Hoopvol. Derick Vd Walt
Total Page:16
File Type:pdf, Size:1020Kb
Hoopvol B.F. (Derick) van der Walt Roman voorgelê ter gedeeltelike nakoming van die vereistes vir die graad MA (Kreatiewe Skryfkuns) aan die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns/Afrikaans Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van Pretoria Studieleier: Prof Henning Pieterse Pretoria 2012 1 © University of Pretoria Hoopvol B.F. (Derick) van der Walt Roman voorgelê ter gedeeltelike nakoming van die vereistes vir die graad MA (Kreatiewe Skryfkuns) aan die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns/Afrikaans Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van Pretoria Studieleier: Prof Henning Pieterse Pretoria 2012 2 © University of Pretoria DEEL 1 One look at love And you may see It weaves a web Over mystery, All raveled threads Can rend apart For hope has a place in the lover’s heart. Hope has a place in a lover’s heart. (Hope has a place, Enya) 3 © University of Pretoria Vooraf Wat hy agterna van dié aand onthou het, was nie die reuk van sy ma en sy sussie se brandende lywe of hulle huis en hulle goed wat binne minute voor sy oë in die vlamme verdwyn het nie. Ook nie die haartjies op sy arms wat van die hitte geskroei het of die klomp mense wat voor hulle huis saamgedrom het nie. Wat hy agterna onthou het, was Tannie Pop van langsaan in haar blou kamerjas en die doekie om die kop wat met haar tandlose mond geluidloos geskree en geskree en geskree het. Hoe hy later op 'n trein na Pretoria met sy ma se handsak van groen, nagemaakte volstruisleer op sy skoot beland het, kon hy ook nie meer heeltemal onthou nie. Daar was net een ding in sy kop, dit onthou hy goed. Hy het geweet hy moes op ‘n manier by die varsproduktemark in Pretoria uitkom. Agterna was hy verstom dat hy so blindelings op ‘n trein met sy ma se groen handsak geklim het sonder om vir iemand te sê. Maar hy onthou dat hy toe heeltemal seker was. In Johannesburg het daar vir hom niks oorgebly nie. Ja, hy was seker, dit onthou hy goed. 4 © University of Pretoria Hoofstuk 1 "Braniwalia. Twee opmekaar." Tant Lettie hou die leë glas na Nathalie sonder om haar oë van die dokument voor haar op die tafel te haal. "En sê vir Lukas meer ys." Sy vat 'n handvol grondboontjies en rosyne uit die bakkie voor haar op die ronde tafeltjie en druk dit in haar mond. Kou ingedagte terwyl sy lees. "Wat van jou, Sista?" Tant Lettie lig haar kop en kyk kouend na die skraal, donkerkopvroutjie wat met haar hande agter haar rug gevou, stip deur die Rose and Crown se venster na Hoopvol se hoofstraat staar. "Laetitia, ek vra, nog 'n wyntjie?" vra Tant Lettie. Die vroutjie voor die venster reageer nie. Haar smal skouertjies hang. Die gesiggie is stroef agter die swartraambril. "Bring vir Sista nog 'n wyntjie met ys on the side," sê Tant Lettie vir Nathalie. "Ek moes eintlik al gegaan het. Dis al na ses," sê Nathalie stug. "Nathalie, Nathalie," sug die tannie. Sy leun met haar groot lyf agteroor en sit die dokument voor haar op die tafeltjie neer. Stop nog 'n handvol grondboontjies en rosyne in haar mond. Sy kyk Nathalie 'n ruk kou-kou op en af. "Toe ek jou by die Rose aangestel het, het ek nie gedink jy is a nine-to-five-girl nie." Sy draai na Laetitia wat steeds met 'n frons tussen die oë, hande agter die rug na die dorp se hoofstraat staar. "Sista, ek sê, ek het mos nie gedink Nathalie is 'n nine-to-five-girl nie. Ek het mos vir jou gesê ek dink sy het potential," sê Tant Lettie harder. Laetitia antwoord nie en die tannie draai na Nathalie. "Nathalie, jy het 'n uitsoekjoppie op hierdie dorp losgeslaan. Hier is nie goeie werk vir julle jongetjies nie en toe val jy met jou stert in die botter. Die grootste en enigste hotel op hierdie dorp. En smiddae staan jy in die Rose and Crown se prime lounge rond en jy hoor van my en Sista se planne en strewes vir hierdie dorp. Jy is deel van die binnekring. Ek sien jy luister en jy moet nie net luister nie. Jy moet léér ook." Sy tel weer die dokument op en skuif haar bril reg. "Wie weet wat lê nog alles vir jou hier voor? Maar as jy 'n nine-to-five-meisie is, dan het ek my bekommernisse en my bedenkinge." 