Die Tracing History Trust En Die Voc-Daghregisters
Total Page:16
File Type:pdf, Size:1020Kb
DIE TRACING HISTORY TRUST EN DIE VOC-DAGHREGISTERS Helena Liebenberg 15 Oktober 2016 “De Tafel Baij geleegen aende Cabo de Bona Speranca, op 34 grade” deur Johannes Vingboons, c. 1665. (Bron: Grote Atlas, p. 68. Nationaal Archief, 4. VELH 619.37) Die Tracing History Trust en die VOC-Daghregisters voordrag gelewer deur Helena Liebenberg op Saterdag, 15 Oktober 2016 tydens ’n byeenkoms van die Orde van den Prince, Afdeling Kaap de Goede Hoop gehou by SASNEV, Pinelands, Kaapstad 1. Inleidend Hartlik welkom by vandag se besondere byeenkoms waartydens die Tracing History Trust se nuutste CD met die transkripsies van die VOC-Daghregisters van 1704, 1706 en 1709 amptelik bekend gestel word. Voordat eksemplare hiervan aan die einde van die verrigtinge aan die belanghebbendes oorhandig sal word, maak ek graag van die geleentheid gebruik om kortliks en oorsigtelik die gang van die Trust se VOC-Daghregisterprojek te skets (vgl. Stand van VOC-Daghregisters op bl. 18-19 vir verdere inligting), enkele interessanthede in die reeds getranskribeerde bande te noem en ten slotte op die pad vorentoe te wys. Al die VOC-dokumente was in 17e- en 18e-eeuse Nederlands, aan die begin in Gotiese1 skrif soos links bo in die skets, maar later toegankliker vloeiskrif, dog wisselend van baie moeilik tot makliker leesbaar. Om Afrikaans- Die plan van ’n waterbak, ontwerp en geteken deur Kommandeur Zacharias Wagenaer, 1663 (Grote Atlas, bl. 131: NA, 4. VEL 827) 1 Transkripsie van teks: Dese stene drinc=water-back met sijn sluijs/ begrepen ongevaer een goede / steen-voor aende West- zijde / van t fort de Goede Hoop / en ook soo verre van ’t zee / strant, te lanck sesthien / Roeden, vier ditos breet en op / eenige plaetsen vier op andere / vijff voeten diep, cunnende / om de clippen die daerin / leggen niet dieper gegraven/worden. 2 moedertaalsprekend te wees, is ’n vereiste as transkribeerder en redigeerder van VOC-dokumente. Waarom? Omdat ons verstaan wat ons lees, aangesien Afrikaans uit 17e- en 18e-eeus ontwikkel het en in die nouste verband daarmee staan. Die “ons” verwys na ’n span met onkreukbare toewyding vir die taak. Die Resolusies is in amptenarytaal, die Daghregisters in ontspanne, dog boeiende styl, beide deur opgeleide penniste (skribente) geskryf. Hierdie dokumente word aangevul uit ander reekse wat ons getranskribeer het, o.a. skeepsjoernale, testamente, vendusierolle en inventarisse, met lg. opgeneem deur ‘geleerde’ én ‘gewone’ mense. Dieselfde taal is gebruik tydens die Bataafse bewind toe die Kaap weer Hollands was (1803 – 1806), asook in die meerderheid dokumente ná die tweede Britse oorname in 1806 tot 1834 waar ons TEPC-werk afgesluit het. Hierdie dokumente is egter net ’n druppel in die woord-oseaan van wat nog beskikbaar gestel moet word. Ingang van die Kasteel Kaap de Goede Hoop, vesting waar al die dokumente geskryf is 2. Die Tracing History Trust Die Trust is na afhandeling van die TEPC-projek in 2008 geregistreer as niewinsgewende entiteit met die doel om verdere Kaapse Argiefdokumente, asook dié wat ontbreek en in die Nationaal Archief in Den Haag gehuisves word, te transkribeer en sodoende toeganklik te maak. Tans word selfs twee van die dagregisters in moderne Engels vertaal. Benewens die projek waaroor ek vandag gesels, was die Trust ook by ander projekte betrokke, o.a. die VOC Vrijlieden Lists (CD) met Cordis en die Van Ewijck-stigting as borge, asook die volgende projekte waarby dr. Antonia Malan betrokke was, nl. Outsiders within oor die Lutherse Kerkargief in Strandstraat en die Sandveld-projek. Ons hartlike dank aan elke spanlid vir die kundigheid, ywer, deursettingsvermoë en entoesiasme waarmee die onderskeie take uitgevoer is, word en sal word. Sonder volgehoue bydraes van gehalte, is die deurvoer van projekte met hierdie omvang net nie moontlik nie. Dit help egter nie dat daar gewillige en bekwame spanlede is maar geen geldelike ondersteuning nie. Hiermee dus ook ons hartlikste dank aan ons borge vir hulle ruim en volgehoue ondersteuning, in die besonder Van Ewijck-stigting en die Genealogiese Genootskap van Suid- Afrika wat vanoggend hier verteenwoordig word. 3 3. Die VOC-Daghregisters – algemeen 3.1 Die jare Die volgende dagregisters wat in die Kaapse Argief ontbreek, is in 2010 deur fotograaf Johan Liebenberg in die Nationaal Archief, Den Haag, afgeneem: 1687, 1692, 1695: Simon van der Stel 1699: Simon en Willem Adriaan van der Stel 1700, 1704, 1706: Willem Adriaan van der Stel 1709: Louis van Assenburgh 1713: Willem Helot (waarnemend) 1714: Maurits Pasques de Chavonnes, en 1789: Cornelis Jacob van de Graaff Slegs 1713 en 1714 moet nog getranskribeer word en die Trust wag aanbiedings van befondsers in. THT se fotograaf, Johan Liebenberg, in die Nationaal Archief, Den Haag 3.2 Algemene kenmerke • Getrou aan die naam, dagregister, is die belangrikste gebeure daagliks aangeteken; daar word begin met die weervoorspelling, hoe die wind waai, of daar reën in sig is, is dit warm, koud, bedompig of droog. As dit mooiweer is, is dit so beskryf met woorde soos “lievelijke sonneschijn” of “doorschitterende straalen” (bl. 195, 1704). Milde reën was altyd welkom en dan is dit soos volg beskryf: “Dese nagt heft ’t mooitjes beginnen te regenen” waar mooitjes meer as een betekenis het ... Vergelyk ook “vlaeghie soeten regens” (bl. 261, 1695) en “fijntjies begon te motregene” (bl. 36, 1706). 