Kiwi-Brokkies Van 10 Augustus 2019
Total Page:16
File Type:pdf, Size:1020Kb
Kortpad na advertensies 10 Augustus 2019 Algemene nuusbrokkies Gemeenskapsadvertensies Kleinadvertensies (Persoonlik) Kleinadvertensies (Besigheid) 2/4 Geestelike Pitkos Werksgeleenthede Afrikaanse kerkdienste Landswye dagboek Riglyne vir adverteerders Kanselleer intekening / Unsubscribe 2/4 Redakteursbrief Een van my studentemaats het altyd die grappie gemaak dat hy nou net iets geleer het wat hom met ‘n skok daarop gewys het dat hy toe nie alles geweet het nie. Nou weet hy alles (natuurlik tot die volgende keer). So het ek onlangs iets geleer oor iemand – ‘n groot gees in die sportwêreld – wat dekades gelede groot spore getrap het, en in Kiwiland woon. Ongelukkig het ek as gevolg van omstandighede nie voorheen van hierdie man geweet nie, maar ek is baie dankbaar dat die geleentheid hom voorgedoen het. Lees gerus deel 1 van twee artikels oor hierdie man. Soos sy naam aandui, is hy baie kosbaar vir my in terme van die nuwe insigte wat ek gekry het nadat ek hom ontmoet het. Die Springbokke het ons weer rede gegee om te juig, en Kiwi-Brokkies juig saam. Dan het ons klandestiene skrywer Loeloeraai ‘n slag weer geskryf. Hierdie keer filosofeer hy oor treinry (hy het seker nie baie wat hom besig hou nie!) Mense in of naby Tauranga moet die Gemeenskapsadvertensies (vinnige skakel hier bo) beloer, want daar word ‘n lekker vol Afrikaanse verskeidenheidskonsert beplan vir 31 Augustus – en hulle sluit kerrie en rys by die billike prys in! En lees gerus ons nuwe Pitkos-skrywer dr Gert Volschenk se eerste bydrae. Hy het ‘n belangrike boodskap. Philip Langenhoven Redakteur (Skryf gerus aan my by www.brokkies.net/kontak ) ________________________________________________________________________________ Ysbreker: Eksamenblapse (sê ‘Mieliestronk’) • Polonius was ’n soort mitologiese wors. • ’n Kommunis is óf ’n republikein óf ’n monargis wat altyd vir die party stem waaraan hy nie behoort nie. • Alexander het Troje binnegeval vermom as ’n houtperd. • ’n Parlementslid mag nie ’n inwoner wees van die omgewing waarin hy woon nie. • Etiket is klein goedjies wat ’n mens nie graag wil doen nie. • Skryf alles wat jy weet van Nero. Hoe minder ’n mens van Nero skryf, hoe beter. Kiwi-Brokkies – Afrikaanse Doer-Onder e-nuusbrief 10 Augustus 2019 Algemene nuusbrokkies Terug na bo... Precious McKenzie (deel 1) – Kampioen gewigopteller van weleer Hy is slegs 1.45m lank en het in sy jong dae net 56kg geweeg. Desnieteenstaande was hy ‘n ‘reus’ wat in gewigoptel drie goue medaljes vir Engeland en een vir Nieu-Seeland by die Statebondspele gewen het. Hy het ook die nuus gehaal toe hy die swaargewigbokskampioen Muhammed Ali in 1974 op sy skouers getel het. Sy naam is Precious McKenzie. Ek was aangenaam verras toe ek onlangs oor Precious lees, maar ook verleë toe ek besef dat die politieke stelsel waaronder ek in Suid-Afrika grootgeword het tot my salige onkunde oor hom bygedra het. Dit is so jammer dat ek nooit geweet het van sy ongelooflike prestasies as sportpersoon nie. Om te dink hy kon dit alles vir Suid-Afrika vermag het. Danksy ‘n nuusberig wat onlangs in Stuff verskyn het, het ek die geleentheid gehad