Verby Komatipoort? Rasseproblematiek in Die Portugees-Afrikaanse Reisverhale Van Elsa Joubert
Total Page:16
File Type:pdf, Size:1020Kb
VERBY KOMATIPOORT? RASSEPROBLEMATIEK IN DIE PORTUGEES-AFRIKAANSE REISVERHALE VAN ELSA JOUBERT. LIZETTE GROBLER Tesis ingelewer ter gedeeltelike voldoening aan die vereistes vir die graad van Magister in die Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Stellenbosch. Studieleier Prof. Siegfried Huigen Desember 2005 Ek, die ondergetekende, verklaar hiermee dat die werk in hierdie tesis vervat, my eie oorspronklike werk is en dat ek dit nie vantevore in die geheel of gedeeltelik by enige universiteit ter verkryging van ’n graad voorgelê het nie. Handtekening: Datum: 1 September 2005 Bedankings My opregte dank aan: • My promotor, professor Siegfried Huigen, vir sy lankmoedigheid en skerpsinnige kommentaar • My eksaminatore, professor Louise Viljoen en professor Ena Jansen, vir hul insiggewende terugvoer • My eggenoot, Kobus Grobler, vir sy geduld, liefde, aanmoediging en ondersteuning • My ouers Albé en Suzie Bakker, vir hul gebede, taktvolle onderskraging en liefde • My skoonouers, Kobus en Jessie Grobler, my familie en ander pleitbesorgers vir hul ondersteuning, liefde en gebede • My vriendinne Retha Schoeman, Naomi Bruwer en Jihie Moon vir hul inspirasie en aanmoediging • My oupa, Freddie Bakker, wat my voorgraadse studie moontlik gemaak het • Al die dosente van die Departement Afrikaans en Nederlands, veral dr. Ronel Foster, vir hul hulp en belangstelling. • Mev. Hannie van der Merwe en mnr. Trevor Crowley wat gehelp het met die manuskrip se voorbereiding • My Hemelse Vader vir sy ruim oorskulp en groot genade. Erkennings Hiermee word erkenning verleen aan die volgende instansies wat finansieel bygedra het tot die voltooiing van hierdie studie: • Die Universiteit van Stellenbosch (Stellenbosch 2000-beurs, Nagraadse Merietebeurs, DP de Klerk-beurs) • Die Harry Crossley Foundation (Harry Crossley Foundation-beurs) • Die Rapport Hulpfonds (Rapport Hulpfondsbeurs) • Die Stichting Studiefonds voor Zuidafrikaanse Studenten (Stichting Studiefonds voor Zuidafrikaanse Studenten-beurs) INHOUDSOPGAWE INHOUDSOPGAWE 1 HOOFSTUK 1 3 INLEIDING 3 HOOFSTUK 2 11 DIE BEREIDWILLIGHEID TOT GETUIENIS: ELSA JOUBERT EN RASSEVERHOUDINGE IN SUID-AFRIKA 11 HOOFSTUK 3 29 DIE RESEPSIE VAN DIE STAF VAN MONOMOTAPA EN DIE NUWE AFRIKAAN: ’N SINCHRONIESE EN DIACHRONIESE ONDERSOEK NA VERSKUIWENDE WAARDE-OORDELE 29 3.1 Inleiding 29 3.2 Teoretiese onderbou: resepsie-analise volgens H.T. Boonstra 30 3.3. Aanvanklike resepsie 35 3.3.1 Aanvanklike resepsie van Die staf van Monomotapa 35 3.3.2 Aanvanklike resepsie van Die nuwe Afrikaan 40 3.3.3 Interpretasie van resultate en relevante parallelle ontwikkelings 45 3.4 Latere Resepsie 54 3.4.1 Latere Resepsie in Literatuurgeskiedenisse 54 3.4.2 Gevolgtrekking oor latere resepsie 62 3.5 Gevolgtrekking 64 HOOFSTUK 4 66 HISTORIESE KONTEKSTUALISERING VAN DIE PORTUGESE KOLONISERING IN AFRIKA 66 4.1. Inleiding 66 1 4.2. Kolonialisering van Mosambiek en die onafhanklikheidstryd 66 4.3 Kolonialisering van Angola en die onafhanklikheidstryd 74 HOOFSTUK 5 79 Vergelykende bespreking: die representasie van enkele aktueel relevante temas in Die staf van