28 April 2017 Beste Ouer/Voog NUUSBRIEF 2/10 Welkom Terug Na
28 April 2017 Beste Ouer/Voog NUUSBRIEF 2/10 Welkom terug na die vakansie. Ons sien uit na ‘n besige kwartaal, met ons midjaareksamen as die akademiese hoogtepunt. Hierdie is ons wintersportkwartaal (hokkie, netbal, landloop en rugby). Tydens Maandag se saalbyeenkoms het ons ons gasspreker, mnr. Dylan Wray, die graad 12- leerderraad-verteenwoordigers van Masimbambane Secondary School en al ons onderhoudpersoneel, verwelkom. Mnr. Wray het oor die historiese belang van Werkersdag en Vryheidsdag met ons leerders gesels. In die lig van die Werkersdagvieringe het ons die kampus se onderhoudpersoneel aan die leerders en die personeel voorgestel en hulle vir die harde en soms ondankbare werk om ons skool instand en skoon te hou, bedank. PERSONEELSAKE Baie geluk aan me. Monica Evans wie se oudste dogter, Nina, op 8 April in huwelik getree het. AKADEMIE Geskiedenis Op Woensdag, 26 April, is ‘n seminaar oor Afrika aan die Geskiedenisleerders in graad 12, aangebied. Dertig leerders van Masimbambane Secondary School het ook die werkswinkel bygewoon. Die seminaar is deur me. Isa Swanepoel en me. Gill Sutton, ‘n spesialis in Afrikageskiedenis, aangebied. Afrikaans Op 23 Maart het Emma Beckley (graad 8), Carla Naudé (graad 9) en Gracious Izaks (graad 11) aan die ATKV-redenaarskompetisie by Hoërskool Parel Vallei deelgeneem. Baie geluk aan Carla en Gracious wat na die halfeindrondte, wat op 26 Mei plaasvind, deurgedring het. SPORT Tennis Die Wes-Kaapse Disa-tennisspan het vanaf 1 – 4 April aan die Suid-Afrikaanse Interprovinsiale- toernooi vir hoërskole in Pretoria, deelgeneem. Die volgende leerders was deel van die onder 19- span: Marno Stander (graad 11), Kyler Hugo (graad 8) en Daniela Davidyan (graad 10).
[Show full text]