4 • Die penniste (skribente) het mekaar gedurende die jaar afgewissel, want soms was daar twee handskrifte, of drie, selfs vier – oor die algemeen netjies en op die oog af leesbaar. • Slegs die vroeë dagregisters het marginalia, d.w.s. kantaanteekeninge, gehad. • Agt van die elf dagregisters ter sprake val in die Van der Stel-tydperk van Simon en sy seun Wilhem Adriaen. 4. Kantaantekeninge by die dagregisters Hoewel die aandag vandag val op Wilhem Adriaen van der Stel se 1704- en 1706- en Louis van Assenburgh se 1709-dagregister, verwys ek vlugtig na interessanthede tydens die bewind van die Van der Stel-pa en -seun. Waarom? Want oorsaak en gevolg is, soos ons sal sien, van die uiterste belang asook dat ’n mens aan jou woorde en dade geken word; jy word ook daaraan gehou en onthou. 4.1 1687, 1692, 1695 en 1699 – Simon van der Stel, van Kommandeur tot Goewerneur Simon van der Stel wat die Kaap de Goede Hoop vir 20 jaar bestuur het, is op 10 Desember 1679 aangestel as 11e en laaste Kommandeur en eerste Goewerneur vanaf 1 Junie 1691 tot 2 November 1699 met sy aftrede toe sy seun Wilhem Adriaen hom opvolg. Uit die dagregisters blyk dat hy baie dinamies, energiek en begeesterd was. Hy was diplomaties en kreatief, besit integriteit en administratiewe vaardighede. Hy neem die voortou en lei sy kudde, was vroeg in die oggend op en uit en laat in die aand eers terug by die Kasteel. Daar was konsternasie toe Simon in 1687 een keer “onpasselijk” was (bl. 654, 1687) – dis so aangeteken, die eerste en laaste keer wat hy in dié vier jaar op papier siek(erig) was. Hy was sekerlik nie sonder foute nie, maar onder sy leierskap het dit goed gegaan aan die Kaap. 4.1.1 In 1687 gebeur die volgende • Simon van der Stel kon dit nie verdra as mense loodgeswaai het nie, soos blyk uit die volgende: Omdat daar min of geen vordering met die Kerk en “Raadshuijs” van Stellenbosch was, het hy die timmermanne en steenmakers gestraf en ’n ultimatum op vordering gestel. Dit was nie lank daarna nie, toe is al die balke gekap en die houtwerk voltooi, die stene gebak en gedroog, en die geboue spoedig daarna voltooi. Die eerste preek in die nuutvoltooide kerk word op 19 Oktober gehou. • Die Politieke Raad raak bekommerd oor die groot aantal Franse skepe wat meteens in die Kaap aankom, soveel so dat hulle al die VOC-dienaars oproep, selfs die knegte op die plase in die distrikte. In Junie vind die besoek van die Franse vloot plaas, die ene edelmanne ... Soos te verwagte, vind etlike swaardgevegte, “duellen”, plaas. Die Jesuïete en hulle biskop op een van die Franse skepe is nie toegelaat aan land nie, want hulle was Katolieke geestelikes, selfs al was een van hulle baie siek (bl. 412); later is hulle versoek “schoorvoetend” (bl. 413) toegestaan sodat die man asseblief mediese behandeling kon ontvang. Selfs die vryburgers is opgeroep ingeval die Franse aanvalsplanne het. Vryburger Jan St. Jan, eintlik Jean de St. Jean2, is gevonnis omdat hy met die Franse bevriend was en dit durf waag het om aan boord van een van die Franse skepe te gaan (bl. 428). Na vertrek van die groot Franse vloot het rus en vrede weer op die Kaap neergedaal. 2 Hy is ’n Fransman en waarskynlik ’n Protestant, hoewel hy nie as sodanig gelys is nie. Die Fransman, chirurgijn Renault Berthault de St. Jean kom in 1712 in die Kaap aan; sy vrou en seun Reynault volg hom in 1720. 5 • Die jaarlikse “papagaijskiet” (bl. 524) vind op 5 Oktober op Stellenbosch plaas; vandaar Papegaaiberg tot vandag toe. Die byeenkoms was darem nie gerig op lewendige papegaaie in Van der Stel se Bosch nie, maar op ’n houtpapegaai wat as skyf gebruik is om die burgers se skietvermoë te toets. Later vind die jaarlikse burgermagopleiding vir die volwasse mans plaas. Die Politieke Raad gee opdrag dat “knegties van negen tot derthien jaren ouderdom” ook opleiding moet kry en as hulle nie opdaag nie, sou die ouers gestraf word (bl. 668, 669). • Vroeg die oggend van 16 Oktober vertrek die Kommandeur van Stellenbosch af na die Bergrivier, vergesel van die vryburgers wat aansoek gedoen het vir grond om te bewerk. Hy baken die gebied af van Simonsberg, die Parel Diamant en Drakenberg, die eerste twee aan hierdie kant en die derde aan die ander kant van die Bergrivier.