nie, Selma, ek sal jou dra.’ Daarmee was al die klein meisie se kommer as 't ware weggeblaas - want dit konnie sleg gaan met iemand wat so'n pragtige, sterk vriend soos Bach-Kajsa gehad het nie. Net so skielik as wat die kwaal ontstaan het, net so gou is Selma daarvan genees. Haar ouers het met haar na Göteborg gereis om die genesing te kry. Hierdie reis word geestig beskrywe, sowel die ondervindings op die skip ‘Uddeholm’ as in die winkel van die goudsmid in Göteborg. As klein Selma by die bekyk van 'n stoomboot wat aangekom het, verlore raak, roep hulle van alkante: Selma! Selma! Eindelik kry hulle haar, en as hulle haar dan verbaas vra: Hoe het jy hier gekom? dring dit tot haar bewussyn deur, dat sy

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 212 oor die dek geloop het, met die trappe afgegaan het, in die kajuit gegaan het en dat nie een haar gedra het nie.

‘Ag, watter saligheid was dit nie! Nou was die doel van die reis bereik, die kosbare onderneming was nie tevergeefs gewees nie!’

In Stockholm het sy haarself vir die onderwyserseksamen voorberei en dit was in haar laaste leerjaar dat sy haarself as skryfster ontdek het. Sy het 'n ingewing gekry. By een van die lesings is gepraat oor twee vaderlandse digters. ‘Langs die pad loop sy en dink, dat sy self ook wel kon skrywe en haar materiaal in net sulke mooi stof vind: haar geboortestreek en haar sagas.’ Sy wil, sy moet skryf! Dit was vir haar 'n groot blydskap, toe sy die berig ontvang dat haar eerste sonnette gepubliseer sou word.

Maar hierdie gedigte het gladnie 'n geweldige indruk gemaak nie. Sy word toe aangeraai om prosa te probeer. Haar eerste novelle, wat toe gevolg het, was ook nie juis 'n sukses nie. Hulle het die inhoud ‘goddelik’, maar die styl ‘afskuwelik’ gevind. In 1889 het daar 'n hoofstuk van ‘Gösta Berling’ gereed gelê. Sy moet dit oorspronklik (soos ek een keer gehoor het) as 'n gedig geskrywe het, maar later in ongebonde styl vir die pers gegee het. Dis heeltemal moontlik. want die styl van hierdie hele buitengewone boek, van hierdie eerste groot en tog al ryp werk van haar, is digterlike prosa vol musiek en sang.

Toe het die meesterwerke gevolg, die een na die ander. Van toe af het sy net vir haar werk gelewe en haar lewe sowel as haar werk het van toe af in stygende lyn gegaan.

Selma Lagerlöf het groot reise onderneem om haarself te orienteer; vir haar ‘Jerusalem’ het sy 'n pelgrimstog na die Heilige Land gemaak, en die betowering van die Ewige Stad ondergaan - - - van Rome.

Sy het nie in 'n tyd gelewe waarin 'n lewendige fantasie voldoende surrogaat was vir positiewe aardrykskundige en kultuurhistoriese kennis nie - in 'n tyd waarin Schiller sy ‘Tell’ en Victor Hugo sy ‘Orientales’ kon skrywe sonder daar - om so te sê - 'n voet voor te versit nie! Selma Lagerlöf het die Nobelprys vir literatuur gekry en by die uitreiking daarvan, inplaas van die omskrewe redevoering te hou, 'n sprokie vertel. Dit teken haar! Verder is sy Doctor Honoris Causa, lid van die Sweedse Akademie en haar werke is in die tale van omtrent al die kultuurvolke - daar word 30 genoem - vertaal. ‘In die oord van haar selfgekose kluisenaarskap - die mooi-geleë en beroemde Märbacka, waar bewonderaars uit al die lande haar kom besoek - kyk Selma Lagerlöf in Olimpiese grootheid en Sokratiese gemoedsvrede terug op die sonnige lewensweg, wat sy afgelê het.’ -

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 213

Wie het invloed op ons skryfsters uitgeoefen? Ons kan hierdie vraag natuurlik net in soverre beantwoord as wat die invloed vir ons bekend is. Behalwe die sprokiesagtige, dromerige skoonheid van Swede, insonderheid van Wermland met sy ontelbare sagas, het Selma se ouers en veral ook haar Ouma invloed op haar gehad. Van laasgenoemde vertel Selma in haar Jeugherinnerings. Daaruit leer ons ook haar Vader ken. Hy was, net soos Selma se Oupa, 'n offisier in die leër. 'n Ondernemende man, wat gebruik gemaak het van moderne gedagtes en uitvindings om daardeur sy landgoed te verbeter, te verfraai, vrugbaar te maak; 'n man, wie se lewendige gees van humor getintel het. Ook was hy 'n groot kindervriend. Hoe lief moet Selma daardie Vader nie gehad het nie! Van haar moeder vertel sy ons maar min. Die bietjie is egter vir ons genoeg om haar te leer ken as 'n vrou wat haar man deur en deur geken het, begaaf met tak en eg-vroulike intuïesie, wat sterker en geseënder geblyk het as die redenerende verstand van knap raadgewers. Hierdie indruk het ek gekry, toe ek die volgende in Jeugherinnerings lees. Dit kom in kort hierop neer: Selma se vader was van plan om 'n nuwe stal te bou en dit het gelyk of niks hom van daardie plan kon afbring nie. Hy sou dit daar bou, waar die gelyk akkers lê onder aan die sandheuwels, waar die ander geboue van Märbacka ook staan. So begin hulle dan grawe en die fondament te lê. Die bodem was vas en die grondklippe het op hulle plek gebly. Dit het voorspoedig gegaan solank hulle aan die Ooskant gebou het, maar toe hulle aan die Weskant begin bou, kom die groot teleurstelling. Die grond was daar sag, g'n klip het daar bly lê nie. Alles sak ondertoe weg. Hulle begin opnuut en spoedig is daar 'n breë klip-dam, waarop hulle verder sal kan bou. Maar toe kom die reënstrome en spoel die dam weg. Na 'n paar dae was daarvan niks meer oor nie. Ook nuwe pogings, wat 'n paar jaar later onderneem is, het sonder resultaat gebly.

Toe het die groot moedeloosheid oor die flukse eienaar van Märbacka gekom, en dit is nog vererger deurdat al die deskundiges hom aangeraai het om maar die bou te laat staan. Dit sou maar net tyd-, krag- en geld-mors wees.

Toe hy by die huis kom na 'n ontmoedigende onderhoud, het hy diep ongelukkig gevoel. Vroeër, toe hy sy vrou gehaal en besit geneem het van Märbacka, het hy homself vir 'n uitverkore gelukskind beskou.

Mevr. Lagerlöf het op haar gewone plek gesit, besig met naaldwerk. Sy het geweet hoekom haar man so ontstem is. ‘Wil jy nie bed-toe gaan nie?’ vra hy. En 'n mens kon aan die klank van sy stem hoor hoe geprikkel en ontstem hy is. ‘Dis my mening,’ antwoord sy vrou sag, ‘dat jy moet deurdruk met die bou tot die end toe - - -’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 214

Dit verstaan hy gladnie! ‘Wat sê jy?’ - ‘Dat jy moet deurdruk met die bou.’ Sy het goed geweet, dat dit miskien verstandiger sou wees om die bou te laat staan, maar dit sou hy hom te veel aantrek. (Zu sehr zu Herzen nehmen). - Ander mense kon dit nie verstaan nie, maar sy, sy vrou, wel. Vir haar was dit net so maklik om in die hart van die man, wat sy lief gehad het, te lees, as om 'n boek te lees. Toe word dit lig in sy hart. As sy dieselfde wil as hy, dan is daar g'n moeilikhede meer nie. En die bou het geluk.

Sal so'n liefhebbende, fyngevoelige vrou ook nie vir Selma 'n énige moeder gewees het nie? - En dan: haar Ouma! Aan haar word 'n afsonderlike opstel gewy. Tog word daar feitlik niks ander gesê, as dat sy gesterf het nie en dat Selma haar dood, ag so diep gevoel het, want saam met haar is al die heerlike vertellings begrawe.’ Die klein kindertjies het van niks anders geweet nie, as dat sy van die môre tot die aand saam met hulle gesing het en vir hulle vertel het en dat hulle by haar gesit en geluister het. Dit was wondermooi gewees. ‘G'n ander kind het dit so goed gehad as sy nie.’ En - Ouma het self elke woord geglo, wat sy vertel het. As sy iets baie merkwaardigs meegedeel het, het sy altyd diep in die kinders se oë gekyk en op haar mees-oortuigende toon gesê: Dit is alles net so waar as wat ek julle sien en julle my sien.’ Ag, toe kom die dag, dat hulle die sprokies en liedere van die werf af weggevoer het, in 'n lang, swart doodkis ingepak, en hulle het nooit weer teruggekom nie. Dit was, asof die deur van 'n mooi towerwêreld gesluit is, waar hulle tevore vry uit en in kon gaan. En daar was nie een, wat weer die deur oop kon gemaak het nie. Maar nee, die ou vertellings en liedere was nie verlore nie. Selma het hulle in haar hart bewaar, soos skatte, wat sy nie kon verloor nie. En sonder hulle sou ons seker baie skoons in haar boeke moet mis.

II. Haar kuns.

Daar is niks makliker as om te rubriseer nie - en niks so fataal nie. Met letterkundige strominge gaan dit net soos met godsdienstige, kerklike rigtings. Ons maak daarmee net soos met 'n pakket, wat ons wil laat pos. Ons pak in, bind 'n lyn daarom, plak die etiket met die inhoud, die naam en die adres daarop - klaar is ons! Ons is al net handig met inpak en etiketteer. Ons klassifiseer en rubriseer. Ons weet nou presies of iemand modern of ortodoks is; in Holland of hy Gereformeerd of Ultra-Gereformeerd

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 215 of Konfessioneel of Eties is. En dan is ons klaar - óf met ons toejuiging óf met ons verwerping. Hoe minder 'n mens 'n kopie, 'n afdruk, of, ja hoe sal ons dit noem, 'n stuk maak-werk uit 'n klerewinkel is, - hoe origineler 'n mens is, des te moeiliker is dit om hom te rubriseer. Veral genie kan so heerlik daarmee spot! Al die rigtings, al die partye wil hom by hulle inlyf. En net soos Simson dryf hy die spot met dit alles en staan hy vir ons en uitlag, met die poort van Gasa op sy skouers. Die mens wat origineel is is nie 'n kanaal: deugsaam, reglynig, ewewydig, sonder foute nie. - Maar hy is 'n stroom, wat die rotse stukkend breek en sy eie weg baan, sonder homself te steur aan ons konwensionele beddings, waarin ons hom wil vang. Daarom is dit onmoonltik om Selma Lagerlöf te rubriseer. En dit bewys haar grootheid. Haar kuns is net soos syself: groot in haar eenvoud, eenvoudig in haar grootheid. En verbasend gekompliseerd. Presies nes daardie lewende, heerlikbruisende bergrivier. Is sy ortodoks of modern? Hierdie vraag kan gestel word uit 'n kerklike oogpunt, maar ook uit 'n oogpunt van kuns. Dit blyk, dat sy nie een van twee is nie, òf, as U wil, altwee gelyk: net so ortodoks as modern.

Die geloof van die ortodokse boere uit Dalicardië is haar geloof, tenminste in gees en hoofsaak.

En sy is modern genoeg om in 'n sprokie 'n waarheid Gods te belewe. Ruim genoeg van gees om Gods openbaring nie te beperk tot historiese feite nie, maar om Sy stem te beluister in sagas, waarmee elke geskiedenis aanvang. En wat haar kuns as sodanig betref: Sy is ouerwets genoem. En tog is sy een van die beroemdste, mees gelese skryfsters van hierdie moderne tyd van ons. Waarby behoort sy nou: tot die verlede òf tot die hede? En hoe sal dit in die toekoms wees, in die toekoms wat homself partymaal diametraal teenoor die oordeel van die hede stel? Dis gewaag om voorspellings te maak, maar dis my vaste oortuiging, dat in hierdie artieste, hierdie begenadigde kunstenares iets van daardie ewigheidselement aanwesig is, wat vir ons verseker dat sy ook in die toekoms luisterende ore, verwonderde oë en ope harte sal vind. Sy behoort aan alle tye, omdat sy bowe-tydelik is. Die een wat weet hoe om die eg-menslike te tref, sal dit altyd en orals doen. Daar is baie dinge, wat lyk of hulle by haar verbygaan. Ons soek in haar kuns (al is sy ryk aan tragiek) tevergeefs na wat ons tog orals elders as 'n kenmerk van ons tyd vind: 'n pessimisme wat veral na-oorlogs is. - Vergelyk haar landgenoot Ibsen met haar - en U sal verstaan wat ek bedoel. En tog is sy die hoogvereerde, beminde skryfster, wat nie gerubriseer kan word onder die outeurs van ná 1880 nie en ook nie by die jongeres met hulle gemeenskapskuns en sterk sosiale tendense nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 216

Dit lyk of sy heeltemal vreemd is aan die bewegings van ons tyd, waarin die boeke van Dostojewsky, met al hulle misère tragiek van die menslike siel geboei deur sonde en misdaad, verslind word.

Sy is soos die son, wat altyd van betekenis is. Sy laat haar lig skyn. Sy is die een wat sy is: die lewensblye, wat in haar groot, sterk liefde saamleef en saamly, en altyd 'n hoopvolle lig laat glans.

Dit spreek van self, dat dit nie maklik is om haar kuns met 'n bepaalde naam te karakteriseer nie. Is haar kuns realisties? Sy kan dinge so realisties beskrywe as 'n Felix Timmermans in sy Pallieter, daardie boek vol lewenswarmte, wat ons buitekant-toe lok, weg van ons gesukkel en swaarwigtige vraagstukke. Realistiese kuns gee ‘un coin de nature vu à travers d'un tempérament’, na die woord van Zola. ‘En dit is juis daardie temperament, die breë en sterke persoonlikheid van die kunstenaar, wat aan die eenvoudige lewe, wat hy beskrywe, so'n wonderlike bekoring gee, dat daar iets van bly hang oor al ons daaglikse dade.’ Tonelle, 'n Franse krietikus, het eenmaal gesê, dat 'n kunstenaar nie die natuur sien ‘comme elle est’, nie maar ‘comme il est’ (nie soos dit is nie, maar soos hy is). En dit is nie alleen van toepassing op literêre kuns nie, maar op alle kuns. Die skildery moet dus nie 'n kopie wees nie, maar 'n weergawe uit die kunstenaar se siel. Hierdie realisme vind ek by haar op enkelde bladsye soos b.v. in die eerste hoofstuk van haar boek ‘Jerusalem’. Ek moet myself beperk en neem dus net 'n klein stukkie daarvan oor. Dis 'n tekening van 'n jong boer agter sy ploeg. Daar is 'n duidelike voorbeeld van realisme in die genoemde sin, waarby 'n mens die fris warmte, die blydskap en die lig van 'n somermôre proe: ‘Daar het 'n jong man sy akker op 'n somermôre gaan ploeg. Die son het warm geskyn, die gras was nat van die dou en die lug was so fris, dat dit nie in woorde gesê kan word nie. Die perde was heeltemal wild van die môrelug en het die ploeg getrek asof dit 'n stuk speelgoed was. Hulle het heeltemal 'n ander draf gehad as gewoonlik; die man agter die ploeg moes vinnig loop om by te bly. ‘Die omgeploegde grond het swart-bruin en blink van vogtigheid en vrugbaarheid daar gelê, en hy wat geploeg het, was bly met die vooruitsig dat hy sy rog sou kan saai. Hy het by homself gedink: Hoe kan dit nou tog wees dat ek myself partykeer so oor dinge bekommer en meen dat dit so swaar is om te lewe? Het 'n mens iets meer nodig as sonneskyn en goeie weer om so gelukkig te wees as 'n kind van God in die hemel?’ Is dit 'n kopie of 'n reproduksie? Dit is die werklikheid plus die mymering van haar eie siel, - die natuur, nie soos dit is nie, maar soos die kun-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 217 stenares is, uit haar siel geobjektiveer. Die realisme van hierdie paar reëls laat ons verstaan (waar ook hier 'n mistieke lig sigbaar is), hoe maklik by haar die oorgang ontstaan van realisme na mistieke realisme en vandaar na die romantiese. En as ons haar kuns wil karakteriseer volgens, 'n totaal-indruk van haar kunswerke, dan is ek van mening, dat dit oorwegend romanties is. Veral in haar ‘Gösta Berling’, 'n kompleks van sagas, van awonture waarin die menslike hart so vurig, partymaal so besonder teer en innig klop maar ook in haar korter vertellings, soos in ‘Kristuslegendes’ en in ‘Koninginne van Kungahälla.’ - Die gewone lewe is daar geïdealiseer of mistiek verinnig. Nou laat dit ons dink aan 'n Rembrandt, dan weer aan 'n doek van Jozef Israëls.

Haar styl word gekenmerk deur iets baie origineels. Sy hou van vertel. G'n wonder, dat dit vir ons gaan asof ons die ou Grootmoeder self hoor met haar verstilde stem vol geheimnis. Daar is dan ook 'n groot rus in haar styl. Maar sy kan ook in groot krag losbreek. Dan glans en skitter haar sterkgespanne gees in kort sinne vol plastiese, beeldende krag. Só is dit, waar sy ons in ‘Onsigbare Kettings’ in 'n byeenkoms van die Heilsleër (Salvation Army) binnelei: ‘Sing saam’, roep die heilsoldate. ‘Sing saam! Dit is goed om te sing!’ Hulle hef 'n bekende wysie aan. Hulle tokkel op die ghitaars en herhaal al maar weer dieselfde versie. Nou en dan kry hulle een van die wat naaste by hulle sit aan die sing. Maar nou klink daar 'n ligsinnige straatdeuntjie van 'n groep by die deur. Tone stry teen tone, woorde teen woorde, die ghitaars teen fluitjies. Die sterk, geoefende vrouensstemme stry teen die hees falsette van die seuns, teen die brommnde basstemme van die mans. Toe die straatliedjie amper baasgeraak is, begin die mense by die deur te stamp en te sis. Die lied van die heilsoldate beswyk soos 'n gekweste reus. Dit is 'n vreeslike spektakel. Die vrouens val op hulle knieë. Hulle lê daar magteloos met toe oë heen en weer te wieg nes in stille pyn. Die spektakel sterf weg. Op die oomblik begin die heilsoldate te bid: ‘Here, al hierdie mense sal U Uwe maak. Here, ons dank U, dat U almal van hulle by U leër wil inlyf. Ons dank U, dat U hulle tot U wil bring.’

Die volksmassa sis, skreeu en boe. Dit is net asof skerp messe al daardie kele bedreig. Dit is net asof daardie mense bang is dat hulle oorwin sal word, asof hulle vergeet dat hulle vrywillig gekom het. Maar die vrouens hou aan en dis hulle skerpsnydende stemme wat oorwin. 'n Mens moet hulle wel hoor. ‘Julle maak lawaai en skreeu. Die ou slang in julle wring homself in bogte en raas. Maar dit is juis die teken. Geseën is die bewegings van die ou slang. Hulle bewys dat hy voel, dat hy gekwes is, dat hy bang is. Lag maar vir ons. Slaan maar ons ruite stukkend. Jaag ons maar van die platform af. Môre is julle van ons mense. Ons sal die

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 218 aarde oorwen. Hoe sal julle ons kan weerstaan? Hoe kan julle God weerstaan?’ -

Dis g'n wonder dat hierdie gees wat tintel van lewe, ook vol humor is nie. Ek dink aan bladsye uit ‘Märbacka’, aan daardie geestige hoofstuk: ‘In die Poswa’ uit ‘Charlotte Löwenskild’, die boek wat verlede jaar verskyn het en wat eintlik een geheel vorm met ‘Anna Svärd’, onlangs van haar verskyn.

Ek dink aan bladsye uit ‘Jerusalem’. Daar beskrywe sy vir ons die vergaan van die Franse passasierstoomboot ‘l'Univers’. Temidde van die mees ontsettende, afgryslikste tonele gevolg van paniek - teken sy vir ons die grappige Miss Hogg, 'n figuur, wat aan Dickens ontleen kan wees. 'n Paar minute na die boot aangevaar is deur 'n groot seilskip, wat met sy boeg in die stoomboot se romp in die middelskip vasgesit het, kom sy boontoe uit 'n 1ste klas hut. Dit is 'n klein ou dame met grys, kroes hare, ronde, uil-oë en rooigespikkelde gelaatskleur. Sy ken elke passasier en elkeen ken haar. Almal weet, dat haar naam Miss Hogg is. Sy het vir die bemanning sowel as vir die passasiers vertel dat sy nooit bang is nie. 'n Mens moet tog eenmaal doodgaan; wat maak dit dus, of dit vroeër of later is? Nou is sy ook nie bang nie; na die skok het sy op die dek gegaan om te kyk of daar nie iets interessants te sien is nie. Maar nouliks is Miss Hogg 'n oomblik op die dek of in digte dromme kom 3de en 4de klas passasiers boontoe gestorm. Toe die verwarring nou al groter word en Miss Hogg begin te sien dat daar regtig gevaar dreig, sluip sy na die boonste dek, waar 'n paar reddingsbote hang. Daar is g'n mens nie en onopgemerk klouter Miss Hogg oor die verskansing in een van die bote, wat aan toue bo die duiselingwekkende diepte hang. Sy wens haarself geluk oor sy so slim is. Dit is nou regtig goed jou positiewe bymekaar hou. Op die dek onder haar is dit 'n geskreeu en lawaai, 'n vegtery om in die bote te kom. Rewolwerskote, wanhoopskrete. Vreeslik! Miss Hogg sit daar en sien, hoe die een boot na die ander wegroei. Die bote langs haar word ook neergelaat. Deur toeval raak egter niemand aan die boot, waar sy in sit nie. ‘Goddank, hulle laat my boot hang tot die ergste verby is,’ dink sy. Eindelik kom die oomblik dat alles stil word. ‘Nou begin dit darem tyd word, dat hulle my boot neerlaat,’ dink Miss Hogg. Sy is gladnie bang nie, sy sit daar stil en rustig tot op die laaste, tot die stoomboot an een kant toe gaan oorhel. Toe eers word dit vir Miss Hogg almeer duidelik dat L'Univers op die punt is om te sink en dat hulle haar boot vergeet het. In die golwe worstel tientalle ongelukkiges. Onder hulle is 'n Amerikaanse

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *20

WENNING. KAFFERMEIDJIE.

(In die besit van Mnr. L. te Groen, Pretoria.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 219 dame. Net as sy vir die derde maal uit die water bo-kom en haar klaarmaak om te sterf, word sy in 'n klein bootjie opgetrek, waarin nòg drie mense sit: een groot, sterk matroos, een klein seuntjie, nat van die trane, en - - - U sal dit nooit raai nie: 'n ou dame met ronde uiloë.’ -

Nog een staaltjie van humor, wat ek nie kan nalaat om vir U te gee nie (Uit: Märbacka: Jeugherinnerings).

Om rede van besondere verdienste moet die predikant 'n eremedalje uitreik aan 'n ou boer. Die plegtigheid moet tuis plaasvind, omdat die betrokke persoon siek is. Na hy 'n gedeelte uit die Bybel gelees het, begin die predikant sy toespraak, terwyl Klein-Bengt baie stil en plegtig lê en luister. ‘Jy, Bengt’ - aldus die predikant - ‘is so'n goeie en getroue dienskneg gewees, as wat die Here Jesus oor spreek.’ ‘Ja,’ sê Klein-Bengt uit die bed uit, - ‘ja, dit kan regtig gesê word. Dit is ek seker gewees.’ ‘Jy het jou eie belange nie bo jou heer s'n gestel nie en jy het gewaak oor wat jou toevertrou was.’ ‘Ja,’ sê Klein-Bengt, ‘dit is bepaald so. Ek dank meneer die predikant oor hy dit sê.’ So gaan dit aan, tot die predikant vererg hom vermaan: ‘Jy moet stil bly as ek praat, Bengt.’ ‘Ja, seker, dit weet ek’ - stem die ou man in. ‘Ek spreek Meneer die predikant mos nie teë nie. Dis ook alles waar, wat Meneer die predikant sê.’ - ‘Bengt, jy het ook 'n goeie heer gehad.’ - ‘Ek sou so dink, liewe Meneer die predikant, ek sou so dink.’ - Die ou kêrel was só gelukkig daaroor, dat hy nie kon swyg nie. - Die hele man het gestraal. Na nog 'n vergeefse poging moes die predikant eindelik maar ophou. ‘Ek sal jou my toespraak skenk, Bengt, hier is die medalje.’ Onder die middagmaal was die predikant in gedagte. ‘Dit het my nog nooit oorgekom dat ek bly steek het nie.’ sê hy - ‘maar 'n mens moet nou eenmaal alles deurmaak.’ Een van die dinge wat die lektuur van 'n boek van Selma Lagerlöf so buitengewoon interessant maak, is die verrassende. Altyd, altyd loop die weë anders as wat ons vir ons voorstel. As ons by onsself oortuig is: só sal dit nou afloop, dan draai sy opeens heeltemal in 'n ander rigting en dis net of sy dan sê: dit het jy seker nie verwag nie! Nee, ons het dit ook nie kan dink nie. So dink ons stellig dat daardie beklaenswaardige koning, vir wie die lewe grou, eentonig en somber is, seker sy koningin sal kry, die bruid wat hom belowe is. Maar die koningin sit gevang in 'n toring in Ragnhildsholm. Hy het haar nooit gesien nie. Ag! hoe verlang hierdie koning van die droefgeestigheid, wat altyd in newels lewe, na vuurrooi en felswart met goudglans daaroor. - Hy is op pad om sy bruid te haal en is nou al naby die toring

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 220 waar sy woon. Maar hoe somber swaar en drukkend staan die toring daar! As hy nou aan sy koningin dink wat daar opgegroei is, dan meen hy dat sy na 'n grof, uit steen gehoue, beeld moet lyk soos wat hy eenmaal bo 'n kerkdeur gesien het. Hy kan hom haar nie anders voorstel nie as 'n grys gestalte, met 'n lang, ovale, onbeweeglike gesig en 'n plat lyf, en met hande en voete wat tweemaal so lank en breed is as gewone mense s'n.

‘Maar dit is nou eenmaal my lot,’ dink die koning en ry verder.

En hy kom só naby die veerpont dat die wagte aan die anderkant die horing aan hulle lippe sit om sy aankoms te meld. En die brug word neergelaat en die groot poort in die toring gaan vir hom oop. Maar toe lig die koning sy hoof op en hou sy perd in. ‘Ek is tog 'n koning,’ sê hy, ‘en niemand kan my dwing om iets te doen wat ek nie wil nie. Niemand ter wêreld kan my sover bring om daardie stene beeld te ontmoet nie. Ek kan daar tog darem 'n bietjie plesier van hê dat ek koning is.’ En hy draai sy perd om en ry weer terug met dieselfde pad wat hy gekom het. - En die koningin moes bly sit in die grys toring en treur en verlang. En sy het sagte wange en rooi, bloeiende lippe gehad, en golwende, pikswart hare met goud deurwerk. Sy het 'n stem gehad so helder as musiek en 'n klinkende silwer-lag.’ (Uit: Koniginne van Kungahälla.) Dit kan ons ook van die skryfster sê: 'n stem soos musiek en 'n silwerlag wat opklink uit 'n volle en ryke gemoedslewe. Sy is op en top vrou en gebore digteres. Dor beskrywings, betoënde trant is by haar nie te kry nie. Sy is 'n fontein van borrelende lewe. Dit fonkel en sprankel, dans en lag, of dit kla sag in haar soos 'n skreiende kind. Maar 'n diepe gevoel voel alles! Veral kom dit uit in haar eerste en seker een van haar grootste werke: ‘Gösta Berling’, waarin sy haarself so ten volle gee. Dan moet sy haar vertelling onderbreek en reguit uit haar siel sing; dan ontstaan daardie pragtige stukke lieriek, waarmee sy haar verhaal eindig en 'n nuwe hoofstuk inlei. As sy hoofstuk III geëindig het met die kort, veelbetekenende uitroep: ‘Ag, Gösta Berling’, sterkste en swakste onder die mense!’ dan begin sy die volgende een in hierdie bloeiende liriek: ‘Strydros, strydros! Arme ou ros wat daar in die weiveld staan, aan 'n lyn vasgebind. Onthou jy nog jou jong dae? Onthou jy nog die dag van die stryd? Jy het vooruitgespring asof vleuels jou gedra het, jou maanhare het om jou heen gegolf soos flikkerende vlamme; bloed en skuim het op jou swart bors geglinster. In jou met goud versierde tuig het jy vorentoe gevlie. Die veld het gedreun onder jou hoewe. Jy het van vreugde getril, moedige dier! Ag, hoe skoon was jy!’ Hierdie strydros is die simboliese voorstelling van die nou oudgeworde kawaliers.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 221

Daarom: ‘Sny die snare deur! Breek die strykstok. Waarom speel hy daardie vervloekte dans? Waarom speel hy dit tog, nou Orneclou, die Vaandrig, in dié bed lê met jig, só styf, dat hy hom nie kan roer nie? O, ruk die viool uit sy hand uit en gooi dit teen die muur, as hy nie ophou nie!’

Haar fantasie is so ryk, opgebloei uit 'n hart wat wyd oopstaan vir die ryke menselewe met sy jubel en sy klag, sy hoogtes en sy dieptes.

Sy dramatiseer en konkretiseer en personifieer. En abstrakte dinge word vanself simbole vol menslikheid. Ons vind dit ook (as ek dit net gou tussen hakies mag opmerk) by Dr. Ulfers in sy beroemde ‘Oostloorn’ (die Angs, die Droogte loop, handel, dink soos mense) en daar is ongetwyfeld invloed van hierdie skrywer op Selma Lagerlöf aan te wys. Watter fyn opmerkings vind ons by Selma Lagerlöf, van daardie kernwoorde, wat ons aantekenings van maak, wat bly hang en woning maak in die skatkamers van ons hart. Bv. ‘Die Sonneskyn is soos die liefde. Wie weet nie, hoeweel ellende dit bring nie - en wie kan nalaat om dit te vergewe?’ - Die sonneskyn is soos Gösta Berling - hy bring vreugde vir almal, daarom swyg almal oor die kwaad wat hy doen.’ Vir ons predikante is dit daarom so besonder verrykend om Selma Lagerlöf te lees en te herlees. Dis beter om een van haar boeke tienmaal te lees as tien twederangsboeke. Sy gee ons soveel gedagtes, beelde, verhale vol diepe sin. Hoe armsalig, onbruikbaar is al die kompendiums van onwaarskynlike, onbeduidende verhaaltjies wat pers-toe gaan om ons te help om op 'n maklike (d.i. sondige) manier ons preke op te sier. - Daar behoort 'n kerklike indeks te wees wat sulke uitgawes verbied. Uitgawes van dergelike prulle moet ons as 'n belediging voel. Ure en ure met Selma Lagerlöf te verkeer is om jou hart en lewe te verryk. Ons kan so ontsaglik veel van haar leer. Sy laat ons elke keer weer voel, hoe die Kristelike geloof ook lewe is en te ryk is om opgesluit te word in kerklike dogmas. Om waaragtig te lewe is nie om te kanaliseer nie. Sy laat ons verstaan, hoe min ons met moraliseer bereik. Ja, ek vind ons hele moraal in die woord van daardie flukse boer Ingmar Ingmarsen uit ‘Jerusalem’: ‘Ons moet die weë van God gaan.’ - En om die mense daartoe te bring, help g'n bloedarmoedige sedeprekie, waarin ons met heftige woorde teen bioskoop of toneel of drank of dans tekere gaan nie, maar alleen die son, wat oor die moeilike paaie skyn: woestynpaaie, moeraspaaie van die menslike lewe. Jesus Kristus is daardie son. Hy is die stralende geluk, die son, wat ons harte verwarm en tot God bring en na Sy weë lok. Die predikant-fanatikus, wat wel die krag van die Wet ken en die donderslae van

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 222

Sinaï probeer imiteer, kom by haar sleg daarvan af. Sy laat ons voel, hoe hy niks is nie, as hy die een onmisbare ding mis: die groot, begrypende liefde. Jesus kontra Fariseërs en Oorpriesters. En ook: die minste in die Koninkryk is meer as hy.

Is dit nie wat ons in die predikant van ‘Brand’, van Ibsen, mis by al die grootse en indrukwekkende van sy persoonlikheid nie - wat te laat insien dat: ‘Jesus langs hom verby gegly het soos 'n half-vergete woord?’ Is dit nie die groot-menslike liefde wat Karl Arthur Ekenstedt mis nie, en daardeur wel vrees wek maar die harte win nie?

Van daardie liefde is Selma se hart, is al haar boeke vol. En sy wys ons wat daardie liefde vermag. Met 'n voorbeeld hiervan wil ek eindig, hoewel ek nog soveel meer gehad het om te sê oor hierdie kunstenares met haar buitengewoon veelsydige gees. Onder die trap na die galery in die kerk van Svartsjö is 'n kis weggebêre. G'n sterweling mog 'n oog daarin slaan nie. Op die koperplaat van die kis staan 'n opskrif: Labor vincit omnia (Arbeid oorwin alles). Maar 'n ander opskrif sou beter gepas het. - Daar moes gestaan het: Amor vincit omnia (Liefde oorwin alles). Die heerlike gode wat op bedde van wolke van die Olimpus gerus het, is dood. Al die gode is dood, behalwe Eros. Eros, die liefde, wat alles beheers. Alles wat ons sien, is sy werk. Hy hou die geslagte in stand. Hy woon in die harte van die Mense en in die kiemende saadkorrel. Voel hoe sy hartslag tril in die dooie dinge en bewe! - Wat is daar op aarde wat nie 'n verlange na hom voel en sy lokstem hoor nie? Niks ontkom aan sy mag nie. Al die ou wraakgode sal val, al die krag en geweld sal verbygaan. Maar Voorwaar! Jy, o Liefde, is ewig! Ou Eberhard sit by sy skryftafel. Hy werk fluks en ywerig, alleen bo in die kawaliersvleuel. Sy rug is krom, al is hy net skaars sestig jaar, sy voorhoof gegroef, sy oë ingesink. Die dood sal hom soveel te eerder van die skryftafel af weghaal, omdat hy gedurende sy lewe hom nie daarvan laat weglok het nie. Oom Eberhard trek 'n dik streep onder sy laaste reël. Uit die ontelbare laaie van sy skryftafel haal hy die geelgeworde gekreukelde velle te voorskyn, al die ongelyk dele van sy groot werk, daardie werk wat die naam van Eberhard Berggren deur die tye heen sal dra. Maar juis toe hy die een pak op die ander gestapel het en in stille verrukking daarop sit te staar, gaan die deur oop en die jong gravin tree binne, vir wie waldhoring en viool op Eheby klink. Sy kom sag binne. Oom Eberhard gaan haar plegtig tegemoet en voer haar na die groot stapel papiere. Nou sal die groot werk die wêreld

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 223 ingaan. Die ou Jehowa van Sinaï sal uit Sy heiligdom neergehaal word. Nou sal dit vir almal duidelik word wie Hy is! Inbeelding! Leegte! Damp! Die doodgebore kind van ons eie arme harsings! Hy sal in die niet versink! Hier staan dit en as die mense dit lees, moet hulle dit glo. ‘Ag, Oom Eberhard,’ sê die jong gravin met 'n ligte rilling, ‘is daar so'n verskriklike mens? Staan daar sulke vreeslike dinge in daardie boek?’ - ‘Vreeslik?’ herhaal die ou man, - ‘dit is immers die waarheid!’ Jehowa sal sterf!’ ‘En wie sal dan die wêreld bestuur?’ ‘Niemand het die wêreld bestuur nie.’ ‘Maar wat sal daar dan van ons, arme mense, word?’ ‘Wat ons gewees is, stof - - opflam en uitgeblus word, dit is die lewe.’ ‘Ag, Eberhard, is daar dan g'n lewe hierna nie?’ ‘Nee.’ ‘G'n goed, g'n kwaad, g'n hoop, g'n doel nie?’ ‘Niks. - Arbeid, die enigste ding wat die moeite van die lewe wêrd is.’ ‘Ag, Eberhard’, sê sy - ‘wat is arbeid? Is dit 'n God? - Noem iets anders.’ ‘Ek weet niks anders nie.’ ‘Oom Eberhard, waarom noem U nie liefde nie?’ Maar Oom Eberhard het die god van die liefde ook verbrand. Wat is liefde anders as 'n drang van die liggaam? ‘Dit kannie waar wees nie, Oom Eberhard. U woorde het my siel gewond, maar ek glo hulle nog nie.’ En dan eindig die skryfster, waarmee ek ook besluit: ‘Daardie ou papiere met godslasterlike skrif bedek, is nog nie die wêreld ingegaan nie. Oom Eberhard se naam het nog nie deur die wêreld geklink nie. Sy groot werk lê goed bewaar in die kis onder die galery-trappe van Svartsjö se kerk en sal eers aan die end van hierdie eeu die lig sien. Maar waarom het hy dit gedoen? Het hy gevrees vir die krag van sy bewyse? Was hy bang vir vervolging? Ag, hoe sleg ken julle vir Oom Eberhard.... Verstaan dit nou goed! Hy het die waarheid liefgehad, nie sy eie eer nie! En daarom het hy die laaste en nie die eerste opgeoffer nie, sodat 'n kind, wat hy as 'n Vader liefgehad het, sou kan sterwe in die geloof aan wat vir haar heilig was! O Liefde, jy is ewig!