5 © University of Pretoria "Maar ek het al voor ses vanoggend begin en ek moet nog vanaand Missis Chalmers-hulle se wasgoed gaan was," sê Nathalie verontwaardig. "Kan Missis Chalmers nie self haar wasgoed was nie?" Nathalie antwoord nie. Dit sal nie help nie. "Ek sê, Missis Chalmers se hande is seker nie lam nie of hoe?" Sy beduie Nathalie ongeduldig met haar een hand weg en begin deur die dokument blaai. "Ja, toe, bring ons drinks en dan kan jy gaan." "Maar jy moet 'n slag mooi dink, my dogter," hoor Nathalie toe sy by die hotel se privaatsitkamer uitstap. "Jy het hier 'n kans wat jy moet gebruik. Jy moet dalk so 'n bietjie ambisie aanleer. Ek sê mos jy het potential. The bigger picture, my girl. Kyk bietjie wyd." Nathalie stap vies met die donker trap af. Die uitgetrapte, wynrooi mat waarna sy elke middag kyk. Die muwwe reuk van baie jare en baie menslywe het in die mat en die mure ingetrek en sy is seker hier dwaal ou spoke rond van mense wat oor die jare by hierdie trap op en af is. Sy draai regs in die gangetjie wat na die kroeg lei om vir Lukas die bestelling te gee. 'n Geleentheid? 'n Geleentheid om op hierdie terugplek in die Karoo 'n lewe in 'n simpel hotel te maak. Om deel te wees van die binnekring waar twee middeljarige anties smiddae sit en wheel and deal om hierdie dorp en sy inwoners om hulle pinkies te draai? Die burgemeester en die hoteleienaar. Laetitia en Lettie. Geleentheid? Big deal. Maar dalk is die ou vrou reg, dink Nathalie terwyl sy haar trui stywer om haar trek toe sy by die hotel se groot houtvoordeur uitstap. Dit word koel in die Karoo as die son sak, al is dit deur die dag so warm dat die dorp se enkele teerstraat in die son begin lewe. Sy stap vinnig in die laatlig op die sypaadjie by die enkele besighede in die hoofstraat verby, almal nou reeds toe. Daar is nie werk op Hoopvol nie en sy het gekry. Sy kan dalk iets daarvan maak. Sy kyk na die son wat 'n rooi strepie om die Karookoppies in die weste trek. Die straat is stil. Na ses is dit sepies en goedkoop wyn vir die meeste mense op Hoopvol. Dan ry mense eintlik nie meer in die dorp rond nie. Vir die handvol bevoorregtes wat teen Ryk-Mielie-se-kop aan die regterkant van die dorp bly, 6 © University of Pretoria dalk whiskey of 'n ordentlike rooiwyn uit die Kaap, maar vir hulle gewone mense: net nog 'n dag voordat alles môre weer van voor af begin. Sy kyk na die reuse-sandsteenkerk in die middel van die dorp met die lang vinger van God wat die lug in wys. Gedoop en aangeneem. Alles vroom en ordentlik in dié kerk, vir haar wat Nathalie is. Sy ruik die stof in die lug en ril. 'n Verhuisingstrok ry luid met die hoofstraat af en ruk-ruk met kreunende remme tot stilstand by die stopstraat in die middel van die dorp. Die trok trek weer steunend weg en verdwyn in die rigting van die rooi strepie op die horison. ‘n Mens stop nie sommer hier as jy nie moet nie. Sy hoor die bromponie al van ver en sy weet dis Gielie. Hy ry stadiger toe sy verby PEP in die hoofstraat stap. Hy ry ‘n ruk langs haar sonder om iets te sê. Sy ignoreer hom. "Ons gaan pool speel by die Rose. Jy moet kom Nat.” Nathalie loop vinniger. "Ek kom nou net van die blerrie plek af." "Ja man ek weet, maar jy moet kom," sê hy ongeduldig. "Gielie, ek is moeg. Nie vanaand nie. En ek moet wasgoed was." Gielie ry verby en maak 'n u-draai in die hoofstraat. Hy stop ‘n entjie voor haar op die sypaadjie. Hy haal die helmet van sy kop af. "Nat, jy sal moet vrede maak. Ons bly net hier. Kom ons maak nou maar iets hiervan." "Nie vanaand nie." Gielie maak weer sy helmet vas en trek raserig weg. “Bel as ek jou moet kom haal,” skree hy oor die geraas van die bromponie. Arme ou Gielie. Hy glo nog aan 'n wonderwerk, dink Nathalie terwyl sy verby die plat geboutjie stap wat as Hoopvol se poskantoor dien. Verby Aalwyn en Tonteldoos, die twee gastehuise waar Tannie Door en Tannie Mollie sy aan sy om die enkele verdwaalde reisigers wat op dié dorp vir petrol of iets te ete stop, se aandag en kredietkaarte baklei. En Donderdagaande sit hulle hand om die lyf by die biduur in die pastorie. Sy stap verby die boekehuis waar toeriste uit die Noorde met baie tyd en geld ronddwaal en hulle verwonder aan die oulike dorpie. Môre ry hulle verder na hulle vakansie in die Kaap of na hulle regte lewens in die besige Johannesburg 7 © University of Pretoria of Pretoria. Dalk ‘n tweedehandse boek gekoop of ‘n skilderytjie van ‘n plaaslike kunstenaar. Of dalk ‘n bottel over-priced wyn wat tannie Breggie van Polfyntjie Karoo Curiosa vir ‘n appel en ‘n ei by Pick n Pay in Kaapstad koop en hier ten duurste aan die toeriste verkwansel.