om oor hierdie klein, maar kragtige man te lees. Ek het geniet om te lees dat hy onlangs vereer is toe hy in Suid-Afrika by die ‘South African Hall of Fame’ ingelyf is – 60 jaar nadat hy as gevolg van sy ras verhoed is om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig. Ek het Precious met behulp van sosiale media in Auckland opgespoor. Ek het ‘n boodskap gelaat en verduidelik dat ek ‘n artikel oor hom vir hierdie Afrikaanse blad wou skryf. Hy het my gebel en geduldig geluister na my verstigtig-bewoorde aanslag, wat gemotiveer was deur my onsekerheid oor hoe ek ontvang sou word. Hy was egter baie ontvanklik vir my voorstel en baie vriendelik en bedagsaam. Ons het ‘n wonderlike gesprek gehad, en verskeie gesprekke daarna. Op die ouderdom van 82 is hy gesond, flink en ‘n bondel energie. Nadat hy vir jare in Engeland gewoon het – waar hy die land op internasionale vlak in gewigoptel verteenwoordig het – het hy tydens 1978 se Statebondspele in Christchurch vinnig kultusstatus in Nieu-Seeland behaal. Kiwi-Brokkies – Afrikaanse Doer-Onder e-nuusbrief 10 Augustus 2019 Sy reis in Nieu-Seeland “Voordat ons besluit het om Nieu-Seeland ons nuwe tuiste te maak, het ons in Bristol, Engeland gewoon. Toe ons Suid-Afrika in 1964 verlaat het, het ons egter eers in Northampton gewoon.” Die ondeunde, bekkige Precious het in 1974 in Kiwi’s se harte gekruip toe hy by die Statebondspele in Christchurch ‘n goue medalje in die kapokgewigafdeling verower het – sy derde agtereenvolgende Statebondsmedalje vir Engeland. En hy was nie klaar nie. Vier jaar later – in Edmonton – het hy dieselfde gedoen, maar hierdie keer onder die Nieu- Seelandse vaandel. Maar hoe het sy oorgang van Engeland na Nieu-Seeland plaasgevind? “Ek het in daardie paar weke in Christchurch gou verlief geraak op Nieu-Seeland. Die mense was so vriendelik en dit was ‘n wonderlike tyd. Ek het werkaanbiedinge ontvang en in my binneste geweet ek wil hierheen verhuis. “In Engeland het ek in die skoenbedryf gewerk, en ek is soorgelyke werk hier aangebied. In daardie stadium wou ek graag in ‘n gimnasium werk, so ek het die aanbod van ‘n skoenwinkel in Christchurch van die hand gewys. “Later in 1974 het ek teruggekeer vir ‘n Statebond-teen- Nieu-Seeland gewigopteltoernooi in Nelson. Dawid en Goliat? Precious en suster Gloria saam met Arnold Swarzenegger, wat sy ‘Hall of Fame’-toekenning oorhandig het. “Met my aankoms is ek by die lughawe deur televisiespanne ingewag. Hulle het my gevra waarom ek die werkaanbieding tydens my vorige besoek van die hand gewys het. Ek het geantwoord dat ek graag ‘n afrigter wou word, en genoem dat ek gereed was om vir enige sportsentrum te werk wat my dienste benodig, en dat ek gereed was om na Nieu-Seeland te emigreer.” Precious het in effek ‘n gratis werkadvertensie deur middel van spitstyd-televisieblootstelling ontvang. Hy het gevolglik verskeie werkaanbiedinge ontvang. Hy het een in Wanganui oorweeg, maar uiteindelik ‘n pos aanvaar by die Panmure Youth Citizens Centre, “omdat daar meer mense was om mee te werk”. Precious en sy vrou, Elizabeth, het in 1975 na Nieu-Seeland verhuis. Een van hul redes was dat hulle Nieu-Seeland se warmer weer verkies het. Dit het nie lank geneem