G.E. ALERS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 224

Portret van Wenning - 1919.

Peter Wenning.

Herinnerings van 'n intieme vriend.

DIT sal enigeen, wat die lewe van Vincent van Gogh, die groot Hollandse skilder, gelees het, en wyle Peter Wenning geken het, dadelik opval dat daar baie trekke in die karakter van laasgenoemde is wat aan sy beroemde landgenoot laat dink. Altwee van hulle het geheel-en-al opgegaan in hulle kuns en het die wêreld rondom hulle alleen beskou as 'n middel ter bevordering van hierdie kuns wat skynbaar al hulle kragte opgeëis het, met uitsluiting van alle ander dinge. Net soos Van Gogh het Wenning maar eers laat in die lewe in erns begin skilder en altwee is dood terwyl hulle nog maar in die veertig was. Selfs die Groot Oorlog, wat die hele wêreld so diep en hewig beroer het, kon Wenning se gedagtes vir geen oomblik van sy werk aflei nie. Hy het skaars na 'n koerant gekyk en ek kan my nie herinner dat hy ooit met my die vreeslike en tragiese gebeurtenisse bespreek het, wat onop-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 225 houdelik die gedagtes van almal rondom hom besiggehou het nie. Kuns is ewig en as mense hulle lewe wou opoffer in 'n oorlog, wat hy as 'n dwaasheid beskou het, was dit nie sy saak nie. Nog later, toe die treurige en onvergeetlike influensa-epidemie dwarsdeur die land gewoed het, het hy nogmaals kalm sy daaglikse taak volbring en saans het hy altyd by my kom sit en planne maak waar hy die volgende dag sou gaan. Dit is nodig om nadruk te lê op hierdie besondere toewyding aan die Kuns van Wenning se kant, as 'n mens wil verstaan hoe dit gekom het dat hy, gedurende die betreklik korte tydperk van sy kunstenaarsloopbaan so'n enige plek ingeneem het onder sy mede-kunstenaars in hierdie land.

Op die eerste aanblik, selfs voor hy nog 'n woord gesê het, was 'n mens seker, dat Peter Wenning 'n kunstenaar was en niks anders kon wees nie. Nie dat hy hom geklee het in die drag waardeur party skilders - gewoonlik middelmatiges - dit noodsaaklik ag om hulle beroep wêreldbekend te maak nie, maar eerder omrede van sy bleek en gevoelig-fyn besnede gelaatstrekke en die mymer-uitdrukking van sy oë. Inderdaad, sy hele voorkoms het die beskaafde man en die man van smaak verraai. Altyd eenvoudig in sy betrekkinge met ander en hulle gevoelens in aanmerking nemend, was hy 'n blote kind waar dit die beheer van materiële sake betref het. Net soos Van Gogh was hy uiters beskeie met betrekking tot wat hy self verrig het, maar nooit traag om werklike talent te erken waar dit in die werk van ander geopenbaar werd nie. In hierdie opsig het hy selfs partymaal gedwaal en heeltemal buitesporige lof geskenk aan wat hy die aandag wêrd gereken het. So weet ek van gevalle - en dit nogal in tye wat hy dit maar sleg kon bekostig - dat hy homself deur sy geesdrif laat vervoer het om die een of ander skildery te koop wat op daardie oomblik sy bewondering gewek het. Wat sy eie werk egter betref, het alle verwantskap met Van Gogh opgehou - hoe hoog hy hom ook vereer het; en niemand het met meer ywer as hy gewaak om nie onder die invloed van ander kunstenaars te kom nie. Partymaal het hy selfs so ver gegaan, dat hy tentoonstellinge vermy het, omdat hy bang was, dat wat hy daar sien, die een of ander kleureskema waaroor sy gedagtes dan juis gaande was sou versteur.

Dit was nooit duidelik watter opleiding Wenning in sy jeug gehad het nie - net soos Van Gogh was hy al oor die dertig toe hy in erns begin skilder het - maar ek sou sê dat hy sy ondervinding vir die grootste gedeelte opgedoen het deur 'n noukeurige studie van Hollandse skilders soos die drie gebroeders Maris (hy het Jacob Maris veral bewonder), Anton Mauve en onder die Franse skilders Corot, Cezanne en Millet. Hy het nooit moeg geword van lofredes op die skoonhede van sekere werke deur hierdie groot Meesters nie; en altyd maar weer het hy na reproduksies daarvan gekyk.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 226

Vir Oosterse Kuns het hy ook groot bewondering gehad, in prent- sowel as in beeldvorm; en ek herinner my nog hoe hy, so dikwels hy by my in die huis gekom het, na 'n sekere Sjinese Godin van Barmhartigheid geloop het, dit noukeurig bekyk en dan na my-toe gedraai het met die woorde: ‘'n Pragtige ding, nè?’ Inderdaad, teen die end van sy lewe het hy werklik die plan gehad om 'n reis na Japan te onderneem. Hy het so ver gegaan met sy voorneme dat hy selfs die stoomvaart-maatskappy 'n besoek gebring het om sy plek op die boot te bespreek. Tot sy grootste teleurstelling werd hom daar gesê, dat die boot vol was. Die reis is toe opgegee, en daar is nooit weer oor gepraat nie. Dit is vandag interessant om in bespieëling te neem in hoe verre Wenning se kuns beïnvloed sou geword het as hy in aanraking gekom het met die lewe van Japan en al sy voortreflike kuns-voortbringsels van baie eeue.

'n Mens kan sê, dat ek Wenning geken het gedurende die hele tydperk van sy skildersloopbaan, want ek het hom gesien werk aan die eerste skildery wat hy gedoen het na hy sy betrekking in 'n handelsbesigheid in Johannesburg laat vaar het en dit was in my eie ateljee wat hy vir die laaste maal die penseel ter hand geneem het. In die jare vóór ek hom geken het, het hy so los-weg geskilder en geëts, maar hoewel daar selfs toe al oorvloedige aanduidings was van die mooi werk wat so spoedig sou volg, is hy deur min mense aangemoedig en sy werke (wanneer hy so gelukkig was om een van die hand te sit) werd gekoop teen pryse wat ver, baie ver, onder hulle waarde was. Reeds in 1914, toe ons die gewoonte gehad het om ure saam deur te bring in my kamer in Victoria Mansions in Johannesburg het hy verlangend uitgesien na die dag wat hy al sy tyd aan skilder sou kon gee, maar dit was eers in 1916, 'n jaar na my terugkeer na die Kaap, dat ek daarin geslaag het om 'n half-dosyn mense, wat belanggestel het in Kuns, oor te haal 'n voldoende som te waarborg om hom in staat te stel sy onverdeelde aandag aan skilder te gee vir 'n tydperk van drie maande. Sy kragte sou op die proef gestel word, want hy het net tydelik sy besigheidsbetrekking op die Rand vaarwel gesê. Ek herinner my met hoeveel geesdrif hy hierdie verandering in sy lewe verwelkom het en as ek 'n blik terugwerp op sy kort kunstenaarsloopbaan kan ek nie help om te voel nie, dat, was dit nie vir die hulp aan hom gegee nie, dan sou hy ons waarskynlik nooit sulke skone en duursame kunswerke nagelaat het nie en dat sy naam, buite die klein kring van sy vriende en kennisse, vandag onbekend sou gewees het.

En so het dit gekom, dat Wenning een heerlike agtermiddag in die winter van 1916 op Soutrivier aangekom het, waar ek hom gaan ontmoet het. Ek het vir hom 'n groot hoë kamer gekry in die linker-vleuel van die historiese ‘Newlands House’ - net 'n paar honderd tree van waar ek gewoon het. Dit

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 227 was in hierdie huis, met sy ongeëwenaarde omgewing, waar al ons Kaapse Goewerneurs verblyf gehou het; maar nou het dit leeggestaan en Wenning sou die enigste bewoner word! In sy kamer het 'n eenvoudige veldkatel, 'n wastafel, 'n klein tafeltjie en 'n stoel gestaan, maar hy was opgetoë met sy omgewing. Net waar hy hom gedraai het, het hy ‘onderwerpe’ gesien en láát daardie aand, toe ek saam met hom loop van my huis af, waar hy altyd sou eet, het hy verruk bly staan by 'n hoë, pragtige eikeboom reg voor sy venster met sy kaal takke sag afgelyn teen die mistige lug. ‘A, dit moet ek môre teken!’ was sy uitroep en inderdaad, die hele tafereel was een om 'n kunstenaar se verbeelding vas te gryp. Twee dae later het hy regtig begin werk toe hy 'n pastel gemaak het (tans in besit van Mnr. E.R. Syfret) van die ou poort by ‘Fernwood’, daar naby. Nooit het ek kon dink, waar ek so na hom gestaan en kyk het, dat vyf jaar later, terwyl ek verby hierdie selfde plek geloop het, iemand (dit was Kottler, die beeldhouer) vir my die berig van sy dood sou bring nie.

Dit moet openlik erken word, dat Wenning se werk in hierdie tyd 'n sekere mate van ongelykheid verraai het, maar het 'n vermaarde Franse kritikus nie gesê: ‘Van tyd tot tyd daal genieë ver benede hulle peil nie: dis net die middelmatigheid wat op dieselfde hoogte bly’? Elke bevredigende studie wat van sy penseel gekom het moes betaal word met verskeie vrugtelose pogings. Nou en dan het skilderstukke geheimsinnig verdwyn.

‘O, ek het daar oorgeskilder’, het hy dan gesê. Dit was 'n baie nat en koue winter. Dag na dag was daar 'n vogtige, grou lug bo, terwyl die grond onder 'n mens se voete deurtrek was van die water. Met sy lang, grysbruin reënjas aan, het hy egter op alle ure van die dag hom na buite begewe, sonder ag te slaan op die ongunstige weersgesteldheid.

Hy het met koorsagtige ywer gewerk en party van sy skoonste stukke het hy gedurende hierdie tyd voortgebring. ‘Dit skeel my nie’, het hy altyd gesê as iemand hom gewaarsku het om nie urelank in sulke slegte weer te werk nie; want selfs toe was sy gesondheid gladnie van die beste nie. En hier kan ek daarby voeg, dat Wenning die eerste kunstenaar was om die bekoorlikheid van ons Kaapse landskappe in die winter, raak te sien. Die weelderige somer-groen het nie tot hom gespreek nie en die sonsondergang effekte, so gelief deur baie van ons skilders, het hy gehaat, omdat, was sy argument, minderwaardige kunstenaars dit vulgêr gemaak het. Hy was par excellence die skilder van landelike gesigte: die grandiose in die natuur het hom nooit aangetrek nie. In die begin van Augustus het ons 'n klein tentoonstelling van sy skilderye gehou in my kamer in die stad. Dit was nie vir die publiek toeganklik nie en net vriende en kennisse was genooi. Die garandeerders was die eerste

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 228 om 'n besoek te bring; toe het ander kom kyk en op die end is byna al die stukke verkoop. Die proefneming het 'n volslae sukses geblyk en Wenning het na die Transvaal teruggekeer vaster as ooit in sy voorneme om in die toekoms skilder sy beroep te maak. Vir die teenwoordige was hy egter genoodsaak om sy ou werk by De Bussy in Johannesburg te hervat en dit was al laat in die jaar toe hy weer teruggekom het Kaap-toe. Hierdie keer het sekere vriende op die Rand hom geldelik gesteun. Die ruimte aan my toegestaan veroorloof geen uitvoerige vermelding van hierdie en latere besoeke aan die Kaap nie, maar hoewel hy altyd êrens in my nabyheid kom woon het en hy my altyd toegelaat het om elke skildery wat hy gemaak het te sien, kon die romantiese van daardie eerste besoek nie teruggeroep word nie. Ons het nie meer middernag deur die stil bos, met 'n lantern in die hand, van my huis na sy kamer geloop nie; en die pragtige ou eikeboom by ‘Newlands House’, wat ons so dikwels op kalm maanlig-aande bewonder het, was uit ons gesig verdwyn. Wenning het begin ‘populêr’ word. Vriende, deur nuuskierigheid gedryf - want hy was 'n belangwekkende persoonlikheid - het hom nou kom omring (dit is die lot van elke suksesvolle kunstenaar). Hierdie oplettendhede, wat hom gedurig verhinder het om sy volle aandag op sy werk te konsentreer, soos sy gewoonte was, het hom dikwels gekwel. Party van hierdie nuwe ‘vriende’, wat nooit 'n werk van hom gekoop het nie en nie veel liefde vir Kuns gehad het nie, het hom selfs oorreed om by hulle aan huis te kom bly en dit het natuurlik beteken, dat daar vir die tydperk 'n end was aan ernstige werk.

In April 1920 het hy vir die laaste maal na die Kaap teruggekom en hoewel sy gesondheid altyd maar onbevredigend was, het hy by sy aankoms daar goed uitgesien. Spoedig het egter 'n verandering ingetree. Dit was herfs, die jaargety waar hy altyd meeste van gehou het, en hy het alle pogings in die werk gestel om 'n seker aantal skilderstukke voor die end van die winter bymekaar te kry. Maar dit was voorbeskik dat hy nie weer sy gesondheid sou terugkry nie en niks was treuriger en pynliker om aan te sien as sy pogings, terwyl sy siekte toegeneem het, om sy werk buite te hervat soos te vore nie. Baie dae het hy, om sy eie uitdrukking te gebruik ‘so uitgeput’ gevoel, dat hy na my ateljee toegekom het en daar urelank, stil en terneergedruk, in 'n leuningstoel gesit het. Op ander tye, daar sy gesondheid nie langer onnodige inspanning toegelaat het nie, het hy verf en skilderdoek saamgebring en dan aan 'n stillewe begin. Hy was by die ‘Vineyard Hotel’ tuis en ons het mekaar baie gesien. In Junie het hy al sy werke aan 'n plaaslike kunshandelaar verkoop, en op 'n sekere middag, kort daarna, het hy (in-Tenant Road, Wynberg) 'n landskap geskilder wat sy laaste sou blyk. Maar nog het hy nie vir goed sy penseel neergelê nie, want een môre, 'n week later,

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 229 het hy nog 'n keer na my ateljee-toe gekom en besluit om 'n kopie te maak van 'n beroemde skilderstuk van twee dansers deur Degas. Die hele môre het hy toe met lus en ywer gewerk, die middag by my geëet en die skildery, wat hy aan my wou present gee, die agtermiddag afgemaak. En dit was die heel laaste stuk wat hy geskilder het. Op 19 Julie het hulle hom hospitaal-toe geneem en na enige dae is hy terug na sy huis toe, in Pretoria. Hier is hy 24 Januarie 1921, oorlede. Dit is gesê, en daar is baie waarheid in, dat selfs van die mooiste skilderstukke geen beskrywing gegee kan word nie, want as 'n mens van die kleure, die komposiesie, die teken en die harmonie gepraat het, is die leser nog in die duister ten opsigte van sy werklike bekoring, daar selfs die werk van 'n matiggoeie skilder al hierdie hoedanighede kan besit sonder dat dit uitblink. Die reproduksies van Wenning se werke by hierdie artiekel sal lesers in staat stel om sy styl, sy keus van onderwerp en ook sy tegniek op hulle volste waarde te skat. Hy het homself nooit verskuil agter die bewering dat hy die Natuur geskilder het ‘soos hy dit gesien het’ nie, wat in hierdie tyd maar net 'n ekskuus is as die natuur, òf deur onbekwaamheid òf deur verdraaidheid, so afgryslik verwronge word, dat ons uitroep ‘Wat 'n wêreld leef ons in!’ As Wenning sy onderwerp uitgekies het, het hy nooit probeer om dit opnuut saam te stel of deur toevoegings te verfraai nie, maar het alleen daarna gestreef om dit skoonheid te verleen deur die uitoefening van sy kuns. So het die nederigste taferele, as dit eenmaal deur hom op die doek gebring was, so betekenisvol en bekoorlik geword, dat mense wat goed met die onderwerp bekend was, dikwels nie kon verstaan hoe die aantreklikheid daarvan hulle tot nog toe ontgaan het nie. Sy studies van stillewe oortref alles van die soort wat nog ooit in hierdie land beproef is en dit was vir hom altyd 'n genot om hulle te skilder. Maar ook hier was die voorwerpe wat hy gekies het altyd eenvoudig: van blomme het hy slegs nou en dan gebruik gemaak. Sy koms was 'n bepaalde prikkel vir die Kuns in Suid-Afrika en hoewel hy nie lank genoeg geleef het om die volle beloning in te oes wat sy onbetwisbare gawes verdien het nie, tog is daar vandag duidelike blyke dat 'n gestadige en opregte waardering van sy Kuns aan die opgroei is onder alle ware kunsliefhebbers in Suid-Afrika. D.C. BOONZAAIER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 230

Blou is jou oë.

Musiek deur Anna Lambrechts-Vos.

Blou is jou oë en groot van simpatie; En bly ruis in my siel 'n melodie. En as die liewe Heer jou oë toekus Sien ek nog orals sag hul glimlag rus.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *22

G. PILKINGTON. WINGERD.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 231

Die Nuwe Brandwag Tydskrif vir Kuns en Lettere

DEEL I. No. 4. PRETORIA - KAAPSTAD. NOV. 1929.

Oproep aan die Afrikaanse Volk.

Afrikaanse taal- en kultuur-konferensie.

(Onder die Beskerming van die S.A. Akademie vir Taal, Lettere en Kuns.) Stadsaal, Bloemfontein, 18 en 19 Desember 1929.

DIE onverpoosde taal- en kultuurstryd wat daar in die na-oorlogse jare van ons volksbestaan met soveel sukses gevoer is, het uiteindelik vir ons taal en kultuur toegang verskaf van die laagste skoolbanke tot die hoogste aan die uniwersiteite; die geestelike volksleiers sowel as die hoogste wetgewende magte in ons land twyfel nie meer aan sy regmatige aanspraak op voortbestaan nie, en deur die konstitusionele vaslegging van die taal het hulle ons gewys dat hulle vaste vertroue het in die volk wat daardie taal, deur gedurige gebruik, sal laat opbloei en groei tot hy kragtig gespierd en sterk sal wees.

Dog omdat Afrikaans nou offisiële erkenning geniet, meen baie van ons landgenote dat die stryd gewonne is, en dat die tyd aangebreek het om op ons louere te rus. Hierin, meen ons, lê juis die dodelike kieme wat besig is om die gesonde kern van ons volksbestaan te ondermyn. Ons het pas aangevoor, en die hele akker lê nog braak. Dis juis daardie selfvergenoegdheid wat in die verlede so baie van ons grootste ideale laat skipbreuk ly het.

Ons is ook nie onbewus van en ondankbaar vir wat enkelinge sowel as groepe daeliks besig is om te doen n.l. Afrikaans orals te handhaaf en te gebruik nie, dog ons voel die behoefte aan 'n meer doelbewuste en geko-ordineerde optrede in die publieke lewe, en daarom word alle goedgesinde Afrikaner organisasies uitgenooi om die Volkskonferensie in die Stadsaal te Bloemfontein op 18 en 19 Desember by te woon.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 232

Die doel van die konferensie sal wees om te trag om al die reeds bestaande simpatieke verenigings en persone saam te bring en nouer aaneen te sluit, sodat ons gesamentlik één magtige front teen die aanvalle van agtelosigheid en moedswilligheid kan bied, om sodoende op alle terreine van die samelewing 'n positiewe ontwikkeling van ons taal en kultuur te bewerkstellig.

Elke afsonderlike vereniging of enkeling sal natuurlik daar in sy eie omgewing bly woel en werk, dog deur alle bestaande kragte te mobiliseer, sal iedereen in sy taal- en kultuurstryd deur almal gesamentlik gerugsteun word; en waar ons so gesamentlik optree en uit één mond praat, moet en sal daar gouer herstel van onreg geskied as anders. Eendrag maak Mag!

Omdat dit 'n saak is wat die lewensbestaan van die Afrikanervolk in sy diepste wese raak, is daar besluit geword om die kongres so spoedig moontlik te hou, en nog wel voordat die meeste mense op vakansie gaan.

Dat u u die opoffering sal getroos om een van die belangrikste volkskonferensies by te woon, dit sy as indiwidu of as verteenwoordiger van 'n Vereniging, daarvan is ons vas oortuig. Daar sal u inspirasie gee of ontvang, asook die rigting aanwys of aangewys word wat ons as 'n eenheid in die toekoms meen om in te slaan. Kom deel ons u sienswyse mee, en kom help opbou aan die skone taal wat die God van ons Vaders ons in die mond gelê het om ons daardeur as 'n Nasie van diè ander volke te onderskei en te handhaaf. Kom help om 'n aan ons toevertroude pand behoorlik te bewaar.

Kan of het 'n volk ooit bly bestaan, wat sy eie taal vir 'n ander prysgegee het? Nee nog nooit, en daarom moet ons sorg dat ons taal gehandhaaf word, anders word ons volksbestaan ondermyn. Kom op, word 'n handhawer van u eie, en gaan besield terug, en inspireer u swakkere landgenote. Alleen deur onsself te respekteer, sal ons die respek van ander nasies afdwing.

Die tyd is baie beperk. Stuur dus so gou as moontlik, nadat u vergadering gehou het, die naam en adres van u vereniging, asook die naam van u afgevaardigde na die Konferensie, aan die Sekretaris, Mnr. I.M. Lombard, Bus 3686, Johannesburg.

Lede van die Uitvoerende Komitee: -

Prof. E.C. Pienaar (K.P.). J.W. Potgieter (Tvl.). Dr. N.J.v.d. Merwe (O.V.S.). J.F. Ferreira (Natal). I.M. Lombard (Sekr.).

Lede van die Prov. Komitees: -

Prof. D.F. Malherbe (O.V.S.). L.W. Hiemstra (O.V.S.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 T. Wassenaar (Tvl.). M.L. du Toit (Tvl.). Twee lede. (K.P.). Mevr. M. Jansen (Natal). D. Hugo (Natal).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 233

Psalm 91.

1.

Wie toevlug neem in veil'ge hut en skuil by die Al-Hoë, hy word beskadu en beskut deur God se alvermoë. O Heer, op wie 'k volkome bou, by U is 't my die beste; My toevlug waar ek stil vertrou, my rots en veil'ge veste. 2.

Daar's nette om jou voet gespan soos van die voëlvanger; 'n vreemde lugstroom waai jou an, van siekte- en pes-damp swanger. Maar ew'ge vleuels sweef oor jou, 'n dak van reusevlerke; rondom hou wag Gods ew'ge trou, die harnas van die Sterke. 3.

Geen vrees wanneer by donker nag die skrik 'n mens laat bewe; geen vrees wanneer die pyle-oordag geswind kom aangeswewe. Geen vrees wanneer die siekte-alom verwoes op middagklaarte, of deur die nag gewapend kom die donker pesgevaarte. 4.

Al val daar duisend deur die kwes van vyands wapenhandel, al val tienduisend deur die pes wat in die donker wandel - jy staan daar onbeskadig, pal! net maar dat jy gesien het hoedat die goddelose val - die loon wat hul verdien het.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 234

5.

Wie toevlug neem in veil'ge hut en skuil by die Al-Hoë, hy word beskadu en beskut deur God se alvermoë. In onheilsnag sal geen geweld jou pad onveilig maak nie, jou reistent, eensaam in die veld, geen skade of plaag genaak nie. 6.

Rondom jou ruis die eng'levoet met liggewiekte treë, hul kom die wand'laar tegemoet en lei hom op sy weë. Hul bied hom aan, op Gods bevel, die hulp van will'ge hande; en dra hom, waar die klippad kwel, oor ruwe rotserande. 7.

Hoog sal jy oor die leeukop stap, vertree dié roofbespringer; jy sal op slange-adders trap wat sluipend om jou slinger. ‘Hy het my lief, 'k sal hom bevry wat kost'lik vir my oog is; 'k sal hom beskerm, want hy bely my Naam wat sterk en hoog is. 8.

‘Hy roep, en Ek beskerm hom daar, totdat die nood verby is; Ek lei hom na die hoogtes waar 'n eerkrans hom berei is. Die menseleeftyd, vlug en kort, verlang 'k hom uit genade; hy sal dan blye-aanskouer word van al my reddingsdade.

TOTIUS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 235

As 'n vrou wil skryf.

'n Skets uit die getroude lewe.

MY poëtiese bevliegings kom meesal in die vroë oggend; baie vroeg as die eerste skemergeluide maar nog vaag en onnugter deur die oggendlug klink. En met die groei van die oggend, onderwyl ek lê en luister na die nugterende natuur, skiet die passie op in my, totdat ek voel of my gees iewers moet oorborrel, maar ek mag my nie roer nie, uit vrees dat ek my man, die broodwinner van die huis, in sy rus sal steur. Dus lê ek maar botstil en soek uiting vir my drange in fantasieë. Stadig begin 'n fantasie dan ook vorm te vat, 'n vaste vorm wat my in vlugte ver bokant die wolke voer. Ek sweef op die tone van 'n lewenssimfonie waarvan die tema die rustelose see uitmaak - altyd maar die see wat dreig en soek en opstorm. In deinende gang eers, dan in roerende onstuimigheid wat die skuimkoppe met 'n voorname grasie op die land afstoot en die rotse tooi in wit. Skielik egter dring die aanhoudende gekwetter van die mossiegroep tot my deur en vertel dat die boomtoppe gedoop word in die goue gloor van die son. Nou ontvlug my die fantasie in helder tone vol lewensvreugde en gloed. Ek moet op. Ek voel so oorlopensvol, bekwaam om die hele wêreld met een penstreep te verander. Ek gaan dit ook doen. Stilletjies lig ek my en kyk deur die venster. In lang strepe rek die sonstrale hulle oor die grasperk en omhels die blomknoppe in 'n tere oggendkus. Op die leiklippe van die voetpaadjie verwasem die glinsterende doukolle. Nou kan ek nie meer nie want daar in die omgewing sal ek noodsaaklikerwyse my gefantaseerde simfonie op papier moet stel. Sonder die geringste geraas skuif ek van my bed af en een - twee - drie het ek genoeg klere aan om my met pen en papier na buite te kan begewe. In die gang bereik 'n warm koffiegeur my, maar vanoggend kan dit op my geen invloed uitoefen nie. Met lang, amper beweginglose treë sluip ek van die stoep af en in die tuin drentel ek vereers rond om te geniet van die bloeiselgeur en die frisse voorjaarslug. Dan, diep tevrede met myself, leun ek my stil teen een van die pilare van die priëel. Oormoedig begin ek te skryf. Dit gaan vlot soos ek verwag het. Die een gedagte volg die ander sneller as wat my pen kan beweeg. Daar kom fleur in my lewe en met al hoe meer gloed gee ek my oor aan my taak. Maar, o wee! wat is dit! 'n Fiets kraak dig by my verby en die binnensmondse singery van die jong wat by die werf se hek inswenk bring my heeltemal van my wysie af. Ek moet my weer van vooraf in my tema indink om die draad te kan volg. Maar dit kom reg, alles is weer in

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 236 orde en met hernude kragte trek ek los in volle vaart. Ek speel met my gedagtes soos die frisse luggie om my ore. Ek vang hulle en laat hulle los. Ek snoei hulle en hulle bloei in lentedos en as ek vergenoegd die groeiende krag van die geheel bewonder klink die meid se stem my in die ore en vlug hulle soos verwelkte roosblare en verdwyn sonder geur. ‘Mies die vleisboekie.’ Plof op die grond! ‘Wat pla die jong om so ontydig te kom? wat sal ons vir môre bestel?’ Maar in die meid se onnosel gesig bespeur ek geen reaksie op my vraag nie en ek besef dat ek alleen met die skaapstukke sal moet worstel. Haastig skryf ek: 2 pond skaapribbetjie. 3d. hondevleis.

Dit moet wees vleis vir die hond maar die slagter sal verstaan - so hoop ek. Verlug steek ek die meid die boek in die hand. Sal ek probeer om my vervloë gedagtes weer terug te roep of sal ek maar ingaan om die oggend se werksaamhede te aanvaar? Dis nog vroeg; die kinders begin nou eers te roer en as ek nou laat vaar is dit gedaan vir die dag. Moedig sink ek weer teen die pilaar en sluit my oë met die hoop dat my roosblare sal terug gewuif word in tintelende lewe. Die ellendige vleisboekie. Waarom kan 'n mens tog nie leef sonder kos nie? Maar wonderbaarlik! 'n Warme vlaag vol bloeiselgeur beswymel my en vir die hinderlike werklikheid is ek gou weer verlore. Diep trek ek die lug in my longe af en toe ek my asem triomfantlik uitstoot vlieg 'n donker voorwerp skramps by my kop verby en geskerp luister ek na 'n jammerlike klaaglied. ‘Mammie kom praat tog met Boetie - kyk waar het hy my skoen gegooi.’ Willoos frommel ek die papier inmekaar en stap die huis in. Die wêreld sal maar in die ou trant moet voortgaan.

S. BRUWER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 237

Aan Hestella.

Kom nader, nader nog, Leun aan my bors, my kind! Die reën klets teen die ruite, En hoor hoe huil die wind.

Laat blinkwit bliksemskigte Die nag in repe sny; Ek weet my God is êrens, En jy is dig by my.

Ek word 'n klein, klein kindjie As ek jou so omvou, En dis of ek die sprokies Van lang gelee onthou. Ek sien die koningsdogter Met Moses by die wal; Ek hoor die beeste bulder Om Jesus in die stal.

So! Nou's ek warm, liefste. Ek sien my ouma weer, En op haar wange gloei 'n Glimlag van die Heer.

Ek wonder of die sprokies Weer eendag sal verdwyn? Leun vaster teen my, liefste, Ek is 'n kindjie klein.

EITEMAL.

Die Vlinder.

Gebore in d'stilte van 'n someraand maanlig, Gewieg deur 'n grassie benat deur die dou, Gekus deur die sonlig wat breek deur die kou, Is hy 'n natuurkind vol skoonheid wat swig; Gevare bedreig hom, ontberings ontwrig Sy bestaan; maar hy beur na die koepel van blou In die heem'le, verhéf bo die swaar wat knou, En hy lewe sy lewe in 'n bloute van lig: So leer my, o Heer, in die stryd van die lewe, In 'n wêreld vol moeite, van arbeid en pyn, Van liefde en vreugde, vooruitgang en voorspoed: As dit skyn of die dagtaak, my voorwaartse strewe Te swaar word vir d'kragte van my wesetjie klein - Om te styg na die hoogtes van vastrap en moed.

P.J. YOUNG.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 238

Sonligplasse en Skadukolle.

MET hande in die broeksakke staan dr. Barry wydsbene voor die rooi, gemesselde vuurherd, waarin 'n gesellige vuurtjie 'n vrolike huislikheid verleen aan die eetkamer waarvan die meubelment, die skilderye en rangskikking van die vases 'n buitengewoon kunsvolle smaak, gepaard met heelwat weelde, verraai. Uit 'n kamer aan die oorkant van die gang kom die nouliks hoorbare klanke van 'n vrouestem wat Brahms se ‘Wiegeliedjie’ sing. ‘Dis nou werklik kind bederf daardie,’ reken die man, terwyl hy 'n gemakstoel nader trek en gaan sit. Die boek wat in die stoel gelê het trek sy aandag en hy begin blaai daarin. Daar word gebel, en enkele oomblikke later verskyn die blanke diensmeisie met 'n paar boeke. ‘'n Man wat godsdienstige boeke verkoop, Dokter,’ meld sy aan. ‘Nee dankie, Lena,’ antwoord dr. Barry, sonder om eers op te kyk van die boek waarin hy begin lees het. Maar skielik, asof hom iets byval, steek hy sy hand in sy sak. ‘Dé Lena, gee die halfkroon aan die arme drommel, dan kan hy tog vanaand 'n warm bed geniet.’ Lena verdwyn, en kort daarna gaan die deur van die kamer, waaruit die wiegeliedjie netnou weggesterf het, ope, en geluidloos verskyn 'n jong vroutjie, haar oë knippende, soos een wat uit die donker skielik die ligkring binnetree. Suutjies stap sy tot agter haar man se stoel, lig sy hoof agteroor en druk 'n soen neer op sy voorhoof, Daarop neem sy plaas op 'n hoogopgestopte kussing langs hom en sit stip-starend die blou en rooi vlamtongetjies, wat om die kole lek en bokspring, en bekyk terwyl haar man se regterhand liefkosend haar rooibruin krulle streel. ‘Maar Alida, hoe lyk dit dan of jy teenswoordig sosialis word?’ ‘Hoe so?’ merk sy op, sonder haar oë van die vuur af te wend. ‘Kyk, hier is jy dan nou met Zola se “Germinal” besig. Verlede week was dit Mazzini se boek oor sosialisme, en voor dit het jy glo daardie boek van Jack London.... wat was dit nou weer?... “People of the Abyss” gelees.’ ‘Nee Kris, ek was maar nog van altyd af sosialis, maar hierdie boeke het my maar net tot 'n dieper besef daarvan laat kom. Weet jy Kristo, toe ek vanaand so sit en lees oor die armoede van die werkende klasse in Frankryk het dit my aandagtig gemaak op die ellende van ons eie armklasse. Ek is seker ons het geen besef van die bittere lyding en onbeskryflike versonkenheid van duisende van ons eie mense nie - Afrikaners net soos ek en jy - wat

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *23

G. PILKINGTON. AKWARIUM, KAAP.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 239 binne 'n paar myl van ons huis voortsukkel in 'n soort dierlike bestaan, sonder enige gryntjie liggaamlike en geestelike genot.’ ‘Nee ou Hartjie, as jy soos ek daeliks in noue aanraking kom met alle stande van die samelewing, dan sal jy ook minder sosialistiese neiginge toon. Gewoonlik is dit blote luiheid en onsedelikheid wat al die ellende veroorsaak. En selfs die deugsames, wat deur pure ongeluk of 'n wrede noodlot verarm, ontaard so gou dat hulle spoedig gevoelloos word, en hulle liggame word taai en gewoond aan ontberinge. Dis die mens se aanpassingsvermoë by sy omstandighede wat die grootste redding en geluk van die armes is.’ ‘Ja Kristo, miskien word hulle sinne mettertyd verstomp, maar hulle besit nog altyd 'n onderskeidingsvermoë om te besef wat die genietinge van die bevoorregte klasse is in vergelyking by hulle eie armsalige bestaan. Uit hierdie onderskeidingsvermoë ontstaan 'n bittere gevoel van verongelyking wat naderhand wanhoop aan enige toekoms. Kris, jy praat so maklik van hulle sedelike onverskilligheid en luiheid, maar jy weet goed dat sedelikheid bloot 'n kwessie van omgewing en opvoeding is. As jy in daardie atmosfeer jou geestelike ontwikkeling ontvang het sou jou sedelike beskouings en lewensopvattinge hemelsbreed verskil het van die ideale en beginsels wat jy vandag koester.’ Krisjan Barry glimlag. ‘Vroutjie jy is alweer reg - maar altyd reg né? Maar aangesien jy vanaand niks kan doen tot versagting van die leed van die arme stommelinge wat, volgens Kristus, maar altyd by ons sal wees, mag ek die ernstige gesprek aflei in 'n ander rigting? Jy weet mos dat die Brands aanstaande maand na Europa gaan. Hulle sal glo vandusie hou van hulle huisraad. Vanmiddag kom Brand in my kamer met 'n yslike pak skilderye en geraamde afdrukke. Hy wil weet of ons die prente vir twee jaar vir hulle sal versorg.’ ‘Hoe heerlik Kristo! En waar is hulle nou?’ roep Alida opgetoë uit. ‘Nog in die stad, want ek moes twee besoeke gaan aflê op pad huis-toe en kon hulle dus nie meebring nie.’ Die tafelklokkie verkondig die aandete, en Kris lig sy vroutjie op van haar sitplek, wieg haar 'n paar maal liefkosend heen en weer in sy arms terwyl hy sy gesig teen haar mollige wit hals vasdruk.