Monomotapa en Die nuwe Afrikaan 79 5. Inleidend 79 5.1. Koloniale geskiedenis 80 5.1.1. Koloniale geskiedenis in Die staf van Monomotapa 80 5.1.2 Koloniale geskiedenis in Die nuwe Afrikaan 93 5.1.3 Gevolgtrekking 97 5.2. Kulturele assimilasie 98 5.2.1 Kulturele assimilasie in Die staf van Monomotapa 98 5.2.2 Kulturele assimilasie in Die nuwe Afrikaan 105 5.2.3 Gevolgtrekking 111 5.3. Manifestasie en bewustheid van interne weerstand, Afrikanasionalisme en die onafhanklikheidstryd 112 5.3.1 Manifestasie en bewustheid van interne weerstand, Afrikanasionalisme en die onafhanklikheidstryd in Die staf van Monomotapa 113 5.3.2 Manifestasie en bewustheid van Afrikanasionalisme en die onafhanklikheidstryd in Die nuwe Afrikaan 124 5.3.3 Gevolgtrekking 144 5.4 Gevolgtrekking 145 HOOFSTUK 6 147 GEVOLGTREKKINGS 147 BIBLIOGRAFIE 154 2 Hoofstuk 1 Inleiding Elsa Joubert se status as gekanoniseerde skrywer is die afgelope vyf dekades deurlopend bevestig deur literêre toekennings vir haar prosa: vanaf die Eugène Marais-prys wat sy in 1964 ontvang het vir Ons wag op die kaptein (Kannemeyer, 1983: 315) tot en met president Mbeki se toekenning van die Orde van Ikhamanga wat sy op 29 Oktober 2004 ontvang het vir “haar letterkundige bydrae en haar vroeë betrokkenheid as skrywer by die Afrikaproblematiek” (Williamson, 2004: 2). Ook die buiteland het erkenning verleen aan haar werk met die toekenning van die Winifred Holtby-prys van die British Royal Society in 1981 (Kannemeyer, 1983: 315), die Laurence Olivier-toekenning vir die beste toneelstuk in 1984 en die Obi- toekenning vir die beste draaiboek (Redakteur, s.a.). Haar bekendste werk, Die swerfjare van Poppie Nongena, is selfs benoem as een van Afrika se honderd beste boeke van die eeu (Cape Librarian, 2002: 8). Ten spyte van al hierdie toekennings en erkenning wat sy ontvang het vir haar prosa, en die feit dat sy in literatuurgeskiedenisse bestempel word as een van die beste reisboekskrywers in Afrikaans, het sy nie op literêre gebied erkenning ontvang wat haar omvangryke bydrae tot hierdie genre uitsonder nie. Vanuit die nie-literêre geledere tóg wel: Charles Fryer skryf in ’n huldeblyk aan haar (1999: 8) dat die eertydse president, Nelson Mandela, haar en haar man Klaas Steytler vir ete genooi het gedurende sy ampstermyn laat in die negentigerjare. Mandela het een van haar minder bekende reisboeke, Die staf van Monomptapa, gelees terwyl hy sy tronkstraf uitgedien het op Robbeneiland en die indruk wat dit op hom gemaak het, het gelei tot dié uitnodiging na ’n private ete. Met haar tagtigste verjaarsdag, 38 jaar na die verskyning van Die staf van Monomotapa, “verneem sy van Mandela dat die boek vir hom ’n baken van hoop was. Dit was die eerste keer dat hy kennis geneem het van ’n Afrikaner ‘wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart-wit regering in Suid-Afrika’” (Botha, 2002: 28). Gesien teen die agtergrond van die beskouings oor reisliteratuur in Suid-Afrika gedurende die twintigste eeu, waarvolgens hierdie genre nie juis gewig gedra het teenoor die fiksionele prosa nie en akademies afgeskeep is tot en met die introduksie van postkoloniale studie (sien ook Viljoen, 1998: 7), is dit seker nie onverklaarbaar nie. Oor die reisverhaal in Afrikaans