nie vir hulle om hulself as Nieu-Seelanders te beskou. Hul twee seuns is in Suid-Afrika gebore, en hul dogter in Engeland. Hulle het nou ses kleinkinders en twee agterkleinkinders. Die vroeë jare – hulle verlaat Suid-Afrika Indien daar ooit ‘n storie was van ‘n man wat ‘n opdraande stryd moes voer, is dit hierdie een van Precious McKenzie. Maar, as gevolg van sy vermoëns en charisma, het hy en sy gesin gefloreer. Hy is in 1936 in Durban, Suid-Afrika gebore en het baie arm grootwordjare beleef. Toe hy drie jaar oud was, is hy met dubbele longontsteking wat ná koors ontwikkel het, gehospitaliseer. Sy oorblywende longaandoening is as ongeneesbaar geklassifiseer. Sy ma het sy oorlewing gevier deur hom Precious One te noem. In dieselfde jaar het ‘n ander tragedie die McKenzie-gesin getref toe sy pa, Joseph, in die Limpopo-rivier deur ‘n krokodil gedood is. Weens verdere tragiese omstandighede moes Precious en sy suster by pleegouers woon wat hulle mishandel en afgeskeep het. Hulle het beserings en ondervoeding beleef en hul fisieke groei is gestrem. Albei van hulle het nie groter as 4 voet 10 duim gegroei nie. Kiwi-Brokkies – Afrikaanse Doer-Onder e-nuusbrief 10 Augustus 2019 Sy atletiese vermoëns is reeds op die ouderdom van 11 op Pofadder, by ‘n Katolieke missie raakgesien. Daar het ene Vader Franklin hom aangemoedig om gimnastiek te doen en hom daarin afgerig. Hy het op 17 na Pietermaritzburg teruggekeer en in ‘n plaaslike skoenfabriek gewerk. Hy het gou sy waarde getoon en ‘n gewilde medewerker geword. Maar, Precious se ambisie was aanvanklik om in ‘n sirkus te werk. Dit was sy ideaal terwyl hy daagliks om 5.30vm by Steve’s Gym geoefen het. Sy droom het egter aan skerwe gespat toe die rondreisende sirkus hom inlig dat sy velkleur verkeerd was. Gelukkig het Kevin Stent, wat as Precious se afrigter opgetree het, hom aangemoedig om gewigoptel te probeer. Hy was soos ‘n vis in die water. In 1958 het hy die Natalse kapokgewigtitel verower. Hy was egter nie vir die Britse Ryk Spele gekies nie as gevolg van sy ras, en dit was weer die geval in 1960 toe ‘n wit span na die Olimpiese Spele in Rome gestuur is. Teen daardie tyd is hy as Suid-Afrika se beste gewigopteller beskou, maar volle Springbokkleure is nie aan hom toegeken nie. “Daarna is aan my gesê dat ek Suid-Afrika by die Olimpiese Spele van 1964 kon verteenwoordig, onder die voorwaarde dat ek van die wit span geskei sou bly – so ek het geweier. ” (Volgende uitgawe: Precious verruil SA vir Engeland en later Nieu-Seeland, en van sy mooi prestasies. – Red.) BO: ‘n Bladsy uit die boek ‘High Flying Kiwis’ soos hier onder aangetoon. Precious laat Mohammed Ali bekommerd lyk! Kiwi-Brokkies – Afrikaanse Doer-Onder e-nuusbrief 10 Augustus 2019 KAMPIOEN! - Springbokke breek uiteindelik die droogte Handre Pollard was miskien die grootste inspirasie op die dag met sy twee drieë en agt suksesvolle skoppe, maar uiteindelik was dit ‘n begeesterde span Springbokke wat die laaste hekkie in vanjaar se verkorte ‘Rugby Championship’ oorgesteek het en as kampioene uit die stryd getree het. En was dit nie hoog tyd nie! Deur hul oorwinning van 46- 13 oor Argentinië het hulle hul eerste belangrike titel in tien jaar verower.