Dis 'n paar weke later en dr. Barry en sy eggenote sit aan tafel. Alida se blonde vel steek helder af teen haar swart dineerok van onberisplike snit, terwyl die gedempte lig haar goedversorgde rooibruin hofie nog bekoorliker as ooit laat vertoon - 'n sjarmante vrouebeeld! Die diensmeisie verskyn met 'n gekreukelde brief vir die dokter. Met gefronsde voorhoof lees Krisjan die inhoud van die liederlike stukkie papier. Skielik helder sy gesig op en hy uiter: ‘O dis seker van die

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 240 arme skepsel wat 'n paar weke gelede hier was om godsdienstige boeke te verkoop. Die kêrel sê hy lê op sterwe. Maar daardie ou storie ken ek alte goed al. Ek wonder darem of dit werklik so dringend is. Wel Kindlief, ek stel voor dat ek jou eers stadsaal-toe neem, dan kan ek na Soutrivier gaan om te sien of die arme kêrel werklik so ernstig is as die brief te kenne gee. Daarna kan ek weer stad-toe gaan en jou in die saai ontmoet. Ek sal nie te laat weer by jou aansluit nie, en sal nog heelwat van die konsert kan geniet.’ ‘Dankie Liefste, maar dis veels te veel moeite. Ek is nie so danig gesteld op vanaand se program nie. Buitendien kry ek tog elke week die kans om die orkes te hoor, en dis nie so 'n groot teleurstelling om een week tuis te bly nie.... Regtigwaar Skatlief, ek bly liewers vanaand tuis.’ ‘Dis net soos jy wil, Kindjie,’ antwoord Krisjan, toe hy die kamer verlaat. Verdiep in 'n boek het Alida in die studeerkamer 'n heerlike uurtjie voor 'n smeulende houtvuur ten seerste geniet. Daar het Krisjan haar binne 'n uur aangetref. ‘My ou man is baie gou terug,’ sê sy, terwyl hy vooroor buk en haar glansende hare soen. ‘Ja en in die kort tydjie het hy 'n baie snaakse ondervindinkie opgedoen,’ antwoord hy, terwyl hy plaas neem op die armleuning van haar stoel. ‘Jy weet mos dat ek vanaand na Soutrivier uitgeroep is na 'n sterwende. Toe ek daar kom beland ek voor 'n bouvallige ou huisie in 'n vieslik vuil systraatjie. Mevrou Steyn, die ou moeder van die sieke, is 'n maer, uitgeteerde vroutjie van sowat sestig jaar, met nog die duidelike trekke van 'n beter beskawing in haar stem en haar sagte maniere. Maar 'n mens kon dadelik sien dat sy al bitterswaar gekry het in haar lewe. Sy en haar seun bewoon twee klein vertrekkies. Alles was taamlik skoon en netjies, maar ag! so armoedig en skraps. Op 'n lendelam kateltjie in die slaapkamer lê 'n jongkêrel van sowat dertig jaar in die laaste stadium van longtering. Terwyl ek langs hom sit val my oog toevallig op 'n portret op die parafienkissie voor sy bed. In die flou flikkerlig van die armsalige ou kersie kon ek eers nie eintlik die gesig van die portret uitmaak nie. Maar skielik besef ek dat die gesig my bekend is. Nog kon ek my eie sintuie nie vertrou nie, dus vra ek toe vir die sieke wie die nooi was wie se portret hy voor sy bed het. Dit was joue, Alida, - jou portret wat ek daar voor my gesien het. Toe ek hom vra vanwaar hy dan Alida Theron ken, vertel hy my dat sy ouers voorheen in die distrik van Prins Albert geboer het. Sy pa was 'n welaf boer en sy suster was saam met jou op skool. Jy het glo dikwels by hulle op die plaas gaan kuier. Toe kom die groot droogte en sake het van sleg tot slegter geraak, totdat hulle eindelik bankrot is. Hulle is toe Kaaptoe, waar sy vader vier jaar gelede dood is. Sy suster is getroud en woon in Woodstock, en hy

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 241 en sy moeder... Alida, ek is tog so jammer dat ek jou so ontstel het,’ merk Krisjan op toe hy 'n warm traan op sy hand voel.

So tussen haar trane deur, met haar blik strak gerig op die vlamme, in 'n sangerige eentonige stem van een wat droombeelde uit die verlede herroep, terwyl 'n snikkie nou en dan haar woorde onderbreek, vertel Alida vir haar man van naar vrindskap met die Steyns in Prins Albert. Nou onthou Krisjan ook goed hoe dikwels sy alreeds vir hom vertel het van die liewe Tant Essie en Oom Pieter by wie sy so dikwels gekuier het in haar skooljare; van hulle dogter Salome en Piet, die knap seun. In dié dae was Oom Pieter Steyn een van die rykste boere in die distrik. Aan gasvryheid het dit nooit ontbreek in hulle deftige woonhuis op Biesiespoort nie. Menige heerlike vakansie het Alida by die liewe mense deurgebring, en die nouste band van vrindskap het haar verbind aan die lewenslustige dogter van die huis, en ook aan die frisgeboude en werksame jongkêrel, Piet Steyn - om die waarheid te erken, daar het eintlik iets soeter as blote vrindskap tussen hierdie twee ontstaan.

Nadat Alida en haar moeder weg is van Prins Albert het sy en Salome nog lang gekorrespondeer, maar langsamerhand het die briewe alhoe minder geword, tot hulle eindelik heeltemal afgesterf het. Vir 'n paar jaar lank het sy nog briewe van Piet ontvang, maar ses jaar gelede, toe sy aan Albert van Dyk verloof geraak het, is haar briewewisseling met Piet ook gestaak. Van toe af het sy niks meer van die Steyns verneem nie.

Op Alida se dringende versoek beloof Krisjan om haar die volgende dag saam te neem as hy weer vir Piet Steyn gaan besoek. Belaai met 'n yslike bos angeliere en verskeie pakkies, kom Alida dié môre saam met haar man aan by die armoedige ou huisie waarvan die Steyns die eerste twee kamers gehuur het. Hoe sy ook al probeer om haar selfbeheersing te handhaaf, nogtans kon Alida nie haar trane bedwing nie, toe sy die armoedige vertrekkie binnetree en die afgeleefde, inmekaargekrimpte portuurtjie aanskou, en nouliks in die gerimpeld ou gesig die deftige, altyd-glimlaggende Tant Essie van ag jaar tevore kon herken. Toe die herhaalde omhelsinge en gedempte, liefdevolle uitroepe van vreugde, gemeng met verdriet, eindelik gestaak was, droog Alida haar trane weg, poeier sorgvuldig haar gesig om die bewyse van aandoening uit te wis, en op 'n wenk van haar man stap sy suutjies die slaapkamertjie binne. Opnuut wel die trane in haar oë op by die aanskouing van die bleekvaal gesig met sy holgesonke oogkaste, ingevalle wange, die brandmaer uitgeteerde hande en die verknokkelde raamwerk van 'n menslike liggaam waar nog net 'n vel oor gespan is.

Met die uiterste inspanning van al haar geesteskragte stap Alida tot voor die bed en gaan sit op die parafienkissie wat moet dien as stoel. 'n Nuwe lig fonkel in die onnatuurlik groot, koorsagtige oë, en 'n benerige hand vat

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 242

Alida hare in 'n swakkerige handdruk, terwyl 'n pynlike glimlag, wat op die maer, vervalle gesig amper op 'n gryns lyk, kom oor die sieke se gelaat. ‘Alida is dit maar weer 'n droom? Jy het tog al so baie so in my drome na my toe gekom,’ prewel 'n hees stem. ‘Nee Piet, dié slag is dit die werklikheid,’ verseker Alida, terwyl sy saggies die maer hand op die bruin wolkombers streel. ‘Dan eindelik die werklikheid? Geen droombeeld meer nie? Ag liewe Alida, jy het nog niks verander in al die jare nie. Jou stem is nog net so soet en jou oë net so sag en so helder as ooit, en die sagte wit handjie....’ Hy trag om haar hand tot sy lippe te bring, en toe sy hom in sy poging help druk hy dit liefderyk vas teen sy dun lippe. Intussen het Krisjan en Tant Essie die siekkamer verlaat, en Krisjan het beloof om oor 'n uur of wat, as hy van sy rondtes terugkom, vir Alida te kom haal. Op Piet se versoek moes Alida toe alles vertel omtrent haar wedervaringe in die afgelope ses jaar. Met haar hand nog in syne, terwyl sy koorsige, diepgesonke kykers haar gelaat met die deurdringing van 'n soeklig dophou, luister Piet. Sy vertel van haar verloofskap aan Albert van Dyk, haar ontnugtering omtrent sy werklike karakter, die afbreking van hul verloofskap, haar reis na Europa, die ontmoeting met Krisjan Barry op die terugreis huistoe; hulle huwelik ses maande later, die geboorte van Fransie, 'n twede reis na Europa 'n jaar gelede, en nou die rustige, vreedsame huwelikslewe, waarin niks haar ontbreek nie. En toe was dit weer Piet se beurt om haar weetlus te bevredig. In kort, afgebroke sinnetjies, met baie ruspouses tussen-in, vertel hy haar kortliks van die verskriklike droogte met sy noodlottige gevolge, en van hulle trek stad-toe. Hy vertel van die bittere stryd vir 'n bestaan te midde van moeilikhede en bedrieglike omstandighede waarteen hulle boeremense gladnie opgelei was nie; die gestadige agteruitgang van die hele familie; Salome se aanpassing by haar omgewing, ten gevolge dat sy nou met 'n tremkondukteur getroud is, en as moeder van drie sieklike kindertjies in Woodstock 'n sukkelende bestaan voer. Kortliks meld hy van sy vader se dood enige jare gelede, van sy eie werk in 'n kantoor, sy ontslag, volgende op 'n hofsaak en 'n maand tronkstraf, omdat hy 'n skurk neergeslaan het wat Salome wou aanrand. Daarop het ses maande van werkeloosheid gevolg, totdat hy twee jaar gelede die agentskap vir die verkoop van godsdienstige boeke gekry het. Maar binne die laaste ses maande het sake ten gevolge van sy siekte maar beroerd gegaan met hom en sy arme ou moedertjie, wat totaal afhanklik is van haar sieklike seun. Die klimmende besef van die aakligheid van die lewenstragedie wat voor haar ontvou word en 'n oorweldigende indruk van 'n gapende afgrond wat uitstrek tussen haar eie gelukkige lewe en die ellendige bestaan van hier-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *24

G. PILKINGTON. OP DIE GOLWE.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 243 die intieme vrinde aan wie sy eenmaal so nou verbonde was dreig om Alida te oormeester, en weer wel die trane op in haar oë. Sy staan op, buk vooroor en soen die klam voorhoof van Piet wat, weëns die afmatting veroorsaak deur sy verhaal, nou toe-oë lê. Sonder 'n woord verlaat sy die kamer. In die eetvertrekkie het Krisjan 'n rukkie later haar aangetref, met nouliks-bedwonge aandoening geselsend oor die verlede en die hede met Tant Essie.

Die daarop volgende drie dae het Alida elke oggend met pakkies en sakkies die sieke kom besoek. Krisjan het haar verseker dat Piet nou buite mediese hulp lê, dus kan die opgewondenheid wat haar geselskap en gesprekke veroorsaak hom geen nadeel meer berokken nie. As Piet dan te moeg word om meer te praat dan gaan sit Alida in die eetvertrekkie vir Tant Essie geselskap hou.

Die twede dag, toe Alida en Tant Essie weer so sit en gesels, kom Salome daar in met haar jongste kind, 'n miserabele skepseltjie in 'n liederlike flentertjalie gehul. Een oogopslag was voldoende om Alida te oortuig dat in hierdie slordige, slenterende slet met haar onverskillige taal, haar verwaarloosde uiterlik en hartvogtige verbitterdheid alle sweem van haar vorige opvoeding, kiesheid en ordentlikheid al lankal totaal uitgesterf het. Salome se ongevoeligheid, haar skynbare gebrek aan enige aandoening te midde van soveel herinneringe uit 'n beter en soeter verlede, gepaard met 'n hartelose tekort aan kommer oor Piet, het Alida laat besef hoe wyslik haar man beweer dat die armblankes se grootste geluk bestaan in hulle aanpassingsvermoë.

Die vierde oggend toe Alida weer langs Piet se bed sit, en hulle weer saam gedelf het in die soete herinneringstuin van die genotvolle onthou-jynog-dae, bemerk sy dat die pasjent vandag baie moeg en afgemat lyk. Dus vertoef sy maar kort, met die afskeids-belofte om later weer te kom, mits hy nou 'n bietjie insluimer.

Laat dié agtermiddag kom Krisjan en Alida saam daar aan, en die twee het met groot moeite Tant Essie beweeg om saam met Krisjan vir 'n uurtjie of wat in die moter te gaan ry, terwyl Alida by Piet bly. Daartoe het Alida reeds haar naaldwerk saamgebring. 'n Halfuur het verbygegaan, en Alida sit voor die siekbed met haar werk in haar skoot, want die toenemende skemering het verdere naaldwerk belet. Eindelik staan sy op, en nadat sy die endjie kers aangesteek het, en Piet sy medisyne gegee het, gaan sy weer langs hom sit. Steeds bly sy oë op haar gerig. 'n Trekkie van nuwe lewe en krag kom oor sy moeë gesig, en as eerste bewys van belangstelling dié agtermiddag soek die maer hand oor die deken na haar hand. ‘Alida,’ sy buk vooroor want sy stem is nou baie sag en onduidelik, ‘as ek weg is.... dis net Moedertjie wat ek oor dink.’ Alida sluk hard en

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 244 bedwing die trane in haar oë, maar die bewing in haar stem kon sy nie beheers nie. ‘Liewe Piet, bekommer jou daar gladnie oor nie. Ons, Krisjan en ek, sal vir haar sorg, en solank soos sy lewe sal sy nooit weer gebrek ly nie.’ 'n Uitdrukking van die saligste tevredenheid kom oor 'n sterwende gesig, terwyl 'n magtelose hand vrugteloos trag om Alida se hand op te tel en binne bereik van die flou glimlaggende lippe te bring. Alida staan van die kissie op, gaan sit aan die koppenend van die lendelam kateltjie, lig Piet se skouers teer op in haar arms, sodat sy kop teen die sagte kantvalletjies op haar bors te rus kom. Die trane wat sy nou nie langer kan keer nie val warm op sy wang en sy hare. Na enkele oomblikke hoor sy 'n nouliks-hoorbare gefluister, halfgesmoor onder die lugtige kantvalletjies aan haar bors. Sy buk vorentoe om beter te kan hoor. ‘Nag Alida, liewe engel van my lewe.’ Alida is sprakeloos. Sy soen die klam voorhoof en druk net 'n bietjie stywer met haar arms die arme geraamte teen haar bors vas. ‘Dankie God vir so 'n soete einde...’ en die doodsgeroggel sluit die fluisterstemmetjie af. Alida lê eerbiedig haar las neer, druk die halfoop oë toe en trek die laken oor die hoof. Beweegloos sit sy nou met betraande oë, strak gerig op die flikkerende krom kersie, wie se vetdruppels nog vinniger val as haar eie trane, wat nog 'n oomblikkie bewend blink aan haar lang wimpers eer hulle ongestoord neerplas op haar inmekaargevoude hande in haar skoot. ‘Piet’, haar mondhoekies bewe geweldig, ‘Piet, waar is jy dan nou? Netnou het jy dan nog met my gepraat, en nou?... nou is jy so stil, so aaklig stil... Ag Piet, dis so swaar om te verstaan waar jy nou is, in watter vreemde, veraf, onbekende oord.’

Die krom kersie brand dowwer en steeds dowwer; twee laaste vlammetjies skiet nog krampagtig op uit die gloeiende rooi pitjie. Die kersie is uit, en 'n blouerig-wit rokie trek op uit die pitjie wat nog 'n paar sekondes rooi gloei in die skemerdonker.

LULU BREVIS.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 245

‘De Brandwacht.’ Staatsdrukkerij, Fouriesburg, O.V.S.

'n Oorlogsherinnering.

(Die redaksie van ‘Die Nuwe Brandwag’ plaas onderstaande artiekel oor, sover ons bekend, die eerste ‘Brandwag’ in Suid-Afrika, met groot genoë. Dit is miskien nie heeltemal in die aard van ons tydskrif nie, maar dis van so 'n interessante inhoud, en ten slotte dit handel oor ‘De Brandwacht.’ Mnr. Meyes skryf uit Holland: ‘Wat mijzelf betreft: ik behoorde tot hen die in het begin van den oorlog waren uitgekomen naar Zuid Afrika en ben kort voor het eind in de Kaapkolonie gevangen genomen en ten slotte vervoerd naar Bhimtal in de Himalaya's tot September 1902. Ik heb toen nog moeite gedaan om naar Afrika terug te keeren, maar dit werd mij door de Engelschen niet toegestaan. Juist om mijn drukkerij was ik door hen uit Zuid Afrika verbannen. Zo keerde ik dus naar Holland terug. Maar het was mij steeds een reden van groote teleurstelling dat ik waarschijnlik nooit meer uw heerlijk zonnig Zuid Afrika zal terug zien.’ - As daar nog iemand in Suid-Afrika of elders is wat iets van ‘De Brandwacht’ of dgl. publikasies weet, soos bv. die ‘Zoutpansberg Wachter’, sal die redaksie graag daarvan wil hoor.)

NA Paardeberg, waar Cronjé op 27 Febr. 1900 met sy laer gevangegeneem is, toe die Britse troepe na Bloemfontein opgetrek het, het die Vrystaatse Regering sy setel na Kroonstad verplaas. Om dit moontlik te maak Regeringsstukke, soos proklamasies, e.d.m. te publiseer, het hulle 'n handdrukpersie saamgevat, - oorspronklik in gebruik by die Vrystaatse Spoorwegdiens. Later is die Regering nog baie keer verplaas, waarby die drukkerytjie saam verhuis het, en so het dit agtereenvolgens gestaan in Heilbron, Frankfort, Vrede, Reitz, Bethlehem en eindelik in Fouriesburg, die dorpie in die Witteberge in die distrik Ficksburg teenaan Basoetoland. Na Bethlehem ingeneem is, op 7 Junie 1900, het die Vrystaatse Boeremagte hulle in daardie bergwêreld teruggetrek. In die nag tussen 15 en 16 Julie het de Wet met die Regering by Retiefsnek uitgetrek, deur die Engelse heen, Transvaal-toe. Generaal Martinus Prinsloo het toe op 30 Julie die agtergeblewenes met die hele krygsvoorraad aan die Engelse oorgelewer. Maar die meeste burgers het nog die dag by Witzieshoek in noordelike rigting ontvlug, met al die kanonne en meksims op twee na. Dit het wel in gruwelike wanorde geskied, maar hulle is uit. Plek en gebeurtenis is by dies wat deelgeneem het bekend as ‘die Ramkraal’. By hierdie geleentheid het ek my aangesluit by die oorgeblewene Ficksburgers. Ons het toe onder Hasebroek, Olivier, Fourie, e.a. 'n tydlank in die oostelike helfte van die Vrystaat rondgetrek - die eerste tyd orals skrik

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 246

FAKSIMILE: DE BRANDWACHT.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 247 bringend onder die Engelse, wat mos gemeen het, dat hulle die hele Vrystaatse Mag vir goed in die ‘Ramkraal’ vasgekeer het. Ons het ook nog danig tussen hulle gespook, tot hulle weer sulke groot troepemagte teen ons saamgetrek het, dat ons in September by Doornberg uitmekaar gegaan het. Die leër het hom toe opgelos in klein kommandos, wat later nog maar 'n enkele keer hulle distrikte verlaat het as de Wet sy burgers versamel het vir sy invalle in die Kaapkolonie. Ons ‘Ficksburgers’ het die 17de September in die distrik teruggekom. Saterdag, 6 Oktober, met dagbreek, het ons die dorp ingery. Die Engelse poliesie, met hulle kaffers en party ‘mak’ Engelse, het net baie haastig deur die rivier gevlug. Toe ons die 24ste Fouriesburg inry, het die agtergelate Engelse poliesie lankal padgegee. Ons het ons daar vannuutsaf ingerig. Hermanus Steyn van Slootkraal was kommandant van die Ficksburgers; Koos en Evert Niekerk, van Franshoek en Moolmanshoek, veldkornette. Matthys Niekerk het in Ficksburg as Landdros gefungeer; Mich. Heyns as Vrederegter in Fouriesburg. Ek het toe 'n tydlank as Sekretaris by Evert Niekerk gebly, wat met sy klompie (meeste jongkêreltjies) in Ficksburg gestasioneer was. Partymaal, as Heyns weg was, het ek in sy plek as waarnemende Vrederegter gefungeer. Ons vernaamste werk was toe: patrolliery langs die Basoetogrens en oplet vir die Engelse in Bethlehem. Toe, middel-Desember, het Chris. Bustraan, een van die Hollanders wat daar gewoon het, vir my die drukpersie gewys, wat in die Sondagshuis van Swart-Karel de Jager gestaan het, skuins-oor sy smidswinkel. Dit was die reeds genoemde drukkerytjie, wat saam met die Regering geretireer en daar agtergebly het. Dit was maar 'n vreeslike deurmekaar spul, maar dit het tog nog taamlik kompleet geblyk. Dit het bestaan uit 'n trap-pers met 'n stukkende trapper; 6 of 7 letterkaste, waarvan die meeste letters oor die vloer verspreï gelê het; twee sethake, lyne en wit; 'n blik ink, 'n gietbus en 'n stuk spesie om rolle te giet; verder 'n groot kas met pakke papier (half-folio) - alles dik onder die stof. Sonder die minste kennis van die drukkersbedryf te besit, het ek begin die spul agtermekaar te kry; ek het die letters in die bakkies gesit en probeer iets te set en te druk. Dit het begin met vorms vir Kafferpasse, verlofpasse vir burgers en paroolpasse vir ‘mak’ Engelse, - wat ek as waarnemende Vrederegter moes uitgee. Natuurlik het dit met die aanvang maar baie sleg gegaan, maar aldoende beter. Daarna het ek Krismiskaarte gedruk op Engelse manier, met die gelukwense van ons klein kommando aan die ander burgers. Daarop kan 'n mens al die name kry. Op verlange van die Veldkornet het ek myself toe aan die druk van 'n krantjie gesit. Ek het die krantjie ‘De Brandwacht’ genoem.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 248

FAKSIMILE: ORANJE VRIJSTAATSCHE OORLOGS LIEDEREN-BUNDEL.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 249

Van hierdie krantjie het altesame 10 nommers verskyn onder baie wisselende omstandighede. Hulle is respektiewelik gedateer: 22 Des. 1900; 16 en 26 Jan.; 13 Febr., 12 en 13 Maart; 13 en 25 April; 13 Julie en 5 Okt. 1901. Die nommers 1-3 is nog in Fouriesburg gedruk; No. 4 op die plaas Bamboeshoek; nommers 5-9 in 'n ou skoolgebou op Snymanshoek, die plaas van Doris Serfontein; en No. 10 gedeeltelik onder 'n holkrans en verder in 'n huisie van bamboes wat ek bo in die kloof van Snymanshoek opgesit het. Ons het tot daar gevlug met die pers om dit buite bereik van ‘kakie’ te hou. Party van die nommers het as bylae afdrukke van offisiële dokumente gehad. By No. 7 het gegaan die verslag van die onderhandelinge en die korrespondensie tussen Kitchener en Botha in Maart 1901, met 'n voorwoord. van de Wet. By No. 9 die Proklamasie van Pres. Steyn om 'n Dank- en Biddag te hou; die kennisgewing van 'n geheimtelegram aan Pres. Kruger in Holland, en die verslag van 'n samekoms van die twee Republikeinse Regerings met Christian de Wet, Louis Botha en de la Rey by Standerton op 20 Junie 1901; asook die laaste rapporte uit Transvaal. Want net toe ek die eerste nommer van ‘De Brandwacht’ afgedruk en versend het, kom daar al 'n rapportryer by my van Pres. Steyn met die afskrif van 'n Proklamasie om so gou moontlik te druk, met die kloekluidende begin: - ‘Zij het aan allen kennelijk: Dat de oorlog, die door de Britsche Regeering de Republieken opgedrongen is, voortduurt, zoowel in de Oranje Vrystaat als in de Z.A. Republiek,...’ ens., met die datum: ‘te velde, 14 Januarie 1901’ en onderteken: ‘M.T. Steyn, Staatspresident, O.V.S.’, en ‘C.R. de Wet, Hoofdkommandant der O.V.S. Legermachten.’ En onderaan het ek gedruk, net soos op my krantjies: ‘Staatsdrukkery, Fouriesburg, O.V.S.’ Later het ek, ook afsonderlik, nog die Korrespondensie gedruk wat gevoer is tussen Kitchener en Pres. Steyn, d.d. 6-15 Aug. 1901, waarby Goewermentskennisgewing d.d. 19 Aug., 'n Proklamasie van de Wet teen burgerspioene, 'n Kennisgewing van Pres. Steyn aan die Boere in die Kaapkolonie, en 'n lys van aangestelde Regeringspersone. En dit alles elke keer en partymaal vir maande onderbreek deur veg en vlug, weer terugkom, hervat en opnuut wyk. Pres. Steyn het las gegee, dat die pers soveel moontlik beveilig moes word. Daarop het hulle Korporaal Hendrik Jerling aangewys om daarvoor te sorg. Na die 3de Krantjie het ons geweet dat dit nie op Fouriesburg kon bly nie en het ons dit eers na Bamboeshoek en later na Snymanshoek oorgebring. 'n Paar keer moes ons met die drukkery bo in die kloof skuil, terwyl die kakies die berge afgestroop het. Een keer het die pers vir 'n paar maande so gestaan, uitmekaar geneem en tussen groot klippe weggesteek. Toe ek later weer die masjien kon opstel, het dit uitgekom, dat die drukrolle deur diere

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 250 afgeknaag is; ek moes dus nuwe rolle giet, maar het dit eers na baie moeite op 'n manier reggekry. Later het ek eendag bo in die kloof onder 'n holkrans gestaan en Regeringsstukke druk, toe die papiere van my pers af wegwaai. Oplaas het ek daarbo 'n huisie van jong boomstamme opgetrek, met bamboes toegemaak en gedek met sinkplate van Jerling se huis, wat die kakies verbrand het. Onder dit alles het Ou-Hans van Jaarsveld, van Ou-Swart-Jan Fourie se plaas, Kransfontein, my trou bygestaan. Daardie Oom het onder alle omstandighede lustig die wiel gedraai (die trap van die pers was mos stukkend) en daarby sy self-gedigte vaderlandsliewende liedjies gesing. Die ‘Hoofdartikel’ (!) in die eerste nommer en in No. 9 is ook deur hom geskryf met nog 'n paar versies. Origens was die artiekels, ens., meeste van my hand, met die offisiële proklamasies en kennisgewings vooraf en aangevul met oorlogsberigte, verslae, adresse, ens. So 'n enkele artiekel was daar van ander. Dit alles moet beoordeel word na die omstandighede waaronder dit tot stand gekom het: geskryf en gedruk deur iemand wat tevore nooit aan joernalistiek en druk gedoen het nie; met 'n stukkende persie, tussen veg en vlug, in stof en vuiligheid, met min ander hulp as die van Oom Hans. In Okt. 1901 het daar twee ander Hollanders, wat wou veg, by my gekom: Artillerie-Luitenant Gerrit Boldingh en Hendrik van Doornik. Hulle was op pad om aan te sluit by die kommando van Hoofkommandant Kritzinger. Die Engelse het hom en sy mense gejaag tot hulle die Kaapkolonie moes verlaat, en hy en sy klein klompie Koloniale het toe onder Louis Wessels gebly in die distrik Ladybrand. Sy plan was om met die eerste gunstige geleentheid met versterking van mense en perde die Ou-Kolonie weer in te trek. Toe het ek besluit om saam te gaan. Ons het mos vasgestel, dat, as daar nog enige moontlikheid kon bestaan op 'n gunstige verloop van die oorlog, dit nog net in die Kaapkolonie kon wees. Daarom wou ons self gaan kyk hoe sake daar lyk. In die Republieke - dit het ons geweet - was die toestand maar hopeloos. In die Vrystaat het amper g'n huis meer orent gestaan nie. Die vee en perde was weggevoer of by honderde of duisende in die krale afgemaak. Die koring en meelvoorrade was verbrand. Vir elke meul by ons in die berge is daar 'n wanhopige stryd gevoer, maar die Engelse het hulle almal opgeblaas. Op die ou end het hulle ook nog die meulinstallasie wat ons 'n tydlank op 'n ossewa rondgevoer het, in hande gekry. As wapens het ons nog net geweers gehad, met maar min patrone, teen hulle baie kanonne en meksims. Die mase van daardie net van blokhuislyne het almaar kleiner geword. Die stryd om hulle was lankal reeds al te ongelyk. So het ek dan saam met my landgenote die Ficksburgdistrik verlaat. Die drukpers het ek in hande gelaat van Frank Naas Muller, vroeër drukker van die ‘Harrismith News’. Wat hy daarmee gemaak het, weet ek nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 251

Hoe ons na baie moeite die 15de Desember die Kolonie ingetrek het, waar ek die volgende dag al gevanggeneem is en Kritzinger gewond in hande van die Engelse geval het by die oorgaan van die treinspoor by Hanover, gelyk met Luitenant Boldingh, wat 'n paar dae later in die hospitaal van Nauwpoort oorlede is, ens. - is deur my beskrywe in 'n artiekel in die tydskrif ‘Hollandsch-Zuid-Afrika’ van 15 Aug. 1911, en 'n mens kan dit dus daarin nalees. ------Eksemplare van my drukwerk en die aantekenings wat my dagboek uitmaak, het ek in blikke begrawe onder die holkrans in die kloof op Snymanshoek en later is dit, na ons gesamenlike krygsgevangenskap in Brits Indië, deur Bustraan opgegrawe en na my aangestuur in Holland. So het dit weer in my hande gekom, maar dit dra baie die tekens van die lê in die grond. ------Of my ‘Brandwacht’ in daardie tyd enige invloed uitgeoefen het, kan ek nie sê nie. Van die pers is dit nou nie altemit nie, wat betref die offisiële stukke wat ek vir Pres. Steyn gedruk het. Hulle het hul uitwerking seker nie gemis nie. Maar my krantjies met hulle partymaal skerp inhoud? Met toevallig aankomende rapportryers het hulle die veld ingegaan na die kommandos toe, maar ek het nie eintlik geweet in wie se hande hulle gekom het nie. Deur afdruk vooraan van offisiële stukke het ek probeer om my krantjie gewigtig te maak; en aantreklik deur soveel oorlogsberigte en verslaggies van krygsverrigtings as moontlik daarin op te neem. In No. 6, b.v., word daar 'n oorsig gegee onder die hoof ‘Generaal de Wet in de Kolonie’ van die trek van de Wet deur die Westelike gedeelte van die Kaapkolonie van end Januarie tot begin Maart 1901, uit die dagboek van Luitenant Boldingh. En in No. 9 verskyn my ‘Khaki's bezoek aan de Wittebergen’, 'n humoristiesgetinte oorsig van die trek van Engelse deur ons bergwêreld in Mei 1901, waarby die doel was meule-opblaas en koring en meel verbrand. Meeste van die oorlogsnuus het ek gekry van Wnde Goewts. Sekretaris W.J.C. Brebner. In No. 7 is daar die humoristiese gedig ‘The Lady Roberts’ van die Transvaalse Staatssekretaris Mnr. Reitz, oorgeneem uit die ‘Zoutpansberg Wachter’, 'n Transvaalse blaadjie, met die skryfmasjien gedruk. Daar moes hulle hul dus nog meer behelp as ons. Deur die Hoofredakteur uitgenooi om iets te vertel van die deur my gedrukte blaadjie het ek dit met die grootste plesier en op die daad gedoen. Die kringetjie van mense wat op hoogte was wat daardie drukkerytjie betref, was toe al nie baie groot nie, en van hulle is daar baie nie meer in lewe nie. Dit het vir my daarom die moeite wêrd geskyn om 'n kort oorsig te gee van die geskiedenis van my krantjie ‘De Brandwacht’ en my drukkerytjie, wat ek, ondanks verplaatsings, bly betietel het met die weidse naam van ‘Staatsdrukkerij, Fouriesburg, O.V.S.’. MELS J. MEYES.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 252

Lewe en Dood.

Laat staan my siel, O huigelaar! Jou ‘hemel’ bly vir my so ver Soos strale van d'awendster; Jou ‘hel’ is net 'n harsingskim Wat loodswaar op my lede lê.

Laat staan my siel om self te soek Die God wat op die winde sweef? Die dood waarin daar lewe skuil? Die lewe wat die dood steeds baar: Laat tog my siel allenig soek.

Daar in die hartjie van die bos, Waar wysheid uit die vryheid vloei, Was dit of ek 'n stoere eik eens hoor: Die somer en die winter speel met my Net soos die dag en nag met jou: Die helfte van ons lewe leer ons om te sterf?

Ja, ek weet die dag sal kom Dat my takke dor sal word En ek in die stroom sal vrot - Waar my kinders kragte vind: Dit, my vriend - is dit die dood?

A.J. BRUWER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 253

Die Koningsdogter en Haar Maat. Uit die Stories van die oues. (Na die Hebreeus van Ch.N. Bialik.)

Chaim Nachman Bialik word beskou as die grootste Nu-Hebreeuse digter van vandag. Hy is gebore in 1873 en moet nog in Palestina lewe. Hy is die digter van die wee wat sy volk ondergaan het in die eene van sy onderdrukking tot hede. Meermale verhef sy digterskap hom tot 'n profetiese figuur van die geeskrag en woordvermoë van die O.T. se profete. Hy is die seun van die Ghetto, maar voel hom ook mens van die nuwe tyd. Vir die Hebreeuse taal in sy teenswoordige vorm is hy 'n herskepper en weer-ontdekker gewees. Hy het die taal vry gemaak van die Biblisisme waarin dit in vorige literatuurperiodes geforseer was; en die woord- en taalskatte van die na-Bybelse tyd in sy idioom kwistig verwerk. Vandaar 'n seldsame woorderykdom en uitdrukkingsverskeidenheid in sy Hebreeus. Sy krag lê in poësie. Maar ook sy prosa is aantreklik.

KONING Salomo had 'n liewe, mooi dogter, wat in die hele land haar gelyke nie had nie; en die koning het haar lief gehad soos sy siel, en het haar bewaak soos die appel van sy oog. En die meisie was van jongs af wonderlik en vreemd in haar doen meer as alle dogters van haar leeftyd; sy het die rumoer van paleise en feessale verag, en sy het liefs alleen en swyend gaan wandel in die koninklike park, of vroeg in die môre na die wingerde gegaan om op die paadjies daar te wandel, met bewoë siel en haar oë na die vertes gerig; en sy was soos 'n droomster by die ontwake, al die dae, en niemand het haar hart geken nie. En toe die tyd van die liefde vir haar genader het, het koningseuns gekom van naby en ver om oor haar te praat met haar vader, maar die meisie, die koningsdogter, het haar gesig vir hulle verberg, en op hul woorde nie gelet nie, en hulle is algar teruggekeer na hulle land beskaam en met geboë hoof. En na verloop van dae het die meisie haar hart verhard, en die koningseuns het aan haar gaan wanhoop en het haar nie meer opgesoek nie. En die koning is besorg geword oor haar en dit het sy hart verdriet gebring. En hy het in die nag na die dak gegaan, en in die sterre gekyk om te sien wie die koningseun was wat God vir sy dogter bestem het, en wanneer hy sou kom. En hy het verstaan uit die sterre en gesien - kyk, geen koning of koningseun was bestem vir sy dogter van God nie, maar 'n arme en onaansienlike seun, uit die arm mense onder die volk, hy sou tot haar kom op die bestemde tyd en haar vir hom tot vrou neem. Dit het die koning baie bedroef, en hy het 'n plan gesoek om die raad van die Hemel te verbreek; en hy het by homself gesê: laat ek die meisie by my verberg tot die bepaalde tyd wat ek in die sterre gesien het verby is, en die besluit verydel sal wees. En hy het uitgesoek 'n eensame eiland midde in

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 254 die see, ver van die plek waar skepe verbygaan. En hy het daar 'n hoë burg laat bou, en suilegange, en daarbinne baie kamers, en het dit laat omring deur 'n steile muur rondom aan sy vier kante. En daar het hy sy dogter laat bly, midde in die burg. En sewentig kamerhere het hy by haar aangestel uit die oudstes van Israel om haar te bewaak en haar te bedien. En kos in menigte het hy laat berei, van allerlei spys en allerlei drank en allerlei lekkernye van die aarde; daar was aan niks gebrek nie. En hy het al die poorte van die burg en sy deure toegesluit met yster grendels en slotte, tot geen ingaan nog uitgaan moontlik was nie, en hy het gesê: Nou sal ek die werk van God en sy doen sien, of die raad van die sterre sal bestaan of nie! En die koningsdogter het in daardie burg gesit, en die kamerhere het vir haar bewaak met alle oplettendheid, en het dag en nag op haar gelet, en was angstig om die kleinste en grootste van haar versoeke te vervul; en ook enige plesier het hulle haar nie onthou nie, want so het die koning beveel om haar in haar eensaamheid baie genoeë te verskaf. Alleen die éne ding het hulle haar nie kon toestaan nie: om uit te gaan uit die burg na buitekant, want die burg was toe en gesluit vir al wat deurbreek, niemand gaan uit en niemand gaan in nie. En as dit vir haar binne die huis te nou word, gaan sy op die dak van die burg en wandel daar in die koelte, of staan en leun op die leuning van die dak en kyk naar die wydtes van die see wat rondom is, en luister na die gedruis van sy golwe, en dit het vir haar ruim geword. En 'n wagter het gestaan op die muur dag en nag, sy oë oop na die see rondom en hy het oor die eiland gewaak vir die nadering van enige skip, en die stap van enige voet op sy hele gebied rondom. Alleen tweemaal per dag, in die môre en in die aand, verskyn 'n ligte boot op die seevlak, 'n pylskoot ver van die eiland, en 'n menselike gedaante in die midde van die boot, 'n bode gestuur vanweë die koning om na die welstand van die dogter te vra. En die man het van ver gewenk met 'n wit vlaggie in sy hand om te vra: Gaan dit goed met die koningsdogter? En hy wat teenoor hom staan wenk, ook hy, met 'n wit vlaggie en sê: Goed! En die boot keer haastig om en verdwyn aan die horison. En al nadat die bepaalde tyd waarvoor die koning vrees naderkom, vermeerder die kamerhere die bewaking, en waak op hulle poste oor die poorte en geslote deure, en hul oë is oop en hul ore gespanne, en hul neus ruik, en hul skrik op by die geluid van 'n vlieg wat teen die venster klop en by die geluid van 'n mol wat aan die muur grawe; want die manne is opreg, en in die werk vir die koning is hulle nie nalatig nie! 'n Arme seun van brawe ouers uit 'n geslag van skrifgeleerdes het uitgegaan uit sy stad Akko, want plotseling was vir hom die plek in die huis van sy arme ouers te nou, en sy siel het hom na die ruimtes gedrywe. En die seun

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 255 het uit sy huis weggegaan met leë hande, hy het niks besit as sy kierie en sy liggaam nie. Tog was hy nie neerslagtig nie, en kommer ken hy nie want sy bene was vol en sy hart vol uitsig en hoop, en sy haar val in lokke, en op al sy pad het 'n goeie gees hom ontmoet, en hy loop net en jubel. En as hy oor die veld trek dryf sy hart hom agter die springende sprinkhaan, en agter die vrolike voël en agter die sku klipdassie en die skuifelende akkedis, en elke groene eik trek hom en elke leë hutjie in die verlatenheid van die wingerd. En hy het sy lewensonderhoud gevind soos 'n voël in die nes, van wat hy op die velde en van vrindelike mense gevind het, en hy slaap op die grond en 'n klip is sy kopkussing. En as hy deur die land swerwe deur stede en dorpe, spits hy sy oor na die gesels van die verbygangers en hy hoor wysheid en spreuke uit die mond van die volk en sy oudstes, en hy bewaar dit in sy hart, en dit is vir hom tot troos in sy armoede en tot sielsverkwikking in die dae van sy swerftogte. Eens op 'n keer gaan die son oor hom onder in die veld, op 'n verlate en woeste plek; die dae was dae van onweer en kou. En die seun was honger, en dors, en sleg gekleed en kaalvoet, en die kou verteer hom, en sy krag verlaat hom. En hy kyk, en sien, die karkas van 'n bees lê op die veld, en die seun is bly en sê: ‘Geloof sy God, wat my 'n rusbed laat vind het op hierdie plek, miskien sal ek 'n bietjie warm kry!’ En hy gaan tussen die ribbe binnekant, die karkas, lê en slaap vas. Terwyl hy slaap daal 'n sterk en groot arend in die nag op die karkas neer, en hef hom op met sy bek, hom en wat in hom lê en slaap, en vlieg met hulle weg, en bring hulle na die burg van die koningsdogter, en lê daar sy las op die dak. En hy staan en skeur die res van die verrotte vleis van die bene af. En die knaap kom daaruit en jaag hom weg, en hy sit die hele nag op die dak, en hy is baie moeg en bibber van die kou en die reent. Die dag breek en die hemel glans, en die koningsdogter klim op die dak na haar gewoonte elke dag, en sy sien die vreemde seun, en sy staan van ver en vra: ‘Wie is jy, en wie het jou hier gebring?’ En die seun antwoord in opregheid van sy hart: ‘Moenie bang wees nie, jong meisie, en moenie kwaad vir my wees nie. Ek is 'n Hebreër, 'n seun van arm mense, uit die inwoners van Akko, en gister het die reent my gevang op die veld, en ek was honger en dors, en ek het g'n bedekking vir my vlees gehad nie, en ek het gaan slaap in 'n karkas, en die arend het my hierheen gedra. En nou weet ek nie hoe ek van hier weg sal kom nie, want die see is rondom, en daar is g'n skip op die hele gebied nie.’ En die koningsdogter het jammer gekry vir hom, en het hom heimlik na haar kamer laat afkom, en hom gewas en klere aangetrek en kos en drank gegee. En plotseling het die glans op sy gesig teruggekom en ook sy goeie humeur; en kyk, hy is mooi, ja lieflik, en sy het baie bly geword oor hom. En

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 256 dit was soet vir haar dat hy by haar bly, en sy het hom in haar kamer verberg, sonder dat die kamerhere dit geweet het; want sy het die saak van sy koms vir hulle verborge gehou, en hulle het nooit in haar kamer binne gekom, sonder dat hulle geroep is nie. En vanaf daardie dag en voortaan gaan sy tweemaal per dag na buite en sê vir hulle dat dit goed gaan met haar, en die oudstes het daar nie op gelei nie, want hul sê: dis maar toevallig. En hulle het deurgegaan met haar baie sorgvuldig te bewaak, en elkeen het op sy pos en elkeen op sy plek gestaan, met speurende oë en oplettende ore en ruikende neus, want hulle was baie, baie opregte manne, en hulle het die werk vir die koning getrou en met 'n volkome hart gedaan. En die koningsdogter sien die wysheid van die arm seun en sy goeie insig en die suiwerheid van sy hart, en sy kry hom lief met haar hele hart en haar hele siel. Eens op 'n dag sê sy vir hom: ‘Is ek goed in jou oë om vir my tot vrou te neem?’ En die seun sê: ‘Waarom vra jy dit? Ek is 'n kneg om jou voete te was.’ Toe maak die dogter vir hom bekend hoe sterk haar liefde vir hom is, so sterk dat hy vir haar meer en dierbaarder is as alle koningseuns wat op die aarde is, en dat dit van God gebeur is om hom hierheen te bring op arendvleuels, en dat sedert sy hom gesien het haar siel aan hom geheg is, en dat sonder hom haar lewe geen lewe is nie; en nog baie sulke dinge het die dogter vir hom gesê in opregheid van haar hart, en hy ook het vir haar geantwoord met woorde van liefde sewe-en-sewentig. En hul twee het 'n liefdesverbond gesluit vir ewig. En die seun het opgestaan en bloed uit sy hand gepers en hy het met die bloed die verbond in 'n boek geskrywe, geskrywe en verseël, en hy het hom met haar verloof na die gewoonte en gesê: ‘Getuie is die Heer, en getuies is Sy engele Migael en Gabriël. Toe het hy sy vleuels oor haar uitgebrei, en hulle het dronk van liefde geword en die liefde geniet die hele nag. Die kamerhere het van hierdie dinge klein nog groot iets geweet, want daar was geen opregter en getrouer manne as hulle nie, en hulle het die nagte soos dae gemaak, en baie, baie sorgvuldig gewaak. Eens op 'n keer het die oudstes opgemerk dat die koningsdogter 'n bietjie dikker was as wat sy vroeër was, ongeveer 'n vinger na skatting. En hulle het besorg geword in hulle hart en met mekaar gefluister, en toe sy buite gekom het by hulle, vra hulle vir haar: ‘Wat makeer, koningsdogter, jy is tog nie siek nie?’ En die koningsdogter het opreg gedoen en gesê: ‘Dis goed met my, moenie bang wees nie; kyk daar vlie 'n raaf!’ En toe sy dit sê vlug sy na haar kamer, haar hande op haar maag van die lag.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 257

En die hart van die oudstes het weer 'n bietjie rustig geword, en een van hulle, 'n man wat verstand van geneeskuns het en insig in sulke sake had, het sy hand beweeg en gesê: ‘Dis niks nie. Dis niks as dat die koningsdogter 'n bietjie vet geword het deur die baie sit soos 'n vermoeide in haar kamer. Laat sy maar 'n bietjie heen en weer stap op die dak, en sy sal weer word soos vroeër.’ Toe het die oudstes heeltemal rustig geword, en teruggekeer na hul plek en hul wagpos. Maar slegs enkele weke het verbygegaan, en kyk, die oudstes bemerk dat die koningsdogter ongeveer twee vingers dikker geword het, en hulle het baie besorg geword. En toe sy uitkom na hulle toe, het hulle na haar maag gekyk en gevra: ‘Wat makeer, koningsdogter, is jy miskien siek?’ En sy set haar gesig strak en antwoord: ‘Dis goed met my, moenie besorg wees nie; kyk, daar 's 'n akkedis in die hoek!’ En toe sy so antwoord vlug sy na haar kamer, met haar hande op haar dye van die lag. En die oudstes kyk haar na en skud hul kop, en hul rus was weg, want hul het gemerk dat die meisie haar houding en haar handelwyse met hulle verander het, en hulle wis nie wat haar makeer nie. Eens op 'n keer gaan die koningsdogter uit na hulle toe in die môre na gewoonte, en sy sien een van die kamerhere sy bete doop in asyn, en sy kry baie lus daarvoor, en sy val in 'n floute. En die kamerhere was baie bekommer om haar weer by te bring; en toe hulle daarmee besig was, word vir hulle die geheim openbaar, en hulle slaan die hande inmekaar en sê: ‘Ag, onse gebiedster, koningsdogter, jy is swanger!’ En die koningsdogter antwoord, en haar oë was nog sterk, maar haar stem was swak, alleen daar glans 'n fyne lig op haar gesig: ‘Ja, ek is swanger!’ ‘Van wie?’ vra die oudstes as uit één mond, en hulle is verbluf. ‘Dis nie vir julle om te weet nie,’ antwoord die koningsdogter. En die gesigte van die oudstes verval baie, en hulle vrees met 'n grote vrees, en hulle hart bewe soos die verwelkende blare bewe vir die herfswind, want wat sal hulle die koning antwoord, en wat sal hulle vir hom meld? En die oudstes gaan sit op die grond, treurig en met geboë hoof, as roudraers en wanhopig, en hulle wag vir hul vonnis. Ag! hoe waar is die woorde van die lieflike sanger: As die Here nie bewaar nie - tevergeefs waak die wagter. Op daardie dag by die kom van die aand, toe die boot op die see verskyn om na die welstand van die koningsdogter te verneem - toe wuif die uitkyk 'n rooi vlaggie, wat sê: Dis nie goed nie!

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 258

Toe dit aan Salomo gemeld word, skrik hy baie; hy klim haastig op 'n skip, hy kom by die burg, hy vind die kamerhere op die grond sit in hul sware rou, en vra besorg:

‘Wat is gebeur?’

En die oudstes val voor hom met die gesig op die grond en hulle vrees en bewe en sê:

‘Ag, onse Heer die Koning! Moenie u knegte die skuld gee nie. So en so is dit met die koningsdogter, en ons weet nie hoe dit gebeur is nie. So waar God lewe, met al ons mag het ons gewaak, en ons kan nie verstaan vanwaar die groot ramp oor haar gekom het nie.’

Toe het die Koning kwaad geword en die dogter laat roep en haar in boosheid gevra: ‘Losbandige! Vertel, hoe het die saak gebeur?’ En die meisie vat aan die voete van die koning en sê: ‘Moenie boos wees nie, my vader, Koning! Want alleen met God het ek gedoen wat ek gedoen het. Hy het sy bode gestuur en het na my toe laat kom 'n liewe jongkêrel, 'n mooi en soet en goeie seun, en het hom my in my skoot gegee. Kyk, hy is verborge in my kamer. Sien u hom met u eie oë, u sal hom seën, my vader!’ En sy het die seun tot hom na buite gebring, en hy het gestaan voor die koning. Toe sien Salomo sy liewe verskyning, en sy vrolike gesig en sy reine oë, en hy het hom welgesind geword. En hy het met hom gepraat, en hy het hom tienmaal meer waard gevind in wysheid, spreuke en uitsprake as al die skrifgeleerdes en wyse in sy ryk. Daarna het die koning aangegaan en hom gevra na sy naam en na sy stad en na die huis van sy vader en moeder. En die seun het op al sy vrae ware en nederige en opregte woorde geantwoord. En hy het vir hom vertel al sy ellende en sy omswerwinge en dat die arend hom gebring het op 'n wonderlike weg na die dak van die burg, en dat die dogter vir hom jammer gekry het en hom vriendelikheid bewys het; en hy het vir Salomo te voorskyn gebring die kontrak wat hy geskryf en verseël het met sy bloed as teken van 'n ewige liefdesverbond tussen hom en die koningsdogter. Toe die koning Salomo hierdie wonderlike en ware dinge gehoor het, verstaan hy dat dit die arme seun is wat hom gewys is in die sterreverskynsel in daardie nag. En hy hef sy hande omhoog en sê: ‘Geloof sy God, wat die vrou aan die man gee. Nou weet ek, dat daar geen wysheid en geen verstand en geen raad is teen die Here nie!’ En die oudstes hoor die wonderlike woorde, en is verbyster en antwoord as uit een mond: ‘Van die Here is die saak uitgegaan!’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *25

P.A. HENDRICKS. MEIDJIE.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *26

Die Nuwe Brandwag Tydskrif vir Kuns en Lettere.

Kwartaalblad 7/6 per jaar.

LESERS VAN ‘DIE NUWE BRANDWAG’.

Help die voortbestaan van u enigste kunstydskrif in Afrikaans te verseker en stuur asb. elkeen minstens 3 nuwe intekenaars:

Naam: Adres: 1 ______2 ______3 ______4 ______5 ______6 ______7 ______8 ______9 ______10 ______

Aan die firma J.H. de Bussy, Posbus 460, PRETORIA.

Ingestuur deur ______

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 259

Toe neem Salomo sy dogter en haar man en bring hulle na Jerusalem, en maak vir hulle 'n fees van sewe dae, en is met hulle vrolik. En toe die feesdae verby is roep hy vir sy skoonseun en sê: ‘Kyk, jy is die skoonseun van die koning, en my ryk is groot en wyd, en nou, kies vir jou 'n eervolle pos na jou hartelus, en ek sal hom vir jou gee!’ Toe antwoord die skoonseun van die Koning: ‘My Heer! Ek is 'n skrifgeleerde en 'n seun van arm mense van my jeug af, en al my vadere was skrifgeleerdes en Godgeleerdes. Hulle hart het nie na groot dinge uitgegaan nie, en feespaleise het hulle nie geken nie. En nou, as ek goed is in u oë, gee vir u kneg 'n eensame en rustige woning aan die seestrand, dat ek daar met my sielsbeminde woon, en, soos al my vadere, nadink oor die dade Gods en die kennis van Sy weë, al die dae.’ En die koning het vir hom na sy wens gegee, en het hom aangestel oor die skrifgeleerdes van die koning. En tot die skoonseun van die koning het versamel die menigte van skrifgeleerdes en wyse wat die kennis van God gehad het in Israel, algar betroubaar van woord en betroubaar van gees. En hulle het versamel al die wyse woorde en die liedere en die raaisels en die diepsinnige woorde wat Salomo laat hoor het elke woord op sy tyd, en hulle het die woorde op skrif gebring; is hulle nie geskrewe in die Hooglied en die Spreuke van Salomo en die Woorde van die Prediker tot op hierdie dag nie! En ook 'n paar van die woorde van sy wysheid wat hy geweet het en wat hy uit sy hart oordink het, het die skoonseun van die koning versamel, en hy het hulle gevoeg hy die Spreuke van Salomo, agteraan; is hulle nie die woorde van Agur die seun van Jake tot op hierdie dag nie! En dit is wat hy sê in sy spreuke:

Daardie drie dinge is vir my te wonderlik, en vier kan ek nie verstaan nie: die weg van die arend in die hemel, en die weg van 'n slang op 'n klip, die weg van 'n skip midde op see, en die weg van 'n man by 'n maagd.

B. GEMSER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 260

Alfa Centauri.

Alfa Centauri*), tweelingsuster van ons son, En son ook self, ja self 'n lig- en hittebron, Ek sien jou skitter-blink daar aan die Hemeltrans, Waar jy en Beta**) stil wedywer in jul glans; Ek sien jou skitter-blink en stel myself die vraag, - Daar's niemand hier by ons wat ooit 'n antwoord waag, Hul sê maar net dat jy al verder, verder gaan, - Ek vra dit maar: toe onse Aarde is ontstaan Miljoene jare t'rug, waar was jy daardie tyd? Waar op jou reis, wat self reeds duur 'n ewigheid, Was jy, toe uit die koue dieptes onverwag Die wandelaar verskyn het wat met groter krag Uit onse son 'n string planete het getrek? Waar was jy op jou wandelpad, op welke plek? Was jy so na aan onse son dieselfde tyd, - Dis lang verby reeds, half en half 'n ewigheid, - Dat ook uit jou materie-golwe het gespat Ver in die koue, wye lugruim in, sodat Alom jou heen daar ook vandag 'n Wêreld draai, 'n Aarde waar ons nooit nie die bestaan van raai?

Alfa Centauri, tweelingsuster van ons son, En son ook self, is jy 'n lig- en hittebron Van ander wêrelde wat aldeur om jou draai, Waar lewe lewe skenk, en dood sy offers maai, Waar skepsels swoeg, en seëninge kom van Bo, Waar wesens lewe wat nog in 'n God kan glo?

*) Alfa Centauri, in die sterrebeeld van Centaurus, is die helder ster aan die voet van die Suiderkruis, en die naaste bekende ster aan die son; die afstand tussen Alfa Centauri en die sonnestelsel is 25 triljoen myle (25,000,000,000,000) of 4½ ligjare. Alfa Centauri toon ontsaglik veel ooreenkoms met ons son, en word deur sommige sterrekundiges laasgenoemde se tweelingsuster genoem. **) Beta Centauri, die tweede helderste ster in die sterrebeeld van Centaurus.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 261

Alfa Centauri, tweelingsuster van ons son, Die lewe op jou Aarde, wie is daarvan die bron? Het lewe daar alreeds die groot geheim ontdek Vanwaar dat lewe kom? Is daar reeds oopgetrek Die swart gordyn waaragter skuil, misterieus, Verklaring van die lewensvraag, net om te lees En dan te weet en te kan sê: ek, lewe, ek, Ek het die antwoord op die lewensvraag ontdek, Ek, lewe, weet vandag vanwaar dat lewe kom? Of staan die wetenskap aldaar oorbluf en stom Voor daardie vraag, net soos by ons? Kan niemand sê? Of soek hul nie? Wil hulle glad geen antwoord hê? Of is jou mense op jou Aarde groot genoeg, Met siele, kindersiele, ruim en rein genoeg Om in 'n grote skeppingswonder te kan glo? Om te kan bid en antwoord te verwag van Bo?

Alfa Centauri, tweelingsuster van ons son, Ek sal my maar verbeel jy is 'n hittebron Van eie wêrelde waar eie wesens woon, Ja, wesens wat ook dikwels onder skaad en hoon 'n Las moet dra wat swaarder, nimmer ligter, word, Met nou en dan 'n endjie pad, wat smal en kort, Tog nog vol rose is, met blomme lê bedek, En met daarvoor die Dood, die laaste uitspanplek. Ek sal my maar verbeel jou Aardbewoners streef Na beter, hoër doel, dan net maar om te leef; Dat hulle ook vergader kennis, wetenskap, En dat die dag sal kom wanneer hul rekenskap Van hoe hul kosbare talente het bestee Aan Een, wat Heer van here, Regter is, sal gee. Ek sal my maar verbeel jou Aardbewoners is Ook mense net soos ons, met tyd vir werk en rus, Wat nou sukses behaal, dan sugte slaak na Bo, Maar mense, boweal, wat in 'n God kan glo.

RUD. P. VISSER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 262

Die Windpomp in die Nag.

Klang! klang! werk die pomp in die nag, klang! klang! en die water spoel; die nag rus swart op die bome en die lug is swoel.

Klang! klang! gaan dit rustig, vertroulik, - sag - glansend die donkerte uit; hoog bo my die sterre se ligte, hier naby die watergeluid.

Klang! klang! gaan dit rust'loos, en wyd deurklink dit die eindeloosheid; en ek luister roerloos en huiwer vir jou nagstem, O Ewigheid!

C.M. VAN DEN HEEVER.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 263

Horatius as Digter en as Mens.

I.

DIE begin van die Romeinse Keisertyd - ook ongeveer die begin van ons Kristelike jaartelling - stem in vele opsigte op merkwaardige wyse ooreen met ons moderne wêreld. Dit was 'n kosmopolietiese maatskappy in Rome, waar geweldige groot rykdomme en weelde, maar ook die beste wat kunste en lettere toe voortgebring het, gekonsentreer was. Keiser Augustus het uit die ruïenes van die Romeinse republiek met wonderlike staatsmansbeleid die vaste grondslae gelê van die nuwe keiserryk, wat in die Weste nog byna vyf eeue, in die Ooste byna vyftien eeue, as 'n muur die uit die Noorde aandringende barbarendom sou afweer. Binne die vesting van die Romeinse ryk, uitgestrek van Spanje tot die Euphrates, het vrede en welvaart geheers soos nooit tevore en soos ook later nie oor dieselfde uitgestrektheid die geval was nie. Uit dié vreedsame en ordelike wêreld, deur die Romeinse wapens beskerm, bloei dan 'n gemengde Grieks-Romeinse kultuur op, wat ook enige Oosterse elemente in hom opgeneem het. Van dié kultuur is Horatius een van die uitnemendste verteenwoordigers. Horatius se afkoms as seun van 'n vrygelate slaaf, wat tot hoë roem en naam opklim, is alreeds 'n eienaardige kenmerk van die tyd. Die opkoms van die stand van vrygelate slawe is ewe merkwaardig vir die latere Romeinse tyd, as dié van die Derde Stand tydens die Franse Rewolusie en dié van die Vierde Stand in ons eie eeu. Maar baie buitengewoon is die invloed en aansien wat Horatius in die hoogste kringe geniet het, louter ten gevolge van sy letterkundige talente en geestelike ontwikkeling. Sonder steun van hoë afkoms of fortuin, of van magtige vriende, het Horatius sy toekoms geskep met sy gees en karakter alleen, en oefen hy vandag nog dieselfde aantrekkingskrag uit oor geeste wat die innerlike waarde van dinge bo die verganklike en wisselende genoeëns van die lewe stel. As 'n arm klerkie op die Tesourie begin Horatius as byverdienste satieres te skrywe. Die oorspronklike satiere was 'n mengsel - 'n soort ‘potpourri’ - na inhoud en vorm, maar daarby het later 'n nuwe element-bespotting van maatskaplike toestande - gekom, dus satiere in die moderne sin van die woord. Die bonte wêreld van Horatius se tyd is in sy satieres geskets in 'n gemaklike, ligte konwersasie-styl. Dis ‘Sermones’-‘praatjies’, maar vir 'n

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 264 noukeurige waarnemer is die kunstige samestelling duidelik, waardeur die skrywer gly van die een gedagte tot die ander, en só eenvoudig weg sy diepere denkbeelde ontwikkel.

Die sesde satiere van die Eerste Boek is 'n monument ter ere van sy beskermer, Maecenas, die Eerste Minister van Augustus; maar tegelyk ook 'n selfbewuste verdediging van eie posiesie, waaraan ewenwel alle hoogmoed vreemd is, omdat die digter alle eer vir wat hy tot stand gebring het, toeskrywe aan die opofferinge wat sy vader hom getroos het. Maecenas, sê Horatius in die satiere, self van hoë adel, ken geen famielietrots nie en het 'n seun van 'n vrygelate slaaf onder sy vriende opgeneem, alleen om wat hy self is, nie om wat sy voorvaders gewees het nie. Daarmee toon Horatius tegelykertyd Maecenas se edele opvatting van die mensheid en sy eie onafhanklikheid aan. In die volle besef van sy eie waarde geniet Horatius van sy vryheid van alle lastige verpligtinge wat hoë stand en posiesie noodwendig oplê, vry ook van alle nyd en afguns.

Hy is vry soos 'n voël in die lug - stap of ry rond op sy muileseltjie waar hy lus het, slenter rond op die markte en die renbaan om die bedrywige groepe en die bedrieglike waarsêers te aanskou, en gaan dan terug na sy eenvoudige maaltyd van prei, erte en pannekoekies, waarby slegs drie slawe hom bedien, terwyl sy skottels van die eenvoudigste Kampaanse aardewerk gemaak is. Hy slaap tot tien uur, en na wat lektuur of skryfwerk vermaak hy hom met balspel op die Campus Martius.

Dis Horatius se spelende skets van sy lewe, wat hom gelukkiger maak as menigeen van adellike afkoms. Hy sou nooit 'n vader van hoër afkoms gewens het nie, want al wat hy is, dank hy aan sy vader alleen, wat, ofskoon self arm, met groot opofferinge hom 'n opvoeding gegee het gelyk aan dié van die beste kringe en ook persoonlik altyd oor sy lewe gewaak het en hom bewaar het van alle slegte invloede. Ons ken min werklike feite van Horatius se lewe, maar deur die eenvoudige, direkte verhaal is dit of ons die stem van die digter self hoor, die persoonlikheid staan lewendig voor ons oë.

Die latere satieres toon 'n groot vooruitgang sowel in komposiesie as in uitwerking van ideë aan. Daar is veral twee wat diepsinnige Stoïsynse denkbeelde behandel in die bekende vorm van paradokse, wat oënskynlik uiters ongerymd lyk, maar tog 'n kern van diepe waarheid bevat. ‘Alle mense is slawe, alleen die Stoïsynse Wyse is vry’ - sê die Stoïsyn. Die hele voorstelling en inkleding van die denkbeeld is uiters fyn en kunstig uitgewerk. Soos gewoonlik begin Horatius sy behandeling op losse, lugtige manier. Horatius se slaaf maak gebruik van die tradisionele vryheid van die fees van die Saturnalia om sy meester die les te lees en eens dugtig die waarheid te sê. Soos dikwels vang die digter aan met algemene, menskundige beskouinge: mense

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 265 is veranderlik en onstandvastig, behalwe in kwaad. Horatius self prys die lot en karakter van die ou Romeine, maar as 'n godheid hom na die oudheid sou wil verplaas, sou hy weier. Hy prys die landlewe, maar op die land verlang hy terug na die stad. Hy is bly dat hy nie uitgenooi is nie en rustig 'n aand kan tuisbly, maar as hy nog laat by Maecenas gevra word, haas hy hom tog om soon-toe te gaan. Maar dan dring die digter dieper deur. Sal 'n vergelyking van die minderwaardige slaaf met sy meester wel in die voordeel van laasgenoemde wees? Die slaaf is magteloos om die heerlike geur van 'n lekker koek te weerstaan, maar magtige Romeine wat die wêreld beheers, kan nie nalaat om hulle skatte op kosbare maaltye te verkwis nie. Die slaaf gaap vol bewondering kleurige advertensies van beroemde swaardvegters aan; die meester weer is versot op kunsskatte en antikwiteite. Wie is nou eintlik die werklike slaaf? Die waaragtig vrye Wyse is alleen dié man wat homself kan beheers; wat aan die versoekinge van luste en eerbewyse kan weerstand bied; wat volmaak in homself en onaantasbaar is, omdat die Lot, die Fortuin geen mag oor hom het nie; wat feitlik geen wense en behoeftes ken nie. En aan die einde vind ons nog 'n fyne opmerking, wat blykbaar die skrywer se eie feile openbaar, soos altyd in heel eenvoudige woorde: ‘Voeg hierby’, sê die slaaf, ‘dat jy geen uur met jouself alleen kan wees nie, dat jy jou tyd nie goed weet te gebruik nie en jouself altyd ontvlug soos 'n weggelope slaaf, en troos soek in wyn en slaap’. Maar as die moralis die teerste plek aanroer, word die erns skielik verbreek met 'n grap: Horatius se grootste sonde en dwaasheid is sy digkuns en versemakery! Dis die kritiek wat altyd die digter self insluit, wat die diepste deurdring en onwillekeurig die grootste oorredingskrag uitoefen.

So slaag die digter daarin om abstrakte Stoïsynse wysbegeerte tot lewende moraal te maak. Die hoogtepunt bereik hy in die behandeling van die twede Stoïsynse paradoks: ‘Alle mense is waansinnig, behalwe die Stoïsynse Wyse.’ Die inkleding is ewe fyn-ironies as die vorige. Soos in die eerste satiere 'n slaaf bewys het, dat niemand in meerdere mate die naam van ‘vry’ verdien dan hyself nie - so is ook hier die betoog in die mond van Damasippus gelê, 'n bekende kranksinnige wat sy verstand verloor het nadat hy as handelaar in antikwiteite bankrot gegaan het.

Damasippus het op die punt gestaan om selfmoord in die Tiber te pleeg, toe 'n Stoïsyn Stertinius hom gered het deur aan te toon - dat dit slegs valse skaamte is wat hom ongelukkig maak en tot selfmoord drywe, omdat alle mense ewe waansinnig is as hy. Hierdie satiere behandel dus die verhewe gedagte van die menslike waan wat alle sterwelinge op 'n dwaalspoor bring - die een in hierdie rigting, die ander in daardie rigting; almal ly aan verblinding, aan waansin.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 266

Ons moet veral die kuns bewonder waarmee Horatius hierdie diepsinnige idee in losse dialoogvorm behandel, vol geestige, sielkundige opmerkinge, uit die lewe gegrepe. Sommige mense is altyd geneig om leeus op die pad te sien, of anders doof te wees vir die mees dringende waarskuwinge van vriende en famielie - hulle slaap só vas in hulle verblinding as die bekende, dronk toneelspeler wat nie wakker wou word ondanks alle geroep nie! Alle groot ondeugde berus op verblinding deur hartstogte. Die geldsugtige ewe goed as die verkwister is waansinnig, verblind, terwyl die man wat soos die Epikurieïese filosoof Aristippus ewe vry en gelukkig is temidde van rykdom en armoede, werklike wysheid besit. Die eersugtige en bygelowige, die wellusteling, almal lewe onder 'n waan, in verblinding. Maar die waan neem die gevaarlikste vorm aan, wanneer hy sy werklike aard verberg. Mense word nie altyd mislei deur growwe hartstogte nie. Hulle kan ook gelei word deur skoonskynende motiewe, waarvan die aard verborge bly totdat die onheil onherstelbaar is - dis die grondslag sowel van die Griekse tragedie as van die menslike lewe self. Horatius teken 'n pragtige skets van die magtige koning Agamemnon wat verbied het dat Aiax se lyk sal begrawe word. Immers, deur die gode met waansin geslaan, het Aiax 'n trop skape gedood in die gedagte dat hy Agamemnon en sy broer Menelaos doodmaak. Dis die skerpste teenstelling tussen waan en werklikheid: Aiax moet gestraf word, omdat hy die blote voorneme gekoester het om Agamemnon te dood, maar inderdaad slegs skape gedood het. Agamemnon is die strenge regter, terwyl hyself tog sy eie dogter Iphigenia geoffer het om die gode tevrede te stel, en sy vloot laat uitseil suiwer uit eersug, om roem in Troje te behaal. Agamemnon is in sy eiewaan meer verblind dan Aiax, die bekende tiepe van waansin in die Griekse letterkunde. So gebruik Horatius die Griekse legendes om die abstrakte dogmas van filosofe tot 'n snydende swaard van moraal te maak.

P. VAN BRAAM.

(Word vervolg.)

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 267

C.P. Hoogenhout as Prosa-Skrywer.

(Slot.)

IN 'n agterkamer van die onderwyserswoning van die skool op Groenberg staan 'n outydse lessenaar met 'n hoë briewerak daarop, en aan die een kant 'n dubbele bed waarop twee witkop seuns snags moet slaap. Hierdie kamer doen diens as slaap- en studeerkamer: as slaapkamer vir die twee jongste seuns en as studeerkamer vir die vader. Dis half-neë in die aand en die twee kleintjies is al in die bed en - soos die vader meen - in droomland. Maar die oudste lê met oop kykers in die donker en droom sy drome en bou sy lugkastele. Hy weet dis haas tyd vir sy vader om na die studeerkamer te kom, - hy kom elke aand so by half-neë as hy meen dat die seuns al slaap - om met sy skryfwerk te begin. Daar hoor hy die deur van die eetkamer oopgaan. Sy ogies word skielik gesluit en hy maak asof hy vas aan die slaap is. Saggies, baie saggies, met 'n kers in die een hand kom sy vader die kamer binne, buig oor die tweetjies heen en druk 'n ligte soentjie op elkeen se voorkoppie en as sy baard, so sag soos die fynste sy, die oudste se gesiggie streel, dan voel hy somar lus om sy armpies om sy vader se nek te slaan en hom styf vas te hou. Hy bedink hom egter, want as sy vader merk dat hy nog wakker is, dan sal hy die aftog blaas en bevel gee dat die seun nou sy ogies moet toemaak en slaap. Met 'n sug van tevredenheid gaan hy voor sy skryftafel sit, haal die veerpen uit sy hokkie en met skouers so effens opgetrek gaan hy aan die skrywe. Vir die seuntjie wat vir hom al die tyd deur die gleufies van sy oë dopgehou het, is daar nie nog so 'n man op die aarde nie en as die pen onafgebroke kras oor die papier wens hy dat die tyd mag aanbreek dat ook hy so sal sit en skrywe. Eindelik val sy ogies toe en word ook sy bewussyn met die vlerkies van die slaapgodin na droomland toe gevoer. Maar selfs daar gunter in die onbekende voel hy die teenwoordigheid van sy vader en as hy die volgende oggend deur sy heldersagte stem gewek word, dan is dit vir hom kompleet asof sy vader heel nag by die bed gewaak het. Die oudste van die twee seuntjies is die skrywer van hierdie slotartiekel, en hy hoop dat die leser hom hierdie stukkie persoonlike herinnering nie ten kwade sal dui nie. By hierdie skryftafel het C.P. Hoogenhout die meeste van sy gediggies, briewe, koerantartiekels en sketse geskrywe, en daardeur die ekstratjies by verdien, wat hom in staat gestel het om aan al sy kinders 'n behoorlike opvoeding te verskaf.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 268

Net soos in die geval van die gediggies, het C.P. Hoogenhout nooit onder sy eie naam geskrywe nie. Die rede lê voor die hand. Hy sou, as die outoriteite agtergekom het wie verantwoordelik was vir sommige van die koerantartiekels, so seker as wat sy pos verloor het. Sy politieke kontribusies was geestig en gevat en, waar dit om die handhawing van die Hollandse taal gegaan het, dikwels baie snedig. Maar altyd was hulle die moeite werd om te lees, omdat Hoogenhout 'n aangename en boeiende styl en 'n wye woordekeus besit het. Vir 'n tyd lank het hy al die kopie onder die rubriek: Die Landbou aan 'n welbekende maandblad verskaf, en dit was amusant om te sien hoedat die bydraes van 'n skoolmeester by die boerebevolking byval gevind het, waarskynlik omdat niemand wis wie die outeur was nie. En die leser moet asseblief tog nie dink dat die kontribusies somar uit algemeenhede bestaan het nie! Geheel-en-al nie. Party van hulle kan vandag nog met nut deur baie landbouers gelees word! My vader was seker een van die mees belesene manne van sy tyd. Hollandse, Engelse, Afrikaanse (uit later datum) en in mindermate Duitse boeke het hy letterlik verslind, met die gevolg dat hy 'n breë, algemene kennis opgedoen het, wat hom 'n baie gesogte kontribuant vir tydskrifte gemaak het. Tot sy dood toe het hy nog steeds bydrae gelewer vir die mees bekende Suid-Afrikaanse tydskrifte en dagblaaie. Kenmerkend van sy sketse is die eg-menselike wat soos 'n goue draad dwarsdeur al sy geskrifte gevleg is. In geen enkel verhaaltjie wat ek my voor die gees kan roep skilder hy die skurk af nie. Hy kon dit eenvoudig nie doen nie; dit was heeltemal vreemd aan sy natuur. Maar armoede en uiteindelike welgesteldheid deur vlyt en hardwerk; deugd en sy beloning; selfopoffering en hulpvaardigheid, - daarvan is sy sketse vol. 'n Paar tintel van humor, en één is so goedgeslaag dat ek die naam noem, Pieta van Oom Tys, wat die wedervaringe weergee van twee onderveldse outjies wat vir die eerste keer 'n besoek bring aan hulle seun op Stellenbosch. Die ou tante se beskrywing van 'n voetbalwedstryd wat sy en Oom Tys vir die eerste keer bygewoon het is kostelik en so ook hulle besoek aan Kaapstad. Waar C.P. Hoogenhout egter uitblink en op sy stukke is, is in Kinderlektuur, en ek wonder of daar nog 'n Afrikaanse skrywer of digter is, wat die kindersiel beter verstaan as hy. Sy Geskiedenis van Josef is 'n meesterstukkie en so mooi vertel dat selfs grootmense deur die boeiende verhaaltrant aangegryp word en die boekie nie kan neerlê voordat hulle hom dwarsdeur gelees het nie. In hierdie verhaaltjie lewe elke karakter, en die eerste persoon waarin groot gedeeltes geskrywe is gee 'n besonder realisties-dramatiese kleur aan die verhaaltjie. 'n Mens voel al die tyd dat die skrywer 'n baasverteller van kinderverhaaltjies is, en die skrywer wat as kind baie baie aande aan sy vader se voete gesit het as hy vir hom en sy broertjie en sussie en die twee

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 269 kleinmeidjies wat vir hulle opgepas het, stories vertel het, het nog nooit weer iemand teëgekom nie wat die kuns so meesterlik verstaan het, al wil hy graag erken dat die vervloë kinderjare en die goeie ou tyd 'n byna gewyde stralekrans om die persoon van sy vader in sy herinnering gevleg het. Maar let 'n bietjie op die o.s. uittreksel uit genoemde boekie, hoe ongekunsteld-eenvoudig en pakkend dit is:

Juda soebat vir Josef.

‘Ag, meneer, moet tog nie kwaad word, dat ek nog 'n woordjie wil sê nie. Toe ons die eerste slag kom koring koop het, vra meneer of ons nog 'n vader en 'n broer het. Ons sê toe ja, en dat ons vader regte baie van die jongste hou. Toe sê meneer dat ons hom moet saambring, maar ons het toe gesê, dat ons vader hom nooit so ver sou laat saamgaan nie! Maar meneer hou aan dat ons hom moet saambring. Toe ons koring nou weer op was, sê my vader ons moet weer gaan koop, en toe ons sê hy moet vir Benjamin laat saamgaan, sê hy: “Nee, een kind van my is al deur 'n wilde dier verskeur, en as ek vir Benjamin laat gaan, gebeur daar dalk met hom ook 'n ongeluk, en dan sterf ek seker van verdriet.” Toe het ek by my vader vir Benjamin borg gestaan en belowe, dat ek na hom sou kyk, en so het ons die ouman eindelik oorgehaal om Benjamin te laat gaan. Kom ons nou sonder hom terug, dan gaan ons maar net om ons ou vader van verdriet te sien sterwe. Daarom smeek ek u, om tog asseblief maar vir my as 'n slaaf te neem en vir Benjamin met die ander huis-toe te laat gaan!’ ‘Toe Josef hoor hoe Juda vir hom soebat om tog maar vir Benjamin te laat gaan en vir homself agter te hou, kon hy dit nie langer uithou nie.’ ‘Hy sê aan sy knegs: “Gaan almal weg uit die kamer uit!” - En toe bars hy in trane uit. Eindelik kon hy uitkry: “Ek is Josef! Leef my vader nog?’

Hoewel deur verskillende persone herhaaldelik versoek om 'n reeks leesboekies vir skoolgebruik uit te gee, het C.P. Hoogenhout hom nooit daartoe laat oorhaal nie. Ek weet net van een skoolboekie - 'n rekenboekie - Uw en myn Cyferboekje, wat deur hom opgestel is, en 'n redelike afset geniet het. En hiermee is my bydrae oor my vader - wat op spesiale aandrang van die redakteur geskrywe is - klaar. Vir die skrywer was dit 'n aangename taak, hoewel die herinneringe dikwels 'n plukkie aan die hart gegee het wat pyn veroorsaak het. Daar is ongelukkig baie dinge ongesê gelaat, omdat dit die leser mog verveel en die skrywer dit eenvoudig nie kon te boek stel nie.

P. IMKER HOOGENHOUT.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 270

Iets Omtrent die Volksoorlewerings van die S.A. Bantoe.

III. Idiome, spreekwoorde, raaisels.

ALLE Bantoetale besit 'n ware skat van idiomatiese uitdrukkinge, spreekwoordelike gesegdes, spreekwoorde en raaisels. Dis 'n reeks gedagtes wat uit die volksmond vloei en in één of in slegs 'n paar frases kernagtig in min of meer gekunstelde en geykte vorm uitgedruk is. Ons noem hulle gemakshalwe volksidioom. Hoe groot daardie skat is begin ons eers nou, by wye-omvattende en diepergaande studie van die Bantoetale te besef: en hoe lewend daardie skat is merk ons eers goed as ons 'n tydjie in noue kontak met een of ander Bantoe-stam kom, en hoor hoe veelvuldig sulke uitdrukkinge in die daelikse taal van die gewone man gebruik word, hoe hulle aantal steeds aangroei, hoe hulle toegepas en verwerk word en uit mekaar uitvloei in altyd nuwe vorme wat dan weer toepassing vind op nuwe toestande, of voortkom uit nuwe beskouinge van ou-bekende toestande. Dit is 'n skat waarvan alle Suidafrikaanse Bantoetale omtrent eweveel het, en wat vir 'n groot deel gemeen is aan almal. Waar ons hier later, deels vir gemak en deels om plek te bespaar, vir elkeen van die drie kategorieë, waarin ons die volksidioom verdeel het, slegs uit twee tale voorbeelde aanhaal, moet dit nie die indruk wek dat ander tale minder of minder goeie voorbeelde van dieselfde kategorie sou kon gee nie. Vier punte sal, hoop ons, die leser tref by die nagaan van die volgende voorbeelde. Ten eerste, dat dit moeilik is om 'n skerp skeidslyn te trek tussen idioom, spreekwoordelike gesegde, en spreekwoord, en, in minder mate, om die raaisel skerp van die spreekwoord te onderskei. Ten twede (en hiervoor gee ons die oorspronklike teks, 'n letterlike vertaling, en 'n vrye vertaling, of waar nodig 'n verklaring), dat die taal dikwels argaïes, meestal nogal erg ellipties en gedronge is, soos juis by die kernagtige saamtrekking van die volkswysheid pas. Ten derde, dat dit dikwels moeilik gaan om 'n ekwiwalent in een of ander nie - Bantoe-taal, bv. 'n Europese, te vind, en dat dit maar min geluk om 'n juiste parallel vir die frase te kry. Dit hoef ons nie te verwonder nie: want, hoewel die lewensfeite en -beskouinge van alle volke in hooftrekke tot 'n seker mate tog ooreenkom, is die feite en die beskouinge in besonderhede so verskillend, dat dit nie gaan om die een in die ander as dit ware te vertaal nie. Tog is dit in enkele gevalle moontlik om letterlike ekwi-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 271 walente vir een of ander Bantoe-spreekwoord in een of ander Europese taal te vind, en dan moet ons onsself afvra of ons hier met 'n oorspronklike Bantoe-volksidioom te doen het of dat ons die treffende gelykenis aan Europese kontak met die Bantoe-stamme moet toeskrywe. Ten vierde wil ons wys op die min of meer sieniese gees wat in baie van die spreekwoorde ens. skuil. Ook dit moet ons nie verwonder nie: want die Bantoe, eweas die meeste primitiewe volke, is tegelyk diep-religieus en, soos dit in die rake Engelse uitdrukking heet: ‘of the earth earthy’, tegelyk onnosel as 'n jong kind en skrander às 'n ou man, tegelyk hoog emosioneel en doodnugter. Voordat ons tot die voorbeelde oorgaan moet ons eers nog 'n kort woord sê oor elkeen van die kategorieë afsonderlik. By die idioom sal dit in die oog val dat daar veel verwysing gemaak word na die natuurlike funksies van die menslike liggaam. Ons kan nadruk lê op daardie woord natuurlik, en dit met 'n paar uitsonderinge, as reël aanneem dat aan wat natuurlik is by die Bantoe g'n skaamte kleef nie, en dus ook g'n literariese of ander preutsheid aan verbind is nie. Die lewensfeite, van watter soort ook, word deur die natuurmens met kinderlike eenvoud waargeneem en bespreek. Dit wil nie sê dat daar vir die Bantoe g'n grenslyn tussen fatsoenlike en onfatsoenlike uitdrukkinge bestaan nie; dit wil alleen sê dat die grenslyn op 'n ander manier getrek word as by ons wittes. In verband met die spreekwoorde wil ons nog daarop wys, dat hoewel sommige daarvan duidelik genoeg van betekenis is, daar baie is waarvan die betekenis eers gladnie uitkom nie, soos dit ook o.m. blyk uit die betekenis van die naam van die spreekwoord, bv. in Thonga of Zulu (shi-ga, isa-ga*)). Die betekenis is dan ook dikwels taamlik diep verberg, en van 'n diepsinnige amper spitsvondige gehalte. In verband met die raaisels verdien aangehaal te word, dat daar by verskillende Bantoe-stamme raaiselspelletjies bestaan: een persoon vra 'n raaisel aan die ander: weet die twede persoon die antwoord op die raaisel nie, dan moet hy dit koop, (die seSotho uitdrukking is dan ook go rêka nyêpô, ‘'n raaisel koop’), deur aan die eerste persoon 'n raaisel te vra wat hy nie kan raai nie en hom die antwoord daarop mee te deel: dan eers kry hy die antwoord op die raaisel wat hy nie kon raai nie. En nou die voorbeelde. (a) Idiomatiese Uitdrukkings en Spreekwoordelike Gesegdes. (1) isiXosa.

*) Bryant (Zulu-English Dictionary) verklaar isa-ga as ‘a current saying or proverb, which suggests a second meaning, not literally that of the words.’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 272

Akana sifuba: - Hy het g'n bors nie - Hy kan niks vir hom hou nie. Amate empukane: - Vlieëspeeksel - Baie fyn reent. Andikange ndosule umlomo namhlanje: - Ek het vandag nie kans gekry om my mond af te vee nie - Ek het min geëet. (Dit word dikwels gebruik om aan te dui: ‘Jou gasvryheid is maar karig’.) Indonga ziwelene: - Die mure het teenmekaar geval - Die magtiges het twis gehad. Inja yomoya: - Hond van die wind - Niksnutter, onverantwoordelike persoon. (Vgl. die Duits Windhund, bv. by Fritz Reuter.) Inkala ixinge 'tyeni: - Die krap sit aan die rots vas - Jy het jouself in die moeilikheid vasgedraai. Ityala limlahlile: - Die regsaak het hom weggegooi - Hy het verloor. Izulu limtabatile: - Die hemel het hom gevat - Hy is deur die blits getref. Ndifuna ukukuluma indlebe: - Ek wil jou in die oor byt - Ek wil jou iets toefluister. Ndina mazinyo asibozo: - Ek het ag tande - Ek is nie van gister nie. Ndina 'mehlo: - Ek het oë - d.w.s. seer oë. Ndome amate: - My speeksel het opgedroog - Ek was baie verbaas. Ube nyawo ntle: - Mag jy mooi voete hê - Goeie reis en voorspoed. Udle ukudla kwamdla: - Hy het kos geëet en dit het hom geëet - Hy is dronk. (Bier is mos kos by die Bantoe.) Ukaulela inkawu ziyakusela: - Jy steur die ape as hulle gaan drink - Jy steek jou neus onnodig in ander mense se sake. Bafakana imilomo: - Hulle sit hulle monde bymekaar - Hulle beraadslaag. (2) seSotho. Bea pelo: - Sit jou hart neer - Wag geduldig. Bo-kea-tseba: - Die ‘ek-weet’-mense -Dokters, waarsêërs. (Dit is al duidelik genoeg. Maar daarby kom nog dat by die BaSotho die dokter veronderstel word te weet waarvoor die mense by hom kom voordat hulle dit nog gesê het.) Ba nthsana se inong: - Hulle neem van mekaar wat tussen die tande is - Hulle eet uit mekaar se mond, is intieme vriende. Ha a iphe thsoeya: - Hy gee homself nie asem nie - Hy is altyd aan werk. Ha re isane: - Ons bring nie vir mekaar (geskenke) nie -Ons is nie vriende nie. Ha se le hoba ke nyorilwe: - Dit is nie eers dat ek dors is nie - Ek is so dors dat ‘dors’ nie 'n woord is om my dors te beskrywe nie. Ho ya fathse ke dithseho: - Naar die grond te gaan met lag -Skaterlag. Ke ntat'ae a tsoha borokong: - Dis sy pa as hy uit die slaap kom - Hy lyk baie na sy pa, maar tog nie heeltemal nie, net soos 'n mens as hy pas uit die slaap kom ook nie heeltemal homself is nie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 273

Khomo e wetse: - Daar het 'n bees geval - Daar is 'n ongeluk gebeur. Di-ya-banneng: - Dinge wat na die mans toe gaan - Moeilike sake (wat dus deur die mans bespreek moet word in raadsitting). Ngwan'a-se-tsoha-le-pelo-ya-maobane: - Die kind van-staan-op-met-die-hart-van-gister - iemand wat altyd dieselfde bly (dit word altyd in 'n goeie sin gebruik). O ithsetlehile ka olo se se nang bohlwa: - Hy het geleun teen 'n miershoop sonder miere - Hy het valse hoop gekoester. O longwa ke nta feela: - Hy word maar net deur 'n luis gebyt - Hy het maar net baie klein laste te dra.

(b) Spreekwoorde. (1) shiRonga. Ndi ta tira loko tihuku ti mili menyo: - Ek sal dit doen as die hoenders tande kry - ad kalendas Graecas. Amuhloti wa tinyari ti buya na yene: - Die buffeljagter, hulle (die buffels) kom met hom tuis - Hy het 'n strik vir homself gespan en daarin geval. Mamita tinyingi a dumba wa kwe nkolo: - Iemand wat vrugtepitte sluk vertrou sy keel - Moenie aanneem om 'n ding uit te voer as jy nie seker is dat jy die ding kan doen nie. Mayetla ndlwini munduku hi mayetla handle: - Die wat (vandag) in die huis slaap, slaap môre buitekant - Vandag ek, môre jy. Andlopfu a yi ngi bindwa hi timhondo ta yone: - 'n Olifant word nie neergedruk deur sy eie tande nie - Waar 'n mens aan gewoon is, is vir hom nie lastig nie. I timhondo ta humba, ta ku huma nongweni: - Dit is slakkehorinkies, wat uit die mond uitkom - Dit is niks as grootpraat nie. U pfukeli ampfungwi: - Jy het opgestaan met jou gesig na die agterkant van die hut - Jy het met die verkeerde been uit die bed gestap. Asinge da ngwinyi a di hlekisi: - Die baas se stommeling laat nie lag nie - 'n baas lag nie oor die domhede van sy eie kneg nie. Alidimi li dlaya ngwinyi: - Die tong maak sy baas dood - Die Zunge hat ja kein Bein, schlägt aber manchmal den Rücken ein. (2) seTshwana. A ngwedi oa tla a thsêgê letsatsi, a re: ‘O moshweu’?: - Sal die maan vir die son kom uitlag en sê: ‘Jy is wit?’ -Die pot verwyt die ketel dat hy swart is. A o ruta thshwene mapalamô? - Leer jy die bobbejaan klim? - vgl. ‘Teach your grandmother to suck eggs.’ Thshoshwane e romile tlou: - Die mier het die olifant op 'n boodskap uitgestuur - Die klein man gee vir die groot man bevele.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 274

E tla re ke re ke dipitse ke bone mebala ya tshônê: - Ek sal sê dat dit kwaggas is as ek hulle kleure gesien het - Ek loop nie oor een nag se ys nie.

Go a shwa motho, go sale motho: - Daar sterf 'n mens en daar bly 'n mens agter - Niemand is onmisbaar nie.

Ke fa gare ga naka tsa nare: - Ek is tussen die horings van die buffel - Ek is in 'n tweestryd met myselwe.

Lomaô lo lo nthla pedi lo thlaba kobô le moroki: - Die naald met twee punte steek die karos en die naaier - As jy 'n wapen gebruik teen 'n ander sorg dat dit nie een is waaran jy jouself ook sny nie.

Lehuha le apeetshwe le lentshwê, ga butshwa lentshwê, lehuha ya sala: - Veelwywery is gekook saam met 'n klip, die klip het saf geword en veelwywery het gebly soos dit was. - Kommentaar oorbodig! Maru ga se pula; mmusi ke yôna molelo: - Wolke is nie reent nie, maar rook is darem vuur - Sommige getuienis is nie geloofwaardig nie, maar ander is dit wèl. Motse o lwapeng: - Die dorp is in die vrouekwartier - vgl. ‘The hand that rocks the cradle rules the world.’ Nthla ya kgosi go iwa ke modimo: - God gaan naar die kant van die kapteintoe - Die gode is op die hand van die sterke. O upa moraka tau e setse e thlasetse: - Hy maak seker van die beeswagter as die leeu al aangeval het - Demp die put as die kalf verdrink is. Pôô ga di thlakanele lesaka: - Bulle deel nie met mekaar dieselfde kraal nie - Daar kannie twee base op een plek wees nie. Se ileng se a bo se ile, lesilo ke mo-se-lateledi: - Wat verby is is verby, 'n stommeling is hy wat dit agterna gaan - Gedane sake het geen keer. Tau ga di adimane mênô: - Leeus leen nie vir mekaar hulle tande nie - Elkeen sôre maar net vir homself. Sedibana se pele ga se ikangwe: - Die waterput wat nog vóór is is nie te vertroue nie - vgl. ‘Don't count your chickens before they are hatched.’

(c) Raaisels. (1) tshiVenda. Thai: Dzo yo nwa Tavha, dza vhuya dzo tshena milomo: - Raai: Hulle het by die Letaba-revier gegaan om te drink en het teruggekom met wit monde - Die koringstamper en die stok waarmee mens in die pappot roer. Thai: Galaha lo kotamela nama: - Raai: 'n Ou man wat buk om vleis op te raap - 'n Val (waarin wild gevang word, en wat dikwels bestaan o.m. uit 'n skuinsstaande hefboom). Thai: Gegulu la mavhabvu: - Raai: 'n Ou vrou met breë heupe - 'n tshirundu, die tiepiese mandjie, met dik buik.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *27

G. MOERDYK. N.G. KERK LADYSMITH, NATAL.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 275

Thai: Kholomo ya khotsi-anga yo wela tivhani, nda sala ndo fara nga mutshila: Raai: My pa se bees het in die diepte geval, ek het agtergebly en dit by die stert uitgetrek - Die roerstok in die pap. Thai: Ngwana o bebelwa vhaloini a hulela vhaloini: - Raai: 'n Kind wat tussen die toordokters in gebore is en tussen die toordokters in groot word - Die tong tussen die tande. Thai: Tshe nda ya VhuTonga, nda vhuya natsho: - Raai: Die ding waarmee ek na die land van die Sjangaans gegaan het en daarmee teruggekom het - My skaduwee. Thai: Tshi sa ofhi khosi: - Raai: Die ding wat nie bang is vir die kaptein nie - Modder, hy gly so goed as 'n ander. Thai: Valani nndu, ri tshine marimbidane: - Raai: Maak toe die huis, ons gaan 'n vrolike dans hê - Die pappot word toegedek, en die pap kook en borrel binnekant. (2) se Pedi (Transvaalse seSotho). Ntlwana e se na modyakô: - 'n Huis sonder deur - 'n Eier. O a nkgata, ke a go llêla: - Jy trap op my, ek huil jou aan - Droë blare. Nokeng ke ile ke lla, ka bowa ke humotshe: - Toe ek na die rivier gaan huil ek, toe ek terugkom is ek stil - Die waterpot, wat leeg (dus hongerig!) rivier-toe gaan en vol terugkom. Ke bitshwa ke pula: - Ek word deur die reent uitgeroep - Groen gras, wat na die reent groei. Ke na le bahlankana ba lesome: o tlo ba tseba ka dikêfana tse thshweu: - Ek het tien knegte: Jy kan hulle ken aan hulle wit musse - Vingers. Ke romile batsomi bahlano sekgweng: ba bowa bohle, ba babedi ba rwele phôôfôlô: - Ek het vyf jagters in die bos gestuur: almal het teruggekom, en twee het wild saamgebring - Die vingers wat die kop krap.

G.P. LESTRADE.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 276

Oor Boeke.

Skakels van die ketting.*) Deur P. de V. Pienaar. - J.H. de Bussy, Pretoria. (1929.)

DIE Skrywer van hierdie roman het reeds in 1927 voor die voetlig gekom, toe hy saam met Dr. T.H. le Roux die bekende ‘Afrikaanse Fonetiek’ geskrywe het.

Hy is gebore in die Potchefstroomse, naby Losberg, enige jare na die Anglo-Boeroorlog. Na 'n skitterende akademiese loopbaan op die Hoërskool vir Seuns, Potchefstroom, en daarna op die Wit. Uniwersiteit, waar hy sy M.A. met lof afgelê het, is hy na Europa om sy studies verder voort te sit. Verlede Julie het hy gepromoveer aan die Hamburgse Uniwersiteit, en is pas teruggekeer na Suid-Afrika.

Pienaar se ‘Skakels van die Ketting’ behoort tot die beste romans wat nog in Afrikaans verskyn het. Daarom dubbel welkom. Die onderwerp - die geslagsprobleem - is 'n bietjie gewaagd in 'n land waar preutsheid en valse skaamte so dikwels moet deurgaan vir deugsaamheid en eerbaarheid! Dis dan ook te verwagte dat hierdie werk baie penne vaardig sal maak, want - - hoe durf 'n mens so sonder dekmantels en sluiers te werk gaan? Immers, tot vandag toe is die ‘moraliste’ nog nie uitgepraat oor die natuurkind Ampie nie, eenvoudig omdat Van Bruggen die durf gehad het om 'n lewende mens uit te beeld en nie 'n soetsappige ‘brawe Hendrik’ soos 'n poppie te laat rondspring om ons te imponeer met sy wonderlike prestasies nie!

Gelukkig besef ons Afr. skrywers van die laaste 5-6 jaar dat die intriege-roman met sy marionette, wat allerlei awonture beleef om dan by blote toeval deur 'n ‘Deus ex Machina’ gered te word, geen blywende waarde kan hê nie; nog minder die stroperige Kalvinisties-godsdienstige en sjouwinistiespolitieke tendensroman, waarin die strekking so aangedik is, dat 'n mens nie heeltemaal seker is of hy met 'n godsdienstige of politieke vlugskrif te doen het, óf wel met 'n roman nie.

*) Deurdat hierdie werk op meer as een wyse genader kan word en dit ook deur Dr. Dekker en Mnr. Rademeyer gedaan is, word hier twee besprekings geplaas. - Red.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 277

Die geslagsmoeilikhede van die ontluikende jong Kobie vorm die kern van Pienaar se verhaal. 'n Kind word by sy naam genoem, dog sonder dat dit aanstoot gee of walg. Die verhaal is kortliks as volg: Kobie groei op die plaas van sy goeie, godsdienstige ouers op. Sy moeder verstaan die jong seun beter as die vader, en oefen groot invloed uit op hom. Hy en sy vriendinnetjie, Elka, het in die tydperk van hulle kalwerliefde baie onskuldige pret. As sy vader dit gelukkig tref op die Seekoeifonteinse delwerye, gaan Kobie na die Engelse Hoërskool op die dorp. Voortdurend word hy geteiser deur die duiwel van geslagsdrif, dog as hy dink aan sy moeder, verjaag hy alle bose gedagtes. ‘Ou Hennie,’ die Afr. onderwyser, tot wie Kobie hom besonder aangetrokke voel, oefen 'n baie heilsame invloed op hom uit. Die Hoërskool-kursus word met groot sukses deurloop. 'n Nuwe tydperk breek aan as Kobie na Johannesburg gaan. Hier kry hy eerstehandse kennis van die ellende en ontaarding van die mensdom. 'n Jong meisie probeer hom verlei, dog hy bly staande. Hy besluit om die minder bevoorregtes van sy eie volk op te help deur 'n Sondagskoolklas te stig. Dit blyk 'n groot sukses. Violet, die jong meisie wat hom in versoeking gebring het, word ook lid van sy klas. Hulle word intieme vriende. As hulle een aand na Vereniging 'n endjie gaan wandel, stel die geslagsduiwel hulle 'n val en - - - ‘die myntering-basil het 'n ander slagoffer geëis.’ Nou is Kobie se lewe ondraaglik. Aan huistoe gaan val nie te dink nie: hy sal onder die heidens gaan arbei in Niassaland. Sy werk as sendeling word met groot sukses bekroon, en hy word onder die swartes as 'n soort van god beskou. Op 'n dag kry hy 'n telegram van huis dat sy moeder ernstig siek is. Met die grootste haas vertrek hy suidwaarts, dog as hy tuiskom is sy moeder reeds in 'n ander wêreld oorgeplant. ‘Moeder! Moeder! ek het jou bedrieg. Vergewe my! Vergewe my!’ is al wat die gemartelde siel kan uitroep. Elka, wat die moeder tot op die laaste toe trou bygestaan het, vergewe hom alles wat hy misdaan het, en word sy vrou. Hulle besluit om sendingwerk te gaan doen onder hulle eie mense op die Grasfonteinse delwerye, want die stem wat Kobie as jong seun by die ou Stawelkoppie gehoor het - ‘Pas my skape op’ - vind nog altyd weerklank in sy siel. Hier ontmoet Kobie Violet op haar sterfbed, en aan die kinderlose egpaartjie word haar ou kleintjie met sy ‘geel lokhaartjies en die onskuldigste blou ogies’ toevertrou. Wie in ‘Skakels van die Ketting’ grillige awonture, skokkende gebeurtenisse, 'n vleklose held en sy teenvoeter die geraffineerde skavuit, soek, sal teleurgestel wees. Die held is 'n mens, geen super-mens nie. Dis die skrywer te doen om die uitbeelding van 'n worstelende siel: Kobie se stryd is die algemeen-menslike stryd teen eie hartstogte en seksuele neiginge. En op watter

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 278 menskundige wyse word hierdie stryd geskilder. Reeds op baie jeugdige leeftyd bestaan die sekse-bewustheid, dog die intieme omgang tussen die twee geslagte is nog heeltemal onskuldig - ‘dis sedelik’. Anders word dit as die ‘Storm en Drang’-periode bereik word: sonder dat hy gewaarsku is teen die gevare wat voorlê, vind die jong wêreldburger hom onverwags gedompel in 'n maalstroom, waaruit hy homself moet sien te red so goed hy kan. Selde word hom die reddende hand toegereik, want - deur ondervinding word 'n mens wys!

‘Skakels van die Ketting’ is 'n boek vir grootmense, veral vir die wat hulleself ouers noem, en wat nog aan die ‘Ooievaarsverhale’- en ‘Bobbejaan-in-die-Berg’-metode van opvoeding glo. Waar die grootste voorligting en leiding nodig is, word gewoonlik die grootste stilswye bewaar, want wie kan nou met 'n bogkind oor geslagsaangeleenthede praat? Die ouers was mos somar klaar groot die dag toe hulle gebore is!

Hierdie werk is vir die grootste gedeelte outobiografies, daarom dat die worsteling van Kobie soveel intenser deurleef en deurvoel is, as wanneer dit bloot 'n skepping van die fantasie sou gewees het. Immers, is die hoogs-geïnspireerde werk nie altyd die kind van eie ondervinding nie? Die parallel Kobie-Pienaar vind ons ook in ‘Langs die Grootpad’: Hansie - v.d. Heever. Albei is plaasseuns wat besiel is met hoë ideale en aspirasies en wat na baie moeilikhede en wederwaardighede hulle doel bereik. Hoe voortreflik word die rol geskilder van die moeders in die karaktervorming van die twee seuns, veral in ‘Skakels’, en wat het hulle nie albei te danke aan die inspirerende engeltjies Elka en Maria nie.

Pienaar se styl is kragtig en fors, sy segging oorspronklik, sy skildering lewendig. Hy beskryf nie, hy beeld uit. Hoe mooi gesien is die volgende: ‘daar ver van die huis, in die droëlande, lê ek dan bedags op die naat van my rug en luister hoe die wolbalies aangewei kom, met 'n geluid asof hulle gedroogde boerbeskuit kou’. Wie voel hom nie dadelik terug op die plaas as die skrywer met fyn opmerkingsgawe 'n toneeltjie skilder soos hierdie: ‘versigtig, met die bene styf om die ooi se maag geknyp, word dan die rooi-leventel-botteltjie met die “littels” uit die broeksak gehaal, waar dit gelê het in die slingerdraai van die rekker. Meer as eenkeer het die ooi net gewag tot ek mooi gerus was, om my 'n streep te trek en dan sien jy net twee skurwe groottone die lug kies. Innerlik ontstoke, word dan eers 'n paar slae in die hande gespoeg, die hoed vasgedruk en voor omgedop, en dan sou die ooi haar heiland leer ken as sy dit weer waag. En as ek nou nie die bosluise kon kry nie, word met alle erns agter die oor gekrap, die kop geskud met 'n uitgehoeste “nee!” en dan maar weer in die rimpels van die keelvel of onder die stert wegval.’ Van sulke toneeltjies is daar baie.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 279

Op treffende wyse weet Pienaar gebruik te maak van natuurbeelde om die een of ander lewenswaarheid uit te bring: orals sien hy verborge ooreenkomste: ‘As die droogte kom en die witgras en blaarlose bome treur rondom, druk die ou vijooltjie dapper kop teen die wind en probeer met volhardende selfopoffering nog 'n laaste paar trekkies saam te gee. Trou, trou is die vijooltjie, soos die liefde van 'n agtergeblewene vir haar liefling ver oor die see. So is die liefde van 'n meisie.’ Na 'n kostelike beskrywing van die verraderlike krokodil ‘Mabele’, wat daagliks gevoed word as die vissersbootjies terugkom, dog sy dank betoon deur een van die kaffertjies in sy driehoektande beet te pak en na die dieptes te sleep, vra die skrywer: ‘Is die krokkedel dan nie simbool van die seksuele hartstog in hom, wat hy geprikkel, daagliks kosgegee, blindelings vertrou het, tot die hom onverwags, soos wat hy nou aanskou het, na die dieptes van die sonde-slykpoel gesleep het nie?’

‘Skakels van die Ketting’ - mooi tietel vir hierdie werk. Hoeveel moeilikhede moet nie oorkom word nie, voordat die verskillende skakels 'n hegte ketting vorm, wat kan dien as trektou vir die tweetjies wat nou saam die ongebraakte akker aangevoor het; en hoeveel is nie te danke aan die Moeder en Elka vir die suksesvolle voltooiïng van hierdie ketting nie.

Vir my het ‘Skakels van die Ketting’ 'n bekoring wat dit nie vir ander mense kan hê nie: nie alleen het ‘Kobie’ en ek op dieselfde plaas grootgeword en dieselfde Engelse Hoërskool besoek nie, maar hoe eners is ons ondervindinge in baie opsigte - die idilliese plaaslewe, die harde geswoeg in die landerye van smôrens vroeg tot laat, die Elkas, die blinde rondtas in die duister, die Hoërskool met sy veragtelike ‘Issies’ en - les bes, sy geduldige, innemende ‘Ou Hennie’. Watter goeie invloed het hy nie uitgeoefen op die wat hom verstaan het nie. (Ook as kollega het ek hom geken.) Die karakters in die roman is vir my werklike, lewende wesens - ja, tot ou Sinkerêr toe - en nie die gefantaseerde skeppinge van 'n roman nie.