het daar 3 net een omvattende studie getiteld Die reisverhaal in Afrikaans (1979) van M.C.A. Seyffert verskyn.1 Joubert se reisverhale was nog nooit die afsonderlike onderwerp van ’n magistertesis of doktorale proefskrif nie, alhoewel Beukes al in 1982 as onderdeel van haar tesis Die skryfkuns van Elsa Joubert onder andere die tekstuele samehang en Afrikagerigtheid van Die nuwe Afrikaan bespreek het en Viljoen in haar artikel “Die vroue-reisiger: Elsa Joubert se reisverhale Water en woestyn en Die verste reis en haar roman Die reise van Isobelle” (1998: 7-28) hoofsaaklik Karen Lawrence (1994) en Sara Mills (1991) se reisteorie benut om Water en woestyn en Die verste reis te verken. Sy verwys ook vlugtig na die representasie van die reiservaring in Die nuwe Afrikaan wat moontlik gelees sou kon word as “postkoloniale diskoers”. Binne Joubert se oeuvre beklee die reisliteratuur ’n belangrike posisie en Viljoen konstateer ook dat “die reisbeskrywing – ook dié van Elsa Joubert – ondersoek in eie reg verdien” (1998: 11). As in ag geneem word dat sy die eerste Afrikaanse reisboekskrywer was wat na die Tweede Wêreldoorlog oor Afrika geskryf het (sien ook hier Seyffert, 1979) en dat die kwessies wat sy veral in haar latere reisboeke ondersoek het, van aktuele belang was binne die intellektuele diskoers van haar tyd, is hierdie gebrek aan erkenning opvallend. Die twee reisverhale, Die staf van Monomotapa (1964) en Die nuwe Afrikaan (1974) het die reise van die verteller2 in die twee Portugees-Afrikaanse kolonies as onderwerp en ondersoek spesifiek die Portugese “oplossing” vir koloniale rasseproblematiek binne ’n konteks van toenemende Afrikanasionalisme. As inwoner van ’n gedeeltelik “gedekolonialiseerde” republiek, wil die verteller nagaan of die heel spesifieke beleid van “kulturele assimilasie” binne ’n koloniale opset die antwoord kan bied op rassekonflik en ook of dit uiteindelik die verblyf van Europeërs in Afrika sal verseker (1964: 9). Die tema van hierdie twee boeke vorm die sentrale vraagstuk van hierdie tesis: die representasie van rasseverhoudinge in die Portugees-Afrikaanse reisverhale van Elsa Joubert. Die Suid- en Suider-Afrikaanse rasseproblematiek was ’n kwessie wat die Suid-Afrikaanse intellektuele debat veral sedert die dertigerjare oorheers het, onder andere in aansluiting by die 1 Dit is ook nie my bedoeling om binne die bestek van hierdie tesis ’n literatuuroorsig van die teoretiese perspektiewe op reisliteratuur te gee nie, aangesien ek die analise van die representasie van rasseproblematiek as oogmerk het en nie die tekste as gevallestudies wat reisteorie illustreer, wil hanteer nie. 2 Philippe Lejeune se“outobiografiese pakt” soos wat dit gedefinieer het in On Autobiography (1989: 14) as “the affirmation in the text of this identity, referring back in the final analysis to the name of the author on the cover” laat volgens Paul John Eakin ruimte vir fiksionalisering: “In effect, the autobiographical pact is a form of contract between author and reader in which the autobiographer explicitly commits himself or herself not to some impossible historical exactitude but rather to the sincere effort to come to terms with and to understand his or her own life” (ix). Ek verkies om