Etiek En Toeskouerskap Deur Die Lens Van Michael Haneke Se Amour
LitNet Akademies Jaargang 15, Nommer 2, 2018, ISSN 1995-5928 Verantwoordelike rolprentvervaardiging: etiek en toeskouerskap deur die lens van Michael Haneke se Amour Dian Weys Dian Weys, onafhanklike navorser Opsomming Aangesien ons moderne samelewing deur die media oorweldig word, stel Michael Haneke voor dat filmmakers ‘n verantwoordelikheid het om gehore aan te moedig om aan ‘n film se betekenisskeppingproses deel te neem, veral wanneer dit kom by die uitbeelding van geweld. Wat behels hierdie verantwoordelikheid? Stanley Cavell verduidelik dat, omdat toeskouers tydens die filmkykproses onsigbaar is, film ‘n beroep op ons moderne begeerte doen, nie vir mag oor die wêreld nie, maar eerder die wens om nie mag nodig te hê nie en om nie die laste van ‘n ander te dra nie. Dit is ‘n probleem, glo ek, veral wanneer iemand anders se werklike swaarkry en lyding as bronmateriaal gebruik word, omdat filmmakers dié werklike ervaring wederregtelik in besit neem vir vermaaklikheidsonthalwe. Indien die filmkykproses ons kwytskeld daarvan om die laste van die wêreld te dra en dus verligting bied van die opneem van verantwoordelikheid, argumenteer ek dat ons nie mag wens om nie die laste van iemand anders te dra nie. Ons is, soos Emmanuel Levinas argumenteer, verantwoordelik vir mekaar. Hoe poog Haneke om, tegnies gewys, sy gehore bewus te maak van hierdie verantwoordelikheid? Judith Butler sê dat ‘n begrip van verantwoordelikheid net bereik kan word wanneer ‘n ek-heid die perke van selfkennis erken. Daarom, indien ons, soos Butler sê, net bewus kan raak van die ondeursigtigheid eie aan ons menswees wanneer ons gekonfronteer word met die ondeursigtigheid van ‘n ander, argumenteer ek dat Haneke, deur sy fragmentariese aanslag ten opsigte van die beeld, redigering en klank, sy gehoor in verwantskap plaas met ‘n film wat hul met die perke van hul selfkennis konfronteer.
[Show full text]