Het ek niks anders as lof vir hierdie werk nie? Pienaar moet van 'n ander sfeer afkomstig wees as hy 'n perfekte werk kan lewer. Kobie se wegvlug uit Johannesburg na hy Violet onteer het, is vir my alles behalwe ridderlik en edelmoedig (hierdie gedeelte is nie outobiografies nie!). Ook sou 'n mens graag 'n bietjie meer van die Uniwersiteitslewe op Johannesburg wil sien: die lewe van Kobie as student lyk bysaak, sy optree as Sondagskoolonderwyser, hoofsaak. Dit wil voorkom of Kobie in Niassaland somar van die eerste dag af die taal van die swartes kan praat. Sou dit werklik waar wees dat 'n Kafferkaptein sy dogter vir 'n blanke sal gee as beloning vir die een of ander diens hom bewys? Miskien. Of wil die skrywer met hierdie geval slegs aantoon dat, al het jy eenmaal 'n mistrap begaan en al is jou doel die kerstening van die swartes, jy darem nooit op gelyke voet met hulle kan lewe nie?

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 280

Eindelik, die weerontmoeting van Kobie en Violet op die delwerye, dit lyk 'n bietjie te veel na blote toeval. Dat Pienaar spel volgens sy uitspraak (hy is in eerste instansie fonetikus) is bewys dat hy durf wat ander vrees, net soos hy gedurf het om 'n ‘gevaarlike’ onderwerp aan te pak. Ons noem 'n paar voorbeelde: vijooltjie, krokkedel, perbeer, kwaaijongensgeid, waanhuis, vooltjies, duidlik, parra, trug, verduwwelde ens. As literêre kuns is ‘de in woordgeluid weergegeven emotie van een individu’ en literatuur ‘de haarfyn-preciese weergave van wat er omgaat in 's kunstenaars binnenste wezen’ dan het ons hier 'n roman van hoë letterkundige waarde; meer nog - dit gee nie blote lewensbeskrywing nie, maar ‘levensinzicht en verrijking’. Voorwaar 'n pragtige blyk van die skrywer se waardering en agting vir sy nog lewende vader, en 'n imponerende monument ter nagedagtenis van sy ‘Dierbaarste Moeder’.

J.H. RADEMEYER

Skakels van die ketting.*)

Deur P. de V. Pienaar.

Die moderne Europese letterkunde, wat by die Renaissance ingesit het met 'n grootse opbloei van die drama, moet as sy oorspronklikste skepping (behalwe miskien die letterkundige kritiek) die roman registreer. Die drang tot objektivering van eie sielelewe in die gefingeerde prosa-verhaal wat by die Grieke en Romeine eers gedurende hulle vervaltyd tot uiting gekom het en ook in die middeleeue betreklik laat te bespeure is, hierdie drang wat ook innig verwant is aan die gees van die ou volksepos, kom met die vernude mensheid tot verdieping en gee die aansyn aan 'n verbysterende rykdom van vorme, wat ons almal saamvat onder die naam roman, met sy rekbare betekenis. Die fantastiese Spaanse romans van die vyftiende eeu, die grootse en diep-menslike persiflage van Cervantes, die bonte skelmeromans van die sewentiende en agtiende eeu, die soetelike en swierige heroies-galante romans van daardie tyd, die presieuse en sentimentele roman in briewe, wat deur Wolff-Deken omgeskep is tot so 'n uitnemende middel om breë realistiese sede-skildering en geestige karaktertekening te gee, die lewens-ware kuns van Fielding, die werk van Sterne en ander humoriste, die deftige historiese roman met sy simmetriese, verstandelik-logiese bou, die dokumentêre roman met sy opsetlike

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 281 anargie, die moderne roman met sy nuwe romantiek, wortelende in die realiteit deur die naturalisme geopenbaar - hierdie oneindige verskeidenheid van vorm en strewe openbaar tog, by die verskille wat kunstenaarstemperament, tydgees, mode teweeggebring het, steeds die selfde kunstenaarsdrang: die behoefte om eie lewensgevoel epies-dramaties te verbeeld in die karakter, lewe en lewensomstandighede van gefingeerde mense; selfs die kuns van Sangiro wat sy besef van die ewig-menslike, die tragiek en die humor daarvan, geprojekteer vind in die dierewêreld, behoort tot die roman in hierdie betekenis. Die kuns van Van Schendel, wat hom wegdroom in die lewenstemming en die emosies van sy middeleeuse swerwer, het uit die selfde drang ontstaan as die romans van die warm-menslike satierikus Thackeray. Waarom die moderne mens, met sy sterk indiwidualisme, met in sy siel die dualisme, die konflik wat sy selfbewustheid meegebring het, sy sielelewe nie meer by voorkeur uitstort in die ou vorme van epos en drama nie, sou die onderwerp van 'n baie interessante en insiggewende studie wees, maar dis nie hier die plek om daarop in te gaan nie. Wat vir ons van belang is, is dat ons die wese van die roman daárin moet soek dat dit die epies-dramatiese verbeelding wil wees van die kunstenaar se lewensgevoel. Epies: want die kunstenaar moet die karakter wat hy dramaties gekonsipiëer het en in wie hy sy ontroerde besef van die humor of die tragiek, die patos, die konflikte en die raaisels van die lewe geobjektiveer het, epies kan uitbeeld; dramaties: daar moet in die uitbeelding van sy karakters, in die weergawe van hulle sielelewe niks insluip wat nie voortvloei uit hulle innerlikste wese soos eenmaal suiwer deur hom gekonsipiëer nie; die outeur mag sy eie gevoelens en emosies en stemminge nie opdring aan die eenmaal geskape karakter nie, wat na die akte van sy skepping 'n selfstandige wese is wat 'n eie sielelewe en uit eie kragte leef - met ander woorde die romanskrywer mag in hierdie betekenis van die woord nie lieries wees nie.

'n Roman is dus groot namate die lewensgevoel van die outeur sterk of diep is en suiwer uitgebeeld is; en die vorm van die roman is in sover van belang as dit die noodwendige verbeeldingsvorm van daardie lewensgevoel is: die verskil in vorm tussen Querido se ‘Jordaan’ en Mevr. Bosboom se ‘Huis Lauernesse’ is die duidelikste openbaring van die verskil van die lewensgevoel van die outeurs.

As ons hierdie definiesie van die wese van die roman aanvaar, sal ons ontkom aan die gevare van al die willekeurige indelings in soorte, van al die doellose bepalinge van wat tot die romankuns behoor en wat nie, hoe 'n roman moet wees en hoe nie; ons sal besef dat al die benaminge psigologiese roman, awontureroman, ontwikkelingsroman, sosiale roman, historiese roman slegs verdienstelike hulpmiddels is by die studie van die ontsaglike rykdom van

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 282 kunswerke. Maar hierdie definiesie poneer ook sekere essensiële en daarom onverbiddelike eise. Die Afrikaanse romankuns lewer nog maar min op wat die toets van hierdie eenvoudige, maar streng kriteria kan deurstaan. Ons eerste prosawerke verdien nouliks die naam van kuns: hulle is nie die noodwendige uiting of verbeelding van die skrywer se lewensgevoel nie. Die ontluiking van ons prosakuns plaas Schoonees tereg omstreeks 1921: dan begin by ons kunstenaars die besef ontwaak dat die roman nie slegs 'n ydele spel van vernuftig bedagte awonture of 'n voorwendsel vir gemoedelike didaktiek mag wees nie; hulle besef dat die roman ons die mens moet gee, maar hulle is nog onmagtig om ons daardie mens te skep. Dit is die kuns van Fichardt en van J.R.L. van Bruggen. Dan kom die werklike romankuns van Jochem van Bruggen en is ons moderne roman gebore. P. de V. Pienaar se ‘Skakels van die Ketting’ behoort m.i. nog tot die twede stadium in ons ontwikkelingsgang, soos so baie van die romans wat vandag by ons verskyn; ook by hom die strewe om 'n mens te skep, om tot die innerlikste roersele van sy siel deur te dring, om ons sy ewig-menslike ideale en stryd uit te beeld; maar ook hy het nog nie daarin geslaag nie. Kobie is 'n jong seun met 'n sterk, ideële drang om ‘God se skape op te pas’, maar hy is erflik belas met sy vader se brandende sinnelikheid wat by hom tot ongesonde uitinge kom. Sy jeug is een stryd tussen sy hoë en diepgevoelde idealisme en die troewele hartstogte wat in hom woel. Nadat hy diep geval het, sy ouers, wat hy innig lief het, en sy nooi bedrieg het, kom hy na lange, bange sieleworsteling tot versoening en rus, veral ook deur die begrypende en vergewende liefde van sy Elka. Dis dus die ou maar altyd weer nuwe motief van die ewigmenslike konflik tussen die gees en die vlees. Hierdie motief het egter nie geword 'n aangrypende skildering van smart en worsteling of 'n hewig dramatiese meelewe met daardie felle stryd nie: Pienaar se lewensgevoel was nie so sterk dat hy dit om kon skep tot, projekteer in 'n sterk en suiwer gekonsipiëerde karakter nie. Kobie het nog nie uitgegroei tot 'n waaragtige mens, wat 'n eie sielelewe leef onafhanklik van sy skepper nie - die outeur moet hom nog te veel van sy eie sentimente en stemminge leen. In Kobie lewe twee wesens: die hartstog-mens en die mistieke soeker na die ideële, wat baie ontvanklik is vir natuurindrukke en wat al vroeg die roeping voel om dienaar des woords te word. Die hartstogtelike en sinnelike in hom word verdienstelik geteken, maar as Pienaar die ideële in Kobie wil uitbeeld, dan voel ons dat ons nog te veel te doen het met 'n teoreties bedagte in plaas van 'n artistiek gekonsipiëerde mens. In pleks dat die roepstem wat Kobie telkens hoor die weerklank is van eie hooggespanne sielelewe, die apoteose na felle stryd, kom daardie stem as 'n psigologies ongemotiveerde wonder uit die lug aansuis en vervul die meganiese rol van deus ex machina. Die eerste keer

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 283 dat die wonder gebeur is dit nog enigsins gemotiveer, hoewel nie besonder oortuiend nie, maar die volgende lyk meer op spot as op 'n ernstig bedoelde verhaal: Kobie is kerktoe in die goudstad saam met 'n studievriend, wat hoofsaaklik saamgegaan het met die bedoeling om te kyk of hy nie kennis kan aanknoop met die een of ander mooi dametjie nie; die predikant het die gewoonte om die gemeente Sondags veral te onderhou oor hulle finansiële verpligtings teenoor die kerk: ‘Kobie is net besig om te dink aan die mooi moterkar wat die predikant het en hoeveel 'n tiende daarvan sou wees, toe hy uit die verte hoor “Pas my skape op”. Dit is asof dit van veraf uit een van die orrelpype kom en toe sê die dominee “Amen”.’

Nog erger word dit by 'n later geleentheid: As hy na sy diepe val die verongelukte motoris, wat nog so graag wou bly lewe, sien sterwe het:

‘Laat in die nag het hy nog rusteloos met homself geworstel, en toe die rooidag breek en hy so effe insluimer, hoor hy - lieweland! wat is dit? hy spring verskrik op - weer die ou stem: ‘Pas my skape op!’

Die ridikule van die voorstelling bereik sy kliemaks in die banale uitroep wat ek gekursiveer het.

Ons vind in hierdie boek 'n verdienstelike strewe na skerp psigologiese analiese en Pienaar gee ook wel blyke van talent. Die ontleding van Kobie se gemoedstoestand in hoofstuk XV bevat goed-gesiene trekke; ek wys b.v. op sy voldoening as hy die krokkodel, wat hy aanvoel as simbool van sy eie troewele hartstogte, doodgeskiet het. Maar suiwere analiese van 'n karakter wat nie suiwer gekonsipiëer is nie is natuurlik onmoontlik. Dit blyk dan ook al gou uit die styl en die beeldspraak. Pienaar is veel te oorlade in sy styl, praat veel te graag in beelde ook waar dit nie nodig is nie. Daardeur kom hy tot dwaashede soos die volgende: ‘Toe hy perbeer of hy nie in sy swartgebrande verstandsveld nog die ruik van piekniek-braaivleis kan ontdek, destyds toe Elka en hy die eerste, egte liefde geopenbaar het nie....’ As die ou kaffer sê dat ‘sy kommer is vir die wat lewe’, voel Kobie ‘soos 'n kind wat 'n pakkie persent gekry het en nog nie met die inhoud bekend is nie, dit na 'n stil hoekie dra om dit daar te ontwikkel’. Hierdie beeld is seker baie gelukkig (afgesien van die woord ‘ontwikkel’!), maar by die uitwerking daarvan kry ons ongelukkige mededelinge soos hierdie: ‘Sy verstandsvingers bewe al toe hulle die strik van die pakkie wou losmaak.’ As Kobie die plaas verlaat en hy telkens omkyk na sy moeder wat agterbly, word ‘die band wat moeder en seun bind verder en verder uitgerol’! Ons hoor van 'n ‘vasgekettingde hart’; ‘Kobie peil die diepte van toepassing op homself’. By geleentheid van 'n ander afskeid van sy moeder’, sien hy nog sy moeder met die voorskootpunt liefdesessens afdroë’!

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 284

Sulke valse beelde is nie alleen lelike stylfoute nie maar is voos plekke in die sielkundige uitbeelding. Die natuurbeskrywings speel 'n baie groot rol in hierdie roman. Dit is psigologies goed gesien, want Kobie met sy lewendige verbeeldingskrag is baie ontvanklik vir natuurindrukke. Al die geheimsinnige magte wat in sy siel rondspook, al die emosies en stemminge wat daaruit opwel sien hy gestalte kry in die grootste en misterieuse natuur, wat vir hom 'n ewigwisselende spel van stemminge oplewer. In die weergawe hiervan het Pienaar meer as een keer gelukkig geslaag. As Kobie in die eensame aandstilte afskeid neem van Vaalrivier: ‘Nou en dan kokkeloer 'n sterretjie deur die lyfwag deur, maar effe bangerig. Daar bo, verop die koppie, swart-swart 'n boom soos die komende Dood; Kobie huiwer en vrywe die knoppies op sy vel.’ Hierdie suiwer simboliek bereik Pienaar egter nie baiemal nie. As Kobie saans op die delwerye alleen by die tonga sit: ‘Veraf raas die ou Vaalrivier sy selfde ou deuntjie af, maar sy keel is hees van al die eeue se sing, maar hees ook van innige weemoed vanaand as hy die nuwe ongelukskerkhof (wat is dit? G.D.) van menige geluksoeker sien. Ook die maan hou haar nog treurig agter die rante en sprei net in die ooste 'n dofgeel tranefloers uit. Sy het uitgehuil en uit die rouerige swart wolke kom die bloedrooi ronding uit, wat met diep jammer haar strale deur die dorings laat sypel op die delwerslaer. In die Weste teen die spookswart bulte af, kleur 'n veldbrand die lug helrooi. Magtige rooigeverfde rookkrulle vorm 'n dak bo en hang verderaf 'n loodgrys mantel oor die vlaktes. Nou en dan brand 'n graspol helder op en rek met “n kragtige swaai bo die ander uit. So klein brand party vlammetjies tog as hulle vir hulle bestaan veg. Dis of die bulte lewe. Dis of 'n vuursee daar kabbel. Op - af, op - af gaan die tongetjies teen die swart, uitgetande riwwe-agtergrond.” Hierdie sitaat toon Pienaar se krag as visionêr van die landskap, sy simboliese siening en uitbeelding van die natuur. Jammer egter dat hy die suiwere simboliek vir 'n oomblik versteur deur self daar nog iets aan te wil toevoeg: die deur my gekursiveerde woorde. Ook op bladsy 31-32 gee hy ons 'n mooi natuurbeskrywing, 'n simfonie van kleure en klanke (hier en daar nog onsuiwer van orkestrasie), met die hewige rooi as grondtoon; maar nes die bo gesiteerde beskrywing staan dit nog te los van Kobie se sielelewe; die visioen van die verskyning van Jesus, wat vir Kobie met klein-verstandelike argumente kom oortuig, detoneer - in pleks dat die heerlike sonsondergang nog groter skoonheid verkry deur die betekenis wat dit het in die ontwikkelingsgang van Kobie se sielelewe, bly dit slegs 'n mooi beskrywing deur P. de V. Pienaar. Juis omdat die outeur daar nie altyd in geslaag het om die

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 285 natuurstemminge uit te beeld in verband met of as openbaringe van Kobie se innerlike lewe nie, doen hierdie skilderinge dikwels nog te veel aan as bladsye uit die skrywer se eie portefeuille van landskapstemminge, m.a.w., hulle is nog te lieries. Nêrens voel ons dit so duidelik as op bl. 96 waar 'n sonsondergang na 'n piek-niek beskryf word en die kunstenaar vergelykinge maak met Turner se landskappe en die Hollandse son! Dieselfde voel ons by die simboliese fantasieë: die eensame banneling in Switserland, die seekoegat met die wellusmonster, die musikale dromerye van die gevangene in die tronkkerk. Pienaar pas hier 'n stylmotief toe wat nog al geliefd is by moderne Duitse romanskrywers - dink slegs aan Ewers en Feuchtwanger. Die genoemde stukke, veral die eerste, staan egter nog te los van die epiese verhaal, hulle het nog te veel lieriese ontboeseminge van die skrywer self gebly.

Nog bedenkliker word die versteuring van die epiek waar Pienaar optree as wêreld- en lewenswyse kommentator op en bespiegelaar oor die gebeurtenisse. Die ergste voorbeeld hiervan sien ons in die lang uitweiding oor die invloed wat verandering van milieu op 'n mens uitoefen; nie alleen werk hierdie stuk baie steurend in die gang van die verhaal nie, maar dis 'n aaneenryging van banale gemeenplase. “Afstand en tyd is twee faktore waarmee rekening moet gehou word as die liefde bespreek word” (!! kursivering van my. - G.D.). Siedaar “een waarheid als een os!” Maar ons verwag van 'n romanskrywer nie dat hy van tyd tot tyd sy verhaal staak en ons op dergelike staaltjies van teoretiese sielkunde vergas nie. So 'n blik in sy werkkamer boesem nie bepaald vertroue in nie. Net so ontstemmend werk die prekie oor die kappie van die boervrou en oor die rol wat die vrou in ons geskiedenis gespeel het. So is daar helaas nog baie voorbeelde van hierdie oudmodiese smakelooshede.

'n Paar woorde oor die styl van die boek. Uit verskillende aangehaalde stukke het al geblyk dat Pienaar die gawe van plastiek besit. Dit blyk ook uit mooi viesies soos: “Ver, waar die loodvaal berge hekserig in die lug dans,” en: “Ry-op-ry staan die ru-hout-banke ingedagte en in eerbied (in die gevangenis-kerk)”. Maar “le style c'est de l'homme même!” Dieselfde gebrek aan strenge selfbeheersing en hegte sintetiese eenheid wat Pienaar as epiesdramatiese uitbeelder kenmerk, openbaar hom ook in sy styl. In sy sug tot oorlading stapel hy adjektief op adjektief, ryg hy tussensin aan tussensin, totdat sy periode alle ritme verloor - en ritme is hoëre eenheid: “Rooi, die helderste rooi, wanneer dit langs groen, die lewende groen van die gras as in die Lente die malse spruitjies na bowe stoei met al die helderheid van ontluikende lewenskrag, wanneer dié daarlangs geplaas word, trek ook aan deur die volmaakte kontras, net soos die volmaakte harmonie van die geel van die gousblom met die oranje van vlieswolkies na 'n reent op ons ou Karoland”.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 286

Trouens hierdie hele beeld is ook só serebraal: “So 'n kontras met Kobie was Issie Feinberg!”

Dikwels kry ons hortende, onbeholpe sinne: “So trek hulle rond, tot hulle genoeg het om ook môre Nuwejaar te vier, want al is dit 'n kaffer, is darem die boer se vrygewigheid nie in enigermate (? - G.D.) beperk nie.”

By die bespreking van die psigologiese uitbeelding het ek op 'n paar gevalle van onsuiwere beeldspraak gewys; ek sou nog tal van voorbeelde daarvan aan kan haal. Laat ek nog net op Pienaar se slordigheid van styl wys; ek gee slegs 'n paar voorbeelde: “Flabberig en blink lyk dit om die lelike ou Brandseer, maar die seep brand ook seer waar dit tussen die barsies insyfer.”

“Langs die watergat hel die stam van 'n groot kameeldoring oor na die waterkant toe.”

“Toe die son agter die vaal bulte sy Paul-Kruger-pond-sirkel opsteek, sy eerstelingsoekstrale hoog in die lug, skuins oor die ingetande wêreldwiel en vlak tot onder die wa se disselboom...”. Dis nie maklik om 'n ding altyd op 'n ongewone manier te sê nie, en daar is gevare aan verbonde! En wat moet ons van die volgende beeld dink?’ 'n Roggel-keelgeluid (is ‘keel’ nie heeltemal oorbodig in hierdie samestelling nie?, of is ‘roggelkeel-geluid’ bedoel? - G.D.) van voldoening asof die klankgolwe deur die rotswalle saamgegryp word en uitprojekteer word op Kobie se oor...’ Pienaar openbaar hom hier en daar as realis, in die eerste hoofstuk gee hy selfs 'n paar trekkies wat vir Suid-Afrika taamlik gedurfd is, esteties beskou doen hulle enigsins eienaardig aan, omdat hulle heeltemal buiten die gees van die boek staan. Die beskrywing van die agterbuurt (hoofstuk XIII) is 'n verdienstelike poging, maar ook hier voel ons die waarheid van Goethe se gevleuelde woord: ‘Künstler, rede nicht, bilde nur!’. 'n Sobere, realistiese skets sou ons veel meer ontroer het as opmerkings soos ‘Die naarheid en armoede, die sonde en mensehel wat hier aangaan, maak sy jammerhart sommer kleinveld.’ Dat Pienaar egter wel talent het, blyk uit 'n fyn trekkie soos hierdie: ‘Ook die ou Oom se wit baard bewe vir 'n oomblik agter 'n skeur in die doek wat voor die venster gespan is.’

Hierdie kritiek sal miskien streng lyk... maar die eise wat die roman self aan sy beoefenaars stel is streng. En die feit dat ons al sover gekom het dat ons die produkte van ons jong letterkunde aan hierdie eise mag begin toets is verblydend. Pienaar se gebreke het hy gemeen met baie van sy tydgenote en (laat ons dit hoop) hang saam met die stadium waarin hy verkeer in sy ontwikkelingsgang as kunstenaar. Ek vertrou dat ek aangetoon het dat hy onbetwisbare talent besit; maar sy eerste roman is nog onvoldrae; dis 'n poging

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 287 om gestalte te gee aan sy lewensgevoel voor hy daarvoor ryp was. Die tyd dat mense geglo het dat Keats ‘was snuffed out by an article’ is verby - ek hoop dan ook dat ons van Pienaar nog werke sal kry waarin sy lewensgevoel, verdiep en verklaar, omgeskep sal wees tot waaragtig- en diep-menslik, gestaltes. Voor hy daarin sal kan slaag sal hy as bewuste kunstenaar sy styl moet suiwer van al die gebreke wat dit nou mog aankleef en waarop ek hier nie in kon gaan nie. Slegs deur 'n ernstige strewe na soberheid, 'n angsvallig vermy van alle mooidoenery en klein-lieriese, bymotiefies, in een woord: deur streng selfbeheersing kan hy dit bereik. Die firma De Bussy verdien 'n kompliment oor die keurig versorgde uitgawe; veral die bandversiering is smaakvol ontwerp en uitgevoer. Mag hiermee 'n nuwe rigting ingeslaan wees! G. DEKKER.

Kees van die kalaharie.

Deur G.C. en S.B. Hobson.

Net betyds, nou dat ons oernatuur so vinnig plekmaak vir landbou en veeteelt, en die laaste weer vir die saamgeskoolde mensemassas wat die toenemende industrialisasie van ons land teweegbring, het die oë van ons kunstenaars oopgegaan vir die verdwynende dierelewe in sy natuurlike omgewing. Wie het dit kon dink dat so kort nadat Sangiro alle liefhebbers van die Afrikaanse literatuur in verrukking gebring het met sy ‘Oerwoud en Vlakte’, daar weer 'n paar skrywers sou optree wat net so diep deurgedring het in die gees van die oerwêreld en sy kinders, en daaraan uiting sou gee in 'n styl wat, hoewel heeltemal anders, tog seker nie hoef onder te doen vir die van hulle nou reeds beroemde voorganger nie! Maar tog is die aandag nog veel te min gevestig op Kees van die Kalaharie en Kloes van die Kalaharie deur G.C. en S.B. Hobson, wat in die ‘Huisgenoot’ verskyn het. Ek wil dit huldig as die verteenwoordiger van die Apollieniese kuns in ons dierebeskrywing wat deur goedversorgde, fyne, geniale styl ons net so veel genot kan besorg as die Dioniesiese vervoering waarin die werk van Sangiro ons bring. Die twee verhale is sorgvuldig saamgestel - Kloes beter as Kees. By die laaste verdwyn die hooffigure partykeer enigsins uit die middelpunt van ons belangstelling. Hierdie beswaar geld nie die jaar vandat Kees weg is van die trop af totdat Adoonsie hom weer kry nie: dié tyd word mooi opgevul met ander gebeurtenisse. Maar as ou Kees dan onmiddellik daarna maar weer op die sand bly sit terwyl ons van alles en nog wat te hore kry, dan word die geheel erg verbrokkel. Met Kloes en sy famielie is dit anders. Ons begin somar van die staanspoor af met hulle meelewe en ons belangstelling verminder nooit nie, voor ‘die ander ou kleintjie en die getroue moeder lê

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 288 onder die kareeboom koud en stil,’ en Kloes se ‘ligbruin oë verlangend ver noordwaarts gerig is na waar die kameelboomvlaktes van die Groot-Kalaharie wyduitgestrek in die maanlig vir die verlore seun lê en wag.’

Die treurige uiteinde van Karlyntjie roer ons, maar dit roer ons as 'n vanselfsprekendheid, as iets wat daar moet wees om die verhaal behoorlik af te rond, want as daar een algemene trek is wat ons blywend bybly na die lees van hierdie beskrywing van die dierelewe, dan is dit die onderlinge konflik tussen die diere, waarby net een wet geld: ‘Survival of the fittest’, soos die konflik tussen mens en dier telkens opdoem by die terugdink aan Sangiro se werk. Hierdie altyddurende konflik bring ons telkens en telkens weer in 'n toestand van spanning. Weliswaar kon die spanning hier en daar meer toegespits gewees het - soos Sangiro so goed verstaan het om dit te doen - maar tog.... juis deur die vlugtige manier waarop daar oorheengewandel word, kry ons die indruk van die algemeenheid, van die blywendheid, van hierdie konflik, van die essensiële daarvan vir die woestynlewe. En op die kortstondige konflik volg dan herhaaldelik die mokerslae van die meedoënlose natuur wat ons voor die roue werklikheid plaas: ‘hy's dood, dis klaar.’

‘Die oë word die eerste uitgepik, en daarna skeur hul skerp snawels die nog lewende bobbejaan wreed oop’; ‘Terwyl Slagter nog wreed aan haar keel kou, draai die wyfie om en byt die stomme ou kleintjie se nekkie met 'n enkele hap morsaf; toe keer sy terug na waar Slagter alreeds groot stukke vleis uit die duiker se nog warm, trillende boude staan en skeur’; ‘Kwê-Kwê.... skree die bobbejaantjie, en die kranse weergalm soos die mannetjies hom hees-vloekend te hulp snel! Dog 'n twede hou van die luiperd laat hom bewusteloos ineensak’. ‘Somar met die eerste aanmekaarraak sny hul hom in vier, vyf plekke dat die bloed loop, en binne 'n paar minute is al wat van hom oorbly, net die verskeurde, dooie liggaam waarop die bebloede bobbejane nog steeds spring en vloek’; 'n aaklige gesleep van kronkelinge wat nog vatplek soek, 'n gekraak van bene - en die luislang se dodelike werk is gedaan’, ens. Dis vir die skrywers blykbaar nie die moeite werd om by hierdie telkens terugkerende tragedie lank stil te staan of daar sentimenteel oor te word nie: dis maar die gewone manier van doen in die natuur; hulle vertel eenvoudig wat daar gebeur het en gaan dan maar weer oor tot iets anders. En juis daardeur word die totaalindruk van die onverbiddelikheid van hierdie natuurwet so onuitwisbaar in ons gemoed gegrif.

Maar hoe het die Hobsons daar nie in geslaag om, naas die groot natuurwette wat al gaandeweg so op ons gemoed getjap word, ook die besondere verskynsels van die Kalahariewoestyn ons voor die gees te toor nie! - Die westewind wat woed, die Korannaberg met sy klowe en kranse en lysies, die tsamaveld, en die woestyn in tye van droogte.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 289

Hoe laat hierdie skrywers ons nie ook die klanke van die woestyn hoor nie! - Bô... gom! Hees en gebiedend. Bôg? Bôg? Sagvraend. Bôg! Bô - gom... dié keer harder, meer dreigend. Hâhâ - hâ..., hâhâh - â..., 'n tussenpoos en weer hâ-hâ-hâ..., die note kort op mekaar, die laaste lank lank uitgerek, hoër as die ander, pure weemoed - die dubbel-drieklank geroep van 'n mannetjie wat van sy maat opsy raak.’ ‘Pioe’ sê die jakkalsie as die lammervanger hom laat val, en die sprinkane ‘vreet en vroetel, tjiep-tjiep, tjerp-tjerp om en oor en op die jakkals-famielie’. Deur hierdie woestynwêreld wat ons al lesende nie alleen as 'n reeks gesigs- en gehoorsbeelde gewaai word nie, maar ook as 'n nuwe gevoelswêreld is die Hobsons die ideale geleiers wat ons deur middel van skilderagtige beskrywinge vertroud maak met die uiterlike voorkome, die verskillende uiterlike gedaantes van ons nuwe kennisse, maar daarnaas met hulle geesteslewe. Laat ek dit met 'n enkel voorbeeld illustreer. Van die jakkalswyfie word gesê: ‘Sy het vanjaar toevallig net tweetjies, en 'n tydlank was die moedermelk voedsel genoeg; maar nou word die goedjies groot en moet daar al vleis aangedra word.’ Hierdie paar sinnetjies is voldoende om ons in onmiddellike kontak met die jakkalswyfie te bring, want die skrywer het sy gees in hare geprojekteer. Dan vervolg hy: ‘'n Ruk lank lê hul hul dors aan die moeder en les. Vleishonger het hul nie. Verlede nag se korhaan was al genoeg; maar toe hul klaar gedrink het, gaan hul darem speel-speel aan die duikertjie vreet’. Hier het die skrywer 'n deel van die ou kleintjies geword, en dan vervolg hy: ‘Intussen staan Slagter 'n ent opsy en spioen. Hy is ook net onrustig: Tweemaal in die laaste ses dae al het 'n hiënapaar hom van sy buit berowe, en daardie bloedvlekkies op die hoë gras waar die wyfie die duikertjie langs gedra het, kan tog alte maklik die vuilgoed weer op hom afbring.’ Die skrywer en Slagter is een! Onwillekeurig slaak 'n mens die versugting: ‘Ag, was daar maar meer Afrikaanse romanskrywers wat hulle so in die gees van ander mense kon inlewe. Die Hobsons kan dit ook. Kyk maar as hulle 'n enkele maal 'n mens laat optree: ‘Nee, so kan hy die vuilgoed hom nie rot en kaal laat vang nie! Kleinbooi moet die perd dadelik opsaal. Ook tegnies bly die Hobsons korrek by die uitbeelding van die geesteslewe van die diere. In teenstelling met die steurende gedink en geplannemaak van Sangiro se diere wat die swakste trek is in sy anders uitstekende boek, laat die Hobsons hulle - s'n voel, ‘instinkmatig besef’, en ‘instinkmatig weet’. Van watter stylmiddels maak die Hobsons gebruik om die merkwaardige indruk te verkry wat hulle met hulle boek bereik? Nie so seer van 'n

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 290 geesdriftig meeslepende ritme nie - hoewel hulle korter stapgang vol aangename afwisseling is - as van hoofstukke wat ieder 'n volkome eenheid in die verband vorm, van goed afgeronde paragrawe, en sorgvuldig gestileerde volsinne. In die bou van die paragraaf moet veral gewys word op die neiging om op 'n aantal skilderagtige besonderhede 'n treffende samevatting te laat volg, soos in: ‘Dit dreun soos die vee op 'n hoop storm; maar nog voordat hy in die kraal kan spring, bars 'n geweerskoot uit die hoek los dat die vuur spat en streep 'n brandende pyn hom langs die linkersy af! Die Oubaas is tuis!’ ‘Oordag bessies pluk en uintjies grawe, boomlote afbyt of aan die tsamas peusel, of versadig teen 'n duin in die son sit en luier - die maande het rustig verbygegaan’. Partykeer kom bywyse van afwisseling die algemene opmerking egter eerste en die besonderhede daarna. Die sinne! Hoe weet die Hobsons telkens die raak en treffende woord te vind! Laat ek 'n paar onderstreep: Soos die bobbejane verskrik uit die krans uitborrel. Al moet hy dit dan ook uit die outjie se keel uitwurg. En streep 'n brandende pyn hom langs die linkersy af. Maar daardie vreemde ding wat te perd aangery kom. Terwyl hope etter.... uit die sweer uittap. Honderde sulke sinne kan ek oorskrywe. Onder sulke omstandighede sou dit pure vittery wees om aanmerking te maak op die paar swakkes wat daar ook voorkom. Hoe mooi word die eienaam ‘Dooddrukker’ nie tepas gebring nie. Wat 'n verskeidenheid van uitdrukking is daar nie! Die begrip ‘erg’ word b.v. uitgedruk deur: van die eerste water; van die ander wêreld; dat dit 'n naarheid is; die begrip ‘baie gou’ deur: soos blits; soos 'n warrelwind; in 'n kits; so gou soos nou. Die woordkeus bring ons ook gedurig in direkte kontak met die skrywers self wat ons leer ken as gemoedelike vertellers wat lewendigheid en skilderagtigheid weet te verkry deur die gemeensame toon wat hulle aanslaan. Hulle verval nooit in die preektoon nie, maar gee ons hier en daar blyke van 'n meer algemene kennis van die dierelewe as absoluut noodsaaklik is vir die storie, en dit sowel as die subjektiwiteit wat uitstraal deur die keuse van woorde en uitdrukkinge kan 'n besonder charme aan hierdie soort verhaal gee, en doen dit ook in hierdie geval. Deur die sorg en talent waarmee elke onderdeeltjie bewerk is, het die geheel 'n kostelike maal geword waarvan elke happie genot verskaf aan die fynproewer.

J.J. LE ROUX.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *28

G. MOERDYK. N.G. KERK LUCKHOF, O.V.S.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *29

'n Leser van ‘SKAKELS VAN DIE KETTING’ skryf ons:

‘NAAR HIERDIE BOEK HET ONS UITGESIEN. TEN LAASTE IEMAND WAT DURF OPENBAAR EN DIE MOED HET IN AFRIKAANS MODERN TE WEES. DIE SKRYWER SKROOM NIE FIESIESE VERLANGENS VAN DIE JONGE MENS BY DIE NAAM TE NOEM NIE. MAAR NAAS HIERDIE KRASSE DINGE IS 'N HOË IDEALISME, GEWORTEL IN 'N GOEIE BOERE-OPVOEDING. PIENAAR HET 'N LIEFDE VIR DIE PLAASLEWE, VIR GODS NATUUR, EN NIEMAND VAN ONS GAAN TELEURGESTEL WEG NIE. NAAR HIERDIE BOEK HET ONS UITGESIEN OMDAT DIT EINDELIK WEER 'N MOOI BOEK IS.’

Aan die Bestuurder, Firma J.H. de Bussy,

Posbus 460, PRETORIA.

Geliewe my te stuur

Pienaar: ‘Skakels van die Ketting’, waarvoor ek u die bedrag van 7/6 hierby insluit.

Naam ______

Adres ______

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 291

Nuwe Boeke.

Alle nuwe boeke deur die Redaksie, Bus 1266, Pretoria, ontvang, word hier aangekondig. 'n Latere bespreking van die aangekondigde boeke is nie uitgesluit nie.

