'n Goue Draad wat deur die Geskiedenis van die Wiskunde loop Prof D F M Strauss Dept Filosofie Fakulteit Geesteswetenskappe Universiteit van die Vrystaat Posbus 339, Bloemtontein 9300
[email protected] Opsomming Die aanvanklike sukses wat opgesluit gelê het in the Pythagoreïse oortuiging dat rasionale verhoudinge alles getalsmatig toeganklik maak het spoedig gegewens teëgekom wat nie met behulp van rasionale getalsverhoudinge hanteer kom word nie. Die onvermoë om hierdie probleem getalsmatig tot 'n oplossing tebring sou daartoe lei dat die Griekse wiskunde die weg van 'n geometrisering bewandel het. Daar is nie probeer om hierdie impasse met behulp van die idee van oneindige totaliteite te bowe te kom nie. Nie alleen het dit die aard van getal ondergeskik gemaak aan die ruimte nie, want dit het ook die middeleeuse spekulatiewe “metafisika van die syn” tot gevolg gehad. Eers via Descartes sou die moderne tyd 'n toenemende terugkeer na 'n aritmetiese perspektief vergestalt. Die ontdekking van die differensiaal- en integraalrekene deur Newton en Leibniz het egter opnuut probleme geskep, met name in die verantwoording van die aard van limiete. Die geykte benadering om limiete met behulp van konvergerende rye rasionale getalle te bepaal het 'n onverantwoorde sirkelredenasie bevat, want om as limiet te kan optree moes elke sodanige limiet rééds 'n getal gewees het. Skynbaar het Weierstrass daarin geslaag om 'n suksesvolle alternatiewe waardering van 'n veranderlike in sy statiese teorie te gee. Limiet- waardes kan willekeurig gekies word uit 'n domein van onderskeie getalle wat as 'n oneindige totaliteit opeens voorhande is. Toe hierdie benadering egter in die versamelingsteorie van Cantor tot Russel se kontradiksie lei, het twee teëgestelde reaksies die toneel oorheers.