Balmsforth, Rev. Ramsden: The Nature of Life. Juta & Co., Ltd., Cape Town and Johannesburg. 6d. Beeba: Die Diamanthalssnoer. Nasionale Pers, Beperk, Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein. 1929. 5/- posvry. Dreyer, A.: Die Kaapse Kerk en die Groot Trek. Van de Sandt de Villiers (Beperkt), Kaapstad. 1929. 21/- posvry. Eden, Fanny: Sonder God in die Wêreld. 'n Verhaal vir Oud en Jonk. In Afrikaans bewerk deur Ds.P.J. Marais. H.A.U.M. Kaapstad, Firma J.H. de Bussy, Pretoria. 1929. 4/- posvry. Eden, Fanny: Meer as Goud. 4/- posvry. Juta se Afrikaanse Leesboeke vir die Laerskool. Eerste, Twede, Derde Boekie vir Afrikaanssprekende Kinders. Juta & Kie,, Beperk. Kaapstad en Johannesburg. 1929. Juta se Afrikaanse Leesboeke vir die Laerskool. Eerste, Twede, Derde Boekie vir Engelssprekende Kinders. Juta & Kie, Beperk. Kaapstad en Johannesburg. 1929. Juta se Afrikaanse Leesboeke vir die Laerskool. Standerd 1, 2, 3, 4, 5, 6. Juta & Kie., Beperk. Kaapstad en Johannesburg. 1929. Juta se Leesboekies vir die Kindertuin. Eerste, Twede en Derde Boekie deur Claudia Luyt. Juta & Kie., Beperk. Kaapstad en Johannesburg. 1929. Drie Dele, 1/6 elk. M.E.R.: Die Oorwinnaar, Verhale van President Steyn. Nasionale Pers, Beperk. Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein. 1929. 3/- posvry. Metrowich, F.C., B.A., B. Ed.: The Development of Higher Education in . 1873-1927. Maskew Miller, Beperk. Kaapstad. 4/-. Pienaar, P. de V.: Skakels van die Ketting. Firma J.H. de Bussy, Pretoria. 1929. Tannie: Daar ver oor die See: Ons eie Reis na Europa. Nasionale Pers, Beperk, Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein. 1929. 7/6 posvry. The Nature of Life. Discussion before the British Association, at Cape Town, July 25, 1929. As recorded in The Cape Times and revised by the authors. Juta & Co., Ltd., Cape Town and Johannesburg. 3/-. Van Oostrum, O., O.1, met medewerking van J.H. Rademeyer, M.A.: Betekenis en Gebruik. Styloefeninge vir die Hoërskole. Vorm IV - Standerd IX. Firma J.H. de Bussy, Pretoria. H.A.U.M., Kaapstad. 1929. 2/3. Groeneweg, J.J.: Maseppa, Die Leeu van die Grasvlaktes. J.H. de Bussy, Pretoria. 1929. 6/6. Groeneweg, J.J.: Waar die Doringbome fluister. (Twede druk.) J.H. de Bussy. Pretoria, 1929. 6/-.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 292

Anatole France.

FRANCOIS ANATOLE THIBAULT, die enigste seun van Francois Noël Thibault en van Antoinette Gallas, sy vrou, is op 16 April 1844 in Parys gebore. Die oorsprong van die skuilnaam ‘France’ het nogal baie redetwis veroorsaak. Die geskiedenis daarvan is egter verduidelik in 'n brief wat A. France op 17 Augustus 1895 geskrywe het aan iemand wat navraag gedoen het. In die brief word dit ons bekend gemaak dat die skrywer se vader, eers onder sy vriende, en langsamerhand meer algemeen bekend geword het onder 'n verkorting van Francois, en dat die familienaam, selfs voor Anatole se geboorte, nie meer gebruik was nie. Die skrywer se ouers was van eenvoudige oorsprong. Sy vader was 'n plaas-arbeider tot omtrent sy twintigste jaar. Toe het hy by die Koninklike wag aangesluit en daarin gedien totdat dit as gevolg van die 1830-omwenteling opgehef is. Gedurende sy militêre diens het hy self leer lees en skrywe en langsamerhand het hy 'n liefde vir lees ontwikkel wat hy in later lewe, toe hy boekhandelaar geword het, meer kon bevredig. Anatole het altyd met liefde en dankbaarheid van sy ouers gepraat, en het selfs verklaar dat hy meer dank verskuldig was aan die voorbeeld van sy ouers en aan gesprekke aan die famielietafel gevoer, dan aan onderwys op skool, waar die somber atmosfeer en ruwe maats 'n sieldodende uitwerking op sy fyngevoelige natuur gehad het. In sy neënde jaar is Anatole skooltoe gestuur. Eers was hy op die Katolieke inrigting van Sainte-Marie en is later met die meerderheid van sy skoolmaats na die Stanislas Kollege waar hy gebly het totdat hy in die baccalauréat geslaag het. Baie van sy onderwysers het hom as dom en lui beskou net omdat hulle meganiese manier van onderwys van oninteressante onderwerpe die leerling so erg verveel het dat hy sy toevlug in allerhande onwettige vermaaklikhede geneem het. Dit is interessant om die aantekeninge van 'n waardige ou pedagoog, M. Allain, omtrent die leerling France te lees. Die arme ou man was maar 'n swak handhawer van tug, en daar hy so baie van sy losbandige klas moes verdra, sal ons hom maar sy gebrek aan gesonde oordeel moet vergewe. Hier is sy opienie van Anatole, ‘onverskillig, kinderagtig, hy giggel gedurig, 'n vlieg trek sy aandag af, sy oefeninge is sleg gedoen, een stuk werk uitgelaat.’ Terwyl die geplaagde onderwyser sulke aantekeninge in sy register maak, skrywe die leerling satieriese gedigte waarvan die volgende 'n voorbeeld is:

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 293

Quelle tempête, ciel! s'est dès ton arrivée Levée! Pour appaiser ce bruit, tout ton courroux, Allain Est vain! En bruyantes clameurs, en cris coufus la classe Se passe! Et tes sens effrayés croient entendre ce bruit La nuit!

Die seun het die Kollege gehaat, en het dit ‘die tronk’ genoem, 'n bynaam wat die meeste Franse skole wel deeglik verdien het. Die skrywer hiervan moes ook 'n tydjie in een van die inrigtings deurmaak waar speletjies iets onbekends was en waar die ongelukkige studente om aguur v.m. begin werk en eers om sesuur n.m. klaarkry; dan nog allerhande ander werkies wat gedurende die student se ‘vryure’ voorberei moes word. Langsamerhand het daar 'n meer menslike stelsel ontwikkel, en ontspanning speel nou 'n meer vername rol in die Franse skool-lewe. In sy later lewe het Anatole France met genoeë teruggedink aan sy daelikse wandelings heen en weer skooltoe - want hy was nie 'n kosganger nie - en het selfs beweer dat die Paryse winkelvensters met hulle ou prentjies, afdrukke en gravures, sy jong gemoed baie meer beïnvloed het as die inkbemorsde en verflenterde skoolboeke waaruit lesse alleen deur dreigemente en gedurige straf ingepomp was. In sy vader se boekwinkel, waar hy graag geluister het na die gesprekke van egte boekliefhebbers, was die seun regtig gelukkig. Die Goncourt-broers beskrywe die plek as een van die laaste oorblyfsels van die ou boekwinkels waar 'n mens nog met die eienaar kon sit gesels; waar 'n mens die behoorlike, vreedsaam en rustige atmosfeer vind wat nou in gevaar staan om deur ons moderne, woelige, en uiters meganiese eeu verdring te word, - 'n eeu wat meer ‘Babbits’ voortbring as ware boekliefhebbers. Anatole is dikwels op skool gestraf geword omdat hy sy werk nie voorberei het nie, maar hy was besig om die ensiklopediese informasie, wat in al sy boeke verstrooi is te versamel. Hy was buitengewoon gretig om te lees en sy nuuskierigheid was universeel. Van die werke van Bossuet het hy gegaan na 'n brosjure oor ‘Hoe om te snuif sonder om jou gesondheid te benadeel’. Die kind was besonder lief vir geskiedkundige werke en het dikwels na 'n moeilike Griekse oefening troos in 'n ou kroniek gesoek. Hy het besuinig om twedehands boeke te kan koop en wanneer hy heeltemal platsak was, het hy skelmpies een of twee boeke van die winkel weggeneem om dit later te verslind. Dit is onnodig om die lewe van ons skrywer volledig weer te gee. Al wat van sy vroeër jare bekend is, is al deur Georges Girard saamgestel. Boeke

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 294 soos Pierre Nozière, Le Petit Pierre, La Vie en Fleur en andere gee alle besonderhede omtrent Anatole se vroeëre lewe. Hierdie verslae mag miskien nie baie presies wees nie, maar is tog so presies soos van kunswerke verlang word. Die skrywer het daar verbasend goed in geslaag om sy jongelingsjare, toe Parys nog die middelpunt van die wêreld en Sjiena net agter die Arc de Triomphe was, weer te gee. Baie voorvalletjies wat aangehaal word sou in die hande van 'n minderwaardige skrywer onbeduidend voorkom. Maar France, deurdat hy so'n groot kunstenaar is, het die geheim uitgevind hoe om van 'n traan 'n pêrel te maak. Besonderhede mag wel grotendeels verbeelding wees, maar wat werklik van belang is, is die ontwikkeling van sy lewensopvattinge en die vormvatting van sy gedagtegang. Ons sien hoedat hy stof vir nadenking uit elke gesprek van sy ouers geput het, hoe gou hy denkbeelde gevorm het wat stadigaan tot idees verander het. France het Parys met sy luikronkelende rivier, sy ongeëvenaarde bekoring, die oewers van die Seine met hulle skilderagtige ou twedehand-boekhandelaars innig liefgehad. Onder sulke omstandighede - in ooreenstemming met sy temperament, het hy langsamerhand 'n deeglike klassieke kultuur aangekweek. Hy het maar min medelyde met die oppervlakkige, haastige, sorglose lewe van vandag gehad. Anatole France het 'n aantal gedigte geskrywe, party van hulle soos ‘Poèmes dorés’ en die ‘Noces Corinthiennes’ is van groot waarde, hulle toon volmaakte tegniek en 'n diep gevoel vir skoonheid. Dit is opvallend, selfs na 'n oppervlakkige ondersoek van sy prosa-werke, dat France 'n ware digter was, en 'n mens sou maklik 'n bloemlesing van pragtige poëtiese prosa uit sy werke kon versamel. Hy is 'n diepdenkende man en skep groot behae in meditasie. So nou en dan het hy deelgeneem in alledaagse gebeurtenisse, maar meesal het hy verkies om die wêreld te aanskou en om oor die domheid, ydelheid en onverdraagsaamheid van die mens te peins. Die Franse literatuur kan 'n groot aantal roemryke name toon wat vir gematigheid, gesonde verstand en verdraagsaamheid staan. Na die vreeslike wreedheid wat die XVIde eeu se ‘godsdienstige’ oorloë begelei het, het die nasie haar stem in ‘Satyre Ménippée’ laat hoor toe d'Aubray gepleit het dat daar 'n end aan die moorde moet gemaak word, en die vredebelowende Hendrik IVde verwelkom het. Die houding is tiepies Frans. Oor die algemeen haat hulle literêre verteenwoordigers dwepery en betreur die ligsinnige wreedheid wat sy oorsprong in godsdienstige of politieke fanatisme het. Rabelais, Montaigne, Molière, Voltaire, J.J. Rousseau, en Renan en nog baie ander word opsetlik en herhaaldelik verkeerd voorgestel deur beoordelaars wat deur hulle godsdienstige partydigheid, enige mens wat aan die hand gee dat godsdiens A nie 'n monopolie van waarheid besit nie en miskien niks anders as onkunde en bygeloof mag wees, en dat godsdiens B net so goed is as A, dat dogmas en geloofsbelydenisse nie die moeite werd is om oor te stry nie en dat 'n gods-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *30

G. MOERDYK: N.G. KERK DUNDEE (NATAL).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 295 dienstige dweper 'n nare persoon is sonder 'n greintjie barmhartigheid in sy ellendige siel, en dat 'n God van liefde nie genoodsaak is om bevredig te word deur die vertoning van nare vervolgings en haatlike onderdrukking wat ten ere van Hom, tot uitvoer gebring is. Ongelukkig haal min verdedigers van die Kristendom die Bergpredikasie aan. Baie jare gelede het Montaigne die mense aandagtig daarop gemaak dat ‘Il n'y a ancune constante existence ni de votre être, ni de celui des objets, et nous, et notre jugement, et toutes choses mortelles, vont coulant et roulant sans cesse: ainsi il ne peut établir rien de certain de l'un á l'autre, et le jugeant et le jugé étant en continuelle mutation et branle.’ Hiermee sou Anatole France seker ooreenstem. Sisteem het hy gehaat, en die mense wat vir hul verbeel het dat hulle die Kosmos deur 'n formule kon verduidelik uitgelag. Hy het die wat onder die aanmatiging verkeer dat die laaste waarheid aan hulle geopenbaar is, terwyl die res van die mensdom in onkunde lewe, bejammer. France is, ten spyte van die bewerings van sekere vyandige beoordeelaars, 'n diepe denker. Daar is blykbaar geen belangrike filosofiese stelsel, óf oud óf modern, waarmee hy nie bekend was nie. Hy was skrander genoeg om te sien dat stelsels ondergaan terwyl die groot geheim bly. Nieteenstaande al ons geleerdheid weet ons niks meer dan die ou Grieke omtrent die groot probleme aangaande ons oorsprong en bestemming. Anatole France se kultuur is Grieks-Latyn. Sy idee is dat meeste moderne skrywers baie dank verskuldig is aan die ou volke, en daarom verkies hy om direk van die bron te put. Dis bekend dat hy baie meer die ou skrywers aanhaal dan die moderne. Wat is sy leer? Hy dink dat die lewe daar is om te geniet, maar hy ag plesier nie hoog genoeg om sy lewe te wy aan die jag daarna nie. Hy neem dit aan as dit in sy pad kom, maar is verstandig genoeg om nie neerslagtig te wees as dit afwesig is nie. Sy idee is dat skoonheid geniet moet word, dat die begeerte geïnspireer deur skoonheid nie verkeerd of sondig is nie, maar net so natuurlik en wettig soos honger of dors of enige begeerte. Dit is miskien sy voldane beskrywing van fiesiese skoonheid en die begeertes wat dit veroorsaak wat meer as enigiets anders die woede van sy beoordeelaars opgewek het. Sy werke is lank deur die Rooms-Katolieke kerk verband, en alle ortodoks-godsdienstige meesters stem saam dat hy die mees verleidelike en gevaarlike leraar van anargie sedert Renan is. Maar as ons sy werk van naby beskou, vind ons dat hy gladnie so onsedelik of gevaarlik is as wat hy gewoonlik voorgestel word nie. Ongetwyfeld keur hy dogmas en dwepery af, dus om hom regverdiglik te oordeel moet ons Johnson se gesegde voor oë hou, en ons gedagtes van wartaal reinig. In sy lesings oor Rabelais het France die volgende stukkie uit die skrywer van ‘Gargantua et Pantagruel’ aangehaal wat die opienie van die moderne sowel as van die XVIde eeu se monnik en dokter uitdruk: ‘‘Physis (c'est Nature) enfanta

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 296

Beauté et Harmonie... Antiphysie, laquelle de tout temps est partie adverse de Nature, enfanta Amodunt (excès) et Discordance. Depuis elle engendra les matagots (vieux fous), cagots et papelars (faux dévots) et autres imposteurs....’ Veronderstel nou net 'n dweper uit alle godsdienstige sektes, en plaas hulle te same. Voltaire het in sy artiekel oor dwepery in die Dictionnaire Philosophique, die gevolge geskets. Anatole France is op 'n belaglike wyse deur sy vyandige beoordeelaars voorgestel. Jean-Jacques Brousson, skrywer van Anatole France en Pantoufles en van Itinéraire transatlantique - die jong man wat hom na Amerika vergesel het toe die groot skrywer uitgenooi was om 'n reeks lesings daar te gee (hy het Rabelais as onderwerp gekies) - het die spreker belaglik laat lyk. Min mense wat Brousson se werk lees sou dit die moeite werd ag, om die van Pierre Calmettes, wat in die ‘Mercure de France’ (1 Mei 1929) die verdraaiing, vervalsing en verkeerde voorstelling waaraan Brousson hom skuldig gemaak het aangewys het te lees. Dis geen wonder dat Anatole France baie vyande het nie. Dit is wonderlik dat hulle hom met rus in sy bed laat sterf het. In Oktober 1924 het ek onder 'n groot gedrang in Parys sy lykstasie aanskou, en geluister na toesprake waarin hulle sy talent hemelhoog geprys het. Waarlik, dog ek, die wêreld draai, en liberale idees is besig om die mensdom stadig te deurdring. Was hy 'n tydgenoot van Etienne Dolet, dan sou hy nooit so lank gelewe het nie. Dikwels word France wellustig genoem. Die benaming is eg. Hy was meer wellustig as sentimenteel en het waarskynlik uiting tot sy eie gedagte gegee toe hy in Sur la pierre blanche geskrywe het, ‘L'Amour est une passion abjecte... qui trouble les conseils, brise les desseins généreux et tire les penseés les plus hautes aux soins les plus vils et qui ne saurait habiter un esprit sensé.’ Dit sou nogal interessant wees om uit te vind hoeveel van France se vyande wel deeglike ondersoek in die grondslag van hulle ‘credo’ ingestel het. Anatole France het gevoel dat mense oor die algemeen idees aanneem sonder om enige ernstige ondersoek aangaande hulle geldigheid te maak; en die meeste van sy werke is gewy aan die openbaar maak van die dwaasheid, teenstrydigheid, en ydelheid van baie van die mensdom se mees geliefkoosde idees vanaf die begin van die geskiedenis. In Thaïs het ons die welbekende gesprek tussen verteenwoordigers van die vernaamste filosofiese skole in die Alexandrynse tydperk. Elke spreker word geroskam deur die twyfelaar Nucias wat in alle waarskynlikheid namens die skrywer optree. Ortodokse dogma word deur die swyende Paphnuce voorgedra. France is net soos Renan, in die Katolieke leer opgevoed. Weer net soos Renan, is France gewoonlik nie 'n wrede of bittere krietikus nie. Soos 'n ware kunstenaar en 'n opregte heiden, het hy geglo dat 'n mens eenvoudig jou natuurdrif moet volg mits dit deur die verstand getemper word. Anatole France het die hardheid

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 297 van sekere godsdienste met die wrede vervolging wat dit voortbring beskou as misdade, teenstrydig met harmonie en skoonheid - die enige ware oortreding volgens sy waarneming. France het egter nie die Kristendom so erg as die misleide dwepery, wat sy geskiedenis in bloed geskrywe het, aangeval nie. Hy kritiseer alleenlik die karikatuur van Jesus se leer wat baie van sy sogenoemde navolgers verdraai en verlaag het, wat die evangelie van liefde en vergifnis, nederigheid en minsaamheid, as 'n ekskuus gebruik het om te folter soos net die Bose kon. Ook het Anatole France baie simpatieke Kristene geskets - Ahmès, Vivantius, Saint Antoine, Paul le Simple, Flavian, Albine, selfs Thaïs, maar veral Palémon. Hy ontken dat dit toegelaat is om enigeen te knuppel omdat hy weier met ons saam te stem. Die mense wat Anatole France as 'n onnadenkende demagoog beskou, het seker Evariste Gamelin vergeet. Taine se tydgenote het hulle verbeel dat wetenskap die sekerheid kon gee wat godsdiens nie kon nie. Die volgende geslag het egter Positivisme sien afneem en het besef dat wetenskap ook onbekwaam is om die raaisel op te los. In 1913 (Temps, 12 Maart) het France hulde gebring aan Taine omdat hy ‘Cousin se afskuwelike leer’ vernietig het, maar het dikwels beken dat Taine se stelsel tekort kom om enige mens, behalwe die skrywer self, te bevredig. Tot 'n sekere mate het France vir Bergson voorgespring toe hy die verstand eiesinnig en wreed verklaar het. ‘La sainte ingénuité de l'instinct ne trompe jamais. Dans l'instinct est la seule vérité.’ Ons moet nou nie die gevolgtrekking maak dat France die waarde van die verstand ontken nie. Hy het eenvoudig die grense daarvan en die dwaasheid van ons opvatting dat ons die absolute waarheid kon bereik getoon. Die lesers sal die stukkie uit Puits de Sainte-Claire onthou waarin Giovanni na die waarheid soek en 'n wiel in baie kleure verdeel sien. Terwyl die soeker die afwesigheid van waarheid, wit en rein, betreur, begin die wiel te draai, vinniger en al vinniger totdat die kleure almal saamsmelt en die wiel geheelenal wit vertoon. Toe sê 'n stem ‘Contemple la Vérité blanche que tu désirais connaitre. Et sache qu'elle est faite de toutes les vérités contraires, en même facon que de toutes les couleurs est composé le blanc.’ France glo nie in stelselmatige of geen kompromiskennende ontkenning nie. Hy onthou hom eenvoudig van beweringe. Hy is tevrede om net soos Montaigne slegs te twyfel. So'n houding is heeltemal buite die bereik van die meeste mense. Ons is ongelukkig tensy dat ons dink dat ons weet. In 'n beroemde passaat verklaar France sy geloof. Hy sê dat absolute twyfel, absolute stilswye, absolute onverskilligheid beteken. ‘Et puisque je n'avais pas le courage du silence et du renoncement, j'ai voulu croire, j'ai cru. J'ai cru du moins à la relativité des choses et à la succession des phénomènes.’ Aan-

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 298 gesien priesters, geleerdes, towenaars, nog wysgere die regte weg kon aandui, het hy die weg aangedui deur skoonheid gevolg. Dit is natuurlik verkeerd om voor te gee dat France onverskillig is teenoor die ellende van die mensdom. Sy verstand het spot verkondig maar sy hart was vol van medelye. Dikwels het hy geveg vir regverdigheid en sy rol in die ‘Affaire Dreyfus’ strek to sy eer. Ons is almal geneig om enige inmenging in ons gewoontes, konvensies en vooroordele kwalik te neem. Ons vergeet dat alles relatief is en dat die rewolusinêre, so gou soos hy sy doel bereik het, erg konserwatief word. Vooroordele, gewoontes, wette, verander almal van tyd tot tyd. France verklaar dat menslike wette ontstaan deur toorn of vrees; ook dat alleen 'n twyfelaar altyd moreel en 'n waardige burger kan wees, want 'n twyfelaar bied nooit weerstand teen wette nie, daar hy nooit in die moontlikheid van goeie wette geglo het nie. Soos alreeds aangetoon, veroordeel sekere kringe Anatole France as 'n verderflike en noodlottige invloed. Dit skyn egter na noukeurige ondersoek dat sy werk besonder gesond is. Hy dwing ons keer op keer ons opvattinge te ondersoek, om nie ou dogmas aan te neem net omdat hulle oud is nie, maar om te strewe na intellektuele orde, d.i. om onsself wakker te skud van ons gevoelloosheid en om weer op te staan van die débris van ons eerwaardige maar oorwonne illusies. Alle pogings om die man en sy werk te verkleineer is vergeefs. Sy werk is te groot. Hy het geen direkte navolgers gehad nie, en tog is byna al die moderne Franse skrywers hom dank verskuldig. Byna almal was onwillekeurig deur hom beïnvloed. Hy het die moed gehad om te verklaar dat 'n idee nie noodwendig vals is omdat dit gevaarlik voorgestel is deur die wat oor ons sede en maatskaplike orde waak; dat wetenskaplike ondersoek nie belemmer moet word deur etiese of politieke oorweginge nie. Anatole France geval miskien nie die massa nie, maar die skare van opgevoede mense uit alle lande word groter en groter wat behae in sy werk skep. Sy idees word in 'n helder en natuurlike styl heeltemal vry van pedanterie uitgedruk. Sy mooi styl het ook grotendeels daartoe bygedra om sy gedagtes onder mense te versprei wat enigsins die skoonheid, gebore uit die wonderlike knap keuse en rangskikking van woorde, verstaan.

H.P. LAMONT.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 299

Die Jugoslawiese Letterkunde van Vandag.

AAN die end van die wêreldoorlog, toe die wens van die Serwiërs na vereniging verwesenlik is, is ook die uiterlike vorm van 'n Staat geskep. Die Kroate wat met hul verstote aard vas aan hul ou tradiesies hang, is onder die Oostenrykse heerskappy afgeskei van die kulturele lewe van die Serwiërs en aan Duitse - sowel as Italiaanse - invloede blootgestel. Eersgenoemdes weer was deur die eeuelange onderwerping aan die Turkse gesag sterk daardeur beïnvloed. So was daar van die begin af - op politieke sowel as kulturele gebied - twee sentra: Zagreb - Belgrad. Dit sal lank duur voordat hierdie twee teëstellinge, in die lewe geroep deur die verskillende ontwikkelings, in ooreenstemming met mekaar gebring kan word. Weliswaar bespeur 'n mens langsamerhand die invloed van 'n eie staatswese. Die totstandkoming van die Jugoslawiese state het as gevolg gehad die terugdring van die Italiaans-Duitse invloed - ten gunste van 'n nuwe nasionale aandrang. Drie periodes kan in die Jugoslawiese literatuur van vandag onderskei word. Die ouere letterkunde, wat tot omstreeks 1900 strek, was romanties en het onder Duitse invloed gestaan. In verband hiermee noem ons die bekende Kroatiese romanskrywer, Zenoa. Daarop volg die estetisisme en formalisme onder Franse en Italiaanse invloede. D'Annunzio se styl beïnvloed Voinevic en Begovic. Van 1914 af word alle Europese strominge merkbaar: ekspressionisme, dadaïsme, futurisme, hieper-realisme. Die Kroate hel meer oor na die kant van die Duitsers; die Serwiërs na dié van die Franse. Skrywers met sosiale ideë bestaan daar bykans nie. Die begin van dié soort letterkunde, wat Europa en die wêreld verower het, word slegs opgemerk in die arbeiderspers, Boeba (Zagreb), ens. Die einde van die romantiese skool en die oorgang tot die estetiese word gekenmerk deur die geskrifte van die Kroatiese skrywer Babic, wat onder die pennenaam, Xaxer Sandor Dalsk, geskrywe het. Hy is 'n mistikus en 'n leerling van Zenoa, wat sy stof ontleen aan die ou Kroatiese adel, die verhaal van die ‘Kurjen’. Sy beste werke is ‘Narodenoi grudi’ en ‘‘Diljen Doma.’ 'n Dramatiese skrywer van betekenis is die Ragusaïse outeur, Voinovic. Sy materiaal ontleen hy aan die geskiedenis van Ragusa. Sy dramas ‘Ekvinoeitjo’ en ‘Dubrovanka Trilo’ is in baie tale vertaal. In die trilogie behandel hy die ondergang van die Uraïse Republiek. Die eerste deel, ‘Allons Enfants’, speel in die Napoleontiese tyd toe die vryheid verlore gegaan het.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 300

Die twede deel, ‘Dämmerung’ verlê hy na die dertiger jare van die 19de eeu, toe die adel verval het. In die derde deel ‘Na Taraza’ skilder hy die begin van die stryd tussen die Usaiërs en die Kroate in die neentiger jare.

Eers as lierikus en later as dramatiese skrywer het Begovic op die voorgrond getree. Hy was 'n lang tyd in Hamburg as dramaturg besig. Sy eerste lieriese gedigte, ‘Zoe Bocadoro’ het onder die skuilnaam, Xeres de la Maraja, verskyn. In die laaste tyd word daar dikwels gewag gemaak van hom om sy uitstekende dramatisering van Zenoa se bekende roman ‘Diogenes’, wat onlangs sy eerste opvoering in Zagreb beleef het. Simboliese liriek is die kenmerk van die geskrifte van die Kroaat, Nazor, wat die mitologie van die Slawiese oertyd besing in Zivana, ens.

Ook moet nog genoem word die Serwiër Liovan Ducic, Bogdau, Popovic, Pandurovic, die Jugo-Slawiese Shakespeare-vertaler. Die jongstes, vry beïnvloed deur Parys, is almal geniaal, vurig, en dra 'n sterk persoonlike stempel. Elke moderne rigting is onder hul verteenwoordig. Manvilovic, 'n Serwiese lierikus, verbind die ouere en die moderne rigtinge. Hy is as kunstenaar opgevoed en 'n fyn kenner van die Italiaanse kultuur. Die Serwiese vertaling van Pirandello en Nicodemo is afkomstig van hom.

Een van die vrugbaarste skrywers is Sibe Milicic wat die stof vir sy gedigte en novelle uit die Dalmatiese lewe skep. Vyf gedigtebundels en 'n paar novelle het alreeds van hom verskyn. Daaronder is die ‘Buch der Freude’ in twee dele (‘Der Glanz des Tages’ en ‘Der Traum unter dem Sternenhimmel’ en ‘Pinien und Oliven’. Uit die Voivodina kom Crjanska wat sy sterk kunsgevoel in sy geskrifte oor Albrecht Dürer en die Italiaanse kuns tot uiting bring. Zabancic, 'n Sloweense lierikus, het Shakespeare in Sloweens vertaal. 'n Lewendige temperament spreek uit die laaste versameling van die Serwiese lierikus, Dreinatz, ‘Der Bandit und der Richter’. Na hom kom die begaafde jong Serwiese digteres, Desanka Máximovic. Die versameling ‘Klage des Sklaven’ met sy politieke en sosiale inhoud vertoon Ujevicals as beskaafde lierikus. By hierdie moet nog genoem word Dedinatz Ristic, Vuko, en die lierikus Xyklic.

Vry beïnvloed deur die sosialistiese skrywers van die wêreld is Cezaric en Krleza wat in menige opsig aan Barbusse laat dink. Cezaric is beroemd geword deur sy roman, ‘Careva Kraljeva’. Krleza is die leier van die ‘Literêre Rewolusie’ in Zagreb, wat in samestemming met die Duitse ekspressionisme ontstaan het. Tot 1927 het die ‘Knjizevna Republica’ onder sy leiding verskyn. Veral het hy hom op dramas toegelê. Sy laaste is ‘Glembajevi’ die geskiedenis van 'n adellike Oostenrykse generaalsfamielie wat hom nie kon tuis voel in die moderne tyd nie. Die indrukke van sy reis na Rusland skilder hy in 'n boek ‘Eindrücke in Russland.’

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 301

Literêre tydskrifte van 'n algemene aard verskyn in Zagreb en Belgrad. In Zagreb ‘Savremenik’, ‘Hrvatska Revija’, ‘Kritica’ en ‘Vijenac’; daarby nog 'n Katolieke tydskrif ‘Hrvatska Proseda’. In Belgraad ‘Misao’ en ‘Srpski Knjizevnik Glasnik’. ‘Misao’ het sy kring van medewerkers onder wie die genoemde ‘Pandurovic’. Srpski Knjizevnic Glasnik’ is die beste Jugoslawiese letterkundige tydskrif. Dit is opgerig deur die vooraanstaande Serwiese letterkundige krietikus Skerlic. Terwyl vroeër net die ou skool daarin opgeneem is, kom daar vandag alle rigtinge aan die woord. Onlangs is daar in Belgrad die Nolet Uitgewersmaatskappy deur Paul Bihalz gestig, wat moderne Europese literatuur sal uitgee. 'n Tydskrif ‘Nova Literatura’ word ook deur hierdie maatskappy uitgegee.

Barcelona. R. KALTOFEN.

Kunsnuus.

Kunstentoonstelling onder beskerming van Die Afrikaanse Taal- en Kultuur-Konferensie, Bloemfontein, 18 en 19 Desember: J.H. Pierneef, Gordon Leith, Gerard Moerdyk, Anton van Wouw.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 302

Vondel se Beskouings oor Poësie en Taal.

VONDEL is 'n verheerliker van kuns oor die algemeen, maar is besonder geesdriftig waar dit sy eie kuns, poësie, geld. Uit sy werk blyk dit keer op keer en waar die uitsprake ook in 'n mooi vorm gegiet is, besit hulle dubbele waarde. Hier word hulle kronologies nagegaan. Die beginjare is vir Vondel nog 'n tyd van onsekerheid, van proewe, sou 'n mens dit kan noem. Hier en daar, soos reeds in die reie van Pascha en in die stuk self, vind 'n mens 'n sprankie poësie, maar die lering het in die meeste ander gedigte die skoonheid versmoor. Heerlik bloei dit egter in die twintiger jare op en skitterend kon hy in 1626 al getuig:

Maer ghy, ó negental! ó Myterberghgodinnen! Die 'snachts niet min as daeghs gaet waeren door mijn' sinnen: Om wie ick 't leven lieve, en sonder welcke ick niet De majesteyt der sonne aanschou als met verdriet; En droef en eensaem wensch in duysternis te stronckelen:...1)

By die verheerliking van P.C. Hooft, die dros van Muiden, kom hy vanself by poësie te lande en dan klink dit:

Soo is dan Poësy een' Pallas sonder schild En helm; daer dommekracht haer plomp geweer op spilt. Heel anders bloncktghe, doen voor lastertongen veyligh U Ennius verhief, en schatte uw' dichters heyligh....2)

Toe is digters soos Euripides en Homeros geëer. Maar poësie is blywend, want

...... het maetgedicht der overleên Verduurt Aegyptsche naeld, goud, koper, stael en yser.3)

Onder sulke omstandighede het hy vir poësie vryheid opgeëis, want

Poëten draeven noode in voorgeschreve percken.4)

Vir Vondel was die huwelik van P.C. Hooft wat destyds as ‘hooft der Hollantsche poëten’5) beskou is, 'n uitstekende geleentheid om Hooft en sy gemeenskaplike liefde te verheerlik en ook om met sy opvattings voor die dag te kom. Hy kon nie anders as getuig nie, maar laat ook duidelik uitkom watter waarde hy aan poësie heg.

1) Geboortklock van Willem van Nassau r. 25 vlg. (Unger 1626-29). 2) Bruyloftbed van P.C. Hooft en H. Hellemans r. 227 vlg. (Unger 1626-29). 3) t.a.p. r. 286 volg. 4) t.a.p. r. 307. 5) So is Hooft taamlik algemeen in die twintiger jare van die 17e eeu genoem. Kyk Leendertz bl. 67.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 *31

G. MOERDYK. NED. H. OP G. KERK BLOEMHOF, Tvl.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 303

Is dit vreemd dat so'n geïnspireerde en hoogskatter van poësie nie stil kon bly nie wanneer ds. Trigland uit die hoogte

... bulckt: de Poësy die bid den Duyvel aen, Den naerelycken Droes.6)?

Dit moes hom met heilige verontwaardiging vervul en hy moes dit aan die man wat hy om sy optrede verfoei het, op die skerpste wyse sê:

Dat's recht, Trigland, dat's recht. Verbrand die boose prye: Se stinckt, tot in den baerd van uw' Theologye...7)

Vir hom is ‘de Poësie, het Goddelyckst van al’8) en daarom prys hy die ‘goude lettereeuw’9). Hierbo is al gesiteer hoedat poësie bedags en snags sy aandag in beslag neem. In 'n ander mooi gedig van hom, Olyftack aan Gustaaf Adolf, getuig hy weer en net op so 'n gelukkige wyse:

Al d'ope lucht is mijn en verder

...... mijn blyde geest vaart speulen Daar draaiboom sluit nocht heck.10)

So was dit inderdaad: die ongemete heelal word die gebied waarop hy hom beweeg en dan word hy nie deur tyd aan bande gelê nie. Wanneer 'n mens in sy gekruide gedigte sien, hoe hy sy teenstanders op 'n uiters hardhandige wyse aanval en afmaak, sou 'n mens geneig wees om aan te neem dat Vondel dieselfde metode sou volg met beoordelaars van sy poësie. Maar dis nie die geval nie, met dié voorbehoud egter dat dit kritiek moes wees van die kunsgehalte. Dan het hy geluister, al het hy dit soms nodig geag om op die troebelheid van die toetsbron te wys. Hy het die jong digter aangeraai om sy werk, nadat dit voltooi is ‘een goede wijl’ te laat rus. Daarna moet dit verskeie kere, ‘ja zevenwerf’, wanneer die digter helder is, hersien word en dan

laet het gedicht van eenen Aristarchus, ja verscheide keurmeesteren keuren. Deze zullen uitmonsteren al wat misstaet, zoo wel dat de Kunst, als de zeden betreft...... Joocken uwe ooren naer eenen vleier, die elck naer den mont spreeckt, ghy bedrieght niemant dan u zelven. Haetghe den openhartigen bestraffer, die geene gebreken verschoont, zoo blijftghe daer in steecken. Zulcke eigenzinnigen, of eer

6) Decretum Horribile r. 113 vlg. (Unger 1630-36). 7) Decretum Horribile r. 115 vlg. 8) Inwying der Doorluchtige Schoole r. 81 (Unger 1630-36). 9) Inwying der Doorluchtige Schoole r. 89. 10) t.a.p. r. 5 vlg. (Unger 1630-36).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 304

kranckzinnigen, zijn niet te raden, randen menighmael in hun razende kortse al raeskallende de geneesmeesters aen, en leeren wie men schuwen moet.1)

Sy uitspraak is hier duidelik, maar hy het soms ook 'n protes laat hoor teen kritikasters. Hy kon nie verdra dat poësie, wat hy so hoogstel, deur onkundige beoordelaars, wat nie met die grondbeginsels van die kuns vertroud is nie, aangeval word nie, maar sy besware word op 'n waardige wyse ge-uit:

Ick moet by deze gelegenheid ter loop aanroeren, dat luiden, van geen geringe geleertheid, en wetenschap, zich luttel met poëzye bemoeiende, by wylen al te naeuwe en strenge keurmeesters zijn, over deze kunst, en niet wel begrijpen, hoe die te teer en te edel zy, om zulck een harde proef uit te staen, zonder een groot deel van haere aertigheid en luister te verliezen. Men moet haer inwilligen een voegelijck misbruick, of liever een noodige vryheid...2)

Die verset is blykbaar gerig aan die beoordelaars wat in kunssake meer die verstand as die gevoel wil laat spreek en daarom poësie met 'n ondigterlike maatstaf, 'n puur wetenskaplike, wil meet. Wie tog het in daardie dae so goed soos Vondel besef dat allerhande beperkende reëls en wetjies die kunstenaar verhinder om hoë vlugte te neem?

Vondel self het aan die kritiek hoë eise gestel. So herinner hy elders aan 'n uitspraak van Montaigne:

dat dichten lichter valt dan van gedichten te oordelen, en men de Poëzy afmeet met eene zekere korte maete van onderwijs en kunste, maer de goede, beste en goddelijcke Poëzy hooger draeft dan de regels, en de reden: dat elck een, die haere schoonheit bespiegelt, de Poëzy niet meer ziet dan het weerlicht en flickeren des bilxems, aengezien zy ons oordeel niet te wercke stelt, maer dat verruckt, en wechruckt.3)

Van groot waarde vir die verstaan van Vondel se opvattings, sowel as die gebruike van sy tyd, is die prosa-inleiding tot die eerste versameling van sy gedigte wat hy ‘aen eijnen afwezenden Vrient (Unger 1642-45) rig.

Hy sê dat kuns ‘langk’ is. Niemand word met die kuns gebore nie, wèl met die ‘treck tot de kunst’. ‘Men klimt, al hijgende en zweetende, van langer hant, de steilte van Parnas op.’ ‘Oeffeninge en wackerheit’ slyp die vernuf en struikel leer opmerk. Al die werk word ook nie in 'n goeie stemming gedig nie; daarom wens hy dat 'n deel van sy ‘groene en onrijpe vaarzen’ nie herdruk sal word nie. Toe hy verneem dat 'n uitgewer ‘op het sterck aanhouden eeniger Maecenaten en beminderen der Nederduitsche Poëzye’ gewillig is om sy verspreide gedigte te herdruk sal hy ‘moeten

1) Aenleidinge ter Nederduitsche Dichtkunste (Unger 1648-51). 2) ‘Opdracht’ by Gebroeders. 3) Opdrag by Ondergang van Troje. (Unger 1654-55).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 305 gedoogen, dat men voor kunst mede opveile eenige rijmen, en regels, nutter gescheurt, en verworpen.’

Hy som dan op wat hy geskrywe het en al word net die toneelstukke by die naam genoem, is Hierusalem Verwoest die eerste een wat in aanmerking kom. Sy hekeldigte noem hy blykbaar ‘Saterdichten’. Hy maak verskoning vir baie van die groen werk, ‘hy ontschuldige het naar het saizoen, waar in die vrucht gewassen is, of boete zijnen lust met het beste uit te picken....’ Die vertalings erken hy nie as syne alleen nie, omdat ander meegehelp het. Dan sê hy beslis:

Onderwint zich iemant voortaan noch iet anders van 't verleden, op mijnen naem, buiten mijn kennis en bestemminge, te drucken; men houde het niet voor mijn, maar voor een anders werck.... Ick verworp ook al wat, onder boven gemelde gedichten niet begrepen, oit door my ontijdigh voortgebrocht, en op papier gekrabbelt, van mijnen vrient Pers, of iemant anders uitgegeven, den dagh onwaardigh, en den nacht der vergetenisse toegedoemt zy.

Dit bewys in alle geval dat hy vir sy werk besliste eise gestel het en dat hy terdeë selfkritiek moes toegepas het, maar dit getuig ook van sy beskeidenheid. By die groter publiek het sy naam toe, in 1644, al 'n seker markwaarde gehad.

Klassiek is die digter se opvatting van ‘dicht’ en ‘ondicht’ nl. prosa en poësie:

...... behalve dat dicht en ondicht, of vaers en onvaers onderling verschillen, gelijck trompetklanck en bloote stem, en het vaers een stem, door een drieboghtige trompet kragtigh uitgewrongen, gelijck is.1)

Hier kla hy in verband met vertalings uit Latyn in Nederlands by die vermaarde geleerde en digter Konstantyn Huygens tegelykertyd sy nood oor ‘d' ongelijckheit der beide talen, en heuren ongelìjcken aert en eigenschappen’. Baie moes verlore gaan, selfs ‘bloemen en geuren van welsprekentheit.’ Beter sou dit gewees het om die Hofswaan van Augustus ‘in rijm en op maet’ te laat sing het, maar dan sou hy meer van sy vere moet gelaat het, ‘ïndien men zijnen geest door benaeutheit van voeten en rijm bestont te prangen en te knijpen, en uit verlegenheit te rucken, te plucken, en ter noot doorgaens met geleende pluimen van rijm en noodige stopwoorden te decken.’ Om sy siel beter te kan uitbeeld het hy dit in prosa gedoen.

Dié uitspraak het meer waarde as 'n mens bedink dat dit geüit is deur iemand wat seker maklik kon rym.

Vondel se beskeidenheid kom baie uit waar hy van sy vertaalwerk praat. Een staaltjie is al aangestip. Hy was erkentlik, daarom het hy die name van

1) Opdrag aan Konstantyn Huygens by die prosavertaling van Publius Virgilius Maroos Wercken (Unger 1646).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 306 sy deurlugtige helpers dankbaar genoem,1) maar 'n mens voel tegelykertyd dat dit ook sy sug om die naam van een of ander outoriteit aan so'n werk vas te koppel, bevredig het.

Hyself het baie waarde aan vertalings as vooroefening vir die gebruik van sy moedertaal geheg. Hy raai jong Nederlandse digters aan om eers vertaalwerk te onderneem.2)

Hy het juis, om sy hoë eise, gevoel met watter moeilikhede 'n vertaler te doen het:

Rijm en maet, waer aen de vertolcker gebonden staet, verhindert oock menighmael, dat de vertaelder niet zoo wel en volmaecktelijck naspreeckt, 't geen zoo wel en heerlijck voorgesproken word; en yet van d'eene tael in d'ander, door eenen engen hals te gieten, gaet zonder plengen niet te werck...3)

Vondel was 'n warm taalman. Soos bekend was hy, P.C. Hooft, Laurens Reaal, Antonis du Hubert4) en ander ywerige studente van die moedertaal. Sy puristiese neigings kom goed uit by die lof wat hy het vir Wessel van Boetselen se vertaling van 'n deel van Du Bartas.5) Hy loop 'n skynbare omweg om die ‘onduytsche Pleyters’ die swyge op te lê, want ‘ghy hebt uw tael vergeten.’ Hulle kan dan eers ‘in 't Hof’ kekkel as hulle hul ‘moeders tong’ gaan haal het. Die vertaler het daarin geslaag om die ‘Phoenix der Poeten’ ‘in plat en suyver duyts’ oor te sit. So moet gepraat word, dan kan 'n landsman dit verstaan;

...... ontleent geen vreemde stof, D'uytheemsche Walen schout, en maket niet soo grof.

Dit was in 1622.

In die ‘Voorrede’ van Palamedes het hy dit ook oor die spellingkwessie. Hy konstateer dat daar nog vryheid gelaat word en daarom het hy maar oor die algemeen ‘den gemeenen sleur’ gevolg. Hy wys op die pogings in Frankryk om die spelling te hervorm ‘en juyst schryven gelijck men spreekt’. In Holland sal egter nuwe letters van die alfabet nodig wees.

(Word vervolg.) M.S.B. KRITZINGER.

1) Vgl. die opdrag by De Amsteldamsche Hecuba waar hy sê dat dit nie sy werk alleen is nie; ook in die opdrag aan Huygens by die prosavertaling van Vergilius; opdrag aan Maria Tesselscha Roemers, weduwe A. Krombalck by Elektra. 2) Aenleiding ter Nederduitsche Dichtkunste (Unger 1648-51). 3) Opdrag by Elektra. 4) Vgl. die noot by Het Lof der Zee-Vaert (Unger 1621-25). 5) Op de Vertalinge van de Eerste Weecke, van G. de Saluste, Heer van Bartas. Gedaen door Heer Wessel van Boetselen. (Unger 1621-25).

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 307

By die Werk van G.W. Pilkington.

'N Vriendelike talent - 'n man vir wie die wêreld nie 'n tranedal is nie, al het hy ook as sy onderwerp die see gekies. 'n Man van gesonde begrippe, wat gevoelig is vir skoonheid, wat fiesiek deur die soutwater aangetrek word, wat die ruwe geweld van die see maklik verdra, wat die twee Oseane ken; - hy bly nie ver van die plek af waar die Atlantiese en Indiese oseane mekaar ontmoet nie - en wat hulle ken by verskeie stemmings en wat die verskillende kleure en vorme van die see skilder sodat dit maklik is om dit te verstaan en te aanvaar. Hy is die antipode van sy moderne Europese vakgenote. Hulle sien die wêreld dramaties en as 'n groot probleem. Hulle lewe in 'n tyd en in 'n wêreld van groot beroerings - maatskaplik en psiegies - en hul voortbrengsels van kuns druk dit alles uit. So is Pilkington nie. - Dié dramatiek bly vir hom 'n skouspel. Hy het dit suiwer aangevoel maar nie deurleef nie. Daarom is sy kuns aangenaam vir die een wat nie in sy siel gegryp wil word nie. Strindberg as skrywer, Grosz en Dix as skilders sal deur die meeste van ons mense nie maklik geniet word nie. Daarenteen sal die meeste van ons Pilkington se werk kan liefhê. Kyk hoe skilder hy die Kaap de Goede Hoop. 'n Romantiese onderwerp, ons ontkom nie aan die assosiasies wat die naam wek nie. Eén van die wêreld se landmerke is daar. Maar die fyn spel van die golfslag is deur die skilder net so belangrik gegee as die suggestiewe Kaap in die verte. So dikwels word gehoor dat die atmosfeer van 'n jong land soos ons s'n nie gunstig is vir die ontluik van 'n eie kuns nie. Die atmosfeer, die klimaat op geestelik gebied is anders as in die lande met hulle ou kultuur - maar ook hier ontluik 'n eie kuns met sy eie vorm en kleur. Die werk van 'n man soos Pilkington, Afrikaner van Engelse afstamming, is tiepies vir ons land. Dat daar egter verband is met die kunsvorme van die land waar vandaan sy famielie afkomstig is, is nie te ontken nie en is ook te verwag. Daar is verband met die volk van afkoms in die werk van elke Afrikaner. Maar daar is eenheid tussen die werk van almal. En tot die Afrikaanse Gemeenskap van kunstenaars behoort ook George Pilkington.

P. VIERHOEK.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 308

Hedendaagse Kerkgeboue.

IN Suid-Afrika, meer as in enige ander land, is die kerkgebou die tasbare simbool van samewerking van die volk. Elke Afrikaanse dorpie het tenminste een kerk, en dis altyd die grootste, die mooiste en die mees prominente gebou. Dikwels kan mens myle ver in die omtrek die kerktoring sien. Dis 'n vername faktor in ons samelewe, want ons is, as volk, geneig om te afhanklik te wees. Oral word regeringshulp en geld gevra; die kerk is die enigste maatskaplike gebou wat ons uit eie kragte oprig, en daarom is dit die pronkgebou van elke gemeente, selfs al is dit klein en eenvoudig. En terwyl die gebou self ook van so groot waarde is, is dit ons plig om sorg te dra dat dit so doelmatig en so kenmerkend moontlik gebou word.

Die kerkgebou moet twee essensiële hoedanighede bevat, - die een is skoonheid, die ander is duursaamheid. Dis die oord waar, die alledaagse opsy gestoot, die mens trag om tot besef van homself en sy Skepper te kom, en of hy met 'n hart vol vreugde of 'n siel vol droefheid hierheen kom, hy soek sielstevredenheid en die is alleen verkrygbaar in 'n atmosfeer waar niks stoor nie, waar alles rustig is.

Die Europese Katedrale wat uit die bloeityd van die Roomse kerk dateer, behoort tot vandag - toe nog tot die sienswaardighede van die wêreld. En sodra mens die saak ontleed en na die rede hiervan soek, vind mens dat die ou katedrale die twee essensiële hoedanighede besit. Elkeen wat binnetree kom onder die indruk van die kalme skoonheid en rus wat daar heers, dit streel die menslike gemoed en bevredig die verlange van die menslike strewe. Vir die Katoliek bevat die katedraal alles wat hy nodig het, want seremonie vorm 'n vername deel van sy erediens, die Protestant egter kan die katedraal nie vir sy dienste gebruik nie. Van die Reformasie af het die gebruike van die twee kerke so ver uitmekaar gegroei dat dieselfde gebou nie vir albei doelmatig is nie.

Dit spreek vanself dat ons dus 'n nuwe tiepe moet ontwikkel om 'n kerkgebou te verkry wat aan alle benodighede van ons dienste sal voldoen, en hier, soos by alle kuns, het ons 'n ryke verlede, nie alleen wat die vorm van die gebou betref nie, maar ook op argitektoniese gebied. Met wysiginge word stadigaan 'n kerkgebou ontwikkel wat paslik is vir ons diens, wat by ons landskap pas, wat gebou word uit Afrikaanse materiale, in 'n eg Afrikaanse gees.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 309

Die eerste byeenkomste van 'n plegtige aard het rondom die graf plaasgevind, en daarna by die monument. Die mens het van vroee tye af die verlange gevoel om gemeenskap te soek met die Onsigbare. Die tabernakel het as direkte simbool van die Godsdiens gevolg, daaruit het die Altaar in die Roomse Kerk en al sy vertakkinge, en die Preekstoel met die Bybel in ons kerk, voortgegroei. Die vroëere geboue, naamlik die Indiese Tempels, het alleenlik gedien as monumente waarom die massa vergader het. Hulle was meestal groter en meer kosbaar as ons hedendaagse kerke, maar alleen die priesters mog ingaan. Die kerk as 'n gebou waar die volk binne kon kom om hulle dienste te hou, is 'n veel latere ontwikkeling.

Die oorspronklike plan van die kerk soos ons dit vandag ken, is gebaseer op die Romeinse basielika. Met die groei en ontwikkeling van die Roomse Kerk is later Westerse torings bygevoeg, aan die Oostekant is die koor en die Altaar geplaas, die muur is versier met 5 vensters. Toe die daktorings te swaar word, is die 2 vlerke uitgebou as stutte. Hier het ons dan die oorspronklike kruisvorm-kerkplan. Met die Reformasie het die Koor en die Altaar verval en in hulle plek het die Preekstoel gekom. Hierdie plan is tot hede toe grotendeels vir alle kerke gebruik. Vanuit die oogpunt van die Gereformeerde diens gesien, bevat hierdie plan en verdeling baie nadele. Die ruimte om die preekstoel is klein, die akoestiek is uiters sleg, die posiesie van die orrel ongerieflik. Hier was dan verskillende dinge wat in die plan verander moes word.

Om 'n meer doelmatige rangskikking te verkry wat die orrel en preekstoel betref, word die preekstoel, wat tot hiertoe in die middellyn van die skip van die kerk geplaas was, diagonaal geplaas, en die een vlerk word die konsistorie met 'n gallery daarop. Deur hierdie betreklik klein verandering in die grondplan word dadelik 'n hele groep van moontlikhede geopen. Vir net soveel wysiginge en variasies soos die ou kruis vatbaar was, net soveel argitektoniese inspirasies bied die nuwe plan aan. Die twee grondbeginsels sal egter hulle essensiële verskille behou. Met die besondere getalsterktes en behoeftes van verskillende gemeentes word die plan ontwikkel. Deur die meer gekonsentreerde gebruik van die ruimte word die akkoestiekprobleem wat vandag 'n fynuitgewerkte wetenskap is, ook makliker opgelos.

Van die plan van die kerkgebou kom mens vanself na die argitektuur van die gebou. Argitektuur is nie 'n wetenskap wat langs harde lyne en strenge vorme opgetrek word nie. Dis 'n kuns, en soos alle kunste is ook argitektuur lenig en toepaslik van vorm. Daar is baie bykomende elemente wat in aanmerking geneem moet word. Een van die vernaamstes hiervan is miskien die omgewing waarin die gebou geplaas moet word. Selfs vandag nog besef min mense dat verskillende omgewings verskillende geboue eis. Dat

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 310

'n gebou wat op die een plek mooi lyk al sy aantreklikheid verloor as hy sonder wysiging na 'n ander plek verplaas word. Vir hierdie rede moet 'n argitek, buite enige tegniese kennis wat hy besit, noodsaaklik ook kunstenaar wees. Hy moet die skeppinge van sy brein voor sy geestesoog kan sien voordat hulle in klip of steen oorgesit is, hy moet weet hoe die gebou sal groepeer met die bome, bosse, berge of vlaktes wat dit sal omring as dit voltooi is. Hy moet sorgdra dat die gebou met sy omgewing 'n harmoniese eenheid sal vorm en al hierdie dinge is net moontlik as hy simpatie met die gees van die omgewing gevoel, dit studeer en dit verstaan. Hierin lê die rede hoekom so baie van die geboue in ons land so totaal onpaslik lyk, hulle staan uit, nie as fyngemerkte kontraste nie, maar as storende elemente in 'n omgewing wat by hulle geen weerklank vind nie. Hulle is ontwerp deur vreemdelinge, dit wil sê deur mense wat hulle ‘boutradiesies’ heelhuids van elders saamgebring het, wat geen ag slaan op die poësie van die besondere landstreek nie, en smelting tussen wat die Natuur daar geplaas het en wat die mens daar wil plaas totaal verontagsaam. As ons oor argitektoniese vorme praat, dink ons dadelik aan Oud-Hollandse gewels. Dit is vir ons die enigste eg Afrikaanse vorm. Dat die Oud-Hollandse boustyl, in sy gepaste omgewing, dit wil sê, in die omgewing waarin dit ontstaan en ontwikkel het, ongetwyfeld skoon en aantreklik is, is buite kwessie. Maar om te veronderstel dat Oud-Hollandse gewels onveranderd op enige plek in Suid-Afrika net so aantreklik is, is heeltemal verkeerd, en daar is geen konkrete vorm waarin ons hierdie gewels kan verander nie. Vir die leek skyn so 'n toestand van sake baie verwarrend, vir die Afrikaanse argitek egter lewer dit probleme op wat al sy belangstelling en skeppende hoedanighede dadelik wek. Hy sien hierin 'n kans om 'n boustyl te ontwikkel wat nasionaal en kenmerkend van sy volk sal wees. Elke gebou lewer moeilikhede op wat opgelos moet word, en baie van die moeilikhede kom keer en weer voor. Deur hierdie moeilikhede op die mees doeltreffende wyse elke keer op te los, word eenheid van karakter verkry, wat mettertyd in 'n styl ontwikkel. Materiale ook veroorsaak toepassing van styl, want dit is net so vernaam om die gees van die materiale lokaal te hou as om die gebou in harmonie met sy omgewing te bring: die een vloei feitlik voort uit die ander. Met die uitsoek van die beste materiaal om te gebruik, moet in die eerste plek die doel van die gebou in die oog gehou word. Die plegtigheid van die kerkgebou eis die skoonste en mees verfynde materiale wat lokaal verkrybaar is. Met lokaal word nie juis bedoel dat die klip wat gebruik word noodsaaklik op die plek self of binne 'n myl of twee uit die grond gehaal moet word nie, of dat die stene langs die bouterrein gebrand moet word nie; wat bedoel word is dat materiale gebruik moet word wat, as enigsins moontlik, saamstem met die algemene karakter van die landstreek waar die gebou opgetrek word.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 311

Ons hoor dikwels dat Suid-Afrika geen bruikbare klip besit nie omdat daar geboue is, van Suid-Afrikaanse klip gebou, wat lelik lyk na verloop van 'n paar jaar, omdat die klip verkleur en verweer. Oral is daar slegte materiale verkrybaar en gewoonlik in baie groter hoeveelhede as goeie. Die rede hoekom verskeie van die klipgeboue in Suid-Afrika sleg lyk, is omdat die persone, wat verantwoordelik was vir die uitsoek van die klip, geen ware kennis daarvan gehad het nie en dikwels te on-Afrikaans was en nie genoeg belang in die saak gestel het om dit die moeite werd te ag 'n deeglike studie te maak van die hoedanighede van die materiale wat hulle gekies het. Suid-Afrika besit net so mooi en bruikbare klip van alle soorte soos enige ander land van die wêreld. Wat die optrek van die mure van 'n kerkgebou betref, is daar geen mooier materiaal as klip nie, soms fyn bewerk, soms ru gelaat, al na die geaardheid van die klip en die karakter van die omgewing. In ons land, soos in alle nuwe lande, speel geld 'n groot rol. Baie gemeentes kan 'n klip gebou nie bekostig nie. Daar is volstrek geen rede hoekom 'n baksteen-kerk nie baie mooi sou wees nie, net klip word as eerste op die lys geplaas. Vir die dak is lei, waarvan ons baie duursame soorte in Suid-Afrika het, of teëls, die mees geskikte materiaal om te gebruik. Sink is lelik, on-Afrikaans en ondoelmatig omdat dit na verloop van 'n paar jaar begin roes en lek. Binnekant word ons kerke streng eenvoudig gehou, tog behoef dit geen rede te wees om hulle nie mooi te maak nie. Houtpaneelwerk en fynbewerkte klip maak 'n pragtige muurbekleding wat strelend op die gemoed werk; sagte verligting, verkry deur die gebruik van amber-gekleurde glas vir die vensters, gee 'n atmosfeer van rustigheid wat onmisbaar is. Met oorleg en simpatieke studie van ons besondere behoeftes en moeilikhede en deur die beste materiale op die mees doeltreffende wyse te gebruik, sal ons dan 'n kerkgebou verkry wat kenmerkend Afrikaans is en albei die essensiële hoedanighede - skoonheid en duursaamheid - sal bevat. En later, as ons geslag vergaan het, en ons sedes en gewoontes tot die dinge van die verlede behoort, dan sal ons kerke nog bly staan. Hulle sal 'n weerspieëling van ons tyd verskaf, hulle sal bewys lewer aan die nageslag van die standvastigheid, samewerking en volharding van die volk wat hulle voorvaders was.

G. MOERDYK.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 312

Die Modernisme in Musiek.

NET so min as dit moontlik is vir 'n vlieg, wat op die behangselpapier sit, om die figure op die papier te beskou, so is dit vir ons onmoontlik om die toestand van die hedendaagse kuns in sy juiste perspektief te beskou. Ons kan ernstig bestudeer, ondersoek, maar om te oordeel, veral veroordeel, sal minstens onverstandig wees. Laat ons dus begin om ons te wapen met die feite wat die musiek- en musiekkritiekgeskiedenis ons gee. Dan pas sal ons in staat wees om die modernisme-probleem te nader en sien in hoeverre ons kan oordeel of veroordeel. Dit is om te begin duidelik dat die begrip ‘modern’ relatief is. Omdat 'n komposiesie in 1929 gemaak is, word dit nie daardeur as modern bestempel nie. Daar word vandag nog baie musiek gepubliseer (en nie alleen musiek nie, maar selfs sg. wetenskaplike of opvoedkundige werke) wat die tydgees van één of meer eeue gelede reflekteer. Die begrip modern hang dus af van die verhouding van die indiwidu teenoor sy tyd. Die geskiedenis leer ons egter hoe versigtig ons moet wees in ons oordeel oor ons eie verhouding teenoor die periode waarin ons lewe. Laat ons eens ondersoek die juistheid van die oordeel van bevoegde krietiesie oor Komponiste, van wie die tyd ons hul ware grootheid bewys het; bv. Schumann as Komponis en die kritiek wat in Engelse koerante van die tyd verskyn het van die hand van Davison e.a. Ons mag die voorbeeld veilig gebruik omdat volgens die mening van die meerderheid van musiekkenners Schumann nie meer as modern opgevat word nie. Hul sê dan van die Quintette: ‘Ons gee dit op om Dr. Schumann te probeer waardeer, as dit die beste is wat hy kan doen. Dis taamlik duidelik, en minder gewring as ons dit van hom gewoon is; maar in drie van die vier gedeeltes is die idees dor. Wat grandioos bedoel is, is net lomp, wat skitterend moet wees, is net gejaag, wat sg. vloei is bewegingloos, en in 'n kritiek op die Ouverture, Scherzo en Finale op. 52 o.a., ‘Die wanhopige pogings van iemand, wat sy kuns nooit goed bestudeer het nie, en die gebrek aan kennis probeer bedek onder 'n mis van pedanterige grootdoenery.. Die hele werk is 'n ontleding onwaardig, omdat dit nie deugde besit nie.’ Ja, dis oor Schumann. Die ‘beroemde’ krietikus Davison wat komponeer opgegee het by gebrek aan inspirasie en vaardigheid, om ander, wat dit beter geken het as hy,

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 313 te sê hoe hul dit behoort te doen, 'n pedant, wat, omdat Richard Wagner die onvergeeflike flater begaan het om Mnr. Davison nie agterna te loop nie om hom versigtig voor te berei op die Tannhäuser-Ouverture, het oor die werk die volgende geskryf: ‘Nadat ons die werk vir die twede maal gehoor het, kan ons nie rede vind ons opienie te verander nie. Selde is aan 'n publiek 'n meer opgeblase vertoning en lawaai voorgelê, en dit is jammer dat so 'n pragtige orkes hul tyd moet verknoei in nuttelose kragsinspannings, om iets tot stand te bring wat, selfs al was dit moontlik, nêrens toe sou dien nie.’ Verder sê hy: ‘Ons neem aan dat hy 'n baie knap man is, maar sy werke lewer die duidelike bewys dat, hoe knap sy werk ook teoreties mag wees, dit nie musikaal is nie. Nog één so 'n serie konserte sal die ondergang wees van die ‘Philharmonic Society’. Ons lees die kritieke en vra onsself met verbasing af, hoe dit moontlik is, dat 'n man, wat tog baie kennis van musiek moes hê, soiets kon skryf. Die minste musikaal-ontwikkelde mens van teenwoordig beskou die werke van Schumann tog nie as wanstaltig, of Wagner as 'n niksseggende lawaai nie? Was die mense in die verlede dan so veel kortsigtiger as ons? Tog seker nie. Die krietiesie is iets versigtiger en veroordeel nie meer wat hul nie kan verstaan uit vrees om hul te kompromiteer nie. Maar in onsself dink ons oor ons tydgenootkomponiste nie baie verstandiger as in die verlede die geval was nie. Die faktore wat saamwerk tot die treurige toestand is tog betreklik maklik te vind. 'n Oorspronklike genie doen dinge op 'n ander manier, al is sy innerlike doel ook dieselfde. Die moderne is gewoonlik modern in sy vorm van uitdrukking, Beethoven in sy Sonaten, Wagner in die musiek-drama. Die mens is van nature behoudend en beskou iets, wat anders is as hy dit gewoon is direk met wantroue. Dit gee die komponis aanleiding om hom te isoleer, om hom af te sonder van die groot stroom, wat sy nuwe idee, wat, na sy insigte die beste is, bedreig. Die gevolg is dat hy al verder en verder van die algemene gedagtegang afgaan en meer en meer vervreem van die opvatting van die massa. Om dit te illustreer laat ons die geval van Stravinsky en Schönberg neem. Albei het in hul eerste werke groot onafhanklikheid getoon. Stravinsky se werk het groot byval gevind. Hy het weer in aanraking met en dus onder invloed gekom van die massa-gedagte en sy later komposiesies keer al meer en meer terug na die ‘ou paaie’. Schönberg kon nie genade vind in die oog van sy publiek nie, hoewel die Gurrelieder tog regtig nie so buite die bereik van die gemiddelde musikale intellek lê nie. Hoewel 'n paar musisie van groot bekwaamheid en kennis hul bewondering te kenne het gegee oor Schönberg se werke, waardeer die publiek hom nie. Hy staan te ver af van die massa-gedagte. Die logiese gevolg is

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 314 dat hy meer en meer vervreem van die musiek-samelewing en selfs vir die simpatieke en ernstige ondersoeker is dit baie moeilik om 'n punt van aanknoping te vind in sy later werke. Die mens hou daarvan (die geniale natuurlik uitgesluit) om alles, waarmee hul in aanraking kom te formuleer of vas te lê; om 'n seker standaard te bepaal waarna hy alles kan be- of veroordeel. In werklikheid is dit dus die groot massa wat homself isoleer, die behoudende groep wat die natuurlike proses van ewolusie probeer teenwerk. Laat ons dit probeer toelig met 'n voorbeeld. Die stryd wat daar tans woed teen die ultramoderne het, soos in die begin van die verhandeling aangetoon is, altyd bestaan. Die bitter stryd wat gewoed het teen Wagner en sy skool lê by baie nog vars in die geheue. Dit het begin met enkelinge wat verklaar het dat hulle die kuns van Wagner bewonder en geniet. Die musiekwêreld was selfs in kampe verdeel, wat elkeen hul afgod aanbid het. 'n Vereerder van Brahms het vol veragting neergesien op die volgelinge van Wagner, en vice versa. En vandag sien ons die wonderlike verskynsel dat 'n mens die skoonheid van Wagner se werk kan bewonder sonder Brahms se werk te verafsku, in teendeel. Inderdaad is dit vandag die enkeling wat die werke van die meester beskou in die lig van 60 jaar gelede. Maar is die vereerder van die nuwe meester nou verstandiger in 'n algemeen musikale opsig? Het hy 'n les geleer van die oorwinning van sy afgod se kunsvorm? Helaas lyk dit of elke generasie die les opnuut moet leer. Die entoesiastiese Wagneriaan van 40 jaar terug beskou die werk van sy afgod as die alpha en omega van die kuns en wil met verdere ontwikkeling niks te make hê nie. Die eerste fout wat 'n mens begaan, is om te probeer om die kuns wat ewig is, aan bande te lê en te begrens. Elke nuwe fase van die kuns moet weer opnuut met baie moeite, wat nie selde gepaar gaan met ellende en gebrek vir die baanbreker nie, sy bestaan regverdig. Een van die redes waarom dit lyk of die proses in die oog van die leek met spronge gaan, lê in die geringe mate van kennis van musiek wat die publiek besit. Hulle draai altyd in dieselfde ou kringetjie rond, terwyl 'n ruimer kennis sou openbaar dat die ewolusie baie geleidelik gaan. Die afstand tussen Beethoven se laaste werke en Wagner se eerste is nie so groot nie. Maar sit 'n mens die Mondschein-Sonate naas die Tannhäuser-Ouverture, dan is dit 'n groot verskil. Maar dan, die Mondschein-Sonate en werke van die aard is ongeveer al waarmee die groot publiek vertroud is wat Beethoven betref, en dieselfde kan ons sê van die gen. Ouverture van Wagner. As 'n mens nooit verder gegaan het as Berceuse of Nocturne in Es van Chopin nie, ja dan klink Ravel se Jeu d'eau maar snaaks en ongerymd. Delf nou dieper in die werke van Chopin en bekyk die eerste part van die 3de Klavier-Sonate, beluister die harmonie goed, in die eerste tien mate na die dubbele maat en 'n

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 315 mens sal 'n ander kyk kry op Chopin en, tegelykertyd op die ontwikkelingsgang van die musiek. Sien 'n mens in Schönberg se werke reekse van secunde's of in Casella reekse groot-septieme dan meen ons iets nuuts gevind te hê. Bekyk nou Bach se Kantate: ‘Ich hätte viel Bekümmernis’ die eerste koor, waar die Soprane en Alte die volgende sing:

Ons weet wel dat dit deur Bach polifonies gedink is, maar dit verander niks aan die hoorbare effek nie. Moderne komponiste soek ook nuwe moontlikhede in vreemde ritmiese figure, wat soms selfs die vorm aanneem van die vreemde verskynsel dat die maatstrepe van die verskillende partye nie saamval nie, soos in Willem Pyper se werke baie die geval is. Maar laat ons nou die volgende ekstrak van dieselfde Bach-Kantate, wat al eerder in die verhandeling aangehaal is, goed bekyk. Die swaar lyn gee aan waar Bach die maatstrepe inderdaad gesit het, die ligte lyne waar hul volgens die gehoor behoor te staan:

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929 316

'n Moderne komponis sou dit waarskynlik soos volg geskryf het:

Let op dat die aanduiding van Bach 3/4-maat absoluut nie ooreenstem met die natuurlike ritme van die tema, wat suiwer 5/4 is nie. Die saak is as ons weet dis van Bach, dan is ons te veel geneig om met 'n halwe oor te luister en, bloot op grond van die naam van die komponis, waarvan ons tenminste weet dat hy lank voor ons gelewe het en goed en wel dood en begrawe is, aan te neem dat ons gehoor die kunsvorm tenminste baas is, ja miskien daar wel bokant staan. In die eenvoudigste twee stemmige Inventionen kan 'n mens die mees ‘moderne’ harmoniese verskynsels waarneem, as 'n mens net daarna soek. Verder sê die konserwatiewe mens, as die musiek welluidend is, sal hy dit geniet, dit kom daar nie op aan of dit nou modern of voorhistories is nie. Maar daar lê juis die moeilikheid. Wat is welluidend? Hoe dikwels is nie as bewys dat wat ons voorouers 'n ‘niksseggende lawaaï’ noem nie, deur ons as strelend beskou word? In die loop van die eeue is bewys dat die begrip ‘welluidend’ relatief is. Dit hang af van die ontwikkelingstandaard van ons gehoor. Ons kan aanneem dat die gehoor van 'n Sjinees tenminste anders ontwikkel is as ons s'n, of dit hoër of laer staan, sal ons in die midde moet laat. Probeer dan eens om te geniet wat 'n Sjinees mooi noem? Volgens die opienie van 'n Sjinees aan die ander kant klink ons musiek allesbehalwe aangenaam. Sonder twyfel sal die geskiedenis hom herhaal en die tyd kom dat die mense smalend sal neersien op 'n generasie wat die musiek van 'n Alan Berg 'n sinlose lawaai genoem het. Om die verskillende modernes se werk in onderdele te beskou, is nie die bedoeling van hierdie verhandeling nie. Dis meer die regverdiging van die moderne idee in die algemeen wat beoog word. GERRIT